The God Who Sees

Glo u die Ware Evangelie?


Glo u die Ware Evangelie?

deur Dr. Roderick C. Meredith

Die Lewende Kerk van God

INHOUD
Hoofstuk 1: ’n Boodskap oor die Boodskapper?
Hoofstuk 2: Wat is die Koninkryk van God?
Hoofstuk 3: Die enigste Naam wat ons daarheen kan lei


HOOFSTUK 1

’n Boodskap oor die Boodskapper?

U ewigheid hang af van u bereidwilligheid om die ware Evangelie te verstaan en te glo! Die apostel Paulus waarsku reeds die Christene van sy tyd: “Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ANDER EVANGELIE as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:4)!

Om die waarheid te sê, het miljoene opregte manne en vroue hulle dit laat welgeval om ’n vals evangelie te glo. Hulle is weliswaar mislei – te maklik mislei. Hoekom? Omdat te veel mense nagelaat het om God se bevel te gehoorsaam: “Beproef alle dinge” (1 Thess. 5:21). Jesus Christus het gesê: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Mark. 1:15). Is die Evangelie wat u nog altyd geglo het, dieselfde een wat Jesus verkondig het? U moet daaroor seker wees! Dwarsoor die wêreld word daar vandag baie “evangelies” verkondig! U moet die Waarheid kan onderskei! Het u miskien al iets soos die volgende gehoor?

“Gee net u hart aan die Here. Jesus is in ’n stal gebore as die Christus, die Seun van God, om almal wat Hom in hierdie tyd in hulle harte aanneem, te red. As volwassene het Hy rondgegaan en wonder­werke verrig en mense vergewe. Hy het God se streng wette namens ons almal gehou voordat Hy uiteindelik aan die kruis gespyker is, saam met al daardie ou wette. Hy het op die derde dag uit die dode opgestaan en het aan baie getuies verskyn. Toe het Hy na die hemel teruggegaan en begin om sy Koninkryk in die harte van mense op te rig. Hy sal al u sondes vergewe en in u hart kom woon – net soos u is – as u Hom net sal aanneem. Jesus red! Glo net in Hom as Persoon, en u sal gered word – wedergebore word. Wanneer u sterf, sal u hemel toe gaan en saam met Hom wees – vir ewig!”

Maar is dit werklik die Evangelie wat Jesus verkondig het? As u eenvoudig aanvaar wat die algemene Christelike kerke in hierdie verband leer, sal u wel ook so dink. Maar kyk wat Mark Twain geskryf het:

“In godsdiens en politiek bekom mense in byna elke geval hulle idees en oortuigings tweedehands van kenners, sonder dat hulle ’n saak self ondersoek. Op hulle beurt het dié kenners ook nie self ondersoek ingestel nie, en maar net hulle idees oorgeneem van ander mense wie se opinie nie ’n sent werd is nie” (Mark Twain’s Autobiography, 1959).

Weet u werklik wat behels die ware Evangelie wat Jesus en Sy Apostels verkondig het? Of aanvaar u wat die meerderheid glo? Het u u oortuigings tweedehands bekom, gebaseer op ander se ver­onder­­stellings, soos wat Mark Twain geskryf het?

Heel moontlik het u die algemene Christelike begrip oor die “Evangelie” reeds as kind geleer. Of miskien het u dit geleer uit die magdom gods­dienstige publikasies en radio- en TV-uitsendings wat in ons moderne wêreld beskikbaar is. In elk geval, die moontlikheid bestaan dat u nie gedink het dis nodig om u oortuigings te bevraagteken nie. Per slot van sake stem die meeste Christelike gesaghebbendes tog mos hieroor saam? Hulle moet tog sekerlik reg wees. Of is hulle?

Jesus Christus waarsku in Sy bekende profetiese rede: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:4-5). Baie moderne vertalings, soos die Nuwe Afrikaanse Vertaling, plaas “Ek is die Christus” tussen aanhalingstekens omdat hulle aanneem dat Christus van individue praat wat sou beweer dat húlle die Christus is. Daar was in die laaste paar eeue egter nie “BAIE” sulke mense wat ernstig opgeneem is nie, laat staan nog “BAIE” mense verlei het. ’n Ander interpretasie wat gegee word, is dat Jesus verwys het na vals “Redders” of “Verlossers”, figure soos Hitler of Mussolini. Maar dis darem ’n bietjie vergesog. Onthou, Christus het gesê: “Baie sal ONDER MY NAAM kom”. ’n Duideliker vertolking van wat Christus bedoel het, sou wees: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Inderdaad, daar sal baie wees wat my Naam sal gebruik, wat sal sê dat Ek Christus is, en tog baie mense sal mislei”.

Wat ’n verstommende waarskuwing! Christus het voorspel dat BAIE vals predikers oor Hom sou praat en dat hulle sou verklaar dat Hy wel die Christus is, die verwagte Messias. Maar dit is ook voorspel dat, nadat dié bedrieërs erken dat Christus die Messias is, hulle die onbedagte mense sou verlei om ’n vals evangelie te glo. Wat van u? Kon hulle u dalk ook mislei het? Pasop vir onverskillige veronderstellings! Vind uit, bewys vir uself, wat presies die waarheid is. Dan sal u waarlik weet en niemand sal u kan bedrieg nie! Jesus sê die volgende oor sekere vals geeste­like leiers van Sy tyd: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matt. 15:8-9). Jesus sê dus duidelik dat dit moontlik is om Hom tevergeefs te aanbid, sonder enige doel of nut. Dít gebeur as die leerstellings waarop daardie aanbidding gegrond is, hul oorsprong het in mense se verkeerde idees oor hoe om die Skrif te interpreteer, in plaas daarvan om die eenvoudige, bedoelde leerstellings van die Woord van God te volg!

Wat is die Evangelie wat Jesus verkondig het dan? Het Hy maar net die mense geleer om in Hom te glo, of het dit meer behels? Dít is ’n lewens­belangrike vraag, want as u ’n leuen glo in plaas van die Waarheid, sal u later sit met ’n klomp vals verwagtings en onvervulde drome!

In Lukas 13 verduidelik Christus die lot van diegene wat vals verwagtinge koester. Baie sal “begin [om] buitekant te staan en aan die deur te klop en te sê: Here, Here, maak vir ons oop – sal Hy antwoord en vir julle sê: Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Dan sal julle begin sê: Ons het in u teenwoordigheid geëet en gedrink, en U het op ons strate geleer. En Hy sal sê: Ek sê vir julle, Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid! Daar sal geween wees en gekners van die tande, wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete in die koninkryk van God sal sien, maar julle self uit­gedryf buitentoe” (verse 25-28).

Maak dit werklik ’n verskil, wat God aanbetref, of ons streng bly by dieselfde Evangelie wat Christus en Sy Apostels verkondig het? OP DIE GESAG VAN JESUS CHRISTUS, sê ek dat dit WEL ’n GROOT VERSKIL MAAK!

Ná Christus se kruisiging en Sy opstanding ver­skyn Hy aan Sy Apostels en gee hulle die volgende opdrag: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word” (Mark. 16:15-16). Later inspireer Christus vir Paulus om ’n dubbele ver­vloeking uit te spreek oor enigeen wat dit sou waag om ’n ander Evangelie te verkondig. Aan die Christene in Galasië sê Paulus: “Maar al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n evangelie verkondig IN STRYD met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees! Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ’n vervloeking wees!” (Gal. 1:8-9).

Die apostel Paulus het baie moeite gedoen om die Christene in Korinte te waarsku teen vals leraars wat sou kom en ’n “ander Jesus” en ’n “ander Evangelie” verkondig (2 Kor. 11:4). Daarom sê ek – as ’n leraar van Jesus Christus wat die leerstellings van die oorspronklike Apostels glo en leer soos wat dit in die Bybel opgeteken is – aan u dat dit van die uiterste belang is dat u die ware Jesus Christus van die Bybel herken en die ware Evangelie wat Hy verkondig het, aan uself bewys!

Dit kan maklik uit die Bybel bewys word dat die Evangelie nie net draai om die persoon van Jesus, die Seun van God, nie. Natuurlik is Jesus ons Messias wat Sy bloed vir ons gestort het sodat ons sondes vergewe kan word. Dié waarheid moet ons diep waardeer en verkondig. Maar dit, op sigself, maak nie die hele Evangelie uit nie. Natuurlik moet ons die offer wat Christus gebring het, verstaan. Die Bybel sê: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand. 4:12). Gevolglik is die naam van Jesus Christus van lewensbelang. Dit is egter geheel en al onwaar om te sê, soos so baie mense nou beweer: “Hy is die Evangelie. Hy is die Koninkryk van God”. Die ware Evangelie, soos Jesus Christus dit verkondig het, behels baie meer.

Die Evangelie “van” Christus of “oor” Christus?

Aan die einde van die Ou Testament het God dié profesie geïnspireer: “Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ’n begeerte het” (Mal. 3:1). Volgens Markus 1:2-4 verwys die eerste boodskapper hierbo na Johannes die Doper wat die weg gebaan het vir Christus se Eerste Koms. Verder aan word daar na Christus verwys as “die HERE … naamlik die Engel [of Boodskapper] van die verbond”. Jesus is aarde toe gestuur as ’n “Bood­skapper”. ’n Boodskapper bring ’n boodskap vanaf iemand anders, net soos Jesus gedoen het. Hy verduidelik: “Die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het” (Joh. 14:24).

God die Vader het Christus gestuur om ’n boodskap van God aan te kondig. Watter soort boodskap was dit? Ons woord “evangelie” kom van die Griekse woord euaggelion wat beteken “om goeie nuus te bring”. Mattheus, Markus, Lukas en Johannes staan bekend as die vier Evangeliste of Evangelieskrywers omdat hulle vier afsonderlike beskrywings gee van Christus se aankondiging van die Goeie Nuus! Waaroor het hierdie Goeie Nuus gegaan? Laat God se Woord antwoord! Maak u Bybel oop by Markus 1:14-15. Soos die spreekwoord sê: “Sien is glo”. Lees wat Markus geïnspireer is om te skryf: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie”. Dit is DIE Evangelie. Daar is net een en dit gaan oor die Koninkryk van God. Sommige mense sal probeer om die belangrikheid van die “Koninkryk van God” in die Evangelie te ontken deur aan te voer dat Markus 1:1 dit “die evangelie van Jesus Christus” noem.

Sommige moderne omskrywings gee dit aan as die “evangelie oor Jesus Christus”, maar dis hope­loos verkeerd! Die Evangelie is nie ’n boodskap oor die Boodskapper nie. Dit is die boodskap van die Boodskapper. Dit is Sy boodskap, die boodskap wat God Hom gegee het om op aarde te kom verkondig.

Aangesien dit Jesus se Evangelie is, verwys die Bybel op ’n paar plekke daarna as die “evangelie van Christus”. Dit word ook die “evangelie van God” genoem omdat die boodskap vanaf God kom. Maar dit word in die Nuwe Testament oorwegend “die evangelie van die koninkryk van God” genoem. Dít is waaroor dit alles gaan. Let op wat ’n vakkundige werk te sê het oor die Evangelie:

“Daar is ’n duidelike ooreenstemming tussen die oorsigtelike Evangelies (Mattheus, Markus en Lukas) dat die koninkryk van God die HOOFTEMA was van Jesus se boodskap. Oor die geheel lê hulle ’n vyftigtal bewerings en gelykenisse van Jesus voor aangaande die koninkryk … Dit is dus ’n kwessie van konsen­sus binne die geloofsreëls dat die koninkryk ’n PRIMÊRE FOKUSPUNT was van Jesus se teologie” (Oxford Companion to the Bible, 1993, bl. 408).

Moenie sommer net hierdie boekie, of enige Bybelverklaring of Bybelstudiehulp blindweg glo nie. Glo u Bybel! Glo u God! Mense het geestelik die pad byster geraak deur slegs op ander mense staat te maak. God se Woord beveel u: “Beproef alle dinge” (1 Thess. 5:21). Gaan dit na in u Bybel en ondersoek dit vir uself. Vergeet u vorige menings en lees net wat God sê. Dit sal gou vir u duidelik word dat die Evangelie van Christus Sy boodskap is, vanaf die Vader, oor die Koninkryk van God. Jesus bevestig dit deur te sê, nadat Hy in Kapérnaum geleer het: “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur” (Luk. 4:43). Mattheus 9:35 bevestig dat dit presies is wat Jesus gedoen het: “En Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees”.

Wat behoort die fokuspunt van ons lewe te wees, volgens Jesus? “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” (Matt. 6:33). Hy sê: “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom” (verse 9-10). Die Koninkryk van God behoort alle Christene se uiteindelike mikpunt te wees. Die Evangelie wat Christus gebring het, is inderdaad die Goeie Nuus van dié toekomstige Koninkryk. Dít is die boodskap wat Jesus verkondig het. Hy het Sy dissipels uitgestuur om daardie presiese boodskap ook te verkondig. Hulle het dit verkondig, vir die res van hul lewe!

Dit was eers toe vals leraars begin het om die vroeëre Kerk te ondermyn dat die Evangelie van Christus verdraai is. Paulus skryf oor een so ’n geval, 20 jaar ná die dood van Christus: “Behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai” (Gal. 1:7). Onder ’n toenemende aantal dwaalleerstellings, het die een aangaande die nuwe evangelie egter die meeste veld gewen. Hierdie nuwe evangelie het gehandel oor gebeure in die lewe van Christus en het ver­kondig dat ’n mens slegs aan Hom as persoon moes glo en dan sou ’n mens gered word. Geleidelik, dus, is die ware evangelie van Christus vervang deur ’n vals evangelie oor Christus:

“Uit die mond van Christus en diegene wat Hy gestuur het om dit te verkondig terwyl Hy nog op aarde was, was dit die goeie nuus oor die Koninkryk van God wat Hy sou kom oprig … Ná Sy dood en opstanding het dit die goeie nuus OOR Christus geword” (James Hastings, A Dictionary of the Bible, Charles Scribner’s Sons, 1988, bl. 233).

Wat van die Naam van Jesus?

Christus het Sy dissipels uitgestuur om “die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak … En hulle het uitgegaan en dorp vir dorp deurgegaan en oral die evangelie verkondig en siekes gesond gemaak” (Luk. 9:2, 6). Toe die dis­sipels terugkom, in vers 10, neem Christus hulle na ’n verlate plek. “Maar die skare het dit te wete gekom en Hom gevolg; en Hy het hulle ontvang en met hulle gespreek oor die koninkryk van God, en die wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak” (vers 11).

Volgens Jesus se voorbeeld en bevele: die ver­kon­­diging van die evangelie IS die ver­kon­diging van die Koninkryk van God.

Dan, in vers 18 van dieselfde hoofstuk, toe Hy alleen was met Sy dissipels, vra Christus: “Wie sê die skare is Ek?” Hulle antwoord en sê: “Johannes die Doper, en ander: Elía, en ander dat een van die ou profete opgestaan het” (vers 19).

In Mattheus 16 vind ons ’n meer volledige parallelle weergawe van die gebeure: “Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is” (verse 15-17).

Dis duidelik dat Christus op hierdie stadium nog nie eens aan Sy eie dissipels gesê het wie Hy was nie. Maar Hy het hulle reeds vroeër uitgestuur om die Evangelie van die Koninkryk van God te verkondig. Let op wat sê vers 20: “Daarop het Hy sy dissipels bevel gegee dat hulle vir niemand moes sê dat Hy Jesus die Christus is nie”. Die rede vir hierdie bevel was dat Hy nie voor die tyd gekruisig wou word nie. Wat hierdie vers egter onomstootlik bewys, is dat die Evangelie van die Koninkryk van God nie bloot ’n aankondiging is dat Jesus die Christus, die Seun van God is nie. Ons het nou net in Lukas 9:11 gelees dat hulle reeds die Evangelie verkondig het, maar baie duidelik NIE vir die mense vertel het dat Jesus die Christus was nie!

Nou kan sommige mense sê: “Ja, maar miskien het die Evangelie wat Christus en Sy Apostels verkondig het, gegaan oor die feit dat die Messias moes sterf vir ons sondes en moes opstaan, sonder dat die mense moes weet wie Hy was”. Om dit te beantwoord, moet ons kyk na wat gebeur het toe Petrus Jesus as die Messias geëien het in Markus 8 verse 30-33:

“En Hy het hulle streng beveel om niemand van Hom te vertel nie. Toe het Hy hulle begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly en verwerp word deur die ouderlinge en ower­priesters en skrifgeleerdes en gedood word en ná drie dae opstaan. En hierdie woord het Hy ronduit gespreek. En Petrus het Hom opsy geneem en Hom begin bestraf. Maar Hy het Hom omgedraai, en terwyl Hy sy dissipels aankyk, het Hy Petrus bestraf en gesê: Gaan weg agter My, Satan! Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar dié van die mense”.

Dit was eers nadat Petrus Jesus herken het as die Christus dat Jesus begin het om Sy dissipels te leer van Sy komende kruisiging en opstanding. Op daardie stadium was Petrus egter nie baie positief oor dié onderwysing nie. Dit is dus glashelder dat die gekruisigde Christus nie deel was van die Evangelie wat Jesus voorheen aan Petrus gegee het om te gaan verkondig nie!

As verdere illustrasie, kom ons gaan terug na Lukas. Onthou dat dieselfde gebeurtenis hier in Lukas 9:18-22 aangeteken is. In vers 22 vertel Christus aan Sy dissipels dat Hy sou sterf en weer opstaan. Klaarblyklik het hulle dit toe nog nie verstaan nie. Heelwat later sê Hy vir hulle: “Bewaar hierdie woorde in julle ore; want die Seun van die mens sal oorgelewer word in die hande van die mense. Maar hulle het hierdie woord nie verstaan nie, en dit was vir hulle bedek, sodat hulle dit nie sou begryp nie; en hulle was bang om Hom iets te vra oor hierdie woord” (verse 44-45).

Die Evangelie wat die Apostels in opdrag van Jesus moes verkondig, het nie gegaan oor geloof in Christus as Persoon of die vergifnis van sondes deur Sy offerande nie. Om net te praat oor Christus is nie die Evangelie nie! Ja, Jesus Christus is die Belangrikste Persoon wat ooit op die aarde gewandel het. Hy was inderdaad God wat vlees geword het, die Seun van God, wat gekom het as die Christus om Sy lewe te gee as versoening vir die sondes van die mensdom. Hy is opgewek om die Saligmaker van die wêreld te wees. Dit is alles waar. Alhoewel dié kennis uiters noodsaaklik is, is dié dinge nie die enigste fokus van die Evangelie van die Koninkryk van God nie. Dit was eers nadat Hy opgestaan het uit die dood dat Hy die volgende element tot die boodskap gevoeg het wat die Apostels moes verkondig:

“Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan. En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge” (Luk. 24:45-48).

Die naam van Jesus Christus – dit wil sê, Sy ware Naam – behels wie Hy is, wat Hy vir ons gedoen het en alles wat Hy geleer het, beveel het en waarvoor Hy staan. Hierdie noodsaaklike inligting is bygevoeg, ná Jesus se dood en opstanding, om verkondig te word saam met die Evangelie van die Koninkryk van God. Is dit bloot net ’n veronderstelling? Glad nie! Kyk na die geskrifte van die vroeëre evangeliste en Apostels wat vir ons bewaar is. Hierdie dinge is geboekstaaf jare ná Christus se dood.

Let ’n bietjie op wat Filippus in Samaria gepreek het: “Maar toe hulle Filippus geglo het, [1] wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en [2] die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue” (Hand. 8:12).

Het die apostel Paulus dieselfde Evangelie as Filippus verkondig? “En Paulus het twee volle jare in sy eie gehuurde huis gebly en almal ontvang wat na hom gekom het, terwyl hy [1] die koninkryk van God gepreek en [2] onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus” (Hand. 28:30-31).

Die ware Kerk moet albei elemente verkondig:

EERSTENS, die Evangelie van die Koninkryk van God, en TWEEDENS, die ware Naam van Jesus Christus.

“Die Evangelie wat Ek aan julle verkondig het …”

Die oorgrote meerderheid Bybelse bewyse toon dat die Evangelie nie slegs konsentreer op Jesus, die Messias, wat vir ons sondes gesterf het nie, alhoewel daardie aspek ook van uiterste belang is. Baie mense redeneer egter dat 1 Korintiërs 15:1-8 die hele Evangelie behels. Kom ons ondersoek wat dié Skriftuur sê:

“Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf. Daarna het Hy verskyn aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het. Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die Apostels; en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene”.

Baie mense hou net hier op met lees en verkondig dan dat die paar verse wat vet gedruk is, die hele Evangelie bevat. Maar is dit waar?

Let daarop dat die dele in vetdruk dít is wat Paulus “in die eerste plek” (NV, as “die belangrikste”) oorgelewer het. Die oorspronklike Grieks is en protois, wat waar­skynlik die beste vertaal kan word as “in die eerste plek” (soos in die OV), of as “onder die eerste dinge”. Alhoewel dit miskien “onder die belangrikste dinge” kan tel, nie DIE belangrikste nie, is “die eerste in tyd” meer van pas hier.

Waarom was die verhaal van Christus se dood en opstanding onder die eerste dinge wat Paulus aan die Korintiërs verduidelik het? Hulle het die Ou Testament en die wet van God geken, want daar was ’n Joodse sinagoge waar hulle dit geleer het. Dus was dit nie nodig dat Paulus weer die fondament lê nie. Jesus Christus was nie in daardie tyd bekend nie. Sy verhaal moes vertel word. Vandag het omtrent die hele wêreld al van Christus gehoor. Ons hoef nie gedurig te verkondig: “Jesus het u lief! Jesus het vir u sondes gesterf” nie. Omtrent almal het dit al tot vervelens toe gehoor. Wat die mense egter nie weet nie is WAAROM Hy gesterf het en WAT sonde is!

Wie Christus was en wat Hy gedoen het was een van die eerste dinge wat Paulus aan die Korintiërs vertel het. Hy het egter nie daar opgehou nie, en ons moet ook nie ophou lees by 1 Korintiërs 15:8 nie. Ons moet die hele hoofstuk lees, wat tradisioneel bekend is as die “opstan­dings­hoofstuk” en wat die konteks skep vir verse 1-8. Soos ons sal sien, is hierdie hoofstuk een van die duidelikste opsommings van die Ware Evangelie wat in die Bybel opgeteken is!

In vers 12 vra Paulus: “As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie?” Die opstanding is dus die konteks van dié hoofstuk. Sommige mense het aangevoer dat daar nie ’n letterlike, toekom­stige opstanding sou wees nie. Blykbaar het hulle gedink dat die “opstanding” maar net beeldspraak was vir hulle nuwe lewe in Christus (soos die dwaalleer in 2 Tim. 2:17-18 genoem word), en dat hulle reeds in die Koninkryk van God was. Paulus antwoord egter: “As daar geen opstan­ding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie … dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof” (1 Kor. 15:13-14). Paulus sê hier dat as ons nie letterlik opgewek gaan word nie, dan was Christus ook nie letterlik opgewek nie. Maar aangesien hy etlike kere onomstootlik bewys het dat Christus wel uit die dode opgewek is, beteken dit dat ook ons later opgewek sal word. Hy voeg by: “As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense” (vers 19).

Hy vervolg: “Want … so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms” (verse 22-23). Dít is God se hoofplan, met klem op Sy volgorde van Verlossing. “Daarna kom die EINDE, wanneer Hy die KONINKRYK aan God die Vader oorgee, as Hy ALLE HEERSKAPPY en ALLE GESAG en MAG vernietig het. Want Hy moet as koning HEERS totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het” (verse 24-25). Natuurlik is die Evangelie wat hier verkondig word, die Goeie Nuus van die Koninkryk van God! Waarom het mense dit nog altyd geïgnoreer?

Dan verduidelik Paulus dat die werklikheid van die toekomstige opstanding die spil is waarom alles draai, anders was alles verniet. Hy vermaan die mense om nie te verslap in hul stryd om sonde te oorwin omdat hulle dink dat hulle NOU reeds in die Koninkryk is nie! (verse 30-34). Vervolgens, in verse 35-49, lê hy uit hoe ons letterlik opgewek sal word met verheerlikte, geestelike liggame, net soos Christus ’n “lewendmakende Gees” geword het (vers 45). In vers 50 benadruk hy: “… dat vlees en bloed die KONINKRYK VAN GOD nie kan beërwe nie”. Daar is die bewys! Ons kan dus nie nou in die Koninkryk wees nie! Dit dien as verdere bewys dat die Evangelie waarvan Paulus in hierdie hoofstuk praat, nie sentreer om Christus as Persoon nie. Dit konsentreer op die Koninkryk van God en wat ons as mense moet ervaar om uiteindelik in daardie Koninkryk te kan ingaan, naamlik ’n opwekking tot geestelike lewe!

“Die woord wat Hy gestuur het …”

’n Skriftuur wat miskien gebruik kan word om te pro­beer bewys dat die ware Evangelie net ’n boodskap oor Christus is en wat Hy op aarde gedoen het, vind ons in Handelinge 10:34-43:

“Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is. Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus – Hy is die Here van almal. Julle weet van die saak wat deur die hele Judéa gebeur het en van Galiléa af begin het, ná die doop wat Johannes gepreek het, met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was. En ons is getuies van alles wat Hy gedoen het in die Joodse land en in Jerusalem. En hulle het Hom omgebring deur Hom aan ’n kruishout op te hang. Hom het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat deur God vantevore verkies is, aan ons wat met Hom saam geëet en gedrink het nadat Hy uit die dode opgestaan het. En Hy het ons bevel gegee om aan die volk te verkondig en met krag te betuig dat dit Hy is wat deur God bestem is as Regter van lewende en dode. Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang”.

Die woorde in vetdruk, is veronderstel om “die woord” te verteenwoordig wat “Hy gestuur het … deur Jesus Christus”, wat “julle weet” (verse 36-37). Ons weet egter, soos tevore bewys is, dat Christus se boodskap nie net oor Homself gegaan het nie. Wat beteken hierdie verse dan?

Eerstens, sommige vertalings gee net “verkondig vrede”, wat ’n onvolledig vertaling is. Die Griekse evaggelizomenos is korrek in die OV vertaal as “evangelie van vrede”. Die Evangelie is ’n vredesboodskap wat Jesus Christus verkondig het. Dit word die “evangelie van vrede” genoem in Romeine 10:15 en in Efesiërs 6:15. Christus se ware Evangelie beskryf inderdaad daardie lewenswyse wat lei tot volmaakte vrede, asook hoe wêreldvrede uiteindelik ’n werklikheid sal word.

Vervolgens moet ons in ag neem hoe die verse in vetdruk pas in Petrus se kommentaar. Daar is twee moont­­likhede wat geensins die vorige bewys (naamlik dat die persoon van Christus nie die fokus is van die ware Evangelie nie) weerspreek nie.

(1) Die woord “hoe” in vers 38 is vertaal uit die Griekse hos. Dit is soms vertaal as “hoe”, soms as “wanneer/toe”, en partykeer as “soos”. “Wanneer” en “toe” is tydsaan­duidings. Dis die logiese vertaling aangesien die vers praat van ’n spesifieke tyd “NA die doop wat Johannes gepreek het” (vers 37). Dus toon hierdie verse aan WANNEER die ware Evangelie verkondig is – gedurende die bediening van Christus – en nie WAAROOR die bediening gegaan het nie. Vers 36 het reeds verduidelik dat dit oor VREDE gaan.

(2) Die oorspronklike Grieks in vers 38 begin met “Jesus” en verduidelik dan wie Jesus was. Die gedeelte hierbo in vetdruk was moontlik ’n Griekse insetsel tussen hakies om te verduidelik wie Jesus, die Boodskapper, was. Die vetgedrukte woorde verduidelik nie WAT die Evangelie behels nie.

Die algemeenste gevolgtrekking is miskien om “hoe” eerder met “toe” te vertaal. Sodoende het ons dus ’n boodskap van “vrede” wat deur Jesus Christus verkondig is – WANNEER? Dit het begin “na die doop wat Johannes gepreek het … TOE God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag”. Watter boodskap was dit? Ons vind die antwoord vir die presiese plek en tyd in Markus 1:14: “En NADAT Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die EVANGELIE VAN DIE KONIN­KRYK VAN GOD verkondig”. Dit is die boodskap wat Christus verkondig het terwyl Hy Sy wonderwerke verrig het.

Natuurlik moet God se leraars ook die naam van Christus preek. Let op hoe eindig die Skrifgedeelte wat ons so pas ondersoek het: “En Hy het aan ons bevel gegee om [1] aan die volk te verkondig [dié boodskap, die Koninkryk van God] en met krag [2] te betuig dat dit Hy is wat deur God bestem is as Regter van lewende en dode … dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang” (Hand. 10:42-43). Dus, soos in ander verse is dit ook hier duidelik dat God se Kerk ALBEI aspekte moet verkondig: (1) die Evangelie van die Koninkryk van God; en (2) die ware Naam van Jesus Christus. As iemand net een van hierdie aspekte verkondig, is dit nié die volledige Goeie Nuus nie.


HOOFSTUK 2

Wat is die Koninkryk van God?

Ons het gesien dat die ware Evangelie wat Christus en Sy Apostels verkondig het, gaan oor die Koninkryk van God. Wat is daardie Koninkryk nou eintlik? Daar was al baie idees daaroor. Die Jode in die tyd van Christus het gedink dit beteken dat die Messias hulle sou lei om ander nasies militêr te onderwerp totdat hulle oor die hele mensdom sou regeer. Later het die idee posgevat dat die Kerk die Koninkryk uitmaak. Ander weer, glo dat die Koninkryk van God ’n eteriese (hemelse) ryk is wat in die harte van mense bestaan. Nog ’n ander groep het gesien dat dit “die koninkryk van die hemel” genoem word in Mattheus se evangeliebeskrywing en tot die gevolgtrekking gekom dat dit moet verwys na ewige saligheid in die hemel. Sommige hou vol dat die Koninkryk die persoon Jesus Christus self is.

Om twee redes is die “Koninkryk van God/die Hemel” ’n baie belangrike Bybelonderwerp: die herhaaldelike verskyning daarvan in die eerste drie oorsigtelike evangelies in die NT, én die oortuiging dat dit sentraal is tot die eintlike boodskap van die historiese Jesus. Die betekenis van dié Koninkryk het ontstaan in die wêreld van Oosterse konings en monargieë, wat baie verskil van die moderne Westerse demokrasieë, en is op baie verskillende ma­niere geïnterpreteer. Geskiedkundig gesproke is die Koninkryk geassosieer met die toekom­stige staat van die herrese, onsterflike en geseënde persone; met die Kerk; gelowiges se bepeinsings in kloosters; mistieke ekstase; vrome godsdienstige ervarings; toenemende redding van die samelewing deur middel van liefde; die toekomstige hervorming van die wêreld; hoop op ’n volgende wêreld, en ’n vrye simbool wat byna enige interpretasie kan dra” (The Anchor Bible Dictionary, vol. 4, bl. 49).

Volgens die skrywer George E. Ladd, wat deur baie beskou word as ’n gesaghebbende op die Koninkryk van God, het ’n teoloog eendag die Koninkryk van God afgeskaal tot “die subjektiewe ryk en verstaan dit as die menslike gees en dié gees se verhouding tot God. Die Koninkryk van God is ’n innerlike mag wat die menslike siel binnedring en oorneem. Dit bestaan uit ’n paar basiese gods­dienstige waarhede wat algemeen toegepas kan word”. ’n Meer onlangse interpretasie, volgens Ladd, is die idee dat “die Koninkryk die absolute is wat in tyd en ruimte die persoon aangeneem het van Jesus van Nasaret …” (The Gospel of the Kingdom, bl. 15).

Hy vervolg:

“Aan die ander kant is diegene wat, soos Albert Schweitzer, Jesus se boodskap van die Koninkryk omskryf as ’n hemelse ryk wat deur ’n bonatuurlike gebaar van God ingestel sal word wanneer geskiedenis tot ’n einde kom en ’n nuwe hemelse bestaansorde ’n aanvang neem. Die Koninkryk van God is geensins ’n huidige of geestelike werklikheid nie; dit is geheel en al toekomstig en bonatuurlik” (bl. 15).

Ladd se boek verwys ook na die interpretasie wat “die Koninkryk van God op die een of ander manier met die Kerk verbind”. Sedert die dae van Augustinus “is die Koninkryk met die Kerk vereen­selwig”. Ladd verduidelik:

“Soos wat die Kerk groei, groei die Koninkryk, versprei dit oor die wêreld. Baie Protestantse teoloë het ’n aangepaste weer­gawe van dié interpretasie verkondig, nl. dat die Koninkryk met die ware Kerk geïdentifiseer word – dus met die sigbare, belydende Kerk. Soos wat die Kerk die Evangelie aan die hele wêreld uitdra, vergroot die Koninkryk van God. ’n Optimistiese weergawe van hierdie inter­pretasie is dat die Kerk die sending het om die hele wêreld tot Christus te oorreed en sodoende die wêreld te hervorm tot die Koninkryk van God” (bl. 15).

Is enige van hierdie sienswyses reg? Wat is dan nou die waarheid te midde van al hierdie verwarring? Wat is die Koninkryk van God?

Wat is ’n Koninkryk?

Om die Koninkryk van God te verstaan, moet ons begin deur te vra wat enige koninkryk behels. Die hoof betekenis van die woord “koninkryk” is: “Land deur ’n koning(in) geregeer” (Handboek van die Afrikaanse Taal, HAT, Perskor, 1988).

Dit is ook die Bybelse definisie van ’n koninkryk. Vier dinge is nodig om ’n regte koninkryk te vorm: (1) ’n koning of regeerder; (2) land of grondgebied; (3) onderdane of burgers binne die jurisdiksie van daardie gebied; (4) wette en ’n regeringsvorm. As ons enige van die bogenoemde aspekte uitlaat, het ons nie ’n regte koninkryk nie. As ons glo in ’n eteriese, geestelike soort van “koninkryk”, glo ons NIE in die ware Evangelie nie!

Die waarheid oor hierdie onderwerp word in God se Woord geopenbaar. Mense se idees kan wel interessant wees en tot die intellek spreek, maar die Waarheid is vervat in die Bybel. “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Joh. 17:17).

Die Bybel wys dat Jesus se boodskap gegaan het oor regering en oor bestuur. Hy is gebore om die mensdom se Koning te wees! Die Profeet Jesaja skryf oor Hom:“Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vrede­vors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen” (Jes. 9:5-6).

Kort voordat Maria sou swanger raak, sê die aartsengel Gabriël aan haar: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Luk. 1:32-33).

Tydens Jesus se verhoor vra Pontius Pilatus aan Hom of Hy ’n koning is. Hierop antwoord Jesus: “U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom” (Joh. 18:37). Te veel mense in hierdie misleide wêreld dink aan Christus as óf ’n “weerlose baba in die krip” óf ’n tingerige swakkeling wat aan ’n kruis gespyker is. Hulle dink glad nie aan Sy rol as toekomstige, Almagtige Heerser en Koning nie.

Nebukadnésar se droom

Watter tipe heerskappy gaan op Christus se skouers rus? Is dit slegs menslike eerbied en toewyding aan “liewe Jesus”? Volstrek nie! God se boodskap en plan vir die mensdom is bestendig. Die Profeet Daniël het reeds 600 jaar voor die geboorte van Christus onder inspirasie van God geskryf oor die toekomstige Koninkryk van God.

Gedurende die Jode se ballingskap in die outydse Neo-Babiloniese of Chaldeeuse ryk, het Daniël sy oor­heersers gedien in die paleis van keiser Nebukadnésar. Hierdie wêreldheerser het ’n intense droom gehad wat hom uit die slaap gehou het (Dan. 2:1). Hy moes net weet wat die betekenis daarvan was! Hy beveel toe die hoftowenaars, die besweer­ders en sterrekundiges om die droom aan hom uit te lê. Dié uitgeslape despoot wou egter nie eens sy droom aan sy vertrouelinge vertel nie! Hulle moes hom vertel wat hy gedroom het, sodat hy seker kon wees dat hulle uitleg wel betroubaar was (verse 2-9). Natuurlik kon hulle dit nie doen nie (verse 10-11).

God het egter aan Daniël “verstand … van allerhande gesigte en drome” gegee (Dan. 1:17). Toe hy voor Nebukadnésar verskyn (Dan. 2:25), verduidelik hy: “Die geheim waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerders, die geleer­des, die waarsêers nie aan die koning te kenne gee nie. Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur” (verse 27-28).

God se doel was hier om aan dié heidense heerser te openbaar dat daar werklik ’n God is wat die onmeetlike heelal regeer, en om bekend te maak wat in die “laaste dae” sal gebeur. Indien u die opwindende nuus van toekomstige gebeure “vooruit” wil verstaan, slaan u Bybel oop by hierdie verstom­mende hoofstuk in Daniël. Die vervulling van hierdie gebeure kan wel nog in u leeftyd plaasvind. Lees dit self!

“U, o koning, het ’n gesig gehad – kyk, daar was ’n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei. U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ’n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind weg­neem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het. Dit is die droom; sy uitlegging sal ons nou voor die koning sê” (verse 31-36).

Het die droom iets beteken? Ja, omdat God hierdie droom geïnspireer het! Dit was ’n profetiese droom. Party mense dink dat Bybelprofesieë maar net welluidende poësie is wat geen doel dien nie. Ander dink weer dat profesieë wel betekenis het, maar dat ons nie die betekenis daarvan kan bepaal tot ná dit vervul is nie, en dikwels ook nie dan nie. Daar is ook diegene met die sienswyse dat alle profetiese betekenis onderworpe is aan persoonlike interpretasie.

Dié menings verwerp of verdraai ’n belangrike aspek van Christus se boodskap. Aangesien meer as ’n kwart van die Bybel uit voorspellings bestaan, sal sodanige menings oor profesieë ’n groot deel van God se Woord heeltemal nutteloos maak vir die mens.

Maar God sê: “Die hele Skrif … is nuttig” (2 Tim. 3:16), en in Openbaring 19:10 leer ons “die getuienis van Jesus is die gees van die profesie”. Die apostel Petrus skryf: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is … terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet. 1:19-21).

Ons moet nooit probeer om die Bybel te inter­preteer deur ons eie idees daarin te lees nie! Ons MOENIE die persoonlike interpretasies van ander mense glo nie. Ons moet self die Bybel intensief bestudeer, die Skrif met die Skrif vergelyk. Ons moet toelaat dat die Bybel homself interpreteer.

Opeenvolging van wêreldheerskappye

Daniël dra God se interpretasie van Nebukad­nésar se droom só oor: “U, o koning, [is] koning van die konings” (Dan. 2:37). Nebukadnésar het ander koninkryke onderwerp en was die eerste regtige wêreldheerser oor ’n wêreldryk. Maar hy het dit nie op sy eie vermag nie: “ … aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het” (vers 37). God is hier besig om Sy oppergesag in wêreldgebeure te openbaar. “Ú is die hoof van goud. En ná u sal daar ’n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna ’n ander, ’n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers” (verse 38-39).

Begryp u wat God hier sê? God praat van letterlike koninkryke, ’n opeenvolging van wêreldwye regerings. Dit is duidelik nie besig om te vertel van stroperige, sentimentele begrippe nie. God is besig om die Waarheid duidelik te maak! Nebukadnésar se Chaldeeuse Ryk word verteenwoordig deur die kop van goud. Daarna sou ’n ander ryk kom, daarna nog een. As u dié gebeure in die geskiedenisboeke naslaan, sal u vind dat die Persiese Ryk die volgende was en opgevolg is deur Alexander die Grote se Grieks-Macedoniese Ryk.

’n Ander ryk sou nog volg, die een wat verteenwoordig word deur die bene van yster: “… en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis” (vers 40). Dit is presies wat die Romeinse Ryk gedoen het. Geskiedenis bewys dat dit verdeel was in “twee bene”, die Westerse en die Oosterse Romeinse Ryk, met hoofstede onderskeidelik in Rome en Konstantinopel.

As ons hierdie weergawe vergelyk met Daniël 7 en Openbaring 13 en 17, sal ons begryp dat die Romeinse Ryk, as ’n stelsel, tien herlewings of oplewings sou hê in latere eeue. Die laaste sewe van die tien herlewings sou beheer word deur ’n vals godsdienstige mag. Die laaste van die tien her­lewings is gelyk aan die voete en tone van die groot beeld in Daniël 2. Sy tien tone “deels van potte­bakkersklei en deels van yster” (vers 41) is ’n sterk, maar bros mengsel (vers 42), en simboliseer tien politieke leiers wat op dieselfde tyd sal regeer en hul samewerking (mag) gee aan ’n charismatiese, invloedryke leier (Op. 17:12-13). Saam sal hierdie “konings” die laaste herlewing van die vierde wêreld­ryk vorm. Daardie finale Europese superstaat sal nog voor u oë opgerig word! Onthou dat Daniël aan Nebukadnésar gesê het dat hierdie gesig die gebeure “aan die einde van die dae” openbaar.

Nou kom ons by vers 44: Die betekenis van die “klip [wat] van die berg af losgeraak het … sonder toedoen van mensehande” (verse 45 en 34). Dit vergruis die beeld, wat die opeenvolgende, menslike wêreldryke verteenwoordig, en groei dan totdat dit die hele aarde vul. Dit is die openbaring waarna ons nog altyd gesoek het!

Hier, in die duidelike woorde van die Almagtige God, is die verduideliking wat die Koninkryk van God regtig is: “Maar in die dae van dié konings [die laaste herlewing van die Romeinse Ryk] sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heer­skappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan”.

Nooit weer sal daar ’n menslike “koning van die konings” soos Nebukadnésar wees nie! Jesus Christus sal dan oor die hele aarde regeer as “Die Koning van die konings en die Here van die here” (Op. 19:11-16), en Op. 11:15 bevestig Daniël se voorspelling. Met Christus se wederkoms sal daar groot stemme in die hemel wees wat sê: “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid!” Só sal die Wêreld van Môre ingehuldig word!

As ’n mens Daniël se profesie bestudeer saam met gedeeltes in Openbaring, is dit baie duidelik dat die toekomstige Koninkryk van God ’n letterlike heer­skappy sal wees, net soos die bogenoemde wêreld­heerskappye. Let op hoe Daniël die profesie afsluit: “Die droom is waar en sy uitlegging betrou­baar” (Dan. 2:45). Dit is verblydende, wonderlike, goeie nuus!

Ander profesieë oor die Wêreld van Môre

Ander Ou-Testamentiese profete toon ook duidelik dat Christus se Koninkryk ’n toekomstige goddelike Regering sal wees wat wêreldwye, administratiewe gesag sal hê. Is die Koninkryk van God reeds gevestig? Die antwoord is duidelik uitgespel in ’n hele paar profesieë oor die Koninkryk wat in die Woord van God opgeteken is:

“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hulle swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:2-4; ook Miga 4:1-3).

Miga voeg die volgende inligting by: “Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die Here van die leërskare het dit gespreek” (vers 4). Kan iemand vandag sê dat hierdie voorspelling reeds vervul is?

’n Beeld van ’n man wat besig is om sy swaard in ’n ploegskaar te omskep, staan buite die hoof­kwar­tier van die Verenigde Nasies in die stad New York. ’n Vlugtige ondersoek van TV- of koerantnuusberigte toon duidelik dat die Verenigde Nasies nie hierdie wonderlike profesie vervul het van nasies wat nie meer leer om oorlog te maak nie!

’n Ander bekende profesie van Jesaja behoort ons te help om die waarheid te toets van die argumente wat lui dat die Koninkryk reeds hier sou wees:

“Maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak. En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees. Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek. En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Isai, wat daar staan as ’n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees” (Jes. 11:4-10).

Die beeld van wêreldvrede, selfs in die natuur, wat hierdie profesie skilder, het baie mense al geïnspireer om op te offer en te arbei vir die Werk van God. Jesus het nie hierdie profesie van die Koninkryk vervul met Sy eerste koms nie. Per slot van sake wei bere nog nie en leeus eet nog nie strooi nie. Die vervulling hiervan is nog in die toekoms, met Christus se Wederkoms.

’n Ander profesie oor die toekomstige Koninkryk van God kry ons in Sagaria:

“En in dié dag sal daar geen lig wees nie, die sterre sal duister wees. En dit sal ’n enige dag wees wat aan die Here bekend is – geen dag en geen nag nie; maar teen die aand sal dit lig word. En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem vloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees. En die Here sal Koning wees oor die hele aarde … En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sag. 14:6-9, 16).

Ongelukkig het baie mense nie die geloof om te glo dat die Almagtige God bedoel wat Hy sê en sê wat Hy bedoel nie! God sê duidelik in hierdie profesieë dat Hy van plan is om die menslike beskawing geheel en al te omskep. God het her­haal­delik voorspel dat Hy in die eindtyd sal HEERS oor die nasies van die aarde. “Want Hy kom, want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke in sy trou” (Ps. 96:13). God herhaal die profesie om dit te beklem­toon: “Want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld rig in geregtigheid en die volke met reg” (Ps. 98:9).

Waarom hoor ons nie vandag daardie Evangelie nie? U weet waarskynlik waarom nie. Hierdie boodskap is uiters ongewild by die meeste heden­­daagse godsdienstige, politieke en maat­skaplike leiers in gesagstrukture. Hulle wil nie hulle gesag prysgee nie! Dit was ook een van die redes waarom die owerpriesters en die Fariseërs probeer het om Jesus dood te maak (Joh. 11:47-53). Des­nieteen­staande SAL daar ’n “nuwe wêreldorde” opgerig word onder Christus se leierskap. Dan sal hierdie wêreld se politieke en godsdienstige instel­lings heelte­mal verander word. Gaan u God glo, of gaan u die “filosofiese konkoksies” glo wat ongehoor­same, sondige mense – wat deur Satan, die “god” van hierdie wêreld, MISLEI IS – aan u opdis? (2 Kor. 4:4, NV).

Het Christus nie gesê die Koninkryk is naby nie?

Toe Christus Sy bediening in die laat 20’s n.C. begin het, het Hy “begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matt. 4:17). Wat het Hy bedoel? Hy het immers nie hier te kenne gegee dat dit reeds die Millennium (Duisendjarige Ryk) was wanneer die swaarde in ploegskare verander sou word nie! Om die waarheid te sê, ongeveer 40 jaar nadat Jesus hierdie stelling gemaak het, het die Romeine derduisende van Sy volksgenote in ’n bloedbad uitgemoor! Dit was die Romeine se wrede onderdrukking van die Eerste Joodse Opstand in die laat 60’s en vroeë 70’s n.C. (verwys Lukas 23:28-31). Die bloedige, onderdrukkende bewind deur hebsug­tige heersers sou vir eeue voortduur. Hoe kon die Koninkryk van God toe al naby gewees het?

Tog, toe Hy beskuldig is deur Sy jaloerse teen­standers dat Hy duiwels uitdryf deur die krag van Satan, antwoord Hy: “En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees. Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom” (Matt. 12:27-28). Hoe kon die Koninkryk van God by hulle gekom het?

Antwoord: Deur die teenwoordigheid van die Koning, die Seun van God, wat die Evangelie van daardie Koninkryk verkondig het! Die Messias Self het voor hulle gestaan!

Die Bybel wissel die terme “koning” en koninkryk” af (verwys Dan. 7:7-18, 23). Deur die Heilige Gees het Jesus Christus, toe Hy op die aarde was, etlike van die funksies uitgeoefen wat tipies is van Sy posisie as Koning van die Koninkryk.

’n Treffende eienskap van die Koninkryk van God is wonderbaarlike ingryping deur God. Jesus het siekes gesond gemaak, die oë van blindes geopen, dooies opgewek en die fisiese omgewing beveel om te doen wat Hy wou hê! Vir ’n oomblik, tydens Christus se lewe op aarde, het die werklikheid van die Koninkryk van God soos dou neergedaal op ’n fisiese wêreld wat gesukkel het om die geestelike werklikheid van die Almagtige God te verstaan.

As Jesus praat van die Koninkryk van God wat by hulle gekom het, praat Hy van Sy dade en invloed. Hy het nie die mense wat na Hom kom luister het, verplaas na die Koninkryk nie, en geensins te kenne gegee dat Sy Koninkryk reeds “opgerig is” nie. Hy het eenvoudig aangekondig dat die Koning van die toekomstige Koninkryk van God aangekom het! Hierdie feit op sigself sou erg opslae maak. Die Koninkryk was “naby” omdat Sy teenwoordigheid en dade met Sy eerste koms ’n onmiddellike invloed sou hê op die lewens van sommige mense – lank voordat die Koninkryk letterlik op die aarde gevestig sou word.

’n Koninkryk in u binneste?

Ten spyte van die duidelike Bybelverwysings dat God in die mens se beskawing gaan ingryp om Sy Koninkryk oor alle nasies te vestig, klou baie egter nog vas aan die idee dat die Koninkryk van God ’n hemelse ryk is in die harte van mense. Hulle voer aan dat Christus se verklaring in Lukas 17:21: “die koninkryk van God is binne-in julle” bewys is hiervan. Weerspreek hierdie vers die res van die Bybel? Hoe behoort ons dit te verstaan?

Eerstens moet ons altyd onthou dat “die Skrif nie gebreek kan word nie” (Joh. 10:35). Daar is nooit ’n werklike weerspreking in die Woord van God nie. Indien wel, sou ons die Bybel moes verwerp as ’n onbetroubare gesag van die waarheid. Om ’n twispunt oor enige leerstelling op te klaar, moet ons werklik al die Skrifgedeeltes ondersoek wat daarop betrekking het. Ons moet altyd onthou dat die Bybel homself interpreteer. Onduidelike teksgedeeltes behoort verklaar te word aan die hand van duidelike, ondubbelsinnige gedeeltes. In die geval van Lukas 17:21 kan ons ook ’n woordstudie doen en die skriftuurlike verband ondersoek.

As beginpunt moet ons vra met wie Christus hier praat? Kyk na die konteks: “En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! Nie; want die koninkryk van God is binne-in julle” (Lukas 17:20-21). Was die Koninkryk van God dan “binne-in” die Fariseërs?

Volgens die Joodse gemeenskap van daardie tyd was die sogenaamde “regverdiges” die selfbevestig­de godsdiensbeoefenaars – dus, die skrifgeleerdes en die Fariseërs. Hulle het hulself beskou as die “seuns van Abraham”. Hierdie skrifgeleerdes en Fariseërs het ’n “doen-dit-self” regverdigheid beoefen wat egter in werklikheid skynheilig was. Lees ’n bietjie hoe Jesus hulle takseer, in Mattheus 23:27-28: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveins­des, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid”.

Christus leer die mense in Mattheus 5:20: “Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie”. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het beslis NIE die Koninkryk binne-in hulle gehad nie! Maar hulle het hulle verbeel dat hulle die seuns van die Koninkryk was.

In ’n argument met Jesus kap die Fariseërs terug met: “Ons vader is Abraham. Jesus sê vir hulle: As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen; maar nou probeer julle om My om die lewe te bring, iemand wat aan julle die waarheid vertel het, wat Ek van God gehoor het. Dit het Abraham nie gedoen nie” (Joh. 8:39-40).

Hoogs verontwaardig sê die Fariseërs: “Is U dan groter as ons vader Abraham wat gesterf het? En die profete het gesterwe. Vir wie gee U Uself uit?” (vers 53).

“Jesus antwoord: As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, van wie julle sê dat Hy julle God is. En julle ken Hom nie, maar Ek ken Hom; en as Ek sê dat Ek Hom nie ken nie, sal Ek soos julle ’n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom en bewaar sy woord” (verse 54-55).

Verder sê Jesus aan hierdie eiegeregtige Fariseërs: “Daar sal geween wees en gekners van die tande, wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete in die Koninkryk van God sal sien, maar julle self uitgedryf buitentoe. En hulle sal kom van oos en wes en van noord en suid en aansit in die Koninkryk van God” (Luk. 13:28-29). Dit is dus duidelik dat die Koninkryk van God nié binne-in hierdie bose mense was nie. So ’n idee is verspot!

Wat het Jesus dan bedoel? Hooggeagte naslaanwerke gee dikwels die term “binne-in” aan as “tussen” of “in die midde van”. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling gee dit in Lukas 17:21 aan as “by julle”. Etlike Engelse vertalings van die Bybel asook Bybelwoordeboeke beweer dat “binne-in” misleidend en ontoereikend is, en dat “tussen julle” ’n meer korrekte vertaling is.

In die daaropvolgende verse verduidelik Christus aan Sy dissipels: “Daar sal dae kom wanneer julle sal begeer om een van die dae van die Seun van die mens te sien, en julle sal dit nie sien nie. En hulle sal vir julle sê: Kyk hier! of: Kyk daar! Moenie gaan nie en moenie agterna loop nie. Want soos die weerlig wat van die een kant onder die hemel blits en tot by die ander kant onder die hemel skyn, so sal die Seun van die mens ook in sy dag wees” (Luk. 17:22-24).

Nou word dinge duidelik. Hy, Jesus Christus – as die Koning van die Koninkryk – was tussen die skynheilige Fariseërs, Hy was in hulle midde. Sy Koninkryk sou nie kom soos hulle dit verwag het nie, deur op die uitkyk te wees vir ’n militêre leier wat hulle sou herken nie. Sy Koninkryk sou egter kom met soveel mag en heerlikheid dat die hele aarde dit sal sien en daarvan sal weet. Daardie Koninkryk is nie in die harte van mense nie. Dit is iets waarin mense kan ingaan, met die opstanding van die regverdige dooies. Abraham sal, soos ons reeds gesien het, in daardie Koninkryk wees. Maar hy is nog nie daar nie (Heb. 11:8, 13, 39-40). Nie een van ons is al in daardie Koninkryk nie!

Het die Koninkryk onmiddellik verskyn in die tyd van die Apostels?

In die Evangeliebeskrywing van Lukas gee Jesus die bekende gelykenis van die ponde omdat Sy dissipels gedink het dat die “koninkryk van God onmiddellik sou verskyn” (Luk. 19:11).

“Hy het dan gesê: ’n Man van hoë geboorte het na ’n ver land gereis om vir homself ’n koningskap te ontvang en dan terug te kom. En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom. Maar sy mede­burgers het hom gehaat en ’n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie. En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het” (verse 12-15).

In hierdie gelykenis is Christus daardie man van hoë geboorte. Hy het na die “ver land” gereis, na die hemel waar God se troon is, om die Koninkryk van God te ontvang. Daarna sal Hy daarmee terugkom aarde toe. Sy Wederkoms het nog nie gebeur nie. Christus is nog altyd in die hemel. Sy Wederkoms moet nog in die toekoms gebeur. Dit is met Sy Weder­koms dat Christus terugkom met die Koninkryk. In die res van die gelykenis wys Christus hoe diegene wat ywerig en vlytig met hulle talente en vermoëns, die ponde, gewoeker het om God te dien, HEERSKAPPY gegee word oor stede! Aan die een wie se pond tien ponde wins gemaak het, sê Jesus: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede. En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien. En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede” (verse 17-19). Ongelooflik! Diegene wat in hulle Christelike lewens­wyse oorwin, sal gesag en heerskappy ontvang in die Koninkryk van God. Wat ’n opwindende geleent­heid om ander te kan dien en hulle die weë van God te leer!

Hierdie verbasende Goeie Nuus word herhaal in verskeie ander plekke in die Bybel. Dit verwys beslis nie na die Kerk in hierdie moderne tyd nie. Nêrens is daar enige verwysing na “heeldag rondsweef in die hemel met niks te doen nie”. Mattheus noem die Koninkryk van God nie die “koninkryk IN die hemel nie”. Dit is die “Koninkryk VAN die hemel”, dit kom VANAF die hemel aarde toe. Die apostel Petrus verseker ons dat ons erfenis (die Koninkryk) “in die hemele bewaar” word (1 Pet. 1:4). Christus sal daardie erfenis na die aarde toe bring met Sy Wederkoms, nie voor die tyd nie! Die mense in wie Christus leef deur Sy Gees is ambassadeurs vir daardie Koninkryk wat tans in die hemel wag (2 Kor. 5:20). Let op wat Paulus skryf: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus” (Fil. 3:20). Maar ons gaan nie daar woon nie (verwys Joh. 3:13; Hand. 2:29, 34). Die Koninkryk kom af na ons toe op die aarde met Christus se Wederkoms.

In Mattheus 25:31 leer Christus Sy dissipels dat daar ’n tyd van oordeel kom wanneer Hy “op sy heerlike troon” sit. “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (vers 34). Dis baie duidelik dat hier gepraat word van ’n tyd in die toekoms, wanneer die regverdiges die Koninkryk sal beërwe wanneer Christus in Sy heerlikheid kom. Ons is nou erfgename van daardie Koninkryk wat Hy saam met Hom sal bring, maar ons het nog nie ons erfenis ontvang nie.

Die Koninkryk van God is ook nie die Kerk nie. “Broeders” in die Kerk moet in die toekoms in die Koninkryk ingaan: “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 1:10-11).

Heerskappy van die heiliges

Aan die einde van Sy bediening sê Christus aan Sy dissipels:

“Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat gesag voer oor hulle, word wel­doeners genoem. Maar so moet julle nie wees nie; maar die oudste onder julle moet word soos die jongste, en wie ’n leier is, soos een wat dien. Want wie is groter: die een wat aan tafel is, of die een wat dien? Is dit nie hy wat aan tafel is nie? Maar Ek is onder julle soos een wat dien. En dit is julle wat altyddeur by My gebly het in my versoekinge. En Ek beskik [bemaak, NV] vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het” (Luk. 22:25-29).

Daarna gee Jesus Sy dissipels ’n voorskou van hulle toekomstige belonings en verantwoordelikhede in daardie Koninkryk: “Sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my Koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (vers 30). Wat sê Jesus hier? Hy verwys na ’n toekomstige tyd wanneer hulle die twaalf stamme van Israel sal oordeel. Jesus verwys nie hier na hulle onmiddellike bediening nie.

Indien Jesus wou hê dat Sy dissipels moes verstaan dat Sy koninkryk toe reeds op die aarde was, waarom sou Hy kort daarna aan Pilatus sê: “My koninkryk is NIE van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Joh. 18:36).

Selfs ná Jesus se dood en opstanding gaan Hy voort om “oor die dinge van die Koninkryk van God [te] spreek” (Hand. 1:3). Jesus het Sy woorde opsetlik so gekies omdat Hy geweet het Sy dissipels was bekend met die profesieë van Jesaja, Daniël en Sagaria. Hierdie profete het baie duidelik ’n letterlike, goddelike heerskappy voorspel wat op die aarde opgerig sou word onder die Messias. Toe die Apostels Hom vra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” was Sy antwoord: “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie” (Hand. 1:6-7).

Die Apostels het uit die Skrif verstaan dat ’n werklike Koninkryk hier op aarde opgerig sou word wat oor die nasies sou regeer, en Jesus het dit NOOIT weerspreek nie. Hy het bloot gesê dat die tyd daarvoor nog nie ryp was nie.

In die sewende hoofstuk van sy profesie voorspel Daniël wat gaan gebeur met die vestiging van die Koninkryk:

“Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ’n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskap­py en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie” (Dan. 7:13-14).

Waar sal daardie Koninkryk wees? Let daarop dat dit ’n koninkryk is waar “al die volke en nasies en tale Hom vereer”. Soos so baie ander Skrifgedeeltes aandui: Daardie Koninkryk sal hier op die aarde wees!

In Daniël 7 vind ons dié verbanne Joodse profeet se droom oor vier wilde diere wat dieselfde vier wêreld­heerskappye simboliseer wat reeds in hoof­stuk 2 in Nebukadnésar se droom voorgekom het. Let ’n bietjie op wat sê Daniël: “Hierdie groot diere wat vier is – vier konings sal uit die aarde opstaan; en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid” (verse 17-18). Vers 22 onthul nóg meer: “… en aan die heiliges van die Allerhoogste reg verskaf is en die bepaalde tyd gekom het dat die heiliges die koninkryk in besit geneem het”. Die heiliges van God sal OP DAARDIE TYDSTIP die Koninkryk in besit neem – as verheerlikte, onsterf­like, goddelike wesens! ’n Ontsagwekkende toekoms wag op die heiliges van God! Hulle sal die mag hê om werklike vrede en vreugde te bewerkstellig in ’n wêreld vol smart en lyding. Geen tydelike en dikwels nuttelose “Band Aid” oplossings nie! Die onsterflike heiliges sal Christus dan bystaan om doeltreffende oplossings en hervormings vir die hele mensdom in werking te stel. Ja, hulle sal saam met Christus oor die wêreld HEERS en probleme oplos presies daar waar die probleme is: Hier op die aarde. Soos Christus gesê het: “Die sagmoediges … sal die aarde beërwe” (Matt. 5:5).

In Openbaring skryf Johannes dat Christus “ons konings en priesters vir onse God gemaak [het], en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:10). In dieselfde boek sê Christus: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf … net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Op. 2:26-27). “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het” (Op. 3:21). Die Vader se troon is in die hemel en Christus is nou daar aan Sy regterhand. Christus se troon, vanwaar Hy en die heiliges saam met Hom sal heers, sal die troon van Dawid in Jerusalem wees (Luk. 1:32).

Ons kan ook daar wees wanneer die laaste basuin blaas wat die terugkeer van Christus as die Koning van die konings aankondig. “Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Kor. 15:51-52). Wanneer die deurdringende geskal van die laaste basuin weerklink en ’n wêreldwye aardbewing die aarde tot in sy fondamente skud (Op 11:13-15; 16:18), sal die getroue heiliges in Christus sekerlik groot vreugde ervaar wanneer hulle Christus in die lug tegemoet gaan (1 Thess. 4:13-18). Daarna sal hulle saam met Hom neerdaal op die Olyfberg (Hand. 1:11-12; Sag. 14:3-4) om te begin om VREDE aan ’n rebelse wêreld te bring.

Onder Christus se gesag sal baie van ons miskien vir Koning Dawid bystaan. Hierdie “man na God se hart” sal uit die dood opgewek word en sy voormalige taak om die 12 stamme van Israel te lei, terugkry (Jer. 30:9; Eseg. 37:24). Ons sal Moses, Abraham, Isak, Jakob en al die ander getroue heiliges en diensknegte van God uit die vorige geslagte leer ken, want dan sal ons werklik “uit God gebore wees”, uit die opstanding gebore wees, in die Familiekoninkryk van God.

Die heiliges van God – dus, die oorwinnaars – sal die geleentheid gegee word om, onder Christus se leierskap, af te reken met die tiran wat die mensdom tot op die punt van uitwissing gebring het. “Sy troue dienaars juig oor sy mag, jubel selfs as hulle op hulle beddens gaan lê. Die roem van God klink uit hulle mond, en in hulle hand is die swaard, alkante geslyp, waarmee hulle die nasies sal verslaan en die volke sal straf. Hulle sal die konings van daardie nasies met kettings vasbind, hulle aansienlikes met yster­boeie, en die vonnis aan hulle voltrek soos dit vasgestel is. Dit sal die triomf wees van al die troue dienaars van God. Prys die Here!” (Ps. 149:5-9, NV).

In die Nuwe Testament skryf die apostel Johannes onder inspirasie: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:6). Die Apostels en die vroeëre Kerk wat gevul was met die Heilige Gees het uitdruklik begryp en geleer dat die Koninkryk van God in die eindtyd opgerig sou word as ’n letterlike regering op die aarde onder die regering van Christus en die verheerlikte heiliges. Daar word dikwels na die wonder­like Wêreld van Môre verwys as “die Millennium”, of die “Duisendjarige Vrederyk”.

Die bekende historikus Edward Gibbon het in sy gevierde boek The Decline and Fall of the Roman Empire, die geloof in die Millennium geboekstaaf. Hy skryf die volgende oor die geskiedenis van die vroeëre Christendom:

“Die ou en populêre leerstelling van die Millennium is nou verweef met Christus se Wederkoms. Volgens ’n tradisie wat aan die Profeet Elia toegeskryf word, is ses duisend jaar aan menslike bestaan toegewys, net soos wat die skepping van die aarde in ses dae voltooi is [sien Ps. 90:4; 2 Pet. 3:8]. Volgens dieselfde afleiding gaan dié lang periode van swoeg en twis, wat amper verby is, gevolg word deur ’n vreugdevolle Sabbat van ’n duisend jaar [sien Heb. 3-4; Op. 20:6]; en Christus sal met ’n triomferende groep heiliges en die uitver­korenes wat die dood vrygespring het, of wat wonderbaarlik opgewek is uit die dood, op die aarde heers totdat die tyd aanbreek vir die laaste en algemene opstanding” (bl. 403).

Aan die mens is 6,000 jaar gegee om die les te leer dat hy heeltemal onbevoeg is om homself te regeer sonder die hulp van God. Die Profeet Jeremia vestig die aandag hierop: “Ek weet, Here, die mens kan nie self sy pad kies nie, niemand kan self sy koers bepaal nie” (Jer. 10:23, NV).

George Washington, die eerste president van die Verenigde State van Amerika, het dieselfde gedagte oorgedra in ’n brief gedateer 31 Oktober 1786: “Wanneer die mensdom op hulleself aangewys is, is hulle nie geskik om te regeer nie” (Columbia Dictionary of Quotations, 1993). Die verskriklike krisisse in die eindtyd sal die mensdom finaal tot op die rand van selfvernietiging bring. Eers dan sal mense die vergeefsheid van selfregering insien en nederig genoeg wees om God se absolute beheer oor hulle lewens te soek. God SAL ingryp! (Skryf gerus vir ons gratis boekie, Hoe God Ingryp in Wêreld­gebeure).

Die Christelikheid van die Apostels – ware Bybelse Christelikheid – leer dat die Koninkryk van God aan die einde van hierdie tydperk op die aarde ingestel sal word as ’n letterlike regering om uiteindelik ware WÊRELDVREDE te bring. Dit is gewis wonderlike Goeie Nuus! Die Koninkryk van God is die regerende Familie van God, en ons kan daaraan deel hê deur die toekomstige opstanding uit die dode. Die ware Evangelie slaan jou asem weg!

In die Koninkryk van God ingebore

Die Koninkryk van God sal oor die volke van die aarde regeer. Maar hierdie sterflike onderdane sal nie IN die Koninkryk wees nie, hulle sal net daardeur regeer word. WIE sal dan in die Koninkryk wees? Kan u deel word daarvan?

Toe die Fariseër Nikodemus in die nag na Jesus gekom het, het Jesus sommer met die deur in die huis geval: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3). Dan verduidelik Hy: “Wat uit die vlees gebore is, IS vlees; en wat uit die Gees gebore is, IS gees” (vers 6) – dus: saamgestel uit gees. Tensy ons verander is in geestelike, onsterflike wesens, soos 1 Kor. 15 ons toekomstige opstanding beskryf, is ons nog nie “wedergebore” nie. 1 Kor. 15:50 verseker ons dat “vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie”. Is daar mense van “vlees en bloed” in die Kerk? Ja! Dus kan die Kerk nie die Koninkryk van God wees nie! Om in daardie Koninkryk te kan ingaan, moet ons eers uit God gebore word letterlik as kinders in Sy Familie.

In die ganse fisiese skepping van God is dit slegs die mens wat ’n gewete het en kan onderskei tussen goed en kwaad – dit word moontlik gemaak deur “die gees van die mens”, soos die Bybel dit noem in 1 Kor. 2:11.

Dié gees aktiveer die menslike brein met intellek, skep só die menslike verstand, daardie wonderlike vermoë om te redeneer, wat die mens so ongelooflik verhef bo enige van die ander skepsels. Die Heilige Gees van God verbind met hierdie gees van die mens wanneer die mens hom bekeer (Rom. 8:16).

Die algemene Christelike wêreld verwar “weder­geboorte” met “bekering”. Daar is nie genoeg ruimte in hierdie boekie om in besonderhede te bewys wat die Woord van God openbaar oor “wedergeboorte” nie. Dit sal in ’n latere boekie behandel word. Ons moet dit egter kortliks hier noem aangesien dit direkte betrekking het op die begrip van WAT die Koninkryk van God nou eintlik is.

Aanvanklike bekering is maar net die begin van ons geestelike lewe, net soos bevrugting die begin van ons fisiese lewe is. Dit is egter nie die “geboorte” nie. “Geboortes” kom voor ná ’n periode van swangerskap binne-in die baarmoeder van die moeder. Geestelike “geboorte” vind plaas ná ’n tydperk van geestelike swanger­skap in hierdie fisiese lewe. Dit is ’n merk­waardige proses. Bekering is ons geestelike bevrugting weens die feit dat ons die Heilige Gees ontvang en “deelgenote kan word van die goddelike natuur” (2 Pet. 1:4), God se ware natuur. Soos wat ons geestelik groei en ongoddelikheid oorwin, gee God ons meer en meer van Sy goddelike natuur. Uiteindelik is ons dan gereed om ten volle uit God “gebore” te word met die opstanding.

Jesus is die “eersgeborene … onder BAIE broeders” (Rom. 8:29), of, volgens die NV, “sodat sy Seun baie broers kan hê”. As ons Redder, Ouer Broer en Hoë­priester is Hy besig om “BAIE kinders na die HEERLIK­HEID … [te] bring” (Heb. 2:10). Met die opstanding sal diegene wat Jesus Christus werklik as Heer en Verlosser aangeneem het beslis DEEL hê aan die HEERLIKHEID van God. Hulle sal, net soos Jesus, “kinders van die opstanding” wees (Luk. 20:36), want Hy is Self gebore uit die opstanding en word twee keer die “Eersgeborene uit die dode” genoem (Kol. 1:18; Op. 1:5). Natuurlik sal ons, as jonger gesinslede in God se Familie, ons altyd volkome onderwerp aan die Vader en Christus in liefde en gehoorsaamheid, soos ons aan God bewys het tydens ’n leeftyd van gebed, diens en ons oorwinning oor die ongoddelike en bose.

Die Christenskap van die Apostels – Bybelse Christenskap – leer dat die Koninkryk van God, aan die einde van hierdie tydvak, hervestig gaan word as ’n letterlike regering op hierdie aarde, waarin die heden­daagse ware Christene gaan dien onder Christus om einde laaste werklike WÊRELDVREDE in te lei. Dit is werklik vreeslike Goeie Nuus! Die Koninkryk van God is die regerende Familie van God, waarin ons kan ingaan deur die toekomstige opstanding van die dood. Die ware Evangelie is asemrowend!

 

“Oorgebring in die Koninkryk”?

’n Skriftuur wat heelwat verwarring veroorsaak oor die Konin­kryk van God is Kol. 1:13. Hier sê die apostel Paulus: “Hy wat ons verlos het uit die mag van die duis­ter­nis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde”. Baie mense voer aan dat hierdie teks bewys dat Christene NOU reeds in die Koninkryk is. Maar is dit so?

Paulus sê baie duidelik in 1 Kor. 15:50 “dat vlees en bloed [vleeslike mense] die koninkryk van God NIE KAN beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onver­gank­likheid nie” – ons is vlees en bloed en gaan in die graf verrot. Paulus verwys hier nie net na mense wat “vleeslike dinge” bedink (Rom. 8:5), soos wat party mense beweer nie. Hy praat van diegene wat bestaan uit “vlees en bloed” soos die konteks duidelik uitwys: “Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige LIGGAAM kom hulle?” (1 Kor. 15:35). ’n Persoon wat nog ’n LIGGAAM van “vlees en bloed het”, KAN NIE die Koninkryk van God beërwe nie. Paulus sê hier dat ons weer gebore moet word as onsterflike, onverganklike, geestelike wesens om dit te kan doen. Tans is ons “erfgename” (Rom. 8:17; Gal. 3:29; Titus 3:7; Heb. 11:9; Jak. 2:5). Eers wanneer ons verander is, met die opstanding, sal ons die Koninkryk “beërf” (Matt. 25:34).

God se Woord wys duidelik dat Christene nog nie in die Koninkryk van God is nie – ons wag nog op die “ingang” (2 Pet. 1:11). Wat sou Paulus dan bedoel het in Kol. 1:13? Het hy homself weerspreek? Johannes 10:35 sê dat “… die Skrif nie gebreek kan word nie”. Tensy die Bybel self ’n leuen is, kan daar geen WERKLIKE teen­stry­dig­hede daarin wees nie – net skynbare teenstrydighede.

Laat ons die betekenis naslaan van sommige van die oorspronklike Griekse woorde wat in Kol. 1:13 gebruik word. Die woord exousias is hier en in talle ander verse, vertaal as “mag”. Dit word egter ook as “gesag” vertaal in ander verse, met die betekenis van heerskappy, of “regering” (Logos Bible Software se Enhanced Strong’s Lexicon, 1992).

Die woord vir “oorgebring” is metestesen. Die En­hanced Strong’s Lexicon definieer dit as “omruil, oordra, verskuif van een plek na ’n ander … verander van situasie of plek”. Benjamin Wilson se Emphatic Diaglott (1942) gee dit aan as “veroorsaak ’n verandering van party”.

Die Griekse woord vir “in” is eis. Dit beteken gewoonlik “in”. Maar, soos vyf bladsye in die bekende Thayer’s Greek-English Lexicon of the New Testament oor hierdie woord aantoon, hoef dit beslis nie altyd “in” te beteken nie. Dit kan ook vertaal word as “tot”, “na”, “vir”, “tussen”, ens.

Die Griekse woord basileia is, soos gebruiklik, hier vertaal as “koninkryk”. Dit kan egter ook beteken “koninklike mag, koningskap, heerskappy, regering” (Enhanced Strong’s Lexicon).

Met behulp van die res van die Bybel en hierdie kort oorsig van die oorspronklike Griekse teks, kan ons nou bepaal wat Paulus werklik gesê het. Ons weet dat hy nie bedoel het dat Christene NOU reeds in die Koninkryk is nie. Met dié feit in gedagte, kan Kol. 1:13 op ’n ander manier verstaan word? Ja! Daar is ten minste vier ander betekenisse wat ewe goed pas in ons begrip van die Woord van God as geheel.

(1) Wilson se New Emphatic Version wat saam met sy Diaglott vertaling kom, vertaal dié vers so: “(God) bevry ons van oorheersing deur die duisternis, en verander ons vir die koninkryk van die Seun van Sy liefde”. Dié vertaling gee toe dat ons eens “vir”, aan die kant van die duisternis was, en dat ons – deur God se toedoen die proses van bekering – die ander kant, gekies het, sodat ons nou aan die kant van die Koninkryk van God is.

(2) Onthou, eis kan “in”, “vir”, of “na” beteken. God het ons gered van die heerskappy van die duisternis en ons omgeswaai sodat ons nou “na”, of in die rigting van, Sy Koninkryk gaan.

(3) Die eis kan “in” beteken wanneer die alternatiewe betekenis van basileia bedoel word en dan beskryf die teksvers ’n oordrag van gesag. Dit sou pas by een van die temas van Kolossense, naamlik Christus se gesag in Sy Kerk. Die vers kon dan so lees: “Hy wat ons verlos het uit die MAG van die duisternis, en ons oorgebring het in die REGERING van die Seun van Sy liefde”. Ons moet ons NOU reeds onderwerp aan die Regering van God!

(4) Die Kerk van God is al beskryf as die “Koninkryk van God in wording (embrio)”. Diegene wat deur die Gees van God verwek is, is soos embrio’s of fetusse in die baarmoeder. Hulle is NOU reeds kinders van God, maar die swangerskap het nog nie tot geboorte gevorder nie. Wanneer Christene wedergebore word tydens die opstanding sal hulle die Koninkryk van God uitmaak. Intussen: soos wat die Kerk leer om onderdanig te wees aan God se regering, kan dit, in mindere mate, beskou word as die Koninkryk van God “wat nog gebore moet word”. Onthou ook dat God “die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan” (Rom. 4:17). Solank as wat Sy kinders nie afvallig raak nie, beskou God hulle as reeds in Sy koninkryk – selfs al het dit nog nie letterlik gebeur nie. Dit behoort nou duidelik te wees dat Kolossense 1:13 op GEEN wyse ’n bewys is dat die Koninkryk van God NOU reeds hier is nie. Eers met die opstanding sal die Kerk van God verander word in die Koninkryk van God. Die Grote God maak dié punt duidelik. Niks in God se Heilige Skrif weerspreek dié reine Waarheid nie!


HOOFSTUK 3

Die enigste Naam wat ons daarheen kan lei

Om werklik sukses te behaal, moet ’n mens in die eerste plek ’n doelstelling hê. God het aan ware Christene die merkwaardigste doelwit gegee: Ewige lewe in die Koninkryk van God. Die volgende stap is om onderrig te word hoe om daardie doel te bereik. Hoe kan God se menslike heiliges in Sy Koninkryk ingaan? Wat leer die Woord van God ons oor die “weg” om in te slaan? Jesus sê:

“Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings [take, verantwoordelikhede]; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer [na die aarde toe] en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En waar Ek heengaan [om die Koninkryk te beërwe], weet julle en die weg ken julle. Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? Jesus antwoord hom: EK IS die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh. 14:1-6).

Later sê die apostel Petrus: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand. 4:12). Jesus Christus se naam is dus lewensbelangrik. Onthou dat die vroeëre Apostels en evangeliste dit verkondig het saam met die boodskap oor die toekomstige Koninkryk van God. Ons moet dieselfde doen. Ons moet seker wees dat ons die ware Christus verkondig.

Vandag aanbid baie mense ’n vals Jesus wat ver­onderstel was om Sy Vader se gebooie af te skaf. Hy word dikwels voorgestel as ’n verwyfde swakkeling met lang hare en ’n treurige uitdrukking in sy oë. Mense loof net Sy naam en voel sentimenteel oor Hom.

Behels dít dan die verkondiging van die NAAM van Jesus? Nee! Ons lees in The Interpreter’s Dictionary of the Bible:

“NAAM. In Bybelse terme is ’n naam nie slegs ’n etiket om identiteit aan te dui nie; dit is ’n beskrywing van die ware natuur van die draer. ’n Man se naam open­baar sy karakter … Dié begrip word gedeel deur baie volke van die antieke wêreld. Dus, om God se naam te ken, is om God te ken soos wat Hy Homself geopen­baar het (Ps. 9:10). Die volledige betekenis van Sy natuur en Sy karakter vind ons uitgespel deur Jesus Christus, wat God se naam bekend gemaak het” (Joh. 17:6, 26).

Jesus se naam behels nie net wie Hy was en alles wat Hy gedoen het nie, maar ook alles wat Hy geleer het en wat Hy voorgestaan het. Wat het Jesus voorgestaan? Wat is die lewenswyse wat Hy kom openbaar het?

Die Wet van die Koninkryk

Onthou: Een van die vereistes vir ’n koninkryk is ’n regstelsel met WETTE waarvolgens regeer moet word. In God se Koninkryk sal die hoogste landswet die Tien Gebooie wees, daardie groot geestelike wet van die Almagtige God. Christus het aan die Fariseërs gesê: “Die wet en die profete was tot op Johannes; van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen dring met geweld daarin” (Luk. 16:16).

Maar dit beteken nie dat die boodskap van God se Koninkryk egter die “wet en die profete” VERVANG het nie – inteendeel, dit het eintlik volle uitdrukking aan daardie wet en profete gegee! Aan die begin van Christus se bediening skryf Mattheus: “En Jesus het deur die hele Galiléa rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees” (Matt. 4:23). Ons weet dus dat Jesus die “evangelie van die Koninkryk” gepreek het.

Wat moet ons doen, waarna moet ons strewe wanneer ons “indring in” die Koninkryk van God? In Mattheus 5 tot 7, wat as die “Bergpredikasie” bekend staan, sit Jesus ’n hele lewens­wyse uiteen. Jesus se vermaning aan Sy volgelinge om die hele goddelike bedoeling in die Skrif ywerig te gehoorsaam, is ’n groot skok vir baie mense met ’n algemene Christelike agtergrond. Jesus het uitdruklik gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul” (Matt. 5:17).

In teenstelling met wat u miskien verkeerdelik geleer is, beteken die woord “vervul” nie om te “ontbind”, of “mee weg te doen “ of “af te skaf” nie! Jesus het God se wet uitgebrei, of vergroot. Hy leer ons dat ons die gees of die bedoeling, sowel as die letter van die wet moet gehoorsaam. Dit behels dat ons die vereistes van God se wet in ons gedagtes moet gehoorsaam (2 Kor. 10:5), sowel as in ons dade. Byvoorbeeld, Jesus leer dat ’n ware Christen nie mag doodmaak nie, én dat hy selfs nie eens die gesindheid van haat en geweld in hom mag ronddra nie (Matt. 5:21-22).

Jesus leer: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (verse 27-28). In Jesus se leerstellings was die Tien Gebooie die grondslag van die hele lewens­wyse wat Hy verkondig het. Dit was nie net ’n senti­men­tele geloof in Christus as persoon nie, maar ’n algehele oorgawe aan Hom, en aan die Vader, as Heer en Meester. In Lukas 6:46 vra Jesus: “En wat noem julle My Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” Jesus het NOOIT gesê: “Asseblief, neem My aan; sal jy tog nie net jou hart aan My gee nie?” Inteendeel, Christus het voortdurend geleer dat GOD die spil is waarom ons hele lewe moet draai, en Hy sê: “My Vader [is] groter … as Ek” (Joh. 14:28).

As elkeen volgens die volmaakte wet van God geleef het, sou daar eenvoudig geen probleme bestaan het nie. Ons sou ’n volmaakte samelewing gehad het. Soos sake egter nou staan, is al ons probleme die gevolg van wette wat ons oortree. Die Bybel verwys daarna as sonde: “Die sonde is die wetteloosheid” (OV), en “die sonde is immers oortreding van die wet van God” (NV) in 1 Johannes 3:4.

Ongelukkig is dit so dat die mens – nadat hy al byna 6,000 jaar vir homself besluit het oor die weg wat hy wil inslaan – steeds blind is vir die wysheid in Spreuke 14:12 en 16:25: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood”. Eeue lank reeds soek die mens na vrede en harmonie, maar dit bly hom ontwyk: “Die weg van vrede ken hulle nie” (Jes. 59:8). Ten spyte van al sy menslike wetgewing kon die mens nog nooit ’n regering­stelsel ontwerp wat werk nie, omdat God se wet nooit deel daarvan was nie.

James Madison, vader van die Verenigde State se grondwet en die vierde president, het hierdie dilemma maar te goed besef: “Ons het die toekoms van die Amerikaanse beskawing nie op die mag van regering gebou nie … maar op ons vermoë om onsself persoonlik en gesamentlik te regeer en te onderhou volgens die Tien Gebooie van God” (America’s Christian Heritage: A Colletion of Dates, Events, Decrees, Quotations and Proclamations, Plymouth Rock Foundation).

Die wet van God is ’n belangrike aspek van die Evangelie omdat dit werklik Goeie Nuus is om die lewens­wyse te kan verstaan wat lei tot perfekte, blywende geluk, oorvloed, vrede en vreugde. God se wet het daardie lewens­wyse uiteengesit aan antieke Israel. Die Israeliete het egter geen blywende baat gevind by God se wet nie, want hulle het nie die aktiewe geloof gehad om vol te hou met God se lewens­wyse nie: “Want aan ons [Christene in die eerste eeu n.C.] is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle [die Israeliete in Moses se tyd]; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie” (Heb. 4:2). Hulle het dus ’n gedeelte van die Goeie Nuus gehad, maar hulle het nie die begrip of geloof gehad om dit te ontvang nie.

Vandag weet ons dat die goddelike vervulling van ons menslike potensiaal by Jesus Christus berus! Hy het Self die weg aangewys. Toe Hy die Koninkryk van God bekendstel, sê Hy aan Sy luisteraars: “Bekeer julle en glo die evangelie” (Mark. 1:15). Ons moet ons bekeer van sonde en glo (geloof hê). Paulus het dieselfde boodskap verkondig: “[Ek het] die koninkryk van God verkondig” (Hand. 20:25) en “by die Jode sowel as Grieke aangedring … op die bekering tot God en geloof in onse Here Jesus Christus” (vers 21).

Ons moet by God soek na vergifnis van sondes. Om deur Hom aangeneem te word, moet ons eerstens berou hê omdat ons Sy geestelike wet verbreek het. Hierdie wet is saamgevat in die Tien Gebooie. “Bekeer” beteken om werklik baie jammer te wees oor wat ons gedoen het, so jammer dat ons bereid is om die teenoorgestelde rigting in te slaan en te begin om God se wet te gehoorsaam, en om ons hele lewens­wyse vir altyd te verander. Ons moet ook “geloof in onse Here Jesus Christus hê”, die Koning van die Koninkryk van God. Dit behels geloof in Jesus en aanvaarding van Jesus as ons persoonlike Saligmaker, as ons Hoëpriester wat tans in die hemel is, en as ons toekomstige Koning.

Met die begin van die Nuwe Testamentiese Kerk, op die Pinksterdag, is Petrus geïnspireer om die weg van saligheid vir die mensdom aan te kondig: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Hand. 2:38-39). Petrus sê dus dat ons berou tot bekering moet hê en ons moet laat doop vir die vergifnis van ons sondes!

In Johannes 3:16 sê Jesus: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê”. As ons opreg glo dat Jesus Christus om ons onthalwe gesterf het, word die doodsvonnis vir oor­treding van God se wet van ons af verwyder. Wanneer ’n Christen waarlik bekeerd is, word hy “geregverdig … in sy bloed” (Rom. 5:9). Om geregverdig te word, beteken om onskuldig verklaar te word, om onvoorwaardelike kwyt­skelding te verkry van die verskriklike vonnis van die ewige dood. Dít is ook Goeie Nuus!

Om die wêreld se kosbaarste geskenk te ontvang

Ons behoort innig dankbaar te wees teenoor God dat ons, deur die dood van Sy Seun, vergifnis van ons sondes kan ontvang. Maar gee die feit dat ons geregverdig is ons nou die reg om net terug te keer na ons vorige manier van lewe en maar weer God se geestelike wet te vertrap en te oortree? Niks is verder verwyder van die waarheid nie! Baie mense is onwillig om dié eenvoudige waarheid te verstaan: ’n ware Christen besluit by bekering om werklik nie meer God se wet te oortree nie. Op daardie stadium is hy besig om ’n “verbond met sy Skepper te maak” om op te hou sondig! Deur gedoop te word, omdat hy glo dat God die beloofde Heilige Gees aan hom sal gee, bekragtig die ware Christen daardie verbond met God om op te hou sondig, en om sy denke, sy verstand, sy gesindheid, sy wil en sy lewe oor te gee aan God, sodat die Lewende Christus hom die krag kan gee om van daar af verder aan God se wet en wil gehoorsaam te wees.

Paulus verduidelik: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Gal. 2:20). Dit is Jesus Christus wat Sy lewe in ons leef wat ons in staat stel om die Tien Gebooie as ’n lewenswyse te kan onderhou. Kan ons die Tien Gebooie perfek onderhou? Nee. Ons kan niks volmaak doen nie! Maar ons gee onsself oor aan Christus sodat Hy God se wet in ons kan hou, deur die krag van die Heilige Gees in ons. Tot dieselfde mate wat ons ons aan Christus onderwerp, sal ons die wet van God kan onderhou. Vervolgens word ons vermaan: “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Salig­maker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18). Soos ons algaande groei in ons Christelike lewenswyse behoort ons God se wet met groter ywer en geloof te onderhou.

Hoe kan u werklik God se geestelike wet gehoorsaam terwyl u u Saligmaker volg? Jesus Christus het beloof om u die gawe van die Heilige Gees te gee. Die Heilige Gees is God se natuur, Sy geaardheid, Sy liefde. Deur aan ons Sy Heilige Gees te gee, “verwek” God ons en plaas Hy van Sy kragtige natuur in ons. Deur middel van dié goddelike natuur van God is ons dan in staat om geestelik te groei. Die Heilige Gees is die Gees van “krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim. 1:7).

Die apostel Paulus skryf: “En die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Rom. 5:5). Hoe werk die liefde van God? Hoe lei dit ons? “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Joh. 5:3). Dus, die liefde wat ons deur middel van die Heilige Gees ontvang, lei ons om die Tien Gebooie as ’n lewenswyse te gehoorsaam. Dít is ook Goeie Nuus. Dit is ’n lewens­belangrike deel van die Evangelie.

Deur ons Sy Gees – Sy goddelike natuur – te gee, help God ons om die sonde te oorwin en geestelik te groei. God Self maak ons “bevoeg” vir die ewige lewe deur dié geestelike bevryding van die sonde en van die heerskappy van Satan, die Duiwel. Deur die Heilige Gees verwek God ons om deel te word van Sy Familie. Ons het egter nog nie die einddoel bereik nie. Ons moet steeds “jaag na die doel” voordat ons uiteindelik gebore sal word in die Koninkryk van God met die opstanding van die dode (Fil. 3:13-14).

Watter wonderlike Goeie Nuus om deur Christus bevry te word van sonde! “In wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid” (Ef. 1:13-14). Ja, dit is ook Goeie Nuus om werklik ons Vader en ons Saligmaker te ken, en om God se krag­gewende Heilige Gees te ontvang wat ons in staat stel om die lewe te lei wat God behaag. Watter wonderlike Goeie Nuus vir die hele mensdom dat ons die ware vreugde van redding kan ervaar – die liefde, die gemoedsrus en die doelgerigtheid wat ons nooit tevore ervaar het nie.

Die Koninkryk van God sou nie so ’n wonderlike boodskap gewees het as daar nie ’n manier was waarop ons deel daarvan kon word nie! Ge­nadig­lik het God in Sy groot liefde en barmhartigheid ’n weg oopgemaak, DIE WEG, deur die dood en opstanding van Sy geliefde Seun, Jesus Christus. Dit is ontsagwekkende en wonderlike Goeie Nuus!

Wat Jesus Christus gedoen het, steeds doen en nog sal doen

Die Evangelie behels God se volledige plan van ver­lossing. Dit is ’n boodskap wat wentel om wie en wat God is en die doel wat Hy besig is om te vervul met die mensdom.

Die vervulling van hierdie doel vir elkeen van ons, persoonlik, berus op ons gewilligheid om op Jesus Christus te vertrou. Die Evangelie openbaar die vol­maak­te lewens­wyse wat Hy verkondig het – onder­houding van God se wet soos dit uiteengesit is in beide die Ou en Nuwe Testament, albei deur Hom geïnspireer.

Die Evangelie wys op Jesus se rol as die Lam van God wat geoffer is om die sondes van diegene weg te neem wat Hom as hulle persoonlike Verlosser aanneem. Daarby vestig die Evangelie ook ons aandag op Christus se huidige rol as ons hemelse Hoëpriester wat voortdurend vir ons intree by die Vader. Dit is deur die Heilige Gees dat Christus Sy lewe in ons leef, volgens die mate waarin ons ons onderwerp aan Sy leiding. Dit is wat ons die krag gee om God se geestelike wet, die Tien Gebooie, te gehoorsaam!

Uiteindelik is die hoof fokus van die Evangelie op Sy toekomstige terugkeer, Sy Wederkoms, in heerlikheid en mag as die Almagtige Koning van die konings, om oor hierdie wêreld en die ganse heelal onder die gesag van God die Vader te heers. Vir alle ewigheid sal Christus se herrese, onsterflike heiliges saam met Hom heers. Wat ’n luisterryke en ontsaglike plan word geopenbaar deur die Evangelie van die Koninkryk van God!

Saligmaking deur ewige lewe in die Koninkryk van God is God se doel vir ons. Jesus Christus is die enigste manier, die enigste “weg” om daar te kom: “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo” (Rom. 1:16). Christus leer ons die Weg. Deur Hom aan te neem en Hom te gehoorsaam as Heer en Meester – dus moet ons Sy heilige wet, die Tien Gebooie, onderhou – kan ons die Koninkryk van God binnegaan. Dit is wonderlike Goeie Nuus dat God só ’n weg voorsien het!

“Hy wat die Seun het, het die Lewe …”

Die apostel Johannes sê dat hy sy evangelie­beskrywing gee “dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam” (Joh. 20:31). In sy eerste brief, skryf hy: “Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God” (1 Joh. 5:12-13). Baie mense dink hierdie verse beteken dat ons die ewige lewe kan hê solank ons maar net die FEIT aanvaar dat Jesus die Seun van God is, dat Hy die Messias is wat gestuur is om die mensdom te red, en solank ons HOM persoonlik aanneem. Maar is dit wat die Heilige Skrif werklik leer?

Johannes vertel van ’n belangrike ontmoeting wat Jesus gehad het met diegene wat in Hom geglo het. “En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels … maar julle probeer om My om die lewe te bring, omdat my woord geen ingang in julle vind nie … Julle het die duiwel as vader … Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie” (Joh. 8:31, 37, 44-45). Diegene wat “in Hom geglo het” wou nie glo wat Hy verkondig het nie en het selfs probeer om Hom dood te maak daaroor.

In Markus 1:15 sê Christus: “Glo die evangelie”, met ander woorde, glo Sy boodskap. Die boodskap van God se Woord is onveranderlik, dit is bestendig. Hoe kan een vers dan sê: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word” (Hand. 16:31), terwyl ’n ander sê: “As jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Matt. 19:17)? Johannes wys ook baie duidelik op die noodsaaklikheid om die Tien Gebooie te onderhou: “Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid [wetsonderhouding, Ps. 119:172] nie doen nie, is nie uit God nie” (1 Joh. 3:10). Verder skryf Johannes: “En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: aan die Gees wat Hy ons gegee het” (1 Joh. 3:24).

Wat is die antwoord dan? Berus redding op geloof of op die onderhouding van die gebooie – op “geloof” of op “werke”? Laat die apostel Jakobus antwoord: “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? … Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood … Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle SIDDER” (Jak. 2:14, 17, 19). Op dieselfde manier weet selfs die duiwels dat Jesus die Messias is wat moes kom om die mensdom te verlos. Maar dit red húlle nie. Ons moet die kennis wat God ons gee, gebruik. “Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke DOOD is? … Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy [Abraham se] werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke? … Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?” (verse 20, 22, 24).

Dus is verlossing nie ’n geval van geloof OF werke nie, maar wel van geloof EN werke! ’n Dinamiese, lewende geloof gaan altyd saam met aktiewe gehoor­saam­heid aan die wet van God. Hoe pas geloof in Jesus en Sy boodskap dan nou hierby in? Eenvoudig só: As ons werklik GLO waarvoor Jesus staan en wat Hy ons beveel, sal ons Hom GEHOORSAAM. Dit word bewerkstellig deurdat ons Hóm aanneem sowel as al Sy leerstellings. Ná ons bekering en doop ontvang ons dan die Heilige Gees van God (Hand. 2:38), waardeur die liefde van God “in ons harte uitgestort” word (Rom. 5:5). Soos Johannes skryf: “Want dit IS die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar” (1 Joh. 5:3).

Soos hierbo in 1 Johannes 3:24 aangetoon is, is die onderhouding van die gebooie die bewys dat Christus in ons leef deur middel van die Heilige Gees. As ons werklik vir Jesus Christus aanneem in ons lewens sal Hy Sy gehoorsame lewenswyse in ons leef tot dieselfde mate wat ons ons ou natuur doodmaak en onsself aan Hom onderwerp. Paulus verduidelik dit so: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Gal. 2:20).

Aanvanklik moet ons “geloof in God” hê (Heb. 6:1). Maar dit is nie die geloof wat ons kan red nie. Ons moet eintlik Sy geloof in ons hê, die geloof waarmee Hy Sy wonderwerke gedoen het. Sodanige geloof is ’n vrug van God se Heilige Gees (“getrouheid”, Gal. 5:22). Soos ons hierdie geloof beoefen deur die onderhouding van die gebooie, sal dit groei saam met ons vertroue in, en ons afhanklikheid van Jesus Christus. Geloof in aksie maak geloof lewendig!

Daar is geen teenstrydigheid nie. Lewende geloof is aktiewe gehoorsaamheid – wat geestelike liefde is. Hoe weet ons of ons die Seun het? “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is” (1 Joh. 2:3-5).

Geroep tot heerlikheid!

Ja, Christus het gesterf sodat ons met God versoen kan word. Dit is egter nie die einde van die saak nie! Wat Christus deur ons doen in ons huidige lewe, is ook nie die einde van die saak nie. Jesus Christus gaan “julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom … stel; as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie, wat julle gehoor het” (Kol. 1:22-23). As Christen oorwinnaars moet ons altyd vashou aan die hoop van die ware Evangelie, die ontsaglike begrip van ons uiteindelike lotsbestemming.

Wanneer die laaste basuin blaas, sal dié wat oorwin het en daagliks geleer het om te “jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Fil. 3:14), voel hoe hulle in die lug opvaar om Christus te ontmoet. Kan u uself die heiliges se opwinding en ekstase voorstel wanneer hulle besef dat hulle nou deel is van God se Familie? Dan het hulle alle struikelblokke oorkom om hulle uiteindelike bestemming te bereik, die lots­bestem­ming waarvoor ons almal geskape is!

Terwyl ons opvaar om Christus in die lug tegemoet te gaan, sal ons besef dat ons vir ewig deel is van die goddelike vlak van bestaan, lede van die Godfamilie. Hierdie dramatiese hoogtepunt van ons menslike bestaan het die apostel Paulus geïnspireer om te skryf: “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God” (Rom. 8:18-19).

Hierdie fase in God se glorieryke plan vir die mens­dom is absoluut ontsagwekkend. Daar is geen beter Goeie Nuus nie! Hoe swak vergelyk die verlei­de­like vals evangelie nie met die Ware Evangelie nie! Is die Waarheid nie sonder weerga nie?

Wanneer sal die Koninkryk kom?

Christus sê aan Sy dissipels in Matt. 24:36: “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen”. Hy verwys hier na Sy Wederkoms wanneer Hy die Koninkryk van God op aarde sal vestig. Alhoewel ons, selfs op hierdie stadium, nie weet watter dag of uur die Koninkryk van God opgerig sal word nie, weet ons wel dat dit naby is. Mattheus 24, Markus 13 en Lukas 21 beskryf sekere tekens van die tye waarvoor ons op die uitkyk moet wees. Jesus sê:“En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is. Toe vertel Hy hulle ’n gelykenis: Let op die vyeboom en al die bome. Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is. So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wan­neer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” (Luk. 21:28-33).

Verskriklike gebeure is aan die toeneem in vandag se wêreld. In ’n sekere opsig is selfs dít Goeie Nuus, want dit beteken dat die Koninkryk van God naby is. In Mattheus 24:14 sê Jesus: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom”. U beleef die verkondiging van hierdie Evangelie terwyl u dié boekie lees! Die feit dat Christus die woorde “hierdie evangelie” gebruik in die middel van Mattheus 24 bewys verder ook dat die Evangelie wel die profetiese gebeure insluit wat die vestiging van Sy Koninkryk voorafgaan. Dit is Goeie Nuus omdat God Self die enigste medisyne wat sal werk, gaan uitdeel aan ’n hardkoppige, wêreldse mensdom. Die medisyne? ’n Kragdadige oorname van hierdie planeet, ’n goddelike staats­greep!

Baie wêreldleiers, vooraanstaande wetenskaplikes en ander briljante persone glo dat ’n wêreldregering die enigste oplossing is om te keer dat die mensdom homself vernietig. Tog weet almal dat die mens dit nooit sal regkry nie, omdat ons nie met mekaar wil saamwerk nie. Slegs God kan dit korrek doen. Moet u nie misgis nie: God SAL DIT DOEN. Dan eers sal daar wêreldvrede wees. Watter fantastiese Goeie Nuus is dit nie!

Wanneer u dus hoor hoe mense praat van die wonderlike “Evangelie” moet u seker maak dat hulle nie net praat van die eerste fase van die Christelike lewe nie, naamlik van die vergifnis van ons sondes van die verlede deur Jesus se bloed nie. Die ware Evangelie gaan baie verder. Dit behels baie meer as wat die meeste mense dink of begryp. Die ware Goeie Nuus oortref alle verwagtinge. Dit daag u uit tot ’n verheerlikte lewe van aktiewe diens in die Koninkryk van God gedurende Christus se toekomstige heerskappy hier op die aarde, en verder aan tot in ewigheid, oor die eindelose heelal! Dít is die volle GOEIE NUUS. Dít is die regte, ware Evangelie van Jesus Christus!   

Laai af in PDF (163 KB) | Bestel GRATIS Gedrukte Uitgawe
Geliewe daarop te let dat genoemde boekies nie by Bruid van Yeshua beskikbaar is nie, maar dat u dit direk kan bestel vanaf
Die Lewende Kerk van God of u kan die PDF dokument aflaai indien beskikbaar. Baie Dankie.

229total visits,1visits today

Kategoriee

Advertensie

Advertensie