The God Who Sees

Dink aan die vrou van Lot


Dink aan die vrou van Lot

Lees:  Genesis 19:23 – 26  en  Lukas 17:20 – 37

Teks:   Lukas 17:32                          

Lot se vrou is gered van die oordeel van God  –  maar sy was nêrens heen op pad nie, omdat sy terugverlang het na die lewe in Sodom.

Verlede week het ek en Mila een oggend, op ‘n windstil helder sonskyndag, in die Kirstenbosch tuine deurgebring.   En daar sien ons toe weer hoe ‘n groepie kindertjies ‘n speletjie geniet wat uit ons kindertyd kom.  

Een van hulle het ‘n fluitjie en as sy daarop blaas, dan begin al die ander om verskillende bewegings uit te voer waarmee hulle iets voorstel:  Die een swem soos ‘n vis, ‘n ander een is ‘n wilgerboom wat in die wind waai, nog een is kamma ‘n brood wat rys, of wat dan ookal. En dan, met die tweede blaas op die fluit, moet elkeen van hulle net daar vries …. elkeen moet in daardie posisie stol, net so bly staan of lê  –  hoe ongemaklik die houding ookal mag wees.   Jy mag nie roer nie!   As dit gebeur, is jy onmiddellik uit  –  mag jy die rondte nie verder  saamspeel nie.

Dit het my weer laat dink aan die tragiese geskiedenis van die dorpie Pompei in Italië.  Eeue gelede is die inwoners van die dorp op ‘n dag onverhoeds oorval deur die lawa van die berg Vesuvius, en het hulle letterlik versteen.

Net soos wat hulle besig was om te leef   –   die een saam met sy hond, ‘n ander een by die skryftafel, of langs die werkband  –  net daar het die lewe vir hierdie mense ook gestol:  is hulle vasgevang in onbeweeglikheid…. versteen in ‘n houding wat nooit weer kon verander nie.

En nog verder terug in die geskiedenis  –  ons het daarvan gelees in Genesis 19  –  was daar Lot se vrou gewees.   Nog iemand wat in een geweldige, lewensbepalende oomblik versteen het.

God blaas as’t ware ‘n fluitjie, en sy stol …. sy word ‘n pilaar, ‘n standbeeld  –   om ons vir altyd te herinner aan haar dubbel-hartigheid toe die tweede fluitjie geblaas het.

Broers en Susters, as God se fluitjie vandag, op hierdie oomblik sou blaas …. in watter houding sal jy gevang word?   En nou praat ek nie in die eerste plek van ons houding soos wat ons op hierdie oomblik in hierdie diens sit of staan nie.

Ek wil vanmore van jou weet:  Hoe is dit tans geestelik met jou gesteld?   Want alhoewel ons almal meer of minder aandagtig sit en luister, is ons geestelik nie noodwendig op dieselfde plek en met dieselfde dinge besig nie.

Ons is ‘n bietjie soos daardie spelende kindertjies.   Ons stel verskillende dinge voor.

Elkeen van ons het vanoggend uit ‘n ander hoek ingestap.  Elkeen van ons se lewe lyk anders.

Elkeen van ons word deur iets anders gedryf.  Elkeen van ons se fokus verskil.

 En my vraag vanmore is:  Wat stel jou lewe voor?  Wat is dit wat in jou hart woel?

Kom ek verduidelik wat ek bedoel aan die hand van ‘n paar voorbeelde uit die Bybel, en dan kan jy self besluit met watter een van hulle jy identifiseer.

Daarmee wil ek jou help om te ontdek dat as God se fluitjie vanmore sou blaas, en jy sou versteen net waar jy op die oomblik is   –   hoe sal jy na baie eeue opgegrawe word?

1. Die eerste karakter in die Bybel aan wie ek dink, is Dawid  –  die man na God se hart.

As ek aan Dawid dink, dan is dit sy houding van totale oorgawe aan God wat my altyd weer tref. As sy kind sterwend is, dan vas en huil hy, en hy strek homself in sy hartseer op die vloer uit.  Maar as die ark van die Here Jerusalem jubelend binne gebring word, dan hou hy ook niks terug nie: dan sing en dans hy van vreugde.

Dis hy wat sy hande oplig en klap, wat buig en kniel, en wat ons keer op keer oproep om ‘n nuwe lied te sing  –  en dit onder begeleiding van elke beskikbare instrument!

Is dit ook hoe jy leef?  As jou lewe hier en nou vasgevang sou word, sal jy dan ook versteen in ‘n houding van spontane en ongeïnhibeerde oorgawe aan God?  Sal die houding waarin hulle jou opgrawe, jou passie vir die Here weerspieël, of is dit jou gekontroleerde, netjiese,          stemmige versigtigheid wat herken sal word!

2. In my geestesoog staan Abraham vooroorgebuk in ‘n houding van toewyding  –  bereid om die kosbaarste wat hy het, Isak wat hy van die Here ontvang het, aan Hom te wy in gehoorsaamheid. 

Abraham se toewyding is die vrug van my onwrikbare geloof in God.  Hy het besef dat alles wat ons vashou vir onsself, ‘n binding in ons lewe word.  Dat ons alles wat ons van die Here ontvang, tot sy beskikking moet stel …. nog voordat ons vingermerke daarop lê. 

Dat enigiets van my wat ek nie aan die Here toewy nie  –  my huwelik, my kind, my tyd, my geld, my gawes  –  dat dit dan tussen my en God kom staan, en ek Hom dan nie meer bo alles liefhet nie.

Het jy al ooit berg-op gestap met jou kind, jou vrou, jou man, jou geld, met jou talente of met jou gawes?  Het jy jou lewe al so hoorbaar aan God toegewy dat Hy weet dat Hy die laaste sê daaroor het?

3. Moses sien ek weer in heeltemal ‘n ander houding:  op die oewer van die Rietsee met sy kierie daaroor opgelig!

As God die Israeliete uit Egipte bevry, dan vorder hulle net tot by die see voordat die Egiptenare hulle inhaal en vaskeer.  As hulle daar begin om tot God te bid en te kerm, dan beveel Hy vir Moses om sy hand oor die water uit te steek om dit oop te kloof.  Moses het die moed en die vertroue om dit wat tussen die volk en hulle vryheid lê, aan te spreek.

Wat staan tussen jou en jou vryheid in Christus?

Wat is dit wat keer dat jy deurlopend in gemeenskap met die Here leef?

Dalk ‘n slordige lewe?
Of ‘n onbeteuelde humeur?
Of drink-  of eetgewoontes, of
‘n stokperdjie wat ‘n afgod geword het?


Lig jy jou uitgestrekte hand teen die versperring van godsdienstigheid en liefdeloosheid….

teen die versperring van gewoontes en tradisies ….

teen die versperring van kerklike trots in ons lewe?

En is jou kierie van geestelike outoriteit gelig teen al die geweld en korrupsie in ons land?

4. Kom ons kyk ook hoe lyk Noag as hy op enige onverwagte oomblik in sy lewe sou vries.

Vir Noag sien ek gefokus op absolute gehoorsaamheid aan God. 

Noag is “single minded”.  Die Here gee aan hom ‘n opdrag:  Bou ‘n ark.

En met geduld en presisie spandeer hy al sy tyd en energie daaraan om hierdie konstruksie aanmekaar te sit.  Hy word die spot van die gemeenskap waarin hy geleef het, maar hy is bereid om as ‘n lewende aanklag teen hulle te dien.   Sy gehoorsaamheid aan God is sigbaar, dis radikaal en dis absoluut:  Dit is wie hy is.  Dis sy identiteit.

Noag het vorm gegee aan die ark, waardeur God sy skepping van totale vernietiging red  – net soos wat ek en jy die opdrag het om in ons lewe vorm te gee aan Jesus Christus … ook as ‘n getuienis tot redding aan die wêreld.  En net so min as wat dit in Noag se geval so was, net so min kan ons ook net deeltyds hiermee besig wees.   Dit is ook ons identiteit.

Waarvoor wil jou onthou word?   Die belangrikste houding van almal, is dat die beeld van Jesus al hoe meer in ons gesien sal word.  

Dat ons so sal groei in ons eenheid en gemeenskap en verbondenheid met Hom, dat ons saam met Paulus kan verklaar:  Ek leef nie meer nie maar Christus leef in my.

Gehoorsaamheid aan die Here wat nie so gefokus is nie .… wat nie só “single mindedly” gerig is nie, is afgewaterde en betekenislose godsdienstigheid  –  bolangs korrek soos dié van die Fariseërs, maar dis sonder hart.

5. ‘n Laaste kosbare houding sien ek by Saggeus, die tollenaar   –   die klein mannetjie in die boom.   Dit wat hom letterlik die takke injaag, is sy begeerte …. sy honger om Jesus te sien.   Saggeus is nie daarmee tevrede om Jesus net op ‘n afstand te volg nie.  Hy wil nie net deel wees van die groep mense wat saam met Jesus beweeg nie.  Hy wil nie teen mense se rugge vas kyk, en net van ver af Jesus se stem hoor nie, of op hoor-sê gaan nie.

Saggeus wil self sien .… self hoor.… self daarby wees.

As jou persoonlike honger na Jesus soos met ‘n koorspen gemeet sou kon word, sal  jy       gloeiend warm wees?

As Jesus deur ons voorstad sou beweeg, waar sal jy wees?   Sal jy Hom hier in die kerkgebou inwag  –  omdat Hy tog sekerlik ook hier ‘n draai sal maak?  Of sal jy ook saam met die skare agter Hom aan beweeg?  Of sal jy jouself gevaarlik gebalanseerd op ‘n boomtak posisioneer  –  gretig, ontvanklik, honger om elke woord van Hom te hoor, en elke gebaar te sien?

Dalk herken jy jouself vanmore nie in een van hierdie houdings nie.  Dalk kan jy nie met een van hulle identifiseer nie  –  nie met die oorgawe van Dawid nie, en ook nie met Abraham se toewyding nie.  Miskien herken jy jouself ook nie in Noag se gehoorsaamheid, of in Moses se outoriteit nie, en ook in Saggeus se honger nie. 

Dalk is dit jou gevolgtrekking dat, as God se fluitjie vanmore sou blaas, jy jouself baie nader voel aan Lot se vrou:

Aan haar wat uit die geweld waarmee die Here Sodom getref het, gered is uit genade.
Nader aan haar, wat uitgeruk is uit die gewisse en vernietigende oordeel van God, maar wat nie vry was om die nuwe lewe wat sy ontvang het, vas te gryp nie.
Sy wat nie “single minded” was nie:  Sy vlug saam vir God se oordeel  –  maar terselfdertyd hunker sy terug na die lewe in Sodom, en daarom kyk sy met verlange om na wat agter haar lê.  En in sy groot genade laat God haar liewer versteen as om haar lewend weer in die hel te laat beland.

Identifiseer jy met haar omdat jy ook die reddende genade van die Here leer ken het, maar jy wéét jy is nie vry nie?  Jy is gered, ja   –   maar jy is onseker, vol twyfel;  jy is ‘n bietjie sinies oor bepaalde dinge wat jy in die Bybel lees, en baie krities oor sekere dinge wat jy in die kerk ervaar.

Of dalk identifiseer jy met die vrou van Lot  –  want jou kop is vry, maar jou hart en jou liggaam behoort in so baie opsigte nog aan die wêreld:

Aan ou herinneringe.
Aan die gerief van jou aardse woning.
Aan jou persoonlike belange  –  wat al jou tyd en jou aandag en jou energie opeis.

Aan ou gewoontes waarmee jy nie wil breek nie, en aan oorgelewerde gebruike, omdat hulle bekend is, en aan leë tradisies, wat jy gedagteloos voortsit.

Jy is, soos Lot se vrou, gered maar jy is nie in beweging nie;  jy is verlos, maar nie vry nie  –  nie vry om in die krag van die Here in “single minded” en onbevange geloof en toewyding en oorgawe en outoriteit te lewe nie.   Gered ja, maar nêrens heen op pad nie  –  versteen, soos ‘n soutpilaar.

As dit vanmore Lot se vrou is met wie jy identifiseer, dan is die goeie nuus van die evangelie soos koel water op ‘n snikhete dag, net vir jou afgemeet.

As dit die waarheid van jou lewe is, dan is jy vandag hier sodat die Here self jou kan vry maak.

Jesus is die waarheid wat vry maak.

Broeders en Susters, ons is nie Sondag na Sondag hier in die kerk bymekaar om net oor Hom te praat en van Hom te leer nie.  Deur die werk van die Heilige Gees kom ons hier saam vir ‘n lewende ontmoeting met die opgestane Jesus.  En deur hierdie ontmoeting wil Hy ons vry maak, wil Hy ons gesond maak, wil Hy ons verander, wil Hy ons nuut maak.

Sy Gees wil ons aanraak, sodat nie een van ons hier sal uitstap soos wat ons ingekom het nie.

Hier het elkeen van ons die geleentheid om te beleef dat Jesus Christus gister en vandag dieselfde is en tot in ewigheid  –  dat Hy op Paasdag waarlik uit die dood opgestaan het, en dat Hy leef, en dat Hy vandag nog wonders doen in die lewe van elkeen wat glo.

Liewe Broers en Susters, liewe Jongmense   –   nie een van ons hoef met Lot se vrou te identifiseer nie.  Haar houding  –  om gered te wees, maar nêrens heen op pad nie  –  is nie ‘n lot nie.  En ons houding wat ons vandag inneem, is ook nie ‘n lot nie maar ‘n keuse.

Elkeen van ons kan afwisselend, om die beurt, voor God leef met oorgawe, in gehoorsaamheid, met toewyding en met honger, met outoriteit en met nog baie ander geestelike houdings …. gedurig in beweging …. altyd in ‘n eenheid met Jesus, in wie die volle rykdom van God se Gees vasgevang is.  Elkeen van ons kan   –   maar die vraag is:  Wil jy?

Wil jy hê dat jou lewe anders sal wees as wat dit nou is?

Of is jy tevrede om te versteen soos wat jy nou leef … geestelik gesproke?

Ek gaan nou bid dat die Gees van die Here onder ons werk, en ek nooi jou om saam met my te bid …. op jou manier.  Jy mag maar opstaan as jy wil …. jy mag maar kniel …. in die paadjie, as jy wil.   Jy mag maar aan God te kenne gee dat Hy jou asseblief net nie verby moet gaan vanmore nie ….. op jou manier  –  met oop hande, met ‘n gebuigde kop, met ‘n stukkende hart.  Hoe jy dit ookal doen   –   aanvaar vanmore in geloof dat die Here jou wil vrymaak … jou wil ontdooi.

Vra dit saam met my, en gaan huistoe met die verwagting en met die vaste wete dat jy ook met oorgawe, en in gehoorsaamheid, en met toewyding en outoriteit, en met ‘n nuwe honger kan leef    –   as jy wil.

Here, die geestelike houding waarin elkeen van ons vanmôre voor U staan, begin nie by uiterlike dinge nie. Dit het niks te make met hoe ons lyk of wat ons doen nie, en kan ook nie afgelei word uit ons uitsprake oor U, of ons belydenis aangaande U nie.  Ons geestelike houding voor U, word vasgelê in die voering van ons hart …. waar net U kan sien.

As ek daarom vanmôre vra vir verandering, vra ek eintlik:  Here, raak my dààr aan waar ek op geen manier self kan bykom nie.  Dring met die gevoelige vinger van u Gees deur al die uiterlike lae van my menswees, en ontdooi my uit my posisie van dubbelhartigheid, vrees, twyfel, ongehoorsaamheid, ongeloof, onsekerheid en trots.

Here Jesus, U is die Waarheid wat my kan vrymaak.

Ek bid dat U opstandingskrag my sal vrymaak tot ‘n lewe van “singleminded” gehoorsaamheid  –  soos Noag;
En tot die onvoorwaardelike en passievolle oorgawe van Dawid;
Om dit wat my vryheid versper, met die gelowige outoriteit van Moses te weerstaan;
Om alles wat ek van U ontvang, onverwyld aan U toe te wy;
En om soos Saggeus, alles in die stryd te werp om U self te sien, self te hoor, self te ken!

Here, en as dit selfgenoegsaamheid, of trots, of godsdienstigheid, of tradisies of  bloot net menslike koppigheid is wat ‘n onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan U, in die gemeente teëstaan  –  dan lig ek, in die heilige Naam van Jesus, my hand daarteen op.

Maak ons almal vry Vader  –   sodat u Naam hier geheilig kan word, u koninkryk hier kan kom, en u wil in al sy heerlike volheid hier kan gebeur!  Amen.

Skrywer Onbekend

230total visits,3visits today

Kategoriee

Advertensie

Advertensie