The God Who Sees

Die Tien Geboeie


Die Tien Geboeie

deur Dr. Roderick C. Meredith

Die Lewende Kerk van God

INHOUD
Voorwoord
Die Sleutels tot Begrip
Die Eerste Gebod
Die Tweede Gebod
Die Derde Gebod
Die Vierde Gebod
Die Vyfde Gebod
Die Sesde Gebod
Die Sewende Gebod
Die Agtste Gebod
Die Negende Gebod
Die Tiende Gebod
Die Nuwe Gebooie van Jesus


Die hedendaagse “moderne” samelewing is verdeeld oor die Tien Gebooie. Is daar mee “weggedoen” deur goddelike bevel of deur die mensdom se verskuiwing na wetenskaplike kennis? Moet dit in openbare plekke vertoon word of moet dit beperk word tot die kerk? Is dit ’n las vir “verligte” mense of ’n seën vir diegene wat dit onderhou? Koning Dawid sê: “Hoe lief het ek u wet” en noem dit volmaak; die apostel Paulus noem dit heilig, regverdig en goed; Jesus eer, vervul en gehoorsaam die Tien Gebooie en gebied ook gehoorsaamheid daaraan. Vir die meeste mense bly die Tien Gebooie egter ’n raaisel wat nooit verstaan is nie. Hierdie boekie verduidelik in maklike terme hierdie onverbiddelike lewende Wet wat binnekort die basiese Wet sal word van die toekoms se vreedsame, voorspoedige, vreugdevolle wêreld!

Voorwoord

Meer as 40 jaar gelede het ek die voorreg gehad om die eerste uitgawe van hierdie boekie, Die Tien Gebooie, te skryf. Dit is in boekvorm verwerk uit ’n tydskrifreeks en is aan honderde duisende mense gestuur wat dit oor ’n paar dekades aangevra het. Dit is al vir langer as ’n dekade uit druk, maar ek het dit nou vir die Wêreld van Môre luisteraars en intekenare op datum gebring. Eweneens is dit baie dieselfde as die boekie wat meer as 40 jaar gelede vir die eerste keer aangebied is. Dit behoort geen verrassing te wees nie, want dit beskryf die onveranderlike Wette van God. Soos Hy sê: “Want Ek, die HERE, het nie verander nie” (Maleagi 3:6).
Selfs wêreldlike geleerdes erken dat die heel eerste Christene hul lewens gegrond het op die onderhouding van die groot geestelike Wet van God – die Tien Gebooie. Toe hulle gesê het “Die Here Jesus Christus”, het hulle erken dat die woord “Here” “Baas” beteken – die Een wat u moet gehoorsaam! Jesus herinner hulle herhaaldelik aan hierdie lewensbelangrike verhouding, soos in Lukas 6:46: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?”

Dit is my hoop en gebed dat u hierdie boekie noukeurig sal bestudeer en begin om God se Wet te waardeer – daardie einste Wet wat in die eerskomende Millennium in werking sal wees – as ’n seën vir daardie individue, gesinne en nasies wat dit onderhou, deur die volmaakte voorbeeld van ons Verlosser, Jesus Christus, te volg.

Die Sleutels tot Begrip Ons leef in ’n tyd van wetteloosheid. Misdaad en geweld neem teen ’n kommerwekkende tempo toe omdat daar onder miljoene mense feitlik geen respek vir wet of gestelde gesag is nie, hetsy van God of mense! Op internasionale vlak leef nasies in vrees omdat hulle goed weet dat die sogenaamde “waarborge” en vredesverdragte nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie. Daar is geen geregtigheid – geen respek vir gesag – onder die nasies van die wêreld nie. Dit is die wêreld waarin u leef!

Die ware oorsprong van die Wet

Die mens het alle diepliggende ontsag vir die wet verloor omdat hulle van die ware bron van alle wette en gesag vergeet het! U Bybel sê: “Een is die Wetgewer, Hy wat mag het om te red en te verderf” (Jakobus 4:12). Daardie Wetgewer is die Almagtige God. In hul hedendaagse soeke na mensgemaakte “gemoedsrus” of ’n “godsdiens wat tevrede stel”, het die mens heeltemal vergeet van die grote God wat hierdie heelal regeer! Geen wonder party van ons jongmense – die leiers van die toekoms – het so ’n wettelose gesindheid nie. Een van die wêreld se voorste opvoedkundiges het ’n groep weermagleiers oor hierdie einste probleem gewaarsku. Hy was wyle dr. Rufus von Klein Smid, voormalige kanselier van die Universiteit van Suid-Kalifornië. Hy het gesê: “Ek het geen probleem met die huidige klem op wetenskap nie, maar vandag betaal ons vir die onderhoud van skole wat die hele skooljaar deur optree asof daar geen God is nie”. Dr. von Klein Smid neem ook kennis van die “afwesigheid van sedes” in ons jeug wat uit hierdie gesindheid voortspruit. Wanneer ’n mens die ware God uit die prentjie laat, is daar geen ware standaard vir gedrag oor nie. Die gevolg is geestelike chaos, wetteloosheid en ellende in die mensehart. In bykans alle hedendaagse godsdiensorganisasies is die neiging om God te “moderniseer”, te “demokratiseer” en weg te doen met Sy gesag om oor Sy skepping en ons, Sy skepsels, te regeer. Daar is deesdae weinig opregte “Godvresende mense” op aarde oor! Deurdat mense vir hulself ’n denkbeeldige “troetelafgod” na hul eie beeld geskep het, staan hulle beslis nie in ontsag en diepe respek jeens so ’n “god” nie. Hulle vrees nie hul “god” en hulle gehoorsaam beslis nie hierdie skepping van hul eie verbeeldings nie! Tog behels die ware boodskap van Jesus Christus die God wat hierdie aarde geskep het! Sy God is die God wat mense geseën het vir gehoorsaamheid aan Sy Wette – en gestraf het vir ongehoorsaamheid. Die Jesus Christus van u Bybel het altyd die evangelie van die Koninkryk van God verkondig (Markus 1:14; Lukas 4:43). In vandag se taal gestel, Hy het die blye nuus van die Regering van God verkondig – die heerskappy van God. Hy sê: “Bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15). Voordat u opreg kan glo en Jesus Christus as u Verlosser kan aanvaar sodat Sy gestorte bloed u sondes kan bedek, moet u uself bekeer. Maar bekeer waarvan? Bekeer van sonde! Wat is sonde? Ondanks die teenstrydige idees en veralgemenings van georganiseerde godsdiensdenominasies, maak u Bybel dié duidelike stelling: “Sonde is immers oortreding van die wet van God” (1 Johannes 3:4, NV). Sonde is die verbreking van God se geestelike Wet – die Tien Gebooie. Dit is beslis en uitdruklik wat sonde is! Voordat God u sondes van die verlede sal vergewe, moet u uself eers bekeer van die verbreking van Sy Wet! U moet leer om God as die Opperheerser van hierdie heelal – en as u Koning en Heerser – te vrees en te respekteer. Salomo, die wysste man wat ooit geleef het, is geïnspireer om te skryf: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis” (Spreuke 1:7). Hierdie goddelike vrees is geensins persoonlike bedugtheid nie, maar ’n diepe respek en ontsag vir die grootse amp en gesag van God – vir Sy goddelike mag – Sy wysheid – Sy liefde. Sonder geloof in so ’n grootse en werklike God, is die mensdom onvolledig. Verwyderd van die ware God van wet en orde, is die mensdom doelloos, leeg, gefrustreerd en verward. Die weg uit die moderne mens se leegheid en verwarring mag vir sommige mense alledaags of eenvoudig klink, maar dit is werklik – en dit werk! Dit is bloot dat die mensdom moet ophou om vals gode te aanbid. Die mensdom moet terugkeer na die God van die Bybel, die God van die Skepping, die God wat hierdie heelal regeer! Waar Hy Sy weg na die vervulling van die mens se begeerte vir ’n gelukkige, oorvloedige en doelgerigte lewe opsom, inspireer God hierdie woorde aan die einde van die boek Prediker: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense” (Prediker 12:13). Die mensdom is gefrustreerd en onvolledig sonder hierdie lewende, noodsaaklike kontak met God – deur Sy weë te bewandel en Sy Gebooie te onderhou. Gehoorsaamheid aan God se Gebooie sal vrede, vervulling en vreugde aan al die nasies en volke van hierdie aarde bring. Dit is die ware antwoord op al ons probleme, individueel sowel as gesamentlik. Dit is die leefwyse wat Jesus Christus gaan onderrig wanneer Hy terugkeer na hierdie aarde om te regeer (Miga 4:2).

Verstaan u werklik God se Gebooie?

Die profeet Dawid was ’n man so na God se hart (Handelinge 13:22). Hy word gebruik as ’n toonbeeld van Christus en sal direk onder Christus oor die ganse volk van Israel regeer in die eerskomende millennium (Esegiël 37:24), wanneer Christus vrede na hierdie aarde sal bring. Dawid skryf: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag” (Psalm 119:97). Dawid het God se Wet heeldag lank bestudeer en oordink! Hy het geleer hoe om dit in elke lewensfaset toe te pas. Dit het Dawid wysheid gegee. “U gebooie maak my wyser as my vyande” (vers 98). God se Wet het aan Dawid die weg getoon om te volg – ’n leefwyse. “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (vers 105). Regdeur Psalm 119 verklaar Dawid hoe hy God se Wet liefhet en dit as gids in sy lewe gebruik het.

Doen u dit? Waarskynlik nie. Die meeste van u is geleer dat daar met God se Wet weggedoen is – of anders het u bloot nie besef dat dit die enigste leefwyse is wat vir die mensdom ware geluk en vreugde sal bring nie. U het nie besef dat God se Wet die einste aard en karakter van God Self onthul nie. God beveel ons ook: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Petrus 1:16). Onthou dat die ware Christene, die “klein kuddetjie” van Jesus Christus, beskryf word as diegene “wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (Openbaring 12:17). God gee ook hierdie beskrywing van die karakter van Sy heiliges: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openbaring 14:12). Indien u onder God se ware heiliges gereken gaan word wat die sewe laaste plae gaan vryspring, sal u hierdie lewende geloof – hierdie gehoorsame geloof – in die Almagtige God moet hê deur Jesus Christus wat Sy lewe in u leef! U sal God se geestelike Wet moet verstaan en onderhou soos dit in die Tien Gebooie onthul word! Bestudeer asseblief werklik hierdie boekie, slaan elke teksvers na wat aangehaal word en leef volgens Sy geestelike en heilige Wet.

Die Almagtige God van Israel

Om die ware uitwerking van die Tien Gebooie werklik te verstaan en te beleef, moet ons kennis neem van die agtergrond waarteen dit gegee is. Onthou dat Moses en die Israeliete die kennis behou het dat hul God die Skepper van die hemel en die aarde was. Hy was die groot Heerser van die aarde wat in die dae van Noag, hul voorvader, die Vloed veroorsaak het. Nou het die ware God, die God van Israel, hulle ook verlos van Egiptiese ballingskap deur geweldige wonderwerke; Hy het hulle uit Egipte gebring en deur die water van die Rooi See gelei wat aan albei kante van hulle opgestaan het soos ’n magtige muur (Eksodus 14).

Sedert hulle deur die Rooi See getrek het, het God begin om met hulle te werk en hulle te herinner aan Sy Wette wat hulle moontlik gedeeltelik kon vergeet het. Voordat hulle ooit die berg Sinaï bereik het, het God alle twyfel uit hul gedagtes verwyder oor watter dag Sy Sabbat is deur ’n aantal wonderwerke te doen om hulle te herinner (Eksodus 16). In Eksodus 18 het Moses alreeds die regspraak oor die volk uitgeoefen volgens God se Wette en insettinge (vers 16). Noudat hulle by die berg Sinaï was – stel God nie aan hulle ’n nuwe wet voor nie – maar gaan met hulle ’n verbond of ooreenkoms aan sodat hulle Sy eiendomsvolk kon wees en Hy hulle God sou wees wie se Wette, insettinge en verordeninge hulle sou gehoorsaam. Omdat die Tien Gebooie nog altyd God se basiese geestelike Wet was – en altyd sal wees (Romeine 7:14) – is dit deel gemaak van hierdie ooreenkoms tussen God en Israel.

Lank voor Sinaï het God Abraham, die “vader … van almal wat glo” (Romeine 4:11), in besonder geseën, omdat “Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het” (Genesis 26:5). Abraham het dus beslis die Tien Gebooie verstaan en gehoorsaam.

Aangesien die Tien Gebooie God se heilige en geestelike Wette is, het Hy hulle met groot gesag afgekondig en, anders as die res van die verbond, met Sy eie hand neergeskryf. Let op die agtergrond in Eksodus 19. God beveel die mense om hulself te reinig en gereed te wees op die derde dag wanneer Hy na hulle sou afkom (verse 10–11). “En op die derde dag toe dit môre word, was daar donderslae en blitse en ’n swaar wolk op die berg en die geluid van ’n baie sterk basuin, sodat die hele volk wat in die laer was, gebeef het” (vers 16). Hier toon God Sy gesag as die Skepper van hierdie aarde wanneer Hy begin om die Tien Gebooie met Sy eie Stem te spreek! Soos wat die Skepper Self in Sy heerlikheid op die berg Sinaï neergedaal het, het: “… sy rook … opgetrek soos die rook van ’n oond, en die hele berg het vreeslik gebewe” (vers 18).

Met hierdie agtergrond van groot heerlikheid, majesteit en gesag, spreek God die mense toe oor die Tien Gebooie terwyl hulle bewend van ontsag aan die voet van die berg staan. Sy stem moes hierdie mense letterlik met krag geskud het terwyl dit oor die aarde weergalm het soos die geluid van donderweer (Psalm 104:7).

Die Eerste Gebod So begin God toe die Tien Gebooie spreek en onthul aan Sy mense die lewenswette wat sukses, geluk en vrede met God en medemens meebring. In ons era van menslike redenasie, agnostisisme en toenemende materialisme, is dit belangrik om daarop te let dat die Almagtige God nie eerste gepraat het oor die “broederskap van die mens” nie, maar oor gehoorsaamheid aan en aanbidding van God – die Skepper en Heerser van die hemel en aarde – en die persoonlike God van diegene wat Hom dien en gehoorsaam! “Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê: Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie” (Eksodus 20:1-3). Dit is die eerste en, soos ons later ook sal sien, die grootste Gebod. Bestudeer die bewoording van hierdie Gebod noukeurig – dink daaroor na soos Dawid gedoen het! “Ek is die HERE jou God” is ’n meer onthullende frase as wat dit met die eerste oogopslag mag blyk. Die “Ek” wat hier met soveel geweldige mag aan die woord was, is heel duidelik die groot Skepper van die hemel en aarde. Op dieselfde manier waarop Hy verskyn, demonstreer Hy Sy mag as Skepper deur donder en blitse vooruit te stuur en die Berg Sinaï letterlik te skud asof dit ’n nat waslap is!

U en die Eerste Gebod

Noudat ons die krag en mag gesien het waarmee God Homself onthul het toe Hy die Tien Gebooie van die Berg Sinaï gespreek het, kom ons kyk hoe elkeen van hulle, van die eerste Gebod af, op u persoonlik van toepassing is. Indien u enigsins daarop aanspraak maak dat u ’n Christen is, onthou dat Jesus Christus, die Stigter van die Christendom, sê dat u volgens elke woord van God sal leef (Mattheus 4:4). U moet beslis ook – met God se hulp – volgens die Gebooie van die Almagtige God wandel indien u die ewige lewe wil beërwe (Mattheus 19:17). Hoe is die eerste Gebod dan op u van toepassing? “Ek is die HERE jou God” sê die Skepper. Is die God van die skepping – die God van Israel, die God van die Bybel – werklik u God wat u dien en gehoorsaam? Of het u u eie vals “god” of “gode” opgetower? Of aanbid u verkeerdelik volgens die “leringe … wat gebooie van mense is”, wat Jesus gesê het sal veroorsaak dat u God tevergeefs sal aanbid (Markus 7:7)? Dit is vraagstukke wat u moet oordink!

God sê aan Christene dat Hy die Een is wat “jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het”. Regdeur die Bybel word Egipte gebruik as ’n “voorbeeld” om sonde voor te stel. Al die onbekeerdes verkeer in slawerny van die georganiseerde, verheidense stelsel van hierdie wêreld en van hul eie persoonlike wellus. Wanneer iemand werklik bekeerd is, bring God hom uit daardie slawerny en hy kom gewillig en met blydskap daaruit! U moet ondersoek of u ooit werklik uit die vals tradisies en weë van hierdie wêreld uitgekom en u ook bekeer het van u eie persoonlike wellus en sondes al dan nie.

God gebied: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie”. Het u iets in die plek van God geplaas? Is u tyd, u belangstelling en u diens meer gemik op iets anders as op die ware God? Watter afgod het u geplaas tussen uself en die ware God, studie van Sy Woord en om daarvolgens te leef? God sê: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande” (Psalm 19:2). In die bladsye van die Bybel word verklaar dat God die ware Skepper van hierdie aarde en die heelal is. Hy is die Een wat lewe en asem aan alle skepsels gee (Genesis 1). Dink en aanbid u God eerlikwaar as u Skepper en die Een wat u elke asemteug gee wat u inasem? U behoort, want dit is deel van die aanbidding van die ware God en om geen vals gode voor Hom te hê nie!

Vandag is die grootste misleiding van alles nie kommunisme of ateïsme nie, maar die vals, heidense leerstelling van evolusie wat deur die vals god van die wetenskap verkondig word. Die evolusieteorie is ’n poging om die skepping sonder die Skepper te verduidelik. Dit verloën die ware God en Sy eie aard en amp! Dit is die grondslag van die meeste van hierdie wêreld se “onderwys”! Die wysheid van hierdie wêreld is egter dwaasheid by God (1 Korintiërs 1:20). In die Bybel word God nie net onthul as die Skepper nie, maar as die Een wat Sy skepping onderhou en daaroor heers – wat ingryp in die sake van Sy dienaars om hulle te lei, te seën en te red. Dawid sê: “Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting” (Psalm 18:3). Dawid het hom letterlik honderde kere op God beroep om in te gryp en hom uit die een of ander moeilikheid of rampspoed te red. Wend u u tot God in sulke situasies, of vertrou u op u eie krag en bloot in menslike werktuie?

Verstaan God se doel

In Mattheus 6:9 vertel Jesus ons dat wanneer ons bid, ons God as ons “Vader” moet aanspreek. Regdeur die Nuwe Testament word Hy onthul as die Een na Wie ons ons moet wend met al ons beproewings en probleme. Soos ’n menslike vader, sien Hy om na Sy kinders en seën en beskerm Hy hulle. Hy tugtig ook elke kind wat Hy liefhet (Hebreërs 12:6). God is van die begin af die fundamentele Vader van die mensdom. Toe God die mens skep, sê Hy: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see …” (Genesis 1:26). Mense is gemaak na die fisiese gelykenis van God – die uiterlike vorm en beeld van God. Daar is aan die mens sekere verantwoordelikhede en voorregte gegee om – soos God Self – te heers oor die ganse skepping op hierdie aarde. Daar is aan ons sekere beperkte magte gegee om nuwe dinge wat nooit tevore bestaan het nie in daardie presiese vorm te kan maak, of om so te sê, “te skep”. Op hierdie beperkte wyse vertoon die mensdom party van God se eie vaardighede! Daarom is dit God se plan en doel dat ons uiteindelik soos Hy sal wees, verheerlik word soos Hy verheerlik word (1 Johannes 3:2)! Die mensdom is uiteindelik bestem om uit gees gebore, uit gees gemaak en uit gees saamgestel te word (Johannes 3:6). Ons sal deel wees van die geesgebore, heersende Godgesin. God beplan dat diegene wat die menslike aard in hierdie lewe oorwin en leer om, met behulp van Sy inwonende Heilige Gees, Sy volmaakte Wette te onderhou, soos Hy sal wees – in Sy eie Gesin en Koninkryk ingebore! Na hierdie lewe van groei en oorwinning, na hierdie geestelike wedergeboorte, sal ons in staat wees om sommige van die prerogatiewe van God Self uit te voer! Ons sal gekwalifiseerd wees as ’n bykomende lid van die heersende Koninkryk van God! (Indien u ’n meer breedvoerige verduideliking van hierdie geestelike wedergeboorte sou wou hê, skryf gerus vir ons gratis boekie, U uiteindelike lotsbestemming).

Tog, selfs in hierdie opsig, wedywer die wetenskap en hierdie samelewing met God en vir hierdie rede word hulle vals gode! Die moderne wetenskap probeer so al hulle kan om aan die mensdom mag te gee wat ver bo sy verstandelike en geestelike vaardighede is om te hanteer! Soos die voormalige Amerikaanse president Eisenhower in sy eerste intreerede gesê het: “Die wetenskap blyk gereed te wees om aan ons die mag om menselewe van hierdie planeet te verdelg, as sy laaste geskenk te gee”. Noudat hulle besef dat wat hulle reeds gedoen het die vernietiging van hierdie aarde voorspel, werk wetenskaplikes naarstig daaraan om die einste hemele te koloniseer! Hier op aarde gaan ons samelewing ook voort met sy heidense lering dat die mensdom die uiteindelike beoordelaar is van wat reg en verkeerd is en plaas mense direk in die plek van God en Sy Wette! Of ons dit besef al dan nie, hierdie vleeslike – Godverwerpende gesindheid – deurweek elke stadium en faset van ons hedendaagse samelewing!

Wat u dien is u “god”

Die meeste mense wat net eenmaal per week kerk toe gaan en hul godsdiens as vanselfsprekend aanvaar, weet nie eintlik wat ware aanbidding is nie. Hulle dink “aanbidding” is iets wat ’n mens eenmaal per week in die kerk doen en besef nie dat dit elke gedagte, woord en daad élke dag van hul lewens moet beïnvloed nie! In alles wat u dink, sê of doen, dien u óf God, óf andersins u eie wellus en Satan, die duiwel! Die apostel Paulus is geïnspireer om dit te verduidelik: “Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie – óf van die sonde tot die dood, óf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?” (Romeine 6:16). Daar is geen grys gebied nie! Óf u verheug u in God en Sy Wet en dien en gehoorsaam Hom heeldag lank, óf u dien en gehoorsaam u eie wellus! Een sleutel wat hierdie situasie ontsluit, is hoe u u tyd benut, want u tyd is u lewe! Die Bybel gebied ons “koop die tyd uit, omdat die dae boos is” (Efesiërs 5:16). Hoeveel tyd bestee u werklik elke week aan studie van en meditasie oor God se Woord en Wet soos Dawid gedoen het? Hoeveel tyd bestee u in opregte, algemene gebed tot die Almagtige God? Hoeveel tyd bestee u om die Bybel met ander mense te bespreek, u gesin te onderrig, woorde van geestelike opbouing asook van blote maatskaplike belangstelling aan ander mense te skryf?

Die meeste belydende Christene dink dat godsdiens net een hoekie van hulle lewens moet beslaan. In alle billikheid en liefde sê ons egter dat die dag sal aanbreek wanneer hulle sal besef dat daardie soort godsdiens ’n vals godsdiens en vals aanbidding is! Wat is die belangrikste ding wat God u gebied om te doen? Toe Jesus Christus, u Verlosser, hierdie vraag gevra is, antwoord Hy: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (Mattheus 22:37-40).

Die lotsbestemming van alle nasies en individue rus op hierdie twee Gebooie! Indien die mens hierdie twee Gebooie sal gehoorsaam soos dit regdeur die Bybel beklemtoon en uitgebrei word, sal hulle geseënd wees! Indien nie, sal hulle vervloek en ellendig wees in hul eie verwarring en frustrasie! Soos Jesus sê, die einste geskrifte van die profete hang daarvan af of die nasies God se Wet gehoorsaam al dan nie. Elke profesie wat teen ’n nasie geskryf is, toon dat God voorsien het dat die nasie hul oë sou wegkeer van Sy Wet en gehoorsaamheid aan Sy Gebooie! Hierdie is lewende Wette – soos die wet van swaartekrag – wat die wêreld waarin ons leef, beheer!

Leer om God bo alles lief te hê en te aanbid

Jesus sê dat die groot Gebod is om God met u hele hart, siel en verstand lief te hê. U moet God met u hele wese aanbid en dien! Wanneer u enigiets goed, pragtig en wonderlik dink, sê of hoor, moet u aan God dink! Onthou Jakobus se geïnspireerde stelling: “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie” (Jakobus 1:17). U moet daagliks mediteer oor God se Wet en Sy Woord soos Dawid gedoen het, omdat u Hom liefhet, omdat u weet Sy weg is reg en omdat u Hom waarlik aanbid. U moet u Bybel gereeld bestudeer ten einde volgens elke woord van God te leef. U moet gereeld tot God bid, met opregtheid en met u hele hart, soos Jesus aan ons die voorbeeld gestel het. Wanneer u ook al vind dat God u in Sy Woord opdrag gee om iets te doen, moet u onmiddellik sê: “Ja, God,” en nie stry, “redeneer” of die vraagstuk vermy, soos so baie vals belydende Christene vandag doen nie.

Met die wete dat Hy u gemaak het en dat u lewe eintlik aan Hom behoort, moet u u liggaam as ’n lewende offer bied soos God u sê om te doen (Romeine 12:1). U moet God dien en gehoorsaam met u hele wese – met ’n gewillige hart – en alles in u vermoë doen om uself daarop voor te berei om die werk te doen en te bevorder om ander mense te bereik met die boodskap van die eerskomende regering van God wat uiteindelik ware vrede na hierdie aarde sal bring. U gesindheid moet altyd wees soos dié van Jesus, u voorbeeld, toe Hy gevra is om Sy eie lewe te gee: “Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” (Lukas 22:42). Dit is wat ware aanbidding werklik beteken! Dít is hoe om die eerste Gebod, die groot Gebod, te onderhou!

Die Tweede Gebod In Sy lering in die Bergpredikasie, sê Jesus: “Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer [selfs die “minste” van die gebooie], hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele” (Mattheus 5:19). Regdeur die hele boodskap is Jesus besig om die Tien Gebooie te verduidelik, uit te brei en te vergroot. Hy toon dat hierdie geestelike Wet ’n lewende Wet is – soos die wette van swaartekrag en traagheid. Wanneer ’n mens dit verbreek, breek dit jou! So het ons gesien dat wanneer mense of volke die eerste Gebod verbreek, naamlik “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie” (Eksodus 20:3), hulle ’n onvermydelike straf van lyding en ellende oor hulself en hul nageslag bring. Mense sny hulself af van die oorsprong van hul wese, van die doel van die lewe, van die Wette wat vir hulle geluk, vrede en vreugde kan bring. Mense verwyderd van die ware God is leeg, gefrustreerd en ongelukkig. Hetsy dus deur die aakligheid van oorlog, persoonlike geweld, siekte of bloot die verrotting van die sterflike menslike vlees, is die uiteindelike lotsbestemming van alle mense wat van God verwyder is, ’n oneervolle dood – sonder enige hoop of belofte van die ewige lewe daarna (Romeine 6:23; Openbaring 21:8).

Die Tweede Gebod se bewoording word gegee

Die mens is onvolledig omdat hy homself van die ware aanbidding van die ware God afgesny het. Tog moet hy slegs daardie God aanbid: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie” (Eksodus 20:3). Die tweede Gebod vertel ons hoe om die ware God te aanbid, watter struikelblokke ons in ons aanbidding moet vermy en wat die voortgesette seëninge of strawwe is wat ons nageslag sal tref as gevolg van die wyse waarop ons die Almagtige God aanbid. “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou” (Eksodus 20:4-6).

Die natuurlike fisiese verstand roep vir hulp van iets in die aanbidding van God. Fisiese mensewesens wil die een of ander fisiese voorwerp hê – ’n soort “hulpmiddel” tot aanbidding – om hulle aan die onsigbare God te “herinner”. Tog word dít spesifiek in hierdie Gebod verbied! Jesus sê: “Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid” (Johannes 4:23). Let daarop dat dit slegs die “ware” aanbidders is wat in staat is om die Vader in gees en waarheid te aanbid. Baie ander probeer ’n vorm van aanbidding, maar omdat hulle hul aanbidding deur ’n vals konsep van God beperk, is dit grootliks tevergeefs. “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (vers 24). Die oomblik dat mense enige afbeelding van God opstel, ontken hulle wat wesenlik in God is. God is die wese van alle mag – alle wysheid – alle liefde. God is sonder perke. Wanneer ’n mens sy eie verstandelike of fisiese beeld van God uitdink, beperk hy outomaties die God wat nie beperk sal word nie in sy eie gedagtes en aanbidding!

Die grondslag van afgodery

Vele kere nadat God die Tien Gebooie herhaal het, waarsku Hy Israel teen enige vorm van afgodery. “Julle mag vir julle geen afgode maak nie; en ’n gesnede beeld of ’n klippilaar mag julle vir julle nie oprig nie en ’n steen met beeldhouwerk in julle land nie opstel om julle daarby neer te buig nie; want Ek is die HERE julle God” (Levitikus 26:1). God was deurlopend gekant teen enige vorm van afgod of afbeelding wat in aanbidding gebruik is. Voordat enigiemand egter misverstaan, laat ons vir ’n wyle hier stilstaan om daarop te let dat God nie kuns of beeldhouwerk verdoem nie, maar eerder die opstel van enige prent, beeld of afbeelding “om julle daarby neer te buig”. In die oorspronklike Gebod in Eksodus 20:4-6, verdoem God nie elke prent en beeld nie, maar, soos die Gebod voorts sê: “Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie”. Dit is dus die gebruik van kuns of beeldhouwerk as ’n vorm van aanbidding of “hulpmiddel” om te aanbid, wat God verdoem! Die ware grondslag van alle afgodery is dat die eiewillige, rebelse mensdom weier om hulself aan die aanbidding van die ware God oor te gee op die wyse wat Hy gebied! Omdat hulle die ware God dus nie werklik ken nie en ook nie Sy Gees het nie, dink mense dat hulle die een of ander “hulp” of “afbeelding” nodig het om hulle te help in die aanbidding van hul menslik bedinkte konsep van God. Let daarop dat hierdie tweede Gebod nie praat van dit wat in die eerste Gebod verbied word, naamlik die aanbidding van ’n afgod, nie. Hierdie tweede Gebod verbied die gebruik van fisiese “hulpmiddels” of “hulpe” in die aanbidding van die onsigbare God.

’n Waarlik bekeerde persoon ken God

Niemand wat God werklik as Vader ken – niemand wat in daaglikse omgang met Hom leef – het ’n prent of beeld nodig om met gebed te help nie. Indien iemand dink dat hy of sy hierdie soort hulp nodig het, is dit bloot omdat hy of sy God nog nie leer ken het nie – en ongetwyfeld nie vervul is met of gelei word deur die Heilige Gees van God nie. Ten einde God in gees te aanbid, moet ’n mens oor die Heilige Gees beskik. “Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie” (Romeine 8:9). God gee egter Sy Heilige Gees slegs ná ware bekering en doop – slegs aan diegene wat “Hom gehoorsaam” (Handelinge 2:38; 5:32). Baie min mense vandag het hulself waarlik oorgegee om God te gehoorsaam, met Hom te wandel, Hom toe te laat om elke gedagte, woord en daad van hul te beheer. Dáárom ken hulle God nie werklik nie. Hy blyk veraf te wees – onwerklik – newelagtig. Hulle kyk eerder na ’n fisiese “herinnering” wat voor hulle is om hulle te help besef dat Hy bestaan en dat Hy daar is om hul gebede te verhoor!

Prente van Jesus

Duisende belydende Christene wend voorstellings of prente van ’n sogenaamde Jesus Christus in hul aanbidding aan en vertoon dit selfs in hul huise. Wat sê u Bybel oor sulke prente? Eerstens verbied die tweede Gebod self natuurlik die gebruik van enigiets wat God voorstel of wat maklik ’n voorwerp van aanbidding kan word. Omdat Jesus Christus God is (Hebreërs 1:8), sou dit beslis ook regstreeks enige prent of voorstelling van Hom verbied! Dan ook, vir diegene wat oor hierdie punt sou wou “redeneer” of stry, het hierdie sogenaamde prente van Christus hoegenaamd geen ooreenkoms met hoe Jesus Christus werklik gelyk het nie! In die menslike vlees was Jesus ’n Jood (Hebreërs 7:14). Die gelaatstrekke in die meeste van Sy veronderstelde prente is duidelik nie Joods nie! As deel van die Woord van God, inspireer Christus die apostel Paulus om te skryf: “Of leer ook die natuur self julle nie dat as ’n man lang hare dra, dit vir hom ’n oneer is nie” (1 Korintiërs 11:14)? Tog beeld hierdie prente sonder uitsondering ’n man uit met lang hare, sagte vroulike gelaatstrekke en ’n sentimentele, skynvroom trek in Sy oë. Dit is nie die Christus van u Bybel nie!

Jesus se voorkoms was eintlik ongetwyfeld baie manlik. As jong man was Hy ’n skrynwerker wat buite gewerk het. Selfs gedurende Sy bediening het Hy voortgegaan om die meeste van Sy tyd in die buitelug te bestee. Die meeste kruise, prente en beelde van Jesus is dus in algehele teenstelling met elke beskrywing van Hom wat in die heilige Woord van God gegee word! Hulle gee in alle opsigte ’n vals indruk van die ware Jesus Christus. Jesus se gesig moes ’n sterk, sonbruin voorkoms gehad het. Hy was nie vroulik in voorkoms nie, maar het eerder ’n kort manlike haarstyl gehad. Hy het nie pragtige, aristokratiese gelaatstrekke gehad nie, maar soos Hy Jesaja geïnspireer het om Sy menslike voorkoms te beskryf: “Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie” (Jesaja 53:2). As ’n mens was Jesus ’n normale, gesonde, moontlik effe stoere jong Joodse skrynwerker in Sy vroeë dertigs. Hy het die boodskap van God se eerskomende Koninkryk of regering oor hierdie aarde met opregtheid en oortuiging begin preek. Indien ons egter enigsins oor Jesus se voorkoms dink, moet ons in algemene terme dink aan hoe Hy vandag lyk. Hy beskryf dit vir ons in Openbaring 1:14-16: “Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ’n vuurvlam … en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag”. Jesus se gesig skyn nou soos God Self met glansrykheid en met krag. U as mens sou nie direk daarna durf kyk nie! Baie mense sal daarop aanspraak maak dat hulle nie hierdie prente of beelde aanbid nie. Almiskie, maar hierdie vals prent en vals konsep van Christus kom ongetwyfeld dikwels by hulle op wanneer hulle aan Christus dink of bid. Hierdie vals prente en beelde kom eintlik tussen hulle en Christus. Dit veroorsaak ’n skeiding tussen die aanbidder en Christus! Indien u sulke beelde of prente van Christus gebruik, verbreek u die tweede Gebod! U beperk grootliks u konsep van die lewende Christus – wat nou verheerlik aan die regterhand van God in die hemel sit met Sy gesig wat skyn soos die son in vol sterkte!

Aanbiddingstelsels en -instellings

Een van die algemeenste vorms van afgodery is om ’n afgod te maak van ’n mens se kerk of genootskap. Vir baie mense word vandag se samelewing, met sy voorskrifte, gebruike en tradisies – ’n letterlike god. Baie mense is vreeslik bang om enigiets te doen wat as anders of “vreemd” beskou sal word. Hulle voel dat hulle aan hierdie wêreld en sy weë gelykvormig moet wees. God gebied egter: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed” (Romeine 12:2). Vir baie mense wat begin dink dat ander mense reg moet wees in wat hulle dink, sê en doen, mag dit blyk dat hierdie Gebod baie moeilik is om te gehoorsaam. Die Bybel toon dat baie mense in Jesus se tyd tekort geskiet het in hul aanbidding, omdat hulle “die eer van die mense meer liefgehad [het] as die eer van God” (Johannes 12:43).

Indien u blindelings die gebruike en tradisies van u familie, kerk of genootskap gehoorsaam pleks van die Gebooie van die Woord van God, is u skuldig aan afgodery. Daardie groep of instelling word vir u ’n afgod in die plek van die ware God! Selfs rituele in ’n kerkdiens kan gevaarlik word want ongeag hoé verfynd die rituele van sommige instellings mag wees, begin en eindig dit in die fisiese sintuie van die mens en is nie ’n geldige plaasvervanger vir die ware aanbidding van God “in die gees” nie. Die Bybel beskryf reguit die mense van ons tyd as hulle “wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Timotheus 3:5).

Die ware God is die onsigbare, Ewige Skepper en Heerser van die heelal. Hoe moet u Hom aanbid? Hy antwoord: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2). U moet God regstreeks aanbid – met ’n nederige en gewillige hart. U moet God se Woord bestudeer, gewillig daardeur gekorrigeer word en beef voor die gesag daarvan in u lewe! U moet baie kere per week op u knieë en in stille gebed soos u u dagtaak verrig, tot die God in die hemel bid met ’n hart wat u onderdanigheid deur bekering en gehoorsaamheid bewys. U moet Hom leer ken en Hom liefhê as u Vader. Soos hierdie hele boekie verduidelik, “Want dit is die liefde tot God dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). U sal dus waarlik u Skepper liefhê en eer deur ’n gehoorsame lewe te lei wat gegrond is op die weg van die Tien Gebooie – net soos Jesus gedoen het.

U moet leer om, soos Enog, Noag en Abraham, “met God te wandel” regdeur elke dag van u lewe in gedurige en toenemende gemeenskap en toegewend tot Hom te wees. Dan – gelei deur Sy Gees – sal u nooit eens begin oorweeg om ’n beeld, afgod of prent te gebruik as “hulpmiddel” tot gebed en aanbidding van die groot soewereine Heerser van hierdie heelal en u persoonlike Vader in die hemel nie!

’n Plegtige waarskuwing en belofte

Ons het gesien dat God die maak van enige beeld of afgod om Hom te verteenwoordig, verbied: “Want Ek, die HERE jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou” (Eksodus 20:5-6). Omdat God ons Vader is, is Hy liefdevol en vol geesdrif vir ons ewige welsyn. Hy is jaloers oor ons, sodat Hy nie sal toelaat dat Sy kinders vals gode aanbid nie. Dit is natuurlik vir ons eie beswil! Indien ons sou volhou in ’n afgods- en tevergeefse vorm van aanbidding, sê God dat Hy ons ongeregtigheid aan ons kinders, kleinkinders en agterkleinkinders sal besoek. Daar is baie vertakkings van hierdie stelling en beginsel, maar daar is een duidelike en regstreekse betekenis in hierdie konteks. Indien iemand in aanbidding ’n afgod, beeld of iets anders in die plek van God plaas, dan doen hulle nie net hulself skade aan nie – maar ook hul kinders en kleinkinders! Die beginsel is dat hul vals idee van godsdiens na hulle kinders oorgedra sal word en dié se lewens en geluk skade sal berokken en in die wiele ry! Dit is ’n ernstige en vreeslike ding om aan u kinders ’n vals konsep van God oor te dra. Dit is een van die ergste dinge wat ’n ouer kan doen! Dit behoort vir enige mens wat in die Bybel glo duidelik te wees dat die aanbidding van afgode en vals “gode” absolute verwoesting gesaai het in die lewens van biljoene mense. Verwyderd van die kennis van die Skepper, is tallose miljoene mense deur Satan mislei (Openbaring 12:9) en het gevolglik oorloë, gebroke gesinne, massa-verhongering, slawerny en allerlei onbeskryflike menslike lyding en vernedering ervaar!

Tesame met hierdie waarskuwing gee God egter ’n genadige belofte aan diegene wat gewillig is om Hom te aanbid soos Hy beveel. In hulle geval is Hy ’n liefdevolle en genadige God wat “genade betoon aan duisende” wat Hom liefhet en Sy Gebooie onderhou. Hier is ’n merkwaardige teenstelling. God besoek slegs die ongeregtighede van die vaders aan die derde en vierde geslagte voordat Hy ingryp met genadige straf en ontwaking tot die waarheid, maar betoon egter genade tot aan die duisendste geslag! God roep mense na Sy eie onmiddellike geestelike teenwoordigheid – om hul Skepper regstreeks te aanbid. Mense kan die grote God van die heelal werklik as hul persoonlike Vader leer ken. Hulle kan daagliks met Hom wandel en met Hom praat. Wanneer ’n mens tekort skiet aan daardie aangesig-tot-aangesig aanbidding van die Ewige God, doen hy afbreek aan sy eie karakter deur die verbreking van die Gebod van God. Dít is die betekenis en krag van die tweede Gebod.

Die Derde Gebod Stel u God werklik eerste in u persoonlike lewe? Die uitslae van ’n meningspeiling onder 1,500 kollege studente het getoon dat hulle twee waardestelsels het met betrekking tot dit waarvoor hulle trou sweer: op die eerste vlak teenoor hulself, hul families en vriende; op die tweede vlak teenoor die mensdom (in die algemeen) en God. Dit is opmerklik dat hierdie “geleerde” jongmense God die minste geag het! Tog het 90 persent van diegene wat aan dieselfde opname deelgeneem het, aangedui dat hulle in God glo. Hierdie heersende geestelike luiheid en passiewe minagting teenoor God en teenoor die groot omvang van Sy amp en mag, is aanduidend van ’n groeiende neiging selfs onder kerkgangers en belydende Christene. Mense hou daarvan om oor godsdiens en God te praat, maar hulle koester nie ontsag vir Sy posisie en Sy Naam nie. Hierdie geestelike kanker bevat ook die oorsprong van die vernietiging van ons Westerse samelewing!

Die Derde Gebod se bewoording word gegee

Uit die bespreking van die eerste en tweede Gebooie vind ons dat ons moet waak daarteen om van enigiets ’n god te maak en dit in die plek van die ware God te plaas. Ons het ook geleer dat God ons gebied om Hom regstreeks te aanbid – met Hom te wandel, met Hom te praat, Hom werklik te ken en in gees en waarheid te aanbid – en te waak daarteen dat ons enige beeld, prent of fisiese voorwerp aanwend as ’n “hulpmiddel” tot aanbidding of om ons te “herinner” aan die grote Skepper. Die derde Gebod behels God se naam, Sy amp, Sy posisie as die groot, soewereine Heerser van die heelal: “Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie” (Eksodus 20:7). In die Bybel het persoonsname ’n betekenis. Die oorspronklike Hebreeuse naam van Abram is verander na Abraham, want Abraham beteken “vader van ’n menigte nasies”. Abraham was bestem om presies dít te word – “’n vader van ’n menigte nasies” (Genesis 17:5). Dit is ook die geval met God se Naam.

God se Naam onthul die soort God wat u aanbid

Elke Naam of titel van God onthul die een of ander karaktertrek van die goddelike karakter. Deur die Woord van God te bestudeer, leer ons nuwe feite aangaande God se aard en karakter met elke nuwe Naam waardeur Hy Homself openbaar. Met ander woorde, God noem Homself wat Hy is! Wanneer mense die Naam van God op ’n wyse aanwend wat die ware betekenis en karakter van God verloën, verbreek hulle die derde Gebod. God verklaar deur Jesaja: “Hoor dit, huis van Jakob wat julleself noem met die naam van Israel en uit die waters van Juda voortgekom het, wat sweer by die Naam van die HERE en die God van Israel roem, maar nie in waarheid of in geregtigheid nie” (Jesaja 48:1).

Die mense op wie hierdie profesie van toepassing is, gebruik die Naam van God, maar versuim om die openbaarmaking van God wat in Sy Naam vervat is, te gehoorsaam. So skokkend soos dit mag wees, gebruik baie godsdienstige mense ook herhaaldelik God se Naam in preke of gebede. Hulle gebruik God se Naam ydellik, met geen goeie nut of doel nie! Die oorspronklike Gebod sê: “Die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie”. Die Hebreeuse woord wat hier as “ongestraf” vertaal is, kan ook as “rein” vertaal word. “Die Here sal die een wat Sy Naam ydellik gebruik, nie rein laat bly nie”. Die toets vir geestelike reinheid is ons gesindheid teenoor die Naam van God! Ons is rein of onrein na gelang of ons die Naam van God in waarheid of ydellik gebruik. Besef u wat dit beteken? Dit toon beslis dat iemand wat – weens opregte godsdienstige onsekerheid – die Naam van God uit sy woordeskat weglaat, beter daaraan toe is as ’n belydende Christen wat voortdurend van God praat, maar Hom in sy daaglikse lewe verloën!

In die Onse Vader word ons opdrag gegee om God se Naam te “heilig”. Die derde Gebod wat ons behandel, het regstreeks daarmee te doen om behoorlike respek vir die Naam van God te betoon. Een van die tien groot punte van God se ewige geestelike Wet is gewy aan hierdie einste stelling! Laat ons dit eerstens egter duidelik maak aan al diegene wat verkeerd ingelig is oor die onderwerp: verering van God se Naam beteken nie ons moet probeer Hebreeus of Grieks praat of probeer leer om God se Naam in die oorspronklike Bybelse tale uit te spreek nie! Daar is sekere sektes wat ’n groot kwessie hiervan maak. Sommige verklaar dat “Jehovah” die Vader se Naam is. Party mense verklaar dit is “Yahweh”, ander sê “Yahveh” en nog ander gebruik nog ander variasies. Aangesien almal erken dat die Hebreeuse klinkers nie behoue gebly het nie, is die waarheid dat niemand weet presies hoe hierdie Hebreeuse Naam van God uitgespreek moet word nie! (Vir bewyse dat “God” die Vader se Naam is, versoek ons gratis herdrukte artikel met die titel “The Truth About ‘Sacred Names’”).

In beskrywing van die belangrikheid van ’n mens se naam, sê Moulton-Milligan se Vocabulary of the Greek Testament: “In ’n gebruik soortgelyk aan dié van die Hebreeus … word [onoma, “naam”] in die Nuwe Testament gebruik om die ‘karakter’, ‘naam’ en/of ‘gesag’ van die betrokke persoon aan te dui” (bl. 451). Belangriker nog, God Self inspireer ook vir Daniël en Esra om in nege hoofstukke van die Bybel wat hulle in hierdie taal geskryf het, die Aramese woord vir God te gebruik en die Nuwe-Testamentiese skrywers is almal geïnspireer om die Griekse woorde vir die Godheid te gebruik. Die ware belangrikheid van die saak lê natuurlik nie in die fonetiese klank wat gebruik word om God te beskryf nie, maar in die betekenis wat Sy Naam dra! Hierdie gerespekteerde gesag op Bybelse linguistiek toon dus duidelik dat iemand se naam aanduidend is van sy amp, gesag en veral sy karakter. Die Name van God toon aan ons hoe God is – dit onthul Sy karakter! Weet u werklik hoe God is? Het u die nodige agting vir Sy verskillende ampte en vir Sy Naam soos u behoort te hê? Kry u Bybel en kyk of dit so is!

God se aard en karakter onthul

“In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Genesis 1:1). In hierdie heel eerste vers van die Bybel, onthul God Homself deur die Hebreeuse Naam Elohim. Daar is een God – maar meer as een lid in die Godheid of Godgesin! Hierdie selfde woord Elohim word in Genesis 1:26 gebruik: “En God [Elohim] het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis”. Hier word duidelik gesien, in samehang met die paragraaf self, dat meer as een persoon die Naam van God – Elohim – deel. In die Nuwe Testament word dit duidelik gemaak deur die onthulling dat God die Vader alle dinge deur Jesus Christus geskape het – wat van die begin af mét God was en wát God was (Johannes 1:1-14; Efesiërs 3:9).

In hierdie Skrifgedeeltes word dit dus onthul dat God meer as een persoon is –God die Vader en die “Woord” of Segsman, wat later Jesus Christus geword het toe Hy in die menslike vlees gebore is. Hierdie Vader-Seun verwantskap toon dat God ’n Gesin is. Die manier waarop die woord Elohim in hierdie vroeë Skrifgedeeltes in Genesis en elders gebruik word, toon beslis dat God die skeppende Koninkryk of Gesin is! Dit is wetenswaardig dat Elohim meervoudig is, maar kan enkelvoudig en meervoudig aangewend word, afhangend van die konteks. Uit hoofde van die feit dat God die Skepper is, is Hy ook die Heerser oor Sy skepping. Ons vind dat onmiddellik nadat Hy die eerste man en vrou geskape het, God aan hulle beide ’n seën en ’n bevel gegee het: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit” (Genesis 1:28).

Ja, die ware God is die Heerser – u behoort Hom te gehoorsaam omdat Hy u geskape het en u elke asemteug gee wat u inasem! In Sy omgang met Abraham, het God Homself soms El-Shaddai genoem, wat “Almagtige God” beteken. God is dus die bron van alle mag! Sy Naam moet eerbiedig word, want dit staan vir die Een wat die bron van alle krag, mag en gesag is. Die Naam wat gewoonlik in die Ou Testament as “HERE” vertaal word, is vertaal uit die Hebreeuse letters YHWH, wat soms weergegee word as YAHWEH of YAHVEH. Die oorspronklike Hebreeuse woord beteken die “Ewige God” of “Selfbestaande Een”. Die woord word beide gebruik en omskryf in Genesis 21:33: “En hy [Abraham] het ’n tamarisk in Berséba geplant en daar die Naam van die HERE [YHWH], die ewige God, aangeroep”. Hierdie Hebreeuse woord, wat dikwels vertaal word as “Jehovah” in van die Engelse hersiene weergawes, toon God se karakter as die God wat ewig leef en word aangewend om Sy ewige amp te toon in ’n verbondsverhouding met diegene wat Hy geskape het. God het altyd bestaan en sal altyd bestaan om Sy seëninge, beloftes en verbond met Sy mense uit te voer! Ons God is die Ewige God – die Selfbestaande Een. Regdeur Sy Woord, word God se Naam in verband gebring met Sy karaktertrekke: Sy mag, Sy ewige bestaan, Sy genade, Sy getrouheid, Sy wysheid en Sy liefde. Let nou op hoe die profeet Dawid God se Naam verbind met Sy skeppende mag: “O HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! U wat u majesteit gelê het op die hemele … As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” (Psalm 8:2-5). Hier word God uitgebeeld dat Hy Sy heerlikheid bo die hemele stel. Dan toon Dawid voorts dat God die hemele, die aarde en die mens geskape het. Geen wonder God se Naam en amp moet gerespekteer word nie!

In dit wat ons daagliks sê, vervloek baie van ons die einste Naam van ons Skepper en ons God! Ons gebruik ons asem om die Naam van die Een te laster en te vervloek wat ons ons lewe en elke asemteug gee waarmee ons Sy Naam laster! ’n Uitdrukking wat met verskriklike gereeldheid aangewend word, is om God te vra om iemand te “vervloek”. Beide ryk en arm spreek hierdie gemene vloek maklik oor iemand anders uit en dikwels dink hulle dat hulle hul “manlikheid” bewys of met iets wegkom deur dit te doen! Tog sou dit moeilik wees om enige normale mens êrens raak te loop wat hierdie uitspraak tot die volle verskriklike omvang daarvan uitgevoer sou wou sien met betrekking tot ander mense! Die gebruik van hierdie uitdrukking verbeusel die Naam van ons God deur Hom te vra om iets te doen wat Hy nooit beoog het om te doen nie. God het nog nooit ’n mens “vervloek” op die wyse wat baie mense klaarblyklik dink nie! Hierdie idee is ’n verskriklike dwaalleer! God se werk is die werk van verlossing en God sal geen mens van die ewige lewe ontneem nie, behalwe die een wat uit sy eie vrye wil en keuse God se weg verwerp. God sê: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2). Presies dieselfde kan gesê word van die diepe respek en goddelike vrees wat ons moet hê vir God se Naam – wat Sy karakter, Sy Woord en Sy voornemens regstreeks verteenwoordig.

Moet u sweer?

Vandag is mense nie net gewoond aan godslasterlike gesweer en om God se Naam aan te roep om hulle ede te rugsteun nie, maar daar is ook baie wetlike seremonies waar die Naam van God aangeroep word in ’n vorm van sweer of eedaflegging. Jesus Christus sê: “Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie – nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning” (Mattheus 5:34-35). God se Naam is so heilig en gewyd dat ons opdrag gegee word om dit nie aan te roep om ons woorde of ’n eed mee te steun nie! Ons kan bly wees dat die Suid-Afrikaanse regering steeds voorsiening maak vir mense wat hul Bybels lees en godsdiensvryheid toelaat. Daarom, selfs al sal baie staatsamptenare u by geleentheid vra om u hand te lig en te “sweer”, besef hulle dat daar voorsiening gemaak is dat u slegs die woord “bevestig” hoef te gebruik pleks van te “sweer”. Eintlik behoort almal van ons ook te weet dat die eenvoudige bevestiging of formele woord van ’n Godvresende Christen veel meer betroubaar is as die woord van tienduisend leuenaars wat op die getuiebank ’n eed aflê! Die bespotting van sakemanne, politici en selfs universiteitsprofessore wat God se Naam sodanig ydellik gebruik op die getuiebank, is genoegsame bewys van hierdie stelling!

Godsdienstitels om te vermy

Met verwysing tot die gebruik van sekere aanspreekvorme as godsdienstitel, sê Christus: “En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is” (Mattheus 23:9). Hoewel daar ’n ooglopende en duidelike misbruik van hierdie Gebod in sommige groot godsdiensorganisasies bestaan, is hierdie stelling in God se Woord duidelik vir enigiemand wat dit wil gehoorsaam. God is ons enigste geestelike Vader! Enige aanwending van hierdie woord as ’n godsdienstitel vir ’n mens is eenvoudig direkte lastering teen die Skepper wat alle mense gemaak het – selfs die swak, sterflike mense wat skaamteloos vir hulself ’n goddelike titel aanneem. Ons moet natuurlik ons vleeslike ouer “vader” noem, soos God Self in die vyfde Gebod doen. Nog ’n algemene misbruik van die goddelike Naam is die aanwending van die term “Eerwaarde” vir enige mens – hetsy ’n predikant of andersins, aangesien God hierdie aanspreekvorm slegs op Homself van toepassing maak: “Hy het vryheid vir sy volk bewerk, sy verbond vir altyd ingestel. Sy [God se] Naam is heilig, dit wek ontsag” (Psalm 111:9 NV). “Eerwaarde” is van toepassing op iemand wat vereer moet word – iemand wat waardig is om aanbid te word! Geen sterflike mens is so ’n titel waardig nie! Selfs die apostel Paulus, wat ’n groot dienaar van God was, is geïnspireer om te skryf: “Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie” (Romeine 7:18). Enigeen wat homself waardig van aanbidding ag – of dat hy die titel “Eerwaarde” verdien – sal homself eendag moet bekeer van die oortreding van die derde Gebod!

Die algemeenste sonde van almal

Waar Jesus Christus Sy dissipels en ons as Christene leer hoe om te bid, sit Hy die regte manier uiteen hoe om die Almagtige God te benader en in watter gesindheid van verering ons Sy amp en Sy Naam moet huldig. In die aanvangsverse van wat oor die algemeen die “Onse Vader” genoem word, is die leestekens in beide die vertalings verkeerd aangewend. Na die aanroeping “Onse Vader wat in die hemele is” – die benadering van die mensdom tot God – is daar drie versoeke wat saam gekoppel word, gevolg deur ’n klousule wat ’n voorwaarde vir al drie is – nie net vir die laaste versoek nie. Die korrekte weergawe sou soos volg wees: “Onse Vader wat in die hemele is, laat U Naam geheilig word, laat U koninkryk kom, laat U wil geskied: soos in die hemel, net so ook op die aarde”.

Die frase “soos in die hemel, net so ook op die aarde” verwys nie bloot na “laat U wil geskied” nie, maar ook na “laat U koninkryk kom” en “laat U Naam geheilig word”. Hierdie gedagtes wat in die “Onse Vader” vervat word – die heiliging van God se Naam, die koms van Sy Koninkryk en dat Sy wil moet geskied – is bloot verskillende frases van dieselfde stelling, omdat ons God se Naam heilig deur ons aan Sy Koninkryk en regering te onderwerp en deur Sy wil te doen en Sy Wette te gehoorsaam. Deur bloot die fonetiese klank van God se Naam te eer, is slegs ’n klein gedeelte van die vervulling van die derde Gebod. Jesus vra: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Gebed sonder gehoorsaamheid is ’n subtiele vorm van godslastering! Die veronderstelde godsdienstige mense wat oor godsdiens en God praat, maar weier om Sy Woord en Sy Wet te gehoorsaam, is skuldig aan ’n veel groter sonde as diegene wat toegee dat hulle die weg van die vlees volg en ten minste weier om anders voor te gee. Die geveinsdheid van godsdiensorganisasies en godsdienstige mense is oneindig erger as die gevloek op straat. Lofprysing wat aan God opgedra is en teengewerk word deur rebelsheid teen Sy weë en Sy Wette, is beslis godslasterlik – en dit is om die Naam van God ydellik te gebruik! Iemand wat met groot omhaal van woorde en toegewyde gesindheid preek en bid, maar dan verder selfs die minste van God se Gebooie verbreek (Mattheus 5:19), belaster God wanneer hy bid! Selfs al bedrieg so persoon die wêreld, bedrieg hy God egter nooit nie!

Met verwysing na die “dwepers” van Sy tyd wat heeltemal geweier het om die wil en Wet van God te gehoorsaam, verklaar Jesus: “Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Markus 7:6-7). Eweneens bely baie mense God vandag met hulle lippe, maar hul aanbidding is tevergeefs! “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Mattheus 7:21).

Mag God aan u die bereidwilligheid gee om Sy wil en Wet te gehoorsaam! Mag u leer om Hom in gees en in waarheid te aanbid. Mag u leer om Sy grote Naam te eer en agting daarvoor te hê – want dit verteenwoordig Sy skeppende mag, Sy wysheid, Sy getrouheid, Sy liefde en goedheid, geduld en grenselose genade. Dit verteenwoordig die karakter, amp en waardigheid van die grote God wat in beheer van die heelal is!

Die Vierde Gebod Waarom is u gebore? Wat is die betekenis van u lewe? Wat is die ware doelwit van die lewe en wat is die lewenswette waardeur daardie doelwit bereik kan word? Hoeveel tyd bestee u elke week in oordenking van hierdie baie belangrike vrae? Die meeste mense is so besig met die dag-tot-dag bekommernis om met hul geld uit te kom, dat hulle bykans geen tyd aan die geestelike lewensvraagstukke wy nie. Indien hulle uitgevra word oor Bybelstudie of gebed, antwoord die meeste mense dat “daar net nie genoeg tyd is” vir hierdie godsdiensaktiwiteite nie.

Aangesien die gemiddelde Suid-Afrikaner so verdiep is in sy werk gedurende die dag en televisie, rolprente, partytjies en sport in die aande en oor naweke, is hy geheel en al gebrekkig aan selfs ’n elementêre kennis van sy eie godsdiensoortuigings. Hy is ook kinderlik onkundig aangaande die fundamentele waarhede van die Bybel – tot so ’n mate dat ’n opname toon dat die gemiddelde Suid-Afrikaner selfs nie eens die vier Evangelies korrek kan opnoem nie! God blyk vir hom veraf te wees. Die Bybel is “vir ou mense en predikante” om te lees en te verstaan. Tog opper hy die verwagting om eendag “beter te doen”. Die groot vraag is – wanneer? Wanneer sal hy die tyd neem om God werklik te leer ken? Wanneer sal hy die tyd neem om sy Bybel te bestudeer, om in erns tot die Skepper as sy Vader te bid, om te mediteer oor die wette en doel van die lewe? Vir die meeste mense sal die ware antwoord moontlik “nooit” wees – tensy hulle leer om die vierde Gebod van die Almagtige God te gehoorsaam! Gehoorsaamheid aan hierdie Gebod wat so sleg verstaan word, is ’n kragtige faktor om die lewens van mans en vroue ná aan die Skeppergod – en Sy seëninge en regstreekse leiding – te bring.

Die Vierde Gebod se bewoording word gegee

Ons het reeds die sonde wat algemeen voorkom, naamlik om ’n ander god in die plek van die ware God te plaas, bespreek. Ons het geleer dat God ons beveel om Hom regstreeks te aanbid en te vermy om enige afbeelding, prent of fisiese voorwerp te gebruik om ons aan die groot Skepper te “herinner” of as “hulpmiddel” in aanbidding te gebruik. Ons is ook gewaarsku teen die ydellike gebruik van die Naam van die Almagtige God, wat vir Sy posisie, Sy karakter, Sy mag en Sy amp as die groot Heerser van hierdie ganse heelal staan. Die vierde Gebod voltooi die eerste afdeling van die Dekaloog, wat handel oor die mens se verhouding met God. Dit maak voorsiening vir die voortgesette onderhouding van ’n teken van die verhouding tussen God en die mens. “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het HY gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig” (Eksodus 20:8-11).

Hierdie Gebod is dus wat sy bewoording aanbetref, die langste van al tien die Gebooie. Dit word beskermend, te midde van die Tien Gebooie, geplaas. Tog is dit ongelukkig die een Gebod waaroor mense die meeste “redeneer” en stry en wat hulle die gouste uitmekaar wil trek en probeer skei van die res van God se Wet. Let daarop dat dit begin met die opdrag om te “gedenk”. Hierdie einste stelling bewys dat die Sabbatgebod reeds deur God se uitverkore mense verstaan is en deur dit in te lyf as deel van Sy verbond, het God hulle herinner aan ’n geestelike Gebod waarvan hulle reeds kennis gedra het. “Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou” (Eksodus 20:8, NV). ’n Mens kan nie koue water warm “hou” nie! Sterflike mense kan ook nie enigiets heilig maak nie. Daarom, ten einde die betekenis van hierdie goddelike bevel ten volle te verstaan, moet ons uitvind wie die Sabbatdag geheilig het en wanneer! Jesus sê: “En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat” (Markus 2:27-28). Neem kennis dat Jesus sê die Sabbatdag is “gemaak”. Enigiets wat gemaak is, het ’n Maker. Let ook daarop dat Jesus nie gesê het dat die Sabbat slegs vir die Joodse volk gemaak is nie, maar vir die mens – met ander woorde – vir die ganse mensdom. Dan maak Hy die stelling dat Hy – Christus – “Here” is van die Sabbat. In hierdie stelling maak Hy aanspraak dat Hy nie die vernietiger nie, maar die Here van die Sabbat is. In Sy menslike lewe het Jesus die Sabbat onderhou en baie verse in die vier Evangelies is gewy aan Sy opdragte aan die dissipels oor hoé dit onderhou moes word en om dit vry te maak van die tradisies wat die Jode bygevoeg het. Maar, voordat ons verder gaan, laat ons die vraag beantwoord: “Wie het die Sabbatdag gemaak?”

Wie het die Sabbat gemaak?

Ten einde die Gebod te verstaan om die Sabbatdag te gedenk en dit heilig te hou en om te verstaan wie die Sabbat in die eerste plek gemaak het, moet ons ons na ’n vertelling heel in die begin van God se skepping wend. Die Nuwe Testament gee so ’n weergawe in die eerste hoofstuk van die Evangelie volgens Johannes. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Johannes 1:1-3). Hier vind ons dat Jesus Christus beskryf word as die “Woord” (of “Woordvoerder”, wat ’n beter weergawe van die oorspronklike Grieks is). Hierdie Skrifgedeelte onthul dat Jesus van die begin af by die Vader was en dat niks sonder Hom – Jesus Christus – ontstaan het nie! As die tweede persoon in die Godheid, het die Vader Hom gebruik as die werktuig waardeur die skepping tot stand gebring is. Die apostel Paulus is geïnspireer om te vertel hoe God “alles geskape het deur Jesus Christus” (Efesiërs 3:9).

In Hebreërs sien ons dat Christus beskryf word as die Seun van God, “wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het” (Hebreërs 1:2). Hierdie en baie ander teksverse toon dat Hy die persoon in die Godheid was wat later Jesus Christus geword het en wie eintlik die skeppingswerk uitgevoer het! Hy was die Een wat gesê het: “Laat daar lig wees”, en daar was lig. Hy was die Een wat die mens geskape het en hom op hierdie aarde in die Tuin van Eden geplaas het. Met spesifieke verwysing na Hom wat die skeppingswerk gedoen het, sê die geïnspireerde skrywer van Genesis: “En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak” (Genesis 2:2-3).

Jesus sê dat die Sabbat vir die mens gemaak is. Hier sien ons dat die Sabbat gemaak is toe die mens gemaak is en dat dit gemaak is deur die goddelike Wese wat later Jesus Christus geword het! Dit is gemaak as ’n wesenlike deel van die omgewing wat die mensdom omring en wat God in die sewe dae van die skepping gemaak het. Let daarop dat God die sewende dag “geseën” en “geheilig” het, ’n eer wat geen van die ander ses dae te beurt geval het nie. Wanneer God iets seën, plaas Hy Sy goddelike guns daarop en gee Sy goddelike teenwoordigheid daaraan. Die einste woord “heilig” beteken om af te sonder vir heilige gebruik of doeleinde. Ons sien dus dat die Almagtige God in die einste skeppingsaksie Sy goddelike guns geplaas het op ’n sekere duur van die blywendste ding wat bestaan – tyd – en dit uitgesonder het vir heilige gebruik en doel.

Die Sabbat is ’n seën

Hierdie insig tot die agtergrond van die Sabbat gee beslis bykomende betekenis aan God se bevel: “Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou”. Deur Jesus Christus maak God die sewende dag van die week heilig – en deur Sy gesag as ons Skepper beveel Hy ons om dit so te hou! Die Sabbat is dus heilige tyd! Tog is dit vir die mens gemaak – as ’n groot seën vir die ganse mensdom! Ons Skepper het geweet dat ons elke sewe dae ’n tyd van rus en aanbidding sou nodig hê en dit is die basiese doel waarvoor die Sabbat geskape is. Ons almal neig om gedurende die week te verdiep te raak in ons daaglikse sorge, werk en plesier. Ons Skepper het dit voorsien en het Sy Sabbatdag as gewyde tyd uitgesonder wanneer ons ons daaglikse roetine heeltemal kan vergeet en nader aan die Skeppergod kom in studie, meditasie en gebed. Die moderne mensdom het hierdie tydperk broodnodig waartydens hulle ware gemeenskap met hul Skepper en God kan geniet. Deur tyd te neem om na te dink oor God en om Hom te vereer, te aanbid, te studeer en te mediteer oor die doel vir die mens se bestaan en God se onthulde lewenswette – alles voeg groot krag en betekenis by tot die mens se lewe gedurende die ander ses dae van die week. Die Sabbat is een van die grootste seëninge wat ooit op die menslike gesin uitgestort is!

Die Gebod uitgebrei

Met die begrip dat die Sabbatgebod net so bindend soos die Gebooie teen moord en egbreek is, laat ons dan voorts hierdie Gebod van God en die toepassing daarvan op ons persoonlike lewens vandag ontleed en uitbrei. Behalwe vir die verduidelikende en beskrywende stellings, bestaan die vierde Gebod ook uit twee basiese opdragte: Eerstens, “Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou”. Tweedens, “Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen”.

Dit is deur die gesag van God dat die eerste ses dae van die week vasgestel is vir die mens se sake en arbeid. Dit is God se wil dat mense moet werk en hulle daaglikse brood verdien. Iemand wat voortdurend tyd mors in dié ses dae is in God se oë net so skuldig soos iemand wat op die sewende dag werk! Die lui mens is gewoonlik in vodde geklee en sy ydel verstand en hande lei hom tot baie ellendige kwade en sondes. Die tweede deel van die Sabbatgebod is net so bindend soos die eerste! Iemand wat nooit werk nie is heeltemal ongeskik vir aanbidding! Die eerlike, doelgerigte werk van die ses dae is op sigself ’n handeling van aanbidding en gehoorsaamheid aan God. Ons is in ’n wêreld geplaas met alles wat nodig is vir ons menslike bestaan, maar om dit te bekom moet ons werk! Dit is deel van die oorspronklike bedoeling van God, want die mensdom is in die Tuin van Eden geplaas “om dit te bewerk en te bewaak” (Genesis 2:15).

So ook word iemand wat nooit van sy daaglikse sake en werksaamhede rus, ten einde God op die sewende dag wat Hy geheilig en uitgesonder het, te aanbid soos Hy beveel het nie – weens ’n gebrek aan kontak met sy Skepper – onbevoeg gelaat om die hoogste potensiële sukses in werk, dienslewering en die vreugde van vervulling te smaak. Omdat die einste Skepper dit so beveel het, kan ons die Sabbatdag van rus en geestelike vernuwing onderhou met die volle vertroue dat God ons sal seën en sukses sal gee, omdat ons dit gedoen het!

’n Betaalde vakansiedag

Normaalweg sou ’n mens natuurlik verwag dat as u elke paar dae ophou werk om die nodige rus te kry, u sou agterraak met u werk en finansies. God Self het egter ’n groot Wet in werking gestel. God se Tien Gebooie is lewende, aktiewe Wette – net soos die wet van swaartekrag. Dit is in werking – dit werk outomaties. Die Wet van die Sabbat, gerugsteun deur die werklike gesag van die Skepper, sê indien ’n mens stop ten einde op die sewende dag van elke week te rus en die Almagtige God te aanbid, u so geseënd sal wees gedurende die werk van die ses dae dat dit oorvloedig sal opmaak vir wat u dalk sou kon bereik deur op God se Sabbat te werk!

Besef u waarop dit neerkom? Die een manier om dit te sien, is dat God ons elke sewende dag ’n betaalde vakansiedag gee! Hierdie vakansiedag is egter nie net vir fisiese rus nie, dit is ook ’n tyd vir aanbidding, geestelike hertoewyding, die oordenking en beoefening van die geestelike doeleindes en wette van die lewe wat God vasgestel het. In onderhouding van die sewende dag, wat God geheilig het – en die enigste is wat op die skepping dui – word die mens in noue gemeenskap met sy Skepper en sy God gebring. God se eie teenwoordigheid en Sy goddelike seën is veral sigbaar in hierdie dag wat Hy uitgesonder en geheilig het.

Vandag se dae is die besigste tye wat die mensdom ooit beleef het. Deesdae blyk dit dat die meeste mense min of geen tyd het vir die oorweging van die geestelike doel en doelwitte van die lewe nie – die belangrikste vrae wat die mensdom behoort te oorweeg. Die geweldige seën van God se ware Sabbat is dat dit mense in staat stel om tyd te neem om hierdie belangrikste van alle vrae in die lewe ten volle te oorweeg en op te weeg – en om met ons God en Skepper te verkeer op ’n wyse wat min mense in hierdie tyd al ooit ervaar het. Die ware onderhouding van die Sabbat sal die mensdom in kontak met God hou! Sonder daardie kontak is ons afgesny van die einste doel van ons bestaan, van die wette wat ons sukses of mislukking in die lewe beheer, van ’n begrip van wat ons is, waarheen ons op pad is en hoe om daar te kom. Sonder hierdie kontak met die Skeppergod, is ’n mens se lewe leeg, gefrustreerd en tevergeefs. Die mensdom benodig deesdae, meer as ooit tevore, kontak met God, sowel as die geestelike krag en begrip en die goddelike seën en leiding wat voortspruit uit behoorlike onderhouding van God se ware Sabbat.

Jesus se voorbeeld

Jesus Christus – die geïnspireerde voorbeeld van hoe elke ware Christen behoort te leef – onderrig deur Sy eie lewe en optrede dat die Sabbat ’n heilige vierdag (’n gewyde byeenkoms, NV) vir God se mense is, soos in Levitikus 23:3 onderrig word. Jesus se voorbeeld en gewoonte is aangeteken in Lukas 4:16, waar ons lees dat Jesus “soos Hy gewoond was … op die sabbatdag in die sinagoge … [gaan] staan [het] … om te lees”. Die ware Sabbat is beslis ’n dag vir aanbidding en verering van God deur Sy geroepe dienaars. Dit is ook ’n tyd om God se Woord en Sy lewende Wette te preek en te verduidelik. Dit is dus die plig van elke ware Christen om uit te vind waar daardie Kerk is waarin hy God werklik “in gees en in waarheid” kan aanbid, ’n Kerk wat die ware Sabbat van die Skeppergod behoorlik onderhou en ’n Kerk waarin Christene geleer word om “van elke woord van God [te] leef”.

Daar is verskeie kerke wat glo in die onderhouding van die vierde Gebod, maar die meeste van hierdie kerke verbreek regstreeks een of meer van die ander Gebooie in hul leringe en praktyke. Jesus het slegs een Kerk gestig (Mattheus 16:18) en slegs hulle onderhou al God se Gebooie. U moet te wete kom van hierdie Kerk. Skryf onmiddellik vir die insiggewende gratis boekie, God se Kerk deur die eeue. Ons bied ook persoonlike dienste aan om u te help verstaan waar God se Kerk is en om u te help met enige vrae wat u mag hê. Die Lewende Kerk van God het predikante in verskeie dele van Suid-Afrika en baie ander dele van die wêreld, wat gereed is om u berading te gee oor die Kerk en hoe om die Sabbat te onderhou. Geeneen van hulle sal u natuurlik ongenooid besoek nie. Sou u egter uit u eie oortuiging hierdie lewensbelangrike onderwerpe met ’n gekwalifiseerde en toegewyde dienaar van God wou bespreek, skryf asseblief en laat ons weet. Ons sal met graagte een van ons predikante stuur om u te besoek.

Verheug u in God se Sabbat

Leer om die Sabbat op positiewe wyse te onderhou! Gebruik die sewende dag wat God geheilig en uitgesonder het soos Hy bedoel het – om te rus van wêreldse arbeid, om te bid, te studeer en te mediteer oor God se Woord en die doel van die menslike bestaan. Neem die tyd om vir ander mense goed te doen, siekes te versorg en die bedroefdes te besoek. Indien moontlik, kom op die Sabbat byeen met ander ware Christene. Die sewende dag, wat God geheilig het, is die tyd wat deur God beveel en geseën is vir rus, vir aanbidding en vir oorweging van die noodsaaklike sleutels tot die betekenis van die lewe. Indien u enige twyfel hoegenaamd het oor die dag waarop die Sabbat onderhou behoort te word, skryf vir ons gratis boekie, Watter Dag is die Christelike Sabbat? Wanneer dit behoorlik verstaan en onderhou word, is die vierde Gebod, die onderhouding van God se heilige Sabbatte, een van die grootste seëninge wat die Skepper ooit op die mensekinders uitgestort het! Dit is ’n identifiserende teken tussen die mensdom en die ware God. Gedenk dit – hou dit heilig!

Die Vyfde Gebod Geweld en astrantheid onder die jeug is kenmerkend van die tyd waarin ons leef. Enkelouergesinne neem toe. Tienermisdaad skiet absoluut die hoogte in! Jare gelede het een van Amerika se mees gerespekteerde kenners op die gebied van jeugprobleme, regter Samuel S. Leibowitz, gepoog om die antwoord te vind op die gefrustreerdheid van Amerika se jeug. Hy het besluit om na die Westerse land met die laagste aangetekende gevalle van jeugmisdaad, naamlik Italië, te gaan. Hy het die rede daarvoor gesoek by polisiebeamptes en onderwysers regdeur die land. Uit elke deel van Italië het hy dieselfde antwoord gekry: Jongmense in Italië respekteer gesag. Regter Leibowitz moes na die Italiaanse gesinne gaan om uit te vind waarom. Hy het gevind dat selfs in die armste huis, die vrou en kinders die vader as die hoof gerespekteer en geëer het. Hy het gevind dat die moderne “doen-soos-jy-wil”, permissiewe wêreld ’n kind nie werklik gelukkig en gebalanseerd maak nie. ’n Kind wil eerder die soliede mure van dissipline en reëls om hom hê om sy wêreld te definieer – hom te vertel presies hoe ver hy kan gaan. Net soos van hom verwag sal word in die volwasse wêreld, moet ’n kind gedissiplineer word om dinge te doen wat hy nie noodwendig wil doen nie. Van kindsbeen af moet ’n kind geleer word om sy ouers te respekteer en te gehoorsaam.

Regter Leibowitz het sy ondersoeke afgesluit met ’n negewoord oplossing vir jeugmisdaad: Plaas vader terug as die hoof van die gesin. Die merkwaardige antwoord op jeugprobleme deur hierdie vooraanstaande gesag gegee, strek dieper as wat moontlik besef word. Dit gaan na die werklike bron van die probleem – ’n gebrek aan diepgesetelde respek vir gesag, wat tydens die vroegste kinderdae begin en lewenslank voortduur. Hierdie probleem het sy oorsprong in die kinderdae – tuis! Lank voordat ’n kind selfs bewus is van die bestaan van kerk, skool of nasie, vorm hy gesindhede en gewoontes teenoor diegene wat sy meerdere is in die kleuterskool, die huis en die buurt. Hierdie deel van ’n kind se karakter, wat van kindsbeen af ontwikkel word, sal ongetwyfeld sy gedagtes en dade vir die res van sy natuurlike lewe beïnvloed!

Die Vyfde Gebod se bewoording word gegee

Die eerste vier Gebooie omskryf die mens se verhouding met God. Dit leer ons die omvang van God se mag en Naam – en vermaan ons om Hom te onthou as Skepper van alles wat bestaan. Die vyfde Gebod kom eerste onder dié wat ons menslike verhoudings bepaal. Wanneer ons die volle betekenis daarvan verstaan, is dit nie net die belangrikste onder hierdie nie, maar dit tree op as ’n soort “brug” tussen die twee afdelings van God se Wet. Ware gehoorsaamheid aan die vyfde Gebod is noodwendig verbind aan gehoorsaamheid en eer teenoor God Self! Ons Skepper het dit geweet toe Hy dit geïnspireer het as “die eerste gebod met ’n belofte” (Efesiërs 6:2). “Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee” (Eksodus 20:12). Waarom ons ouers eer? Die ware antwoord onthul die omvang van hierdie Gebod en die juiste belangrikheid daarvan.

As elke ouer op aarde tog net die geweldige invloed op ’n kind se latere lewe kan besef wat outomaties daaruit spruit as ’n regstreekse gevolg van gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan hierdie Godgegewe Gebod! Hierdie Gebod is een van die tien groot punte van God se ewige, geestelike Wet. Onder die Ou Testament se bedeling, was die straf vir regstreekse en ooglopende oortreding van hierdie Wet die doodstraf! “En hy wat sy vader of moeder slaan, moet sekerlik gedood word … En hy wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word” (Eksodus 21:15, 17). Dit is hoe belangrik hierdie Gebod in God se oë is! Die huis en die gesinseenheid is die grondslag van die ganse ordentlike samelewing. Die verhouding van kinders met hul ouers is ook ’n presiese voorbeeld van die geestelike verhouding tussen ware Christene en God. Die karakterlesse wat in daardie verhouding geleer word, kan kinders vir die res van hul lewens – en vir ewig bybly! In die oë van ’n klein kindjie, staan ’n ouer in die plek van God Self, want die liefdevolle en toegeneë ouer is die kind se broodwinner, beskermer, onderwyser en wetgewer. ’n Kind se vroeë opleiding en reaksie op hierdie verhouding sal in ’n groot mate sy latere reaksie op die groter verhoudings met die samelewing bepaal. Dit sal beslis ook uiteindelik sy verhouding met sy geestelike Vader in die hemel beïnvloed.

Eer en respek vir ouers

Die Nuwe Testament brei hierdie Gebod op baie plekke uit. Die apostel Paulus skryf: “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder – dit is die eerste gebod met ’n belofte” (Efesiërs 6:1-2). Die oorspronklike Gebod om vader en moeder te eer is regdeur ons lewens op elkeen van ons van toepassing. Hier word kinders egter spesifiek aangesê om hul ouers “in die Here” gehoorsaam te wees. As gevolg van sy algehele gebrek aan ondervinding en oordeelsvermoë, is dit absoluut noodsaaklik dat ’n kind geleer word om sy ouers onmiddellik en sonder om vrae te vra, te gehoorsaam. Verduidelikings en redes hiervoor kan en moet van tyd tot tyd aan die kind gegee word, maar op die oomblik wat die ouer die bevel gee, is daar dalk nie tyd of geleentheid om die rede daarvoor te gee nie! Daarom is dit noodsaaklik dat ’n kind die gewoonte geleer word van onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan sy ouers. Totdat die jong kind ontwikkel, staan sy ouers vir hom in die plek van God en God hou hulle verantwoordelik om die kind te onderrig en behoorlike leiding te gee.

Gehoorsaamheid “in die Here”

Deur regstreekse implikasie is die ouers deur die vyfde Gebod verplig om te sorg dat hulle gerespekteer word. Om respek af te dwing, moet u eerwaardig wees. Alle ouers moet besef dat hulle God vir hul kinders verteenwoordig! Ouers moet lewens lei wat waardig is van ’n kind se diepe respek en verering. Dan moet hulle hul kinders leer om beide ouers te eer en respekteer. Namate hul kinders meer volwasse word, moet ouers hulle onderrig oor die bestaan van die groot geestelike Vader van alle lewe, die Skepper van die hemel en aarde, die soewereine Heerser van die heelal – die Almagtige God. Christen-ouers moet hulle kinders leer om hul geestelike Vader met selfs meer blinde geloof en liefde te eer en te gehoorsaam as hul aardse ouers. Die grootste les wat ’n kind of enigiemand geleer kan word, is vrees vir en gehoorsaamheid aan die Een wat alle lewe in die eerste plek aan die gang gesit het! Kinders sal dus die gewoonte van gehoorsaamheid geleer word. Hulle sal leer om respek vir gesag te hê. Met verloop van tyd, mits hul verstande geopen word om die Oppervader van alle lewe te ken, sal hulle reeds die basis van goddelike karakter geleer het – liefdevolle gehoorsaamheid aan God en diepe respek en eer vir alle wet en gestelde gesag.

Seën vir gehoorsaamheid

Die apostel Paulus benadruk weer die seën wat gekoppel is aan die vyfde Gebod. “Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde” (Efesiërs 6:3). Gehoorsaamheid aan die vyfde Gebod lei outomaties tot die aanleer van gewoontes en bou van karakter wat tot ’n lang lewe lei. ’n Jongmens wat só geleer is, sal die roekeloosheid, geweld, verkeerde geselskap en rebelsheid teen gesag vermy wat so dikwels tot ontydige dood lei. Die uiteindelike betekenis daarvan sal wees dat diegene wat leer om hul ouers en later God Self te respekteer en te gehoorsaam – as gevolg van hierdie opleiding – beslis “lank mag lewe op die aarde”. Soos Jesus sê: “Salig is die sagmoediges [dié wat nederig en gehoorsaam is], want hulle sal die aarde beërwe” (Mattheus 5:5).

Daar is ook baie alledaagse seëninge vir die gehoorsame kind. Beslis nie die minste hiervan nie, is ’n gevoel van veiligheid. Soos regter Leibowitz uitgewys het, is ’n kind verward wanneer hy nie ingelig word oor die grense van sy aktiwiteite nie. Wanneer ’n kind egter deur sy ouers vertel word wat die perke is – en hy bly binne daardie perke – word hy onthef van die verantwoordelikheid wat hy besef op sy ouers se skouers rus. Frustrasie is nog ’n probleem wat verlig word. ’n Ongehoorsame kind is ’n gefrustreerde kind, want sy verstand word gedurig geteister deur gevoelens van skuld en rebellie. ’n Kind wat sy ouers liefhet, eer en gehoorsaam, is inderdaad ’n geseënde kind. Hy sal geneig wees om ’n waarlik gelukkiger, sorgvrye en doelgerigte lewe te lei. In sy geestelike lewe sal hy ook deur die natuurlike en pragtige opeenvolging gaan van die eer van sy ouers na die vreugdevolle aanbidding van sy God!

Tot dusver het ons hoofsaaklik die toepassing van die vyfde Gebod op kinders en jongmense behandel. Die oorspronklike Gebod om ons ouers te “eer” is egter nie net gerig op kinders nie, maar op almal.

Selfs volwassenes moet hul ouers eer

Die tyd kan aanbreek wanneer dit nie meer nodig of reg is vir ’n persoon om sy ouers streng te gehoorsaam nie, maar die tyd moet nooit aanbreek dat hy ophou om hulle te eer nie. Die woord “eer” het ’n baie breër betekenis as bloot gehoorsaamheid. Dit dui op ’n hoë agting, soos vir waarde, meriete of rang. Dit dui op ’n gevoel van hoë aansien en verering. Iemand wat sy ouers in sy kinderjare behoorlik gehoorsaam het, druk later sy eer vir hulle uit in ’n dieper waardering vir die geriewe en opleiding wat hulle hom as kind gebied het. Hierdie eer word betoon in hoflikheid, bedagsaamheid en goeie dade. Namate ons ouer word, raak dit al hoe duideliker dat tallose ure van werk, kommervolle gedagtes en kwellende gebed vir ons welsyn deur getroue en liefdevolle ouers gedoen is. Dit behoort elke ordentlike man en vrou te verheug om hierdie liefde wat ons ouers op ons uitgestort het, te kan teruggee. In die lewensaand smag baie ouers moontlik meer na hierdie soort liefde en gemeensaamheid met hul kinders as na enige ander seën. Laat ons nadink en reageer op hierdie geleentheid om die liefde wat ons ouers so vrylik gegee het, ook weer teenoor hulle te betoon!

Tot die ewige skande van ons belydende Christelike samelewing, word duisende bejaarde ouers verneder om te leef van ’n skamele paar sent wat deur regeringsinstansies na hulle kant toe kom. In te veel gevalle is die kinders in staat, maar bloot onwillig, om bykomende geriewe vir hul ouers te voorsien. Jesus Christus het een van die kragtigste vertolkings van die vyfde Gebod met betrekking tot hierdie einste probleem gegee. In Sy tyd het mense hulself verskoon daarvan om hul ouers van noodsaaklikhede te voorsien. Hulle het gesê dat geld wat hulle hiervoor kon aanwend, “Korban” was, met ander woorde toegewy aan die diens van die altaar. Hierdie geld was nie deel van God se tiende nie, maar eerder ’n bykomende offerande wat gebruik is om guns te wen wanneer God genader word. Jesus berispe hierdie geveinsde dwepers en sê: “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou. Want Moses het gesê: Eer jou vader en jou moeder; en: Hy wat vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe” (Markus 7:9-10). Let nou op hoe hierdie geveinsdes hul weg óm hierdie Gebod “geredeneer” het! Jesus gaan voort: “Maar julle sê: As ’n mens aan vader of moeder sê: Enige voordeel wat u van my mag geniet, is korban … dan laat julle hom nie meer toe om iets vir sy vader of sy moeder te doen nie. So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het” (verse 11-13). Jesus verdoem hierdie geveinsdes. Sy woorde leer duidelik dat ’n Christen materiële en finansiële bystand aan sy bejaarde ouers moet gee indien moontlik, wanneer hul behoefte daaraan het. Hy mag homself nie verskoon deur te sê dat al sy ekstra geld “aan God gewy” is nie! Dit is deel van ons gehoorsaamheid aan die vyfde Gebod.

Jesus se persoonlike voorbeeld

Jesus Christus het die boodskap uitgeleef wat Hy onderrig het. Sy eie persoonlike lewe is ’n dramatiese uitbeelding van gehoorsaamheid aan die vyfde Gebod. Net voor Sy dood, sê Jesus dat Hy die Vader se Gebooie bewaar het (Johannes 15:10). Deur gehoorsaamheid aan Sy hemelse Vader en ook aan Sy menslike ouers, het Jesus selfs as ’n jeugdige in wysheid en volwassenheid toegeneem. Selfs in Sy sterwensuur, terwyl Hy een van die folterendste dode sterf wat ooit deur mense uitgedink is, het Jesus Sy moeder geëer en liefgehad tot die heel einde. Net voor Hy aan die kruis sterf, teken Johannes aan: “En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem” (Johannes 19:26-27). Hier maak Jesus vir oulaas voorsiening vir Johannes om na Sy dood na Sy moeder om te sien.

Op ’n tyd wanneer die gedagtes van ander mense oor hulself sou gaan, onthou Jesus steeds die vyfde Gebod en betoon liefde en eer teenoor die vrou wat aan Hom geboorte geskenk het, wat Hom van geboorte af gevoed het, wat Hom die Bybel geleer het en wat nou op hierdie verskriklike plek staan en – onbeskaamd – oor Sy dood huil. Onthou die volmaakte voorbeeld van Jesus Christus! “Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee” (Eksodus 20:12).

Die Sesde Gebod Dit is nou ’n tyd van haat en geweld. Dit is ’n tyd van intense wedywering, struwelinge en persoonlike spanning. Die nasies van die aarde en individue in daardie nasies, berei hul verstande en gewetens voor vir die moontlikheid van grootskaalse moord en moontlik wêreldselfmoord. Hierdie situasie is natuurlik vernietigend vir die geestelike beginsels en ideale van ons mense. Die uitwerking hiervan word nou gevoel – selfs terwyl u hierdie boekie lees. Ons het die seëninge gesien wat volg deur ontsag en respek vir die een ware God, deur verering van Sy Naam en amp, deur Sy Sabbatdag te heilig en in die ware kennis van Hom te hou, en deur ons vaders en moeders te eer vir hulle hoë amp wat regstreeks God se Vaderskap en liefde vir die ganse skepping weerspieël. In al hierdie Gebooie sien ons liefde, wysheid en seëninge. So is dit ook met die sesde Gebod.

Te midde van die donder, weerlig en letterlike skudding van die berg Sinaï, donder God se stem die sesde Gebod: “Jy mag nie moord pleeg nie” (Eksodus 20:13, NV). Bybelkenners stem saam dat “moord” ’n meer korrekte weergawe is van die oorspronklik geïnspireerde Hebreeuse woord, as “doodslaan”, want dit is moontlik om dood te slaan en tog nie te moor nie. Dit is ook belangrik om te verstaan dat slegs die letter van God se Wet aan antieke Israel gegee is, terwyl Christene moet leef volgens die gees en die volste bedoeling van daardie Wet, soos uitgebrei deur Christus Self. Onder die oorspronklike letter van die Wet was opsetlike doodslaan of moord verbied. Onthou dat in hierdie selfde “boek van die verbond” wat aan Israel gegee is, God hulle opdrag gegee het om diegene wat skuldig was aan groot misdade dood te maak of tereg te stel (Eksodus 21:12-17). Die opdragte in Numeri 35:9-34 toon ook dat per ongeluk doodslaan, nie as moord geag is nie. Selfs hier was manslag egter ’n verskriklike oortreding en die roekelose of onbedoelde moordenaar moes vir moontlik baie jare in ’n vrystad gaan bly, totdat die hoëpriester te sterwe kom. Net soos God doodstraf vir ernstige misdade onder die letter van die wet gebied het, so moet die oorloë van Israel wat God gebied het, nie gesien word as handelinge van grootskaalse moord nie, maar die uitvoer van die goddelike wil deur menslike werktuie. Neem kennis dat God Israel regstreeks opdrag gee in Deuteronomium 7:1-2 om die heidense stamme in die land Kanaän uit te wis. Dit was nóg menslik bedinkte oorlogvoering, nóg persoonlike wraak of kwaadwilligheid. Dit was die uitdruklike wil van die Almagtige God wat lewe gee – en die enigste Een is wat die reg het om te sê wanneer dit geneem sal word.

Trouens, ons moet daarop let dat die geskiedenis van die tyd aandui dat hierdie volke wat Kanaän beset het, absoluut boos in die ergste vorm was – en hul eie kinders lewendig verbrand het as menslike offerandes vir hul heidense gode. Dit was gedeeltelik die intelligente rede waarom die Skepper hul uitwissing op daardie tydstip beveel het. Let daarop dat in al hierdie gevalle waar God mense toegelaat het om lewens te neem, dit slegs as Sy agent was – Sy uitdruklike wil. God se oorspronklike doel was dat die mensdom moet leer om nie dood te maak nie. Hoewel dit in sekere gevalle toegelaat is vir die vleeslike, onbekeerde mense van Israel, sal ons sien dat God nou in Sy geesverwekte kinders die eienskap ontwikkel om die lewe lief te hê, te dien en te red – dit nié te vernietig nie.

Die Oorsprong van lewe

“En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers …” (Genesis 1:26). Lewe is aan die mens gegee deur sy Skepper. Die mens gee dit nie aan homself nie. Ook mag hy dit nie van homself – of van iemand anders – neem nie. Lewe is heilig omdat dit Godgegewe is. Die mensdom is na God se eie beeld en gelykenis geskape. Van die hele fisiese skepping, het slegs mense die soort verstand wat God het. God is die Heerser van alles wat bestaan, maar uit die menslike vlees vorm Hy letterlik kinders wat eendag aan daardie heerskappy sal deel hê. God het gesê: “… en laat hulle heers …” Mense moet ondervinding opdoen ten einde die karakter van God te ontwikkel wat Hy vir ons in gedagte het. Ondervinding vereis tyd en ’n menselewe beslaan net soveel tyd. God gee daardie lewe vir die opperdoel om nog ’n kind voor te berei om vir ewig in Sy Koninkryk en Gesin te wees. Die gee van lewe, asem en vermoëns sluit die ganse mensdom in. Dit is die wonderlikste gawe waarvan die fisiese mensdom kennis dra. Deur lewe te neem, word alles beëindig. Dit vernietig wreedaardig en onverwags al die verwagtings, drome en planne van ’n wese wat na die beeld van die Skepper Self gemaak is. Dit is ’n wrede, wederregtelike toe-eiening van ’n reg wat God alleen toekom, wat in die eerste plek lewe gee – en die enigste Een is wat die gesag het om dit weg te neem (Job 1:21). Dit is waarom enige vorm van moord een van die tien groot sondes is; dit vernietig die hoogste skepping van die Almagtige God! In effek is dit ’n poging om die uiteindelike doel van die groot soewereine Heerser van die heelal in die wiele te ry! God is die Gewer van alle lewe en onbeduidende, sterflike mense het geen saak hoegenaamd om in te meng met God se grootste geskenk nie!

Persoonlike toepassing van die Gebod

Jesus Christus het in hierdie wêreld gekom om God se Wet “groot en heerlik te maak” (Jesaja 42:21). Dit is asof Jesus ’n soeklig werp op die Tien Gebooie om hul ware geestelike bedoeling en betekenis in die volle Christelike lewe te toon. Jesus sê: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur” (Mattheus 5:21-22). Hier word moord terug gespoor na sy oorsprong – naamlik haat en woede. Christus verklaar dat indien persoonlike woede die hart van een van Sy onderdane vul, sodanige persoon in gevaar van oordeel staan. Indien daardie woede daartoe lei dat ’n mens uiterste bespotting en minagting vir ’n medemens het, sal daardie persoon “moet verantwoording doen voor die Groot Raad” – wat God se straf is. Indien iemand in bitterheid en veragting van sy medemens sê: “Jou dwaas”, sal so iemand “verantwoording doen in die helse vuur”. Dit is hoe Jesus Christus die sesde Gebod op ons van toepassing maak. Indien ons haat en woede in ons harte ronddra, huisves ons die gees van moord. Gedagtes word gevolg deur dade. Ons dink eers en dan doen ons! Die Gees van Christus lei ons om nie net ons dade nie, maar ook ons gedagtes en ons gesindhede te beheer. Die Nuwe Verbond is deels die proses waardeur God Sy Wet in ons harte en verstande skryf (Hebreërs 8:10). God praat deur Paulus: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Romeine 12:19). Die mensdom is nie in staat om met die nodige wysheid en regverdigheid teenoor alle betrokkenes wraak te neem nie. Slegs God het die wysheid en mag en die reg om wraak te neem op mensewesens – selfs om hulle tereg te stel indien nodig.

Die ware Christen moet leer dat God werklik is en dat Sy beskerming en Sy wraak net so werklik is! Hoe moet u dan u vyande behandel? “As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie” (verse 20-21). Dit verg werklik ’n sterk karakter om u medemens te help en te dien wanneer hy probeer het om u regstreeks skade aan te doen! Dit verg die geestelike wysheid om te besef dat hy ’n medemens is, geskape na die beeld van God, en bloot vir tyd en wyl in sy gedagtes en optrede mislei is.

Die mensdom se grootste misdaad

Die mensdom se grootste internasionale misdaad is moontlik die teistering van oorlog. Miljoene mense wat na God se beeld geskape is, is deur die eeue genadeloos afgemaai in nuttelose, sinnelose, idiotiese oorloë wat in die meeste gevalle totaal misluk het om hul bepaalde doel te bereik! Die gees van God se Wet, soos dit deur Jesus Christus uitgebrei word, is geheel en al gekant teen enige vorm van oorlog! Bykans al die waarlik groot godsdiens- en politieke leiers van die wêreld het die algehele nutteloosheid van oorlog erken. Voordat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, verklaar pous Pius die Sewende: “Alles word deur vrede bereik, niks word deur oorlog bereik nie”. Een van die mees gerespekteerde staatsmanne en militêre leiers van ons tyd, generaal Douglas MacArthur sê: “Die mens soek van die begin van tyd af na vrede … militêre bondgenootskappe, magsbalanse en volkebonde het al almal op hul beurt misluk en die smeltkroes van oorlog as die enigste uitweg gelaat. Die algehele vernietiging van oorlog maak nou hierdie alternatief nietig. Ons het ons laaste kans gehad. As ons nie die een of ander groter en regverdiger stelsel uitwerk nie, is ons Armageddon voor die deur. Die probleem is basies teologies van aard en behels ’n geestelike oplewing, ’n verbetering van menslike karakter wat moet saamval met ons bykans weergalose vooruitgang in wetenskap, kuns, literatuur en alle materiële en kulturele ontwikkelings van die afgelope tweeduisend jaar. Dit moet uit die gees kom, indien ons die vlees wil red”. Die mensdom se “laaste kans” is om hulle te bekeer van die sonde van oorlog voordat menslike uitwissing elke greintjie lewe van hierdie planeet laat verdwyn! Generaal MacArthur het erken dat die probleem wat ons in die gesig staar teologies van aard is – dit is ’n Christelike probleem wat ’n ware kennis van die ware God behels! Hy sê verder dat dit “’n verbetering van die menslike karakter” behels.

Jesus Christus is die grootste Staatsman van alle tye. Hy was die Woordvoerder van die regering of Koninkryk van God. Christus sê: “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (Mattheus 5:43-44). Daar is vandag baie hooggeagte, gekultiveerde en opgevoede heidene wat onder die naam “Christendom” in omloop in die wêreld is. Kan selfs hierdie gesofistikeerde heidene egter hierdie duidelike woorde van Jesus Christus in die gesig staar sonder om te bely dat Sy lewe, Sy lering en Sy Gees die totale wese van oorlog verdoem? Meer lewens is voortydig beëindig, meer lyding is ervaar, meer huishoudings is vernietig en versteur en meer tyd is gemors en eiendom totaal verwoes as gevolg van die smeltkroes van oorlog as deur enigiets anders in menseheugenis! Oorlog het ook nog nooit die probleme van die mensdom opgelos of blywende vrede gebring nie. Pleks daarvan het dit meer oorlog tot gevolg, “want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan” (Mattheus 26:52).

Die Bybel se lering

Jesus Christus het in hierdie wêreld gekom as ’n Boodskapper van die regering of Koninkryk van God. Hy het nie deelgeneem aan hierdie wêreld se politiek of oorloë nie. Toe Hy voor Pontius Pilatus vir Sy eie lewe verhoor is, sê Hy: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Johannes 18:36). Soos ons gesê het, het slegs God wat lewe gee, die reg om lewe te neem. Daarom het slegs God die reg om oorlog te voer! Soos Jesus ook onderrig het, is dit nie God se keuse dat Sy kinders op hierdie tydstip vir Hom oorlog voer nie. Jesus sê dat Sy diensknegte sou veg indien Sy Koninkryk van hierdie wêreld was, maar dit is nie. Deur die apostel Jakobus toon God dat oorlog spruit uit ’n soort gees wat direk in teenstelling is met wat Hy wil hê Sy diensknegte moet hê. “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie” (Jakobus 4:1-2)

God se Regering sal oorlogvoering beëindig

Jesus Christus het gekom om die goeie nuus van die regering of heerskappy van God te verkondig. Daardie heerskappy is gegrond op die Tien Gebooie – God se geestelike Wet. Jesus het daardie Wet uitgebrei en vergroot en die geestelike bedoeling en doel daarvan getoon. Hy onderrig dat as ons selfs ons naaste haat, ons geestelik skuldig is aan moord! Jesus onderrig dat mense die Wette van God moet gehoorsaam en moet voorberei vir Sy komende Koninkryk deur hulself oor te gee sodat God se Wette – Sy karakter – in hulle geplaas kan word. Wanneer God se regering binnekort na hierdie aarde kom, sal Sy Wet uitgaan as die standaardoptrede vir alle nasies (Miga 4:1-2). Gedurende daardie tyd sal slegs God, in volmaakte wysheid en regverdigheid, oorlog voer om rebelse nasies te straf. Wat van die volke van die wêreld self? “Nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (vers 3). Oorlog behels dat daar geleer word om te haat en te moor. Jong mans sal nie meer gedwing word om ’n gesindheid aan te leer wat in direkte teenstelling is met die reël van God se Wet van liefde nie. Dwight D. Eisenhower het eenmaal gesê: “Die mens se hoop vir wêreldvrede lê nie in bewapende kampe van twee kante nie, maar in ’n gedagte. Daardie gedagte is die konsep van ’n wetsreël as middel om dispute tussen soewereine state op te los”. Of hierdie voormalige president van Amerika dit besef het al dan nie, hy het die feit uitgelig dat slegs die regering van God, gegrond op Sy Wette, die probleme van die mensdom en nasies sal oplos! Intussen moet ware Christene egter werk en bid vir God se Koninkryk van vrede en ons moet besef dat die gees van oorlog die gees van moord is – en dit met al ons mag vermy.

Toe die Amerikaanse predikant dr. Harry Emerson Fosdick jare gelede voor die Volkebond praat, druk hy hierdie gedagte op ’n baie kragtige wyse uit wat vandag steeds waar is: “Ons kan Jesus Christus nie versoen met oorlog nie – dit is die wese van die saak. Dit is die uitdaging wat vandag die gewete van die Christendom moet aangryp. Oorlog is die heel grootste en vernietigendste maatskaplike sonde wat die mensdom teister; dit is heeltemal en onherstelbaar onchristelik; in die algehele metode en uitwerking daarvan beteken dit alles wat Jesus nie bedoel het nie en dit beteken niks van wat Hy wél bedoel het nie; dit is ’n meer blatante ontkenning van elke Christelike leerstelling oor God en die mens as wat al die teoretiese ateïste op aarde ooit kon uitdink. Sal dit dan die moeite werd wees om te sien dat die Christelike Kerk op haar eie aanspraak maak op hierdie grootste morele vraagstuk van ons tyd om, soos in die dae van ons vaders, ’n duidelike standaard teen die heidendom van hierdie huidige wêreld uit te lig en die Koninkryk van God bo nasionalisme te plaas, terwyl sy weier om met haar gewete vir oorlogvoerende state klaar te staan, en die wêreld tot vrede te roep? Dit sou nie die ontkenning van patriotisme wees nie, maar die verheerliking daarvan”.

Die kern van die saak is dat Jesus Christus teen die gees van moord in elke vorm is. Hy is teen oorlog – eendag gaan Hy vir altyd ’n einde daaraan maak! Hy is teen alle vyandskap, jaloesie en haat. Jesus Christus onderrig die waardigheid van die mens en die heiligheid van menselewe – “geskape na die beeld van God”. Jesus Christus se grote Vader, die Almagtige God wat die heelal uit Sy troon in die hemel regeer, daardie God vaar uit teen ’n era van geweld en rebelsheid: “Jy mag nie moord pleeg nie”.

Die Sewende Gebod Is “seksuele aanpasbaarheid” die allerbelangrikste ding in die huwelik? In vandag se tyd van enkelouer gesinne, jeugmisdaad en moderne sielkunde sal baie mense sê dat die antwoord “ja” is. Die feit bly egter staan dat hoe meer “moderne” teorieë oor die huwelik in werking gestel word, hoe vinniger styg die egskeidingsyfer en hoe meer klein kindertjies word gedoem om sonder die seën van ’n stabiele, gelukkige huis groot te word. Dit is ’n pynlike feit dat bykans die helfte van alle huwelike in die skeihof beland. Die huwelike kom tot ’n einde – maar nie die lyding, seerkry en hartseer nie. Vir die kindertjies van sulke enkelouer gesinne, is dit net die begin van jare van frustrasie en leegheid. Is daar ’n ware betekenis van die huwelik wat moderne mans en vroue moet verstaan? Is daar Godgegewe Wette en beginsels wat ’n Christen se huwelik kan bewaar en dit gelukkig en doelgerig maak?

Die Sewende Gebod se bewoording word gegee

Die Skeppergod wy twee van Sy tien groot geestelike Wette – die Tien Gebooie – aan die beskerming van die verhoudings in die huis en gesin. In hierdie boekie het ons reeds die eerste een bespreek: “Eer jou vader en jou moeder …” Die ander Wet wat die huis en gesin regstreeks bestuur, word vervat in die sewende Gebod: “Jy mag nie egbreek nie” (Eksodus 20:14). Die Almagtige God het hierdie Gebod gegee om die eer en heiligheid van die huwelik te beskerm. Onmiddellik na die sesde Gebod, wat die heiligheid van menselewe verklaar, gee God hierdie Wet om die hoogste aardse verhouding te bewaar, want die huwelik en die huisgesin is die grondslag van alle ordentlike samelewings. Die woorde van die Gebod verbied regstreeks owerspel omdat dit die heilige regte van die huweliksband skend. Die gees daarvan maak die feit duidelik dat alle onkuise gedrag voor die huwelik ’n onreg is wat die toekomstige huwelik aangedoen word en ontrouheid voor die huwelik is net so ’n oortreding van die Gebod soos owerspel nadat die huwelik voltrek is. Die sewende Gebod omvat in beginsel alle vorms van ongeoorloofde seks, insluitend manlike en vroulike homoseksualiteit – nou ’n enorme sonde in die Westerse wêreld. Die huwelik is in God se oë so kosbaar, regverdig en heilige instelling, dat dit nie verontreinig mag word nie! Die betekenis van die huwelik en die groot doel daarvan in God se plan moet in ’n hoë mate verstaan word in hierdie tyd van ongelukkige huwelike en gebroke gesinne.

Die doel van die huwelik

Dit is onmoontlik om die ware betekenis van die huwelik te verstaan sonder om eers te verstaan dat seks en die huwelik Godgegewe en deur Hom ingestel is. Om God uit die prentjie te laat – soos in hierdie moderne tyd die geval is – is om die huwelikseenheid te verneder tot blote dierlikheid. Let op God se doel met dié dat Hy ons man en vrou geskape het! “Ook het die Here God gesê [nadat Hy slegs die man geskape het]: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas” (Genesis 2:18). God het gesien dat die man alleen onvolledig was en daarom het Hy besluit om ’n “hulp” te maak wat geskik was vir ’n man – iemand met wie hy werklik sy lewe kon deel. Die eerste en grootste doel van die huwelik is om die man en vrou volledig te maak. Elkeen is onvolledig sonder die ander een.

Die man alleen was nie in staat om die doel waarvoor God hom geskape het te volbring nie en was nie in staat om die karakterlesse te leer wat God beplan het nie, dus deurdat God in dieselfde skepping die vrou as “hulp” vir die man geskape het, het Hy getoon dat hulle as man en vrou saam moes woon as een vleeslike eenheid om alles in hierdie lewe te deel en so hul lewens betekenisvol en volledig (ten minste in die fisiese sin) te maak. Die tweede doel van seks en die huwelik is die verwekking en opleiding van kinders, want God sê vir die man en vrou: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit …” (Genesis 1:28). Met die verwekking van kinders kom die verantwoordelikheid om hulle te beskerm en op te lei. ’n Stabiele, gelukkige huis en huwelik is onontbeerlik vir die korrekte opvoeding en opleiding van ’n kind. God beveel ook: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spreuke 22:6). Die huis en gesin vorm die grondslag van alle ordentlike samelewings! Die karakterlesse wat in die huis geleer word – geduld, begrip en vriendelikheid – is alles eienskappe wat God in ons wil sien vir alle ewigheid en die gesinsverband is een van die beste plekke waar dit geleer kan word! Die lesse van ordentlikheid, lojaliteit en ’n verantwoordelikheidsin word beter in ’n gelukkige en goed gebalanseerde huis, as op enige ander plek, geleer. Behalwe dat dit ons dus volledig maak, asook die verwekking en opleiding van kinders, is ’n derde doel van seks en die huwelik dat dit karakter bou in die huis en gesinsverband. Die Koninkryk en Wet van God is gegrond op liefde. Jesus sê: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Om God se Wet van die huwelik te gehoorsaam, moet man en vrou hulself letterlik vir mekaar gee op elke gebied en faset van hul lewens.

Die huwelik beeld Christus en Sy Kerk uit

Soos deur God ingestel, is die huwelikseenheid heilig. Dit is so heilig dat die Almagtige God dit in Sy Woord as ’n voorbeeld (’n model of parallel) van die verhouding tussen Christus en Sy Kerk gebruik! Let op Efesiërs 5:22-24: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees”. Hier dui God aan dat in ’n Christen se huis die vrou haarself aan haar man as hoof van daardie huis onderdanig moet stel, net soos sy moet leer om aan Christus Self onderdanig te wees vir alle ewigheid! In hierdie heilige verhouding leer sy die les van blywende getrouheid!

Dan word die mans aangespreek: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het … So behoort die mans hul eie vroue lief te hê, soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief” (verse 25, 28). Jesus Christus het Sy Kerk gedien, gehelp, onderrig, beskerm en Homself uiteindelik daarvoor gegee. So moet mans hul vroue beskerm, na hulle omsien, hulle leiding gee, liefhê en hulself gee! ’n Christen-man is die hoof van sy huis. Tog moet hy daardie amp gebruik om te dien en beskerming, leiding en geluk aan sy vrou en gesin te gee. Die Almagtige God hou hom verantwoordelik om die regte soort hoof te wees! As gevolg van hierdie groot les en doel in die huwelik, sê God: “Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word” (vers 31). In die huwelikseenheid word man en vrou een gemaak. Hul verhouding moet dan die ewige, liefdevolle en dienende verhouding van Christus en Sy Kerk uitbeeld. Daarom moet niks tussen hulle kom nie.

Die les van die huwelik is om ons ewige trou te leer aan Jesus Christus as ons Hoof! Om van u Godgegewe maat te skei, beteken dat u nie die les leer wat God wil hê ons in die huwelik moet leer nie. Dit is ’n oneer teenoor die Almagtige God – want dit verloën Sy wysheid in die inwyding van die egverbintenis om ons werklik “een vlees” met ons maat te maak! Hoe kan ons ooit vir alle ewigheid getrou wees aan die lewende God as ons met selfsug weier om getrou te wees aan die maat tot wie ons net vir ’n paar jaar in hierdie lewe verbind is en versuim om die lesse te leer van geduld, vriendelikheid, lankmoedigheid, selfbeheersing, liefde en getrouheid in die heilige huwelikseenheid?

Wat Jesus Christus onderrig het

Dit raak nou al hoe duideliker waarom Jesus Christus die bestendigheid van die huweliksgelofte onderrig het. Toe die geveinsde Fariseërs Jesus gevra het waarom Moses in Ou-Testamentiese tye egskeiding toegelaat het, antwoord Hy: “Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie. Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk” (Mattheus 19:8-9). Egskeiding veroorsaak egskeiding! ’n Oomblik van nadenke sal u laat onthou dat die alledaagse toestaan van egskeidings, wat vandag so algemeen voorkom, 50 jaar gelede ongehoord was. Die godsdiensleiers van daardie en vroeëre tye het ons gewaarsku dat indien egskeiding eers verdra sou word, daar geen beperking kragtig genoeg sou wees om dit binne die perke te hou wat dán gestel word nie. Vandag sien ons die waarheid in wat hierdie waarskuwing ingehou het! Ons sien nou die hartseer en miserabele spektakel van meer as die helfte, of selfs meer in party gebiede, van alle huwelike wat as mislukking in die skeihowe van mense beland! En na die egskeiding, wat dan? Die geskiedenis toon dat die meeste geskeide mense ’n tweede maat soek en baie kry ’n derde of vierde maat ten einde die begeerte te bevredig wat God bedoel het bevredig, deurgevoer na en opgehef moes word in die heilige en gewyde huwelik met hul eerste maat – wat in die meeste gevalle steeds leef teen die tyd van die volgende troue. Dit is ’n jammerlike spektakel en ’n nasionale skande!

Selfs hoewel God egskeiding in sommige gevalle toelaat, is dit veel beter vir elke huweliksmaat om te leer om die ander een te help, te dien en te vergewe en sodoende die heilige huweliksband te bewaar. Jesus se bekende uitsluitingsklousule, “behalwe oor hoerery [porneia]” (Mattheus 19:9), moet aangewend word slegs as laaste uitweg en selfs dan na baie gebed, raadpleging en opregte pogings om die huwelik te red. Dieselfde sou ook van toepassing wees op die apostel Paulus se toestemming vir die Christen om weer te trou indien hy deur ’n onbekeerde maat verlaat is (1 Korintiërs 7:15).

Die huwelik is deur God ingestel

Ons sien nou dat die huwelik nie iets is wat bloot deur die redenasie en geleidelike beskaafdheid van die mens ontwikkel het nie. Die huwelik is eerder deur die Skeppergod ingestel. Hy het dit ingestel as ’n heilige eenheid wat die ewigdurende trou tussen Christus en Sy Kerk uitbeeld! Alle vorms van owerspel is dus so baie verkeerd en boos omdat die huwelik heilig en gewyd is in die Almagtige God se oë. Owerspel is nie net ’n oortreding teenoor die betrokke verontregte man of vrou nie; dit is ’n oortreding teen hul huis en kinders. Dit is ’n oortreding teen die samelewing – omdat dit teen die grondslag van alle ordentlike samelewings indruis. Bowenal, is dit egter ’n oortreding teen God Self en teen ’n instelling wat Hy ingestel het.

In hedendaagse Amerika, Brittanje en ook Suid-Afrika, soek ’n Godverwerpende samelewing alte dikwels ’n soort Hollywood romantiese ideaal in die huwelik. Mans en vroue word dus subtiel aangemoedig om die huweliksverbond te breek indien hulle selfsugtige, sensuele begeertes nie vervul word met die vrou of man van hul jeug nie. In ’n “huweliksmallemeule” samelewing, versuim hulle om die basiese karakterlesse te leer wat die huwelik kan en moet onderrig – spontane besorgdheid vir hul maat, geduld, genade, nederigheid, diens en blywende trou. Daarbenewens versuim hulle om die lyding en frustrasie van die kinders uit hul oorspronklike huwelik in ag te neem – die onherstelbare skade wat aan hulle lewens en verstande aangerig is, wat na toekomstige geslagte en huwelike oorgedra sal word.

Waarlik, selfs al laat God toe dat sommige huwelike en gesinne deur egskeiding verbrokkel word, is dit iets wat ons Skepper verafsku. “Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel …” (Maleagi 2:16). Weereens: “Omdat die HERE getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond” (vers 14). Dit ly dus geen twyfel dat God egskeiding haat nie, selfs al laat Hy dit toe. Ten einde die lesse te leer wat God deur die huwelik beoog, moet ware Christene poog om hul gades in liggaam, verstand en gesindheid “aan te kleef”. Hulle moet opreg poog om mekaar te verstaan, om vrylik en met vreugde hul planne, verwagtings en drome te deel. Met God se hulp sal hulle dan enige owerspelige en wellustige gedagtes wat voorkom, in die kiem smoor. Die sonde van wellus word beter verstaan wanneer ’n mens besef hoe regverdig en heilig die geoorloofde gebruik van seks in die huwelik is vir die Almagtige God die Skepper. Die prosesse van owerspel, egskeiding en hertrou, begin gewoonlik in die hart.

Let op hoe Jesus Christus hierdie punt behandel het in Sy uitbreiding van die Wet van God om dit te heilig: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Mattheus 5:27-28). Jesus onderrig dat u die sewende Gebod oortree wanneer u selfs net gedagtes van seksuele wellus teenoor ’n ander persoon koester. Dade volg op gedagtes. Dit is dus deel van die ontwikkeling van ’n Christen se karakter vir elke Godvresende mens om te leer om sy gedagtes weg te kanaliseer van wellus en ongeoorloofde begeertes.

Intussen, in die industrieë wat die mees realistiese, lewensgetroue media beheer wat jongmense beïnvloed en tot aksie aanspoor – naamlik rolprente en televisie – is die klem in ’n ewig-toenemende aantal produksies op seks en geweld of ’n kombinasie van die twee. Die hedendaagse samelewing betaal egter ’n verskriklike boete vir hierdie algemene sondes en gruwels! Al hoe meer huise word armsalig en ellendig gemaak as gevolg van owerspelige verhoudings van een of albei gades. Toenemende getalle huise word as gevolg van egskeiding opgebreek. Meer kinders word sonder die liefde en leiding van albei ouers gelaat! Ongeoorloofde seksuele gemeenskap voor die huwelik – wat God “hoerery” noem – neem ook epidemiese afmetings onder jongmense aan in vandag se samelewing. Tog behels enige een asook al hierdie dinge die oortreding van die sewende Gebod! Daardie jongmense wat die geluk van hul toekomstige huwelike goedkoop maak en skade aandoen deur ongeoorloofde seks voor die huwelik, doen hul ganse toekoms in hierdie lewe erge skade aan. Tensy hulle hul dus bekeer en hierdie afskuwelike praktyk stopsit sal hulle God dwing om hulle uit Sy Koninkryk en ewige lewe en geluk uit te sluit (1 Korintiërs 6:9-10). God se Wette is altyd vir ons eie beswil en dié van die mense om ons. Dit moet gehoorsaam word. Ons moet bang wees om onder die “gruwelikes” en “hoereerders” getel te word wat hul deel gaan hê in die poel van vuur en swawel; wat die tweede dood is! (Openbaring 21:8).

Gehoorsaam die Sewende Gebod

God gee ’n brokkie belangrike raad aan diegene wat in versoeking kom om te hoereer of owerspel te pleeg. In hierdie tyd van seksuele stimulasie en wellus, is dit van onskatbare waarde om hierdie raad te volg indien u die Koninkryk van God en die ewige lewe wil ingaan. God sê: “Vlug vir die hoerery” (1 Korintiërs 6:18). Hy sê nie dat u u gedagtes moet laat dwaal oor seksuele idees of begeertes om dit sodoende hoog te ag nie. Hy sê nie plaas uself alleen met iemand anders se maat of ’n enkelpersoon met wie u seksueel in die versoeking kan kom nie. Hy sê nie dat u rolprente of televisie moet kyk of boeke lees wat die seksuele aptyt verkeerdelik kan stimuleer nie. God sê wél om so ver weg van hierdie dinge af te kom as wat u moontlik kan! Hy sê kom weg – vlug – van versoeking van seksuele sonde.

Seks is nie ’n speelding om mee te speel of te eksperimenteer nie. Dit moet beskou word as ’n Godgegewe seën in die heilige en gewyde huwelikseenheid wat die Skeppergod Self ingestel het. Daar moet altyd met verering daaraan gedink word en dat dit ’n uitdrukking van onselfsugtige liefde in ’n Christelike eenheid is wat die ewige trou van Christus en Sy Kerk uitbeeld! Hierdie geslag het dringend nodig om die les van blywende trou in die huwelik en die huis te leer! Hulle moet beide die letter en die gees van God se sewende Gebod gehoorsaam: “Jy mag nie egbreek nie” (Eksodus 20:14).

Die Agtste Gebod Nadat die God van die hemel die Gebooie van die spits van die berg Sinaï met ’n donderstem uitgeroep het wat Sy ware aanbidding en Wette wat die heiligste menslike verhoudings – die huwelik, die gesin en die menselewe self – beskerm, gee God die agtste Gebod. Dit is God se Wet wat alle privaat eiendom en besittings beskerm: “Jy mag nie steel nie” (Eksodus 20:15).

Aangesien mense nie dink dat die God wat hierdie Gebod gegee het, werklik is nie – en nie bang is om aan Sy Wet ongehoorsaam te wees nie – ervaar ons meer fisiese diefstal as ooit tevore. Ons oortree egter ook die agtste Gebod op honderde maniere as gevolg van ’n verwaterde stelsel van moraliteit. Nadat uitvoerende direkteure die een of ander slinkse plan bespreek het waardeur die opposisie of kliënt ingedoen kan word, trek hulle hul skouers op en sê: “Wel, dis net besigheid”. Of, na ’n vergadering wat vals afmetings, swak kwaliteit of misleidende advertensie behels het, sal ’n sakeman sê: “Wat is die verskil? As ek dit nie doen nie, sal iemand anders dit doen”.

Wanneer iemand die regering indoen of ’n vals inkomstebelastingopgawe indien, is die algemene uitdrukking om sy gewete mee te sus: “Laat die Ontvanger hierdie keer bietjie les opsê. Die regering vat in elk geval te veel geld. Wat daarvan?” Ja, wat daarvan? Is dit “net besigheid?” Wel, dit is ook toevallig God se besigheid en Hy het ’n Wet in werking gestel wat sê: “Jy mag nie steel nie”. Wanneer u God se Wet breek, breek dit u, want God se Wette is lewende, aktiewe Wette – soos die wet van swaartekrag. Wanneer u dit oortree, is die straf outomaties en beslis.

Reg tot eiendom

Volgens God se Woord en Sy Wet, is daar net twee regte maniere waarop u in besit van enigiets kan kom. Die eerste is deur ’n gratis geskenk – of erfporsie – van iemand anders of van God Self. Die tweede is deur eerlike werk, wat sodoende ’n wettige opbrengs lewer. Enige ander manier is diefstal; om iets van iemand anders te vat wat aan hom behoort.

Die agtste Gebod herken die wettige verkryging van eiendom en verbied diefstal. Dit is belangrik om daarop te let dat die agtste Gebod in beginsel alle vorms van kommunisme verbied wat die mens sy reg tot eiendom ontneem. Dit verbied ook internasionale diefstal waarin regerings met geweld die eiendom en besittings van hul eie of ’n ander nasie se burgers konfiskeer of steel. Tot ons ewige skande, is alle nasies ook skuldig aan die oortreding van God se Wet in hierdie opsig! Vandag se jongmense leer om op ’n ongelooflike groot en georganiseerde wyse te steel. Nie net steel hulle duisende artikels uit supermarkte, winkels, skole en selfs kerke nie, maar hulle organiseer ook ’n ingewikkelde stelsel om met toetse en eksamens in skole en kolleges te kul. Aangesien dit oor die algemeen nie veel wenkbroue laat lig nie, groei hierdie praktyk teen ’n ongekende koers. Wat egter nie aan die jongmense gesê word nie, is dat kullery die onwettige neem van ’n punt of simbool is – dit is steel. Dit is die regstreekse verbreking van die agtste Gebod van God!

Die nyweraar of handelaar wat vals gewigte en maatstawwe of swak kwaliteit materiaal of vakmanskap gebruik om die publiek te bedrieg, is net so skuldig aan die verbreking van die agtste Gebod soos ’n gewone dief! Hy probeer iets meer bekom as net ’n wettige opbrengs vir sy produk. Wanneer hy kyk na die onwettige profyt wat hy hoop om te maak, probeer hy daardie ekstra iets vir niks bekom. In beginsel is hy bloot besig om te steel! Tog, van hoeveel duisende ander soortgelyke gevalle waar wetteloosheid en bedrog beoefen word, weet God alleen.

Diefstal deur vals advertensie

Een van die grootste kommersiële sondes van ons tyd is die alledaagse praktyk van vals advertensie. Die verbruiker word gelei om te verwag dat ’n sekere “pil”, byvoorbeeld, hom sal laat gewig verloor, laat gewig optel, sy lewenskragtigheid sal verbeter, die proses wat sy hare laat uitval sal omkeer of wat ook al. In die meeste gevalle is hierdie stelling ook sonder twyfel ’n regstreekse, opsetlike leuen. Sulke praktyke is, in effek, om te steel van die mense wat geld betaal om die beloofde resultaat te bereik. In baie gevalle word die slagoffers van hierdie grootskaalse bedrog nie net van geld beroof nie, maar ook van gesondheid, geluk en gemoedsrus. Baie “gesiene” sakemanne en gemeenskapsleiers het hul posisies grootliks deur hierdie soort grootskaalse bedrog en diefstal bekom!

Ons nasies en volke moet wakker word! Net omdat ’n sonde uiterlik “respektabel” gemaak kan word, moet ons egter onthou dat God die ware Regter is. Die Almagtige God sê die volgende: “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders … of diewe … sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Korintiërs 6:9-10). Voordat enigiemand misverstaan, onthou dat dit God se wil is dat Sy diensknegte voorspoed het in materiële rykdom – solank hulle dit eerlik verdien en nie hul harte daarop sit nie. Die apostel Johannes skryf: “Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan” (3 Johannes vers 2).

Bevlekte rykdom

Ons moet ook besef dat ’n nyweraar se rykdom wat bevlek is deur ’n onnodig hoë sterftesyfer in sy aanlegte of fabrieke, onwettig verkrygde rykdom is en hy word in die lig van God se Wet as ’n dief, of selfs as moordenaar, beskou! Die beginsel agter die agtste Gebod word herhaaldelik verbreek in die verhoudings tussen werkgewers en werknemers. Jakobus is geïnspireer om die oneerlike werkgewer te waarsku: “Kyk, die loon van die arbeiders … wat deur julle agtergehou is, roep uit; en die geroep … het gekom tot in die ore van die Here” (Jakobus 5:4). Dit is ook net so waar, veral in hierdie tydperk van korrupte vakbondwese, dat baie werknemers hul werkgewers beroof! Hy doen dit deur sy loon te neem en tog sy volle aandeel van eerlike arbeid te weerhou. Dit is ook steel! Alte gereeld sê een werker vir sy medewerker: “Stadig nou, maat, jy werk te hard. As jy so aanhou werk, sal almal van ons hier moet hard werk!” Britse en Amerikaanse arbeiders, om nie te praat van Suid-Afrikaanse arbeiders nie, wat ’n buitensporige deel van hul tyd aan pouses bestee om tee en koffie te drink en ’n sigaret te rook, veroorsaak dat ons industrieë erg geklop word in die wêreldwye handelsoorlog wat nou woed. Hierdie gebrek aan produktiwiteit raak die lotsbestemming van Amerikaanse, Britse, sowel as Suid-Afrikaanse mense! Die agtste Gebod van die Almagtige God het ’n boodskap vir beide werkgewers en werknemers. Aan werkgewers: “’n Regverdige dag se loon vir ’n regverdige dag se werk”. Aan werknemers: “’n Regverdige dag se werk vir ’n regverdige dag se loon”. Om bloot te steel van ’n medemens is nie die enigste beginsel wat in die agtste Gebod vervat word nie. God besit baie meer eiendom as enige mens (Haggai 2:8).

Om van God te steel

Waar God in Maleagi 3 met hedendaagse Jakob of Israel praat, sê Hy: “Mag ’n mens God beroof? Want julle beroof my, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe” (vers 8). Hier beskuldig God ons moderne Engels- [en Afrikaanssprekende] nasies dat ons ons eie Skepper en Sy Werk beroof! Geen wonder daar is vandag so min ware godsdiens op aarde oor nie! Geen wonder daar is so baie verwarring en bedrog wat aangaan in die naam van die Christendom nie! God gaan voort: “Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie! Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie” (verse 9-10).

Hierdie is ’n onbeskroomde uitdaging van die Almagtige God! God sê dat Hy u sal seën wanneer u begin tiendes betaal – soos Hy beveel – deur geloof in Hom en in Sy Woord. Tallose gevallestudies kan genoem word om te toon dat God beslis die tiendegewer selfs op materiële wyse seën. Hy doen dit dalk nie altyd dadelik nie. U moet Hom dalk vir ’n wyle gehoorsaam en vertroue uitoefen. Namate u Hom egter dien, gehoorsaam en vertrou, sal God Sy deel van die ooreenkoms nakom. U seën sal beslis kom! Let op hierdie vreugdevolle brief van iemand wat God se belofte letterlik opgeneem het: “’n Paar weke gelede was ek finansieel heeltemal platsak. Ek het tien Rand ontvang. Ek was in die versoeking om nie die een Rand tiende te betaal nie. Ek het. Toe, ’n paar dae later, ontvang ek een honderd Rand. Weer was ek in die versoeking om die tiende te hou weens baie behoeftes. Ek het pas vierduisend Rand ontvang en stuur die tiende aan u so gou moontlik. Ek was getrou en God ook”.

Positiewe toepassing van die Gebod

Die besliste positiewe toepassing van die agtste Gebod word in die Nuwe-Testamentiese sendbrief aan die Efesiërs genoem: “Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het” (Efesiërs 4:28). Aan die een kant verdoem hierdie Skrifgedeelte diefstal. Aan die ander kant word werk en mededeelsaamheid uitgewys as die leefwyse wat die positiewe toepassing van God se Gebod voorskryf. Eiendom en besittings moet deur eerlike werk bekom word, nie bloot om persoonlike begeertes en behoeftes te bevredig nie, maar sodat enigiets oortollig vrylik gegee kan word aan die behoeftige mede-lidmaat. In die ware bedoeling of gees van God se Wet, steel iemand nie net deur iets te vat wat aan iemand anders behoort nie, maar deur te weier om te werk ten einde te kan deel en aan ander wat behoeftig is, te gee! Die ware Christen moet “voorsiening [maak] in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid” (Romeine 12:13).

As God se verwekte kinders moet ons meer soos Hy word (Mattheus 5:48). Jesus sê ook: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook” (Johannes 5:17). Die positiewe les van die agtste Gebod word ook opgesom in die allesomvattende woorde van Jesus, die Christus: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Indien ons, deur God se Gees, waarlik kan leer om volgens daardie woorde te leef, sou ons inderdaad die gees van die agtste Gebod vervul het!

Die Negende Gebod Hierdie is die tyd van die gesofistikeerde leuen, die dubbele standaard van moraliteit, die “Enron”-sindroom. Dit is die tyd van prokureurs, nywerheidsleiers, regeringsamptenare en kollege professors wat eerbaar voorkom, maar op getuiebanke en selfs voor die hooggeregshof meineed pleeg. Hierdie tyd bied ook ’n vreemde spektakel van miljoene mense wat in evolusie glo wat kerke bywoon wat, ten minste in naam, in die Skeppergod van die Bybel glo. Die Christus van die Bybel het die geveinsdes van Sy tyd deeglik verdoem. Wat sal Hy van ons geslag sê?

Die samelewing leef ’n leuen

In sy boek Sex, Vice and Business, skryf die bekende skrywer Monroe Fry van “die bereidwilligheid van gemeenskappe om die kwade te aanvaar wanneer dit ’n onregstreekse wins vir hul gerespekteerde sakemanne bring”. Sy boek toon duidelik wat duisende gesofistikeerde volwassenes reeds weet: “Gerespekteerde kerk- en gemeenskapsleiers is dikwels gereed en gewillig om dobbelary, prostitusie en die dwelmhandel te ondersteun mits dit finansieel tot hul voordeel strek. Vir die gemeenskap in die breë, kom hulle voor as steunpilare van eerbaarheid en ordentlikheid. Vir die koppelaars van prostitute, dwelmhandelaars of vir grootskaalse dobbelmagnate, is hulle gereed om ’n “onderduimse transaksie” te doen. Hulle is gereed om hul burgerlike invloed of posisie te gebruik sodat georganiseerde misdaad in hul gemeenskap kan floreer – solank hulle in die winste deel. Eenvoudig gestel: hulle leef ’n leuen! Die onthulling van hoeveel ons ganse “Christelike” samelewing op hierdie soort geveinsdheid gegrond is, is absoluut verbysterend! Ons betaal egter in elk geval ’n groot boete, want ons oortree die negende Gebod van God. In hierdie boekie wat die Tien Gebooie uitbrei, het ons gesien dat die grootste sonde van almal is om iets in die plek van die ware God te plaas. Dit lei op sy beurt na afgodery, die ydellike gebruik van God se Naam, om Sy Sabbat te ontheilig, ons menslike ouers nie te eer nie, moord, owerspel en diefstal. Dieselfde beginsel is ook van toepassing op die negende Gebod van God.

Die Negende Gebod se bewoording word gegee

“Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie” (Eksodus 20:16). Dit is slegs in die soeke na en getuienis van die waarheid dat die mens met God vereenselwig word. Trouens, God ís waarheid! Jesus sê: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). En: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Johannes 14:6). Ongeag watter ander foute en swakhede iemand moontlik het, indien hy gewillig is om die waarheid te praat, openlik en in waarheid te leef wat hy werklik is en die waarheid te erken wanneer dit aan hom uitgewys word, kan daardie persoon gerespekteer en gehelp word om persoonlike swakhede te oorwin.

Die verreikende geestelike toepassings van die negende Gebod is geweldig. Daar is ’n persoonlike, lewende Almagtige God van hierdie heelal wie se weë en Wette op sigself reg is. Daarom moet ’n eerlike persoon – iemand wat gewillig is om die waarheid te praat en te erken wanneer dit onthul word – uiteindelik bekeer tot die ware God en Sy weë! Wanneer ’n mens se woord egter niks beteken nie en hy in die gewoonte verval om vir ander (en vir homself) te lieg, word sy eie karakter en die werking van sy denke so verdraai en pervers dat dit sy verstand weerhou van die waarheid van God tot tyd en wyl sy verstand wat op die leuen ingestel is, gereinig word! Dit is waarom dit so noodsaaklik is dat ons leer om die waarheid te leef en te praat – selfs al het mense eerlike meningsverskille of opinies oor verskeie aangeleenthede. Tog leef ons in ’n samelewing wat toenemend deurdrenk word deur verskeie vorms van onwaarhede, geveinsdheid en selfbedrog. Indien ons ooit God se karakter wil bou – en die ewige lewe wil beërwe – moet ons die negende Gebod met al sy nagevolge in ag neem en leer om dit te gehoorsaam.

Die negende Gebod beskerm elke opregte en ordentlike persoon, omdat dit help om reputasies te beskerm. Daar is moontlik geen verfoeiliker sonde as dié van laster nie; die leuen wat uitgedink en versprei word met die bedoeling om ’n ander mens te benadeel. ’n Dief steel slegs materiële goed, wat gewoonlik vervang kan word. ’n Valse getuie wat laster, kan egter iemand ontneem van aansien en reputasie in die oë van ander mense – en die kanse is skraal dat so ’n verlore reputasie ooit weer ten volle herwin kan word.

Die praktiese waarde van eerlikheid

Die onmiddellike waarde daarvan om op iemand se woord te kan staatmaak, sou nie net elke ordentlike mens se reputasie bewaar en miljoene vermorste ure spaar van die las om elke stelling en verslag verskeie kere te ondersoek nie, maar dit sou ook voorkom dat onwaardige mense ooit in posisies van hoë verantwoordelikheid geplaas word. Dit sou ons samelewing heeltemal reinig! Deesdae word ganse nasies dikwels gelei deur leiers wat aan bewind is bloot as gevolg van hul vermoë om hul eie mense te mislei en te bedrieg! Regdeur die wêreld sien ons diktators wat aan bewind kom en hulle volgelinge iets vir niks beloof. Deur slim propaganda laat ’n leier die volk glo wat hyself weet ’n groot leuen is. Dan volg baie maande of jare van onsekerheid, angs en frustrasie, totdat uiteindelike rampspoed toeslaan en die waarheid uiteindelik bekend word slegs deur die druk van omstandighede.

Selfs in ons demokratiese nasies, word mense gans te gereeld aanbeveel vir hoë ampte – nie weens integriteit en vermoëns nie – maar as gevolg van wat op die oomblik in partypolitiek wenslik is. Die politieke- en regeringsleiers wat dit steun is beslis besig om “vals getuienis te lewer” teen hul mede-landsburgers! Hulle leef ’n leuen én help om een te verkondig. Dink aan die geweldige voordeel wat vir die publiek sou volg op die gebied van nywerhede en besigheid, as elke maatskappy werklik die waarheid sou vertel van hul produk en eerlik poog om in die verbruiker se ware behoeftes te voorsien! Die uitwerking hiervan sou absoluut verbysterend wees! Dink aan ’n samelewing waar elke handelsnaam tandepasta of ontbytgraan, byvoorbeeld, nie net ’n namaaksel of onnodige variasie van ’n ander een was nie, maar die beste en enigste van sy soort, eerlik geprys en in waarheid geadverteer! Pas dit op elke faset van die samelewing toe en u kry iets na aan utopie. Dit is egter nie ’n vergesogte of ongelooflike voorstel nie. Dit is bloot die seën wat sou voortspruit indien die ganse samelewing werklik en letterlik die negende Gebod van God sou gehoorsaam! Indien u vir ewig in God se samelewing sou leef, word u deur Hom wat u lewe en asem gee beveel: “Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede” (Efesiërs 4:25).

Pas die Negende Gebod in u lewe toe

Die werklike grondbeginsel van alle sonde is trots. “Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!” (Prediker 1:2). Die eintlike rede waarom mense die ware God verwerp, is omdat hulle in hul eie oë en die oë van hul medemens, “gode” wil wees. Dit is trots. Elke sonde wat deur mense gepleeg word, het sy fundamentele oorsprong in hierdie een beginsel. So is dit ook met elke vorm van leuens.

Mense vertel leuens omdat hulle meer besorg is oor hul eie selfrespek en belangrikheidsin as wat hulle is oor die uiteindelike welsyn van hul naaste. Hulle praat en tree valslik op omdat hulle die menings van mense meer vrees as dié van die Almagtige God Self! Die daaglikse optrede en woorde van bykans alle mense getuig veelseggend van die letterlike waarheid van hierdie stelling. Soos Johannes selfs van die godsdiensleiers van sy tyd gesê het, “hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God” (Johannes 12:43). Mans en vroue is dikwels skaam vir wat hulle “mislukking” noem in ’n sake of sosiale sin. Hulle sal kul, vervals en lieg ten einde hierdie “mislukking” te voorkom – of om dit geheim te hou.

Uit die oogpunt van wat presies “reg” en vir ewig waardevol is, is die ding wat hulle behoort te vrees, sonde, want die apostel Paulus sê: “As God vir ons is, wie kan teen ons wees?” (Romeine 8:31). Jesus sê: “Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil” (Mattheus 5:11). Ons beter almal ophou bekommerd wees oor wat nietige, sterflike mense dink – en ons veel meer bekommer oor wat die Almagtige God dink! Dan sal ons leer om op te hou met enige vorm van geveinsdheid in besigheid, sosiale lewe, politiek en – ja, selfs in ons godsdienstige asook wetenskaplike pogings. Onthou dat baie van diegene wat hierdie bedrieglike wêreld verdoem het, God se seën ontvang het en erfgename van die ewige lewe is. Moet nooit vergeet dat dit deur die sonde van vals getuienis en leuens was dat Jesus Christus vermoor is nie! “Want baie het vals teen Hom getuig en die getuienisse was nie eenders nie” (Markus 14:56).

Aangesien mense dus deur trots wil glo wat op die oomblik gewild is, sal hulle hulself en hul genote om die bos lei om selfs godsdiens- en wetenskaplike teorieë te glo wat geen grondslag hoegenaamd in werklike feite het nie! God waarsku teen sulke geveinsdes: “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk” (Romeine 1:18).

Mense onderdruk die waarheid. God verdoem diegene wat bewustelik die waarheid van Sy bestaan en Sy doel op hierdie aarde onderdruk! God sê die trotse filosowe en wetenskaplikes van hierdie wêreld het “geen verontskuldiging” vir die ontkenning dat Hy letterlik hierdie heelal geskep het en dit nou deur Sy krag regeer nie (vers 20). Die meeste wetenskaplikes en teoloë wat in die Satansgeïnspireerde evolusieteorie glo, behoort van beter te weet. Party van hulle weet wél van beter! Hulle gaan egter saam met wat mense behaag en hulle leef ’n leuen! God sê hulle het “geen verontskuldiging” nie!

Daardie leraars en Bybelstudente wat voortgaan om te onderrig en beoefen wat hulle weet antieke ongelowige en heidense gelowe en gebruike is wat in die Woord van God verdoem word, val in dieselfde kategorie. In te veel gevalle, weet hulle van beter! Hulle het “geen verontskuldiging” nie. Die voortgesette lering van hierdie basiese wetenskaplike en geestelike leuens is die einste ding wat die meeste van hierdie wêreld verblind oor die ware aard van God en Sy ware plan en doel hier op aarde. Dit is die waarlik verskriklike gevolg van vals getuienis lewer, selfbedrog en leuens, want solank as wat sogenaamde “opgevoede” leiers aanhou om hulself en ander te bedrieg oor die werklike bestaan, mag en plan van God, is ons samelewing verdoem!

Leef volgens die waarheid

Leer dus in u eie persoonlike lewe die belangrikheid daarvan om die waarheid te praat, te glo en te leef. Wees versigtig om nie u hele lewe op ’n reeks leuens te grond nie, hetsy dit persoonlike, politiese, wetenskaplike of godsdienstige verbuigings van die waarheid is al dan nie. Onthou, dit is die waarheid wat u sal vrymaak (Johannes 8:32). Wees versigtig wat u in u persoonlike gesprekke sê. Moet nooit vergeet dat iemand net so goed soos sy woord is nie. Dit is bykans onmoontlik om iemand te help wat ’n gewoonteleuenaar geword het, want enige reaksie op hulp kan dalk net nog ’n misleiding wees. Een van die basiese eienskappe van God se karakter is dat Hy waarheid is. Indien ons nie op God se Woord kon staatmaak nie, sou daar geen ware waarborg vir vergifnis van sondes van die verlede, van huidige hulp in tye van nood óf toekomstige beloning en ewige lewe wees nie.

Indien God ontsaglike welmenende liefde en alle wysheid en mag gehad het – maar u kon nie op Sy Woord of Sy beloftes staatmaak nie – waar sou u wees? Het u al ooit só daaraan gedink? Die presiese teenoorgestelde van God se karakter is dié van Satan die duiwel. Soos Jesus Christus onthul: “Wanneer hy [Satan] leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan” (Johannes 8:44). Diegene wat Satan volg in sy weiering om volgens die waarheid te leef, het ’n verskriklike lot wat hulle afwag: “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges … en al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood” (Openbaring 21:8). Onthou, daar is geen “wit leuentjies” in God se oë nie. Halwe waarhede, verbuigings daarvan en misleidings word almal regdeur God se Woord veroordeel. Jesus sê: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Kom ons leef volgens daardie geïnspireerde Woord sodat ons die ewige lewe kan beërwe in die Koninkryk wat gegrond is op wat letterlik waar en opreg is. Dit is die boodskap van die negende Gebod.

Die Tiende Gebod Het u geweet dat onlangse meningspeilings onthul dat die finansiële probleme wat die meeste gesinne teister, nie die gevolg van lae inkomste is nie? Dit word eerder regstreeks veroorsaak omdat ’n inkomste wat gewoonlik voldoende sou wees, oorbestee word aan luukshede en persoonlike bevrediging, asook deur die Suid-Afrikaanse gewoonte van huurkoop! “Koop nou en betaal later”, lui die advertensies. Het u egter werklik nodig om hierdie item nóú te koop? Is u ook seker dat u in staat sal wees om “later te betaal”?

’n Samelewing gegrond op wellus

“Byhou by die bure” is ’n gewilde sêding. Hoëdruk advertensies moedig hierdie idee gedurig aan. Dit laat dit agterstevoor of verkeerd lyk om nie te streef na, te wedywer met, of te begeer om soveel materiële besittings soos u buurman te hê nie. Die moderne idee is om te “skep terwyl dit pap reën”. Die onophoudelike druk om meer suksesvol te wees – wat gewoonlik beteken om meer geld en materiële besittings te bekom – het al hoe meer afgodery voortgebring. Dit verblind die verstande en harte van miljoene mense teen God se leefwyse.

’n Paar jaar gelede het ’n vooraanstaande godsdienspublikasie, The Canadian Churchman, ’n soberende artikel geplaas wat die uitwerking van hierdie materiële afgodery op jong Afrikane toon wat in Amerika en Kanada teologie studeer. Een só jongman het gesê: “Voordat ek hier kom studeer het, was ek ’n goeie Christen. Ek het gedroom daarvan om eendag ’n mediese sendeling te word. Nou is ek ’n ateïs”. “Waarom?” het die geskokte onderhoudvoerder gevra. “Sedert ek hier aangekom het”, antwoord hy, “het ek ontdek dat die witman twee gode het. Die een waarvan hy ons leer en die ander een tot wie hy bid. ’n Presbiteriaanse sendelingskool het my geleer dat die stamleerstellings van my voorouers wat beelde aanbid en geglo het in heksery, verkeerd en bykans lagwekkend was. Hier aanbid julle egter bloot groter beelde – motors en elektriese toestelle. Ek kan eerlikwaar nie die verskil sien nie”.

Verbasend? Dit behoort nie te wees nie – behalwe dat die meeste mense so na aan hul eie sonde kom dat hulle dit nie meer raaksien nie. Ons leef in ’n sogenaamde “Christelike” samelewing wat in werklikheid gegrond is op wellus en gierigheid vir al hoe meer materiële goedere! Die gejaagde poging om met ander te wedywer en voor te kom is die bron van nie net die meeste finansiële probleme nie, maar die ware oorsaak van baie fisiese en geestelike siektes, gebroke huise en gefrustreerde lewens. Die belangrikste van alles is dat hierdie vorm van afgodery ’n mens laat met bykans geen tyd, krag of begeerte om ooit vertroud te raak met die ware God nie – Wie se lewende Wette en weë alleen ware innerlike vrede en vreugde sal bring.

Die Tiende Gebod se bewoording word gegee

Die meeste mense besef nie dat die Tien Gebooie lewende, bewegende, aktiewe Wette is nie – soos die wet van swaartekrag. Dit is outomaties. Wanneer u dit breek, breek dit u! Dit geld ook vir die laaste Gebod van God se Wet. Selfs al word dit oortree sonder dat enige ander mens daarvan weet, is die boete vir die oortreding daarvan absoluut seker! “Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie” (Eksodus 20:17).

Van al die Gebooie, verwys die tiende meer spesifiek na die mens se verhouding met ander mense. Die krag van die Gebod lê in die woorde: “jou naaste se … jou naaste se … sy … sy … sy … sy … van jou naaste …” Dit is ’n sewevoudige beskerming van die belange van iemand anders. Dit is nie verkeerd om wettiglik ’n vrou, ’n dienskneg, ’n os of ’n esel te begeer nie, maar waar die voorwerp wat bewonder word wettiglik buite bereik van die een is wat dit bewonder, sal die bewondering wat gepaard gaan met begeerte om te besit, oortreding van hierdie Gebod wees. Hoewel hierdie Gebod natuurlik menslike en fisiese verhoudings aanspreek, is die geestelike vereiste van die Gebod in party opsigte meer rigied as enige van dié wat dit voorafgegaan het. Hierdie Gebod bepaal selfs die gedagtes in die verstande en harte van mense. Die meeste mense beskou sonde as ’n uiterlike of fisiese soort ding. Hulle besef nie dat die heilige, regverdige karakter wat God vir ons bedoel noodsaak dat selfs ons gedagtes geheel en al gereinig en soos Syne gemaak moet word nie. Dade volg op gedagtes. U is wat u dink. Indien u in die geheim God se standaard en Sy weg verwerp, indien u in u hart iets begeer wat u nie wettiglik met Sy seën kan of sal bekom nie, sal hierdie verstandelike rebellie die een of ander tyd uiterlike sonde aanmoedig. Die dade sal God dan verder uitdaag – deur Sy Wet te oortree – omdat die gedagtes dit nog ál die tyd gedoen het!

Hierdie Gebod dring deur al die “oppervlakkige Christelikheid” en wys of ’n mens werklik sy wil aan sy Maker oorgegee het! Dit is ’n ondersoekende en skrikwekkende beginsel. Dit is egter ’n Gebod wat u moet leer gehoorsaam indien u ewige lewe en eer in die Koninkryk van God wil ontvang. “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was” (Filippense 2:5). Deur God se Gees in ons moet ons die stryd van die geloof stry – die wellustige menslike aard in ons onderdruk – en uiteindelik daarin slaag om “elke gedagte gevange [te] neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Korintiërs 10:5). Dit is die uiteindelike doelwit van ware Christelikheid, om dit ten volle te bereik in die opstanding.

Ons moet egter ook in hierdie lewe in God se karakter toeneem. Ons moet leer – soos die regverdige Enog, Noag, Abraham en ander diensknegte van die Hoogste God – om “met God te wandel”. Ons moet Sy weg volg – doen soos Hy doen – dink soos Hy dink. Die normale verstand van die mens is gevul met selfsug, trots, wedywering, gierigheid, haat en wellus. Dit is ’n verstand wat afgesny is van die weë en gedagtes van God (Jesaja 55:8-9). Dit is waarom Jesus beklemtoon het hoé belangrik dit is om ons gedagtes te verander, bekeer en gereinig te kry, wanneer Hy sê: “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien” (Mattheus 5:8).

Waar laat dit ons?

Veral sedert die Tweede Wêreldoorlog het die lewe in ons Westerse samelewing versnel. Ons jaag om meer geld te maak. Ons is haastig om pret te hê, om alles uit die lewe te kry wat ons kan. Van alle kante word ons geleer om met ons naaste mee te ding vir sosiale aansien en materiële vooruitgang. Ons begeer letterlik materiële luukshede wat in sommige gevalle slegs twee of drie geslagte gelede heeltemal ongekend was. Ons word aangemoedig om meer te bestee as wat ons verdien – om meer te doen as wat ons behoort te doen. “Jy is dit aan jouself verskuldig” lui die subtiele advertensie, om die idee te bevorder dat ons dwaas sou wees as ons nie ’n groter motor koop, by ’n duurder restaurant eet of langer en duurder reise onderneem nie. Die klem is op “kry” en die “eie ek”. Op ’n internasionale skaal veg en moor die nasies van die wêreld as gevolg van hierdie selfde gesindheid in hul harte. “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie” (Jakobus 4:1-2).

Alte dikwels begeer die werkgewer meer geld as wat hy maklik kan bekom deur regverdige lone te betaal. Dan beroof hy sy werknemers deur hulle te min te betaal en te min te bestee om werkstoestande en veiligheid te verbeter. Eweneens leer die moderne werknemer – dikwels mislei deur gewetenlose vakbondleiers – om meer geld te begeer as wat hy eerlik kan verdien. Deur georganiseerde druk en politieke kullery, dink hy dat hy iets vir niks kan bekom.

Waarom skryf sogenaamde “skrywers” goedkoop sagteband romans wat op niks anders as vuil onwelvoeglikhede en jeugdige dwaasheid gegrond is nie? Waarom druk uitgewers sulke korrupsie wat die menslike emosies van liefde, goedheid en idealisme verkleineer na ’n vlak laer as dié van diere? U kan gou honderde ander groot voorbeelde van hebsug in ons samelewing sien as u werklik u oë oopmaak. U moet egter ook gewillig wees om u eie hebsug raak te sien! Wees bereidwillig om u te bekeer daarvan en vra God vir die liefde en krag om dit te oorwin. Ons geslag het hierdie woorde van die Seun van God nodig: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15). Verstaan u dit? Christus sê dat u ware sukses en geluk in die lewe, nie waarlik gemeet kan word aan hoe nuut of kragtig die motor is waarmee u ry, die soort huis waarin u woon, die klere wat u dra of selfs die kos wat u eet nie. Geluk is ’n gemoedstoestand. Dit spruit daaruit dat u die ware Gees en gedagtes van Christus in u eie denke het. Jesus sê: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie” (Lukas 9:58). Die liefde, vreugde en vrede wat Jesus uitgebeeld het, het gekom deur te gee en te dien – nie van enige materiële ding wat Jesus kon bekom nie. Jesus, die Seun van die mens, kon menslike trots en hebsug oorwin omdat Hy diens aan God ver bo enigiets anders en alles gestel het. Nadat Hy vertel hoe die onbekeerde soek na – en hom bekommer oor – die materiële noodsaaklikhede en geriewe, beveel Hy: “Maar soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheus 6:33).

Die Gebooie sluit by mekaar aan

Op hierdie punt sluit die laaste Gebod by die eerste een aan, want wat u ook al soek wat in teenstelling met God se wil is, begeer u. Indien u in u gedagtes en hart iets meer begeer as om die Skepper te gehoorsaam en Sy seëninge te ontvang, word daardie ding vir u ’n afgod. “Gierigheid … [is] afgodediens” (Kolossense 3:5). Dan, waarvan u ook al ’n afgod maak, plaas u voor die ware God en u oortree die eerste Gebod: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie” (Eksodus 20:3). Die apostel Paulus sê: “Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie – óf van die sonde tot die dood, óf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?” (Romeine 6:16).

Wanneer u materiële dinge begin begeer, “dien” u dit. U spandeer u tyd, energie en geld op hierdie dinge. In so ’n geval het u nóg tyd nóg energie om werklik die Bybel te bestudeer, of om ’n uur in opregte gebed voor die Een deur te bring wat u lewe en asem gee. U vind ook dat u suinig en jaloers raak op die geld wat u aan u Maker skuld om die verkondiging van Sy waarheid te finansier. Deur hierdie eenvoudige proses, word die materiële dinge wat u begeer u eintlike “god”, want u dien en aanbid hulle waarlik – en vind min tyd, krag en rykdom in u lewe om die ware God met u hele hart, krag en verstand te aanbid.

Verstaan u? Hebsug is ’n verskriklike ding, want dit sny u af van die gemeenskap, seëninge en liefde van die grote God van die hemel wat alles gemaak het wat bestaan – maar beoog het dat hierdie materiële skepping in Sy diens en tot Sy eer gebruik moes word. In die praktiese daaglikse lewe skend hebsug die basiese beginsel van die leefwyse wat deur al die Gebooie van God en deur Jesus Christus Self uitgebeeld word. Jesus vat hierdie beginsel saam wanneer Hy sê: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35).

Deur te leer om u naaste liefdevol, opreg en intelligent te dien en die ware God te dien en te aanbid, sal u die enigste ware vervulling en vreugde in hierdie lewe ervaar. In die wêreld van môre sal u ook ewige lewe en heerlikheid gegee word in ’n goddelike regering wat letterlik op die Tien Gebooie gegrond is – die ware weg van liefde, van welwillendheid en diens aan u naaste en van aanbidding en verering van die lewende God wat hierdie Gebooie vir óns ewige beswil gegee het.

Die Nuwe Gebooie van Jesus Baie mense onderrig dat Jesus Christus die Wet van Sy Vader met een of ander soort “nuwe” Gebooie vervang het. Wat is die Waarheid? Moet die Tien Gebooie steeds gehoorsaam word?

Hierdie is ’n tyd van rebellie teen alle wette en gestelde gesag. Nasies en regerings word omvergewerp en huise en skole in chaos gedompel deur verskeie vorms van rebellie.

’n Onthullende insig in die hedendaagse mens se reaksie op die frase in die Onse Vader “Laat u koninkryk kom, laat u wil geskied” is ’n paar jaar gelede deur ’n predikant van Ohio gegee, wat skryf: “Ons bedoel dit nie. Ons hou nie van gesag nie, ons sal ook nie maklik toegee nie, selfs al is Hy die Koning van die hemele … Dit is gans te duidelik dat die meeste mense meestal oor die jare opreg gebid het: ‘Laat u koninkryk nie kom nie, laat my wil geskied’”.

Die Tien Gebooie afgeskaf?

In die vorige hoofstukke van hierdie boekie het ons die positiewe toepassing van die Tien Gebooie op elke aspek van ons persoonlike lewens gesien as lewende, aktiewe Wette. Deesdae, egter, verkondig baie belydende predikante en Bybelleraars verkeerdelik dat daar met die Tien Gebooie “weggedoen” is – soos hulle sê – of dat dit vervang is met die “nuwe” Gebooie van Jesus.

Wat is hierdie “nuwe” Gebooie? Vervang of weerlê dit die Tien Gebooie? Wat onthul die Bybel oor hierdie belangrike onderwerp?

Eerstens, kom ons let op een van die allerbelangrike doeleindes vir Jesus Christus se koms na hierdie aarde in die menslike vlees. Jesaja profeteer van Jesus: “Dit het die HERE behaag ter wille van sy geregtigheid om die onderwysing groot en heerlik te maak” (Jesaja 42:21). Hier sien ons dat Christus nie gekom het om die Wet af te skaf nie, maar om dit “groot en heerlik” te maak.

Om te verhef of “groot en heerlik” te maak, het presies die teenoorgestelde betekenis van om iets te verander of af te skaf. Dit beteken om tot in die fynste besonderhede te onthul – daarop uit te brei. Die lewe en leringe van Jesus doen beslis presies dít met die Vader se Wet.

Jesus sê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul” (Mattheus 5:17). Jesus het gedoen presies wat hierdie woorde impliseer. Beide in Sy lewe en lering, het Hy die Wet vervul. Hy het dit uitgebrei deur Sy volmaakte voorbeeld. Hy het dit ten volle volbring, deur verder as die blote letter van die Wet te gaan, om selfs die fynste geestelike bedoelings en in alle opsigte die Vader se volmaakte Wet te onderhou.

Diegene wat Hom as ’n onderwyser geken het, kon Hom nooit daarvan beskuldig dat Hy die Gebooie van God met die tradisies van mense vervang het nie. Hy het die Tien Gebooie in woord en in daad gehoorsaam. Hy het dit as volmaakte leefwyse onderrig en uitgeleef.

Hy sê: “Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer [selfs die “minste” van die gebooie], hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele” (Mattheus 5:19).

Ons moet beslis daarna streef om “uitblinkers” te wees in God se Koninkryk, want ons moet soveel wil oorwin as wat ons kan en die geleentheid hê om soveel te dien as wat ons kan! Daarom moet ons ywerig en vurig daarna streef om selfs die “minste” van God se Gebooie te onderhou en te onderrig. Dink u die Sabbatgebod is die “minste”? Indien wel, beter u God se Sabbat onderhou en onderrig presies soos Hy beveel het, deur Jesus se volmaakte voorbeeld te volg om die sewende dag heilig te hou – nie die “dag van die son” nie!

Die weg tot die ewige lewe

Toe ’n jongman na Hom kom om die weg na die ewige lewe te vra, sê Jesus: “As jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheus 19:16-18).

Die jongman vra: “Watter?”
Jesus antwoord: “Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, …” en noem voorts verskeie van die Tien Gebooie. Jesus Christus het die weg na saligheid geken! Hy sê dat daardie weg gehoorsaamheid aan die Wet van God die Vader en oorgawe aan Sy wil is.

Jesus verklaar: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Mattheus 7:21).

Veel eerder as om die Tien Gebooie af te skaf, het Jesus dit gehoorsaam (Johannes 5:10). Christus was die “lig” wat God na die wêreld gestuur het om mense te wys hoe om te leef. Na Sy dood en opstanding, stuur Christus die Apostels uit met hierdie bevel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheus 28:19).

Die Apostels was daar toe Christus aan die jongman gesê het: “Onderhou die gebooie”. Hulle het gehoor toe Hy die Gebooie van God uitgebrei het in wat die Bergpredikasie genoem word (Mattheus 5-7).

Die Apostels het Christus se gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie waargeneem en geweet dat Hy die volmaakte voorbeeld was. Daarom, toe Jesus Christus hulle na elke nasie gestuur het met die bevel om hulle alles te leer wat Hy hulle beveel het, kon daar hoegenaamd géén twyfel in hul gedagtes gewees het dat dit die Tien Gebooie van God ingesluit het nie.

Gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie was dus die werklike grondslag van die lering van Christus en van Sy oorspronklike Apostels. Wat egter van die “nuwe” Gebooie van Jesus? Het dit nie die nodigheid vir die letterlike onderhouding van die Tien Gebooie wat in die Ou Testament onthul is, verander of afgeskaf nie?

’n “Nuwe” Gebod

Ten spyte van wat baie mense mag dink, is daar eintlik net een plek in die hele Bybel waar Jesus gesê het dat Hy ’n “nuwe” Gebod gee. Die ander verwysings – deur die apostel Johannes – verwys na presies dieselfde beginsels, soos ons sal sien.

“’n Nuwe Gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34-35).

Jesus het hierdie “nuwe” Gebod gegee gedurende die laaste nag van Sy fisiese lewe op aarde. Hy het – deur lering en voorbeeld – reeds aan die dissipels getoon dat die onderhouding van God se Gebooie bloot ’n uitdrukking van liefde was.

Ons betoon ware liefde teenoor God wanneer ons waarlik aanbid en gehoorsaam, geen ander “gode”, afgode, beelde of enigiets anders toelaat om Sy plek in te neem nie en altyd Sy Naam eer en Sy sewendedag Sabbat – wat Hy heilig gemaak het en wat Jesus en die Apostels altyd onderhou het – heilig hou. Ons betoon ook liefde teenoor diegene om ons wanneer ons met ywer die laaste ses Gebooie onderhou

Christus het reeds God se Wet in twee groot beginsels opgesom: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand … Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheus 22:37, 39). Trouens, in die laaste deel van hierdie opsomming van God se Wet, haal Jesus regstreeks uit die Ou Testament aan (Levitikus 19:18)!

Wat was dan “nuut” aangaande Jesus se Gebod om ons naaste lief te hê?

Die antwoord is eenvoudig. Die beginsel van liefde vir ons naaste was nie nuut nie, maar Jesus se uitbreiding van daardie beginsel in Sy eie volmaakte lewe het ’n heeltemal nuwe lig op die geestelike bedoeling en strekking van hierdie Gebod gewerp.

Onthou Jesus se klem – “soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê”.

Jesus se eie volmaakte voorbeeld van liefde en diens was die grootste en betekenisvolste uitbreiding van naasteliefde soos deur God beveel. In Sy lewe het Hy gedemonstreer hoe daardie liefde eintlik in die daaglikse lewe werk.

Hoe om u naaste lief te hê

Drie keer het God se stem die gewone stilte in die hemele versteur om Sy tevredenheid uit te spreek oor die lewe van Jesus Christus. Selfs die Romeinse saakgelastigde, Pontius Pilatus, verklaar: “dat ek in Hom geen skuld vind nie” (Johannes 19:4).

Dit was omdat Jesus ’n lewe geleef het van mededeelsaamheid teenoor ander. Hetsy dit in Sy voortgesette onderrig van die menigte was, Sy genesing van die siekes, deurdat Hy die honger skares gevoed het of ’n handeling van nederigheid soos om Sy dissipels se voete te was, het Hy altyd van Homself gegee.

Hierdie liefdevolle en mededeelsame Jesus Christus sê ook aan die godsdiensleiers van Sy tyd: “Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?” (Mattheus 23:33).

Is hierdie vreemde woorde die woorde van ’n man van liefde? Nee, dit is eerder ’n openbaring van hoe volmaakte liefde soms dinge vir die beswil van ander mense sê en doen wat hulle op dié tyd dalk nie waardeer nie.

Jesus het hierdie Fariseërs liefgehad! Dit was in liefde dat Hy hierdie woorde met ’n donderende stem uitgeroep het om hulle te laat wakker skrik uit ’n lewe van godsdiensgeveinsdheid en verdorwenheid wat hul siele verdoem het. Onthou, Jesus het ook vir hierdie selfde Fariseërs gesterf. Dit was vir hierdie mans en ander soos hulle wat Jesus gebid het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Lukas 23:34).

Dit was in daardie volmaakte, begrypende liefde dat Jesus Homself van tyd tot tyd van die menigte onttrek het om te rus, te mediteer of te bid. Hy het dit gedoen omdat Hy geweet het dat dit slegs kon wees deur na aan die Vader te bly en ’n werktuig in Sy hande te wees, dat Sy menslike teenwoordigheid en lering die lewens van ander mense kon verryk.

Jesus het nie net voorgegee dat Hy ander liefgehad het nie. Hy het hulle liefgehad met ’n volmaakte liefde. Deur God se Heilige Gees in Hom, het Hy uit Sy hart begeer om Sy medemens lief te hê en te dien vir hul uiterste beswil.

Hy het letterlik die woorde uitgeleef wat Paulus later aan Hom toegeskryf het: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Op hierdie wyse word Sy Gebod dat mense mekaar moet liefhê “soos Ek julle liefgehad het” beslis ’n “nuwe” en meer allesomvattende Gebod wat menseverhoudings bepaal.

Het Jesus letterlik die Tien Gebooie onderhou?

Baie godsdienstige mense dink dat Jesus ’n sentimentele soort “liefde” in Sy hart gehad het, maar dat Hy God se Gebooie nie werklik letterlik gehoorsaam het nie.

Die waarheid is dat Jesus Christus elkeen van die Tien Gebooie in die letter en in die gees onderhou en gehoorsaam het – net soos Sy volgelinge vandag moet doen. Soos ons reeds gesien het, verklaar Hy dat Hy die Vader se Gebooie gehoorsaam het (Johannes 15:10).

Om dit baie duidelik te maak, Jesus Christus het nooit ’n ander god voor die ware God gehad nie. Hy het nooit egbreuk gepleeg of God se Naam ydellik gebruik nie. Jesus het die Sabbat wat God heilig gemaak het, heilig gehou en dikwels op daardie dag in die sinagoge aanbid, soos Sy gewoonte was (Lukas 4:16).

Jesus het Sy ouers geëer; Hy het nooit moord, egbreuk of diefstal gepleeg nie, ook het Hy nie gelieg of begeer nie. Hy het vir ons ’n voorbeeld gestel, sodat ons in Sy voetspore kan volg (1 Petrus 2:21).

Vandag is ’n ware Christen iemand wat homself so oorgegee het aan God dat Christus eintlik Sy lewe in daardie persoon leef deur die inwonende krag van die Heilige Gees, want die apostel Paulus sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

’n Ware Christen moet nie net geloof in Christus hê nie, maar moet lewe volgens die geloof van Christus wat deur die Heilige Gees in Hom geplaas is. Christus – deur die Gees – moet letterlik leef in die ware Christen. Onthou, Christus sal dieselfde lewe vandag in u leef wat Hy meer as 1,900 jaar gelede geleef het – en ’n voorbeeld stel. “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8).

In Sy vlees was Jesus “in alle opsigte versoek … net soos ons, maar sonder sonde” (Hebreërs 4:15). Versoek, ja, maar in Sy vleeslike lewe het Hy die Tien Gebooie gehoorsaam. Waar Hy nou deur die Heilige Gees in Sy ware dissipels woon, sal Hy die Gebooie in hulle onderhou.

Dit is Christus se liefde. Dit is Sy krag in ons wat die geestelike Wet van God kan onderhou, want Jesus was en is gehoorsaam aan God die Vader.

Het Johannes ’n “nuwe” Gebod gegee?

In ’n sendbrief van Johannes, die apostel vir wie Jesus lief was, vind ons ook die verwysing na ’n “nuwe” Gebod.

“Broeders, dit is geen nuwe Gebod wat ek aan julle skryf nie, maar ’n ou Gebod wat julle van die begin af gehad het. Die ou Gebod is die woord wat julle van die begin af gehoor het. En tog skryf ek aan julle ’n nuwe Gebod wat waar is in Hom en in julle, want die duisternis gaan verby en die waaragtige lig skyn alreeds. Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe” (1 Johannes 2:7-9).

Hier verwys die Apostel sy kudde eerstens na die “woord” van God wat hulle van die begin af gehad het. Dan meld hy egter een “nuwe” ding. Hy verduidelik voorts dat dit die diepe geestelike liefde is wat lidmate in Christus vir mekaar moet hê. Daar is bloot geen ruimte in hierdie liefde vir haat, jaloesie of kwaadwilligheid nie.

“Doen” hierdie Christelike liefde egter “weg” of verander dit die Tien Gebooie van God?

Natuurlik nie!
Dit benadruk en brei die persoonlike liefde uit wat Christene vir hul medemens moet hê. Hierdie liefde gaan veel verder as die letter van die Tien Gebooie – maar vervang dit geensins!

Soos Johannes in sy tweede sendbrief skryf: “En nou bid ek u, uitverkore vrou, nie asof ek u ’n nuwe gebod skryf nie, maar een wat ons van die begin af gehad het: dat ons mekaar moet liefhê. En dit is die liefde, dat ons wandel volgens sy gebooie. Dit is die gebod soos julle van die begin af gehoor het dat julle daarin moet wandel” (2 Johannes verse 5-6).

Hier omskryf Johannes Christelike liefde as die onderhouding van die Gebooie!

Ons moet nie net die persoonlikhede van God en Christus liefhê nie. Ons moet hulle weg – hul einste karakter – liefhê, wat in die Tien Gebooie uitgedruk word. Christus het nie net gehoorsaamheid aan die Gebooie onderrig nie, Hy het dit uitgeleef!

So voeg Johannes dan by: “Elkeen wat ’n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hý het die Vader sowel as die Seun” (vers 9).

Wat die “nuwe” Gebooie eintlik onderrig

Wanneer ons die positiewe sy van die “nuwe” Gebooie ondersoek, sien ons dat dit bloot die oues versterk en meer bindend maak! Dit omskryf ’n weg van liefde, mededeelsaamheid en diens, wat slegs bekom kan word deur Christus Self wat in ons woon.

In volmaakte onselfsugtigheid, moet ons leer om ander lief te hê soos Jesus ons liefgehad het. Dít is Nuwe-Testamentiese leerstelling! Dit is veel meer bindend as die letter van die Gebooie wat in die Ou Testament geskryf is.

Dit vervang hulle egter nie. Dit brei hulle eerder uit tot hul volle geestelike betekenis. Hierdie “nuwe” Gebooie self verwys ook na die volmaakte uitbreiding in die lewe van Jesus.

Jesus het die Tien Gebooie ook letterlik in die gees onderhou. Hy moet ons “lig”, ons voorbeeld wees.

Ter beskrywing van hoe ons ons medemens moet liefhê, skryf die apostel Paulus: “Die liefde [is] die vervulling van die wet” (Romeine 13:10), want God se geestelike liefde vloei met die rivierbedding (of kanaal) van die Tien Gebooie.

Deur die Tien Gebooie volmaak te gehoorsaam – in elke stadium en faset daarvan – was Jesus se hele lewe ’n stralende lewe van liefde self en liefde is die vervulling van die Wet. Die “nuwe” Gebod wat Hy gegee het vestig die aandag op Sy volmaakte voorbeeld van gehoorsaamheid aan die Vader en van goedheid en dienslewering aan alle mense.

Miljoene belydende Christene is geleer dat al wat hulle moet doen, is om “Jesus lief te hê” of die “liefde van God” te hê. Wat is daardie “liefde”? Hoe sê God Self moet Sy liefde uitgedruk word? Heel aan die einde van die tyd van die Apostels, dekades na Jesus se opstanding, inspireer God die apostel Johannes (Jesus se beste vriend onder die Apostels) om vir ons te sê: “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3).

Onthou, Jesus het God se Wet uitgeleef in alles wat Hy gedink, gesê en gedoen het. In hierdie vlees, sal nie een van ons God se Wet volmaak onderhou nie, maar God se Wet moet ons “lewenspatroon” wees. Ons word beveel dat ons “moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Petrus 3:18) en deur die jare ons lewens meer volmaak moet skoei op Christus se lewe.

Mag God u help om die voorbeeld van Sy Seun te volg in gehoorsaamheid aan Sy Wet. Mag u ook, deur oorgawe en gehoorsaamheid, God se eie karakter ontwikkel. Dus, deur Sy genade deur Christus se offer en deur u algehele oorgawe om Christus Sy gehoorsame lewe in u te laat leef deur die Heilige Gees, kan u die ewige lewe in die Koninkryk van God bekom!

Laai af in PDF (249 KB) | Bestel GRATIS Gedrukte Uitgawe
Geliewe daarop te let dat genoemde boekies nie by El-Roi beskikbaar is nie, maar dat u dit direk kan bestel vanaf
Die Lewende Kerk van God of u kan die PDF dokument aflaai indien beskikbaar. Baie Dankie.

209total visits,2visits today

Kategoriee

Advertensie

Advertensie