The God Who Sees

IS DIE “SHABBAT ” NOG STEEDS HEILIG IN YAHWEH SE OË?


IS DIE “SHABBAT ”  NOG  STEEDS HEILIG IN YAHWEH SE OË?

1. Die Hebreeuse woord “Shabbat” beteken “om op te hou”, “om te rus” of “om te laat staan”. In die Bybel is “Shabbat” die naam wat aan die sewende dag van die week toegeken word (Gen 2:2,3; Eks 20:8-11).  Die name van weeksdae soos wat ons dit vandag ken (soos “Sondag” vir die eerste dag van die week en “Saterdag” vir die sewende dag van die week) is van Romeinse oorsprong en kom nie in die Bybel voor nie. Dit is die name van Romeinse en heidense afgode wat in sommige gevalle ooreenstem met sekere bekende planete en hemelliggame (bv. “Saterdag” wat kom van “Saturnus” en “Sondag” wat as “the day of the sun” bekend gestaan het).

2. In die Bybel – Ou Testament, sowel as Nuwe Testament – speel die “Shabbat” ‘n geweldige belangrike rol en dis veral duidelik dat dit ‘n dag is wat vir Yahweh baie na           aan die hart lê.  Dit is die dag waarop Hy aan die einde van die skepping “gerus” het en wat Hy direk na afloop van die skepping as ‘n spesiale dag geseën en geheilig het (Gen 2:2,3).  Dit is die dag waarop die Israeliete in hulle omswerwinge deur die woestyn nie toegelaat is om manna bymekaar te maak nie. Vir 40 jaar lank het Yahweh elke week deur ‘n wonderwerk dit so beskik dat die dubbele porsie manna wat op die dag voor die “Shabbat” opgetel word, nie sleg word nie, maar vars bly vir gebruik op die “Shabbat” (Eks 16). Dit is ‘n dag wat in Yahweh se oë so kosbaar is dat Hy die heiliging van hierdie dag (as ‘n dag waarop die volk hulle gewone weeklikse werksaamhede moet staak) insluit as een van die 10 gebooie (Eks 20).  Die feit dat die kerk met sy sterk Romeinse inslag later gekom het en hierdie vierde gebod amptelik (ja, swart op wit) gewysig het en “die sewende dag” vervang het met “die eerste dag”, kom neer op openlike rebellie teen Yahweh en die gesag van sy Woord.

3. Om seker te maak dat sy volk die heilige en die blywende karakter van die “Shabbat” verstaan, het Yahweh (bo en behalwe die insluiting daarvan in die 10 gebooie) ‘n aparte verbond met die volk aangegaan waarin onder meer gesê word dat die “Shabbat” ‘n teken deur al die geslagte van Yahweh se volk sal wees dat Hy die Een is wat hulle heilig (d.w.s. vir Homself afsonder) en dat hulle daarom die “Shabbat” as ‘n ewige verbond met Yahweh moet beskou (Eks 31:12-18, vgl. Eseg 20:11-21). In Levitikus 23 word bevestig dat die “Shabbat” nie net ‘n rusdag is nie, maar ook ‘n “heilige vierdag” – ‘n weeklikse feesdag wat op een vlak met die jaarlikse feesdae geplaas word. Die interessante is dat hierdie gedeelte herhaaldelik beklemtoon dat dit Yahweh se feesdae en feestye en Yahweh se Sabbatte is, nie die Jode (of enige ander volk) s’n nie (vgl. 23:2,3,4, 5,6,34,37,38,39,41 en 44).  Bybels gesproke is dit nie korrek om van die “Joodse Sabbat” te praat nie!

4. In die res van die Ou Testament kom die tema van die “Shabbat” herhaaldelik na vore: die ontheiliging van die Sabbat het dikwels gelei tot Israel se skade en ondergang (Neh 13:16-18); die een wat die “Shabbat” hou – selfs hulle wat nie deel van die Joodse volk is nie – word as geseënd beskou (Jes 56:1-8); hulle wat die “Shabbat” ‘n verlustiging noem en dit eer deur nie hulle gewone gang te gaan nie sal ry oor die hoogtes van die aarde en die erfdeel van Jakob geniet (Jes 58:13-14) en in die toekomstige vrederyk waarvan Yahweh belowe dat Hy Jerusalem in volle glorie sal herstel, sal “alle vlees” maandeliks op die nuwemaan en weekliks op die “Shabbat” kom om voor Yahweh se aangesig te aanbid (Jes 66:19-24).

5. In die Nuwe Testament word daar verbasend baie van die “Shabbat” melding gemaak. Die Griekse woord “sabbaton” wat in die Nuwe Testament gebruik word, is ‘n direkte vertaling van die Hebreeuse woord “shabbat” en het daarom dieselfde betekenis as “shabbat” in die Ou Testament. Die eerste opvallende aspek in die Nuwe Testament is dat Yahshua (Jesus) en die dissipels (bv. Mark 1:21; Mark 3:1,2; Mark 6:2; Luk 4:16; Luk 6:6; Luk 23:56), Paulus en die apostels (bv. Hand 13:14; Hand 14:1; Hand 17:1,2; Hand 18:4,19; Hand 18:24-26; Hand 19:6-8), sowel as die nuwe bekeerlinge en die gemeentes wat na die uitstorting van die Heilige Gees ontstaan het  (bv. Hand 13:42-44; Hand 16:13-15; Hand 17:10-12; Hand 17:17; Hand 22:19; Hand 26:11), almal die “Shabbat” gehou het en die sinagoge byeenkomste op die “Shabbat” bygewoon het.

6. Die feit dat Yahshua en sy dissipels op die “Shabbat” koringare gepluk het en mense gesond gemaak het, beteken hoegenaamd nie dat Hy daarmee wou aandui dat die “Shabbat” nie meer gehou moes word nie. Inteendeel, Hy wou hê die Jode se oë moes oopgaan vir die ware betekenis van die “Shabbat” soos wat sy Vader dit van die begin af bedoel het, naamlik dat dit ‘n dag is waarin elke mens iets van Yahweh se ware rus – ook in die sin van genesing, verlossing en bevryding – moes ervaar. Die Jode het in Yahshua se tyd soveel (mensgemaakte) reëls en tradisies rondom die “Shabbat” gehad (en dit selfs in hulle Joodse geskrifte vervat) dat hulle nie meer die Vader se hartklop rondom die instelling van die “Shabbat” gehoor het nie. Daarom dat Yahshua hulle aandag daarop vestig dat die mens nie vir die “Shabbat” gemaak is nie, maar die “Shabbat” vir die mens (o.a. Mark 2:27) – met ander woorde die “Shabbat” is ‘n dag waain elke mens horn kan verlustig omdat dit ‘n dag is wat spesiaal ingestel is om hom (as mens) te help, te versterk, op te bou en te inspireer.

7. Die argument dat Yahshua se opstanding ‘n verandering meegebring het en dat die gelowiges na sy opstanding die gebruik gehad het om op Sondae in plaas van op die “Shabbat” bymekaar te kom, is nie in ooreenstemming met wat die Bybel sê nie. Volgens die Bybel se dagindeling, begin en eindig ‘n dag met sonsondergang, in die aand (vgl. Gen 1:5,8,13,19,23,31 en Lev 23:32). Indien ons aanneem dat Yahshua op die eerste dag van die week (d.w.s. op die Sondag) opgestaan het, dan het die veelbesproke “Sondag”-byeenkoms van Joh 20:19 in werklikheid nie op Sondag plaasgevind nie, maar wel Maandag (“toe dit aand was…”).  Boonop beteken dit dat die byeenkoms “agt dae later” (Joh 20:26) waarskynlik op ‘n Dinsdag plaasgevind het en nie op ‘n Sondag soos sommiges dit wil hê nie.  Feite is: in die tyd onmiddellik na Yahshua se opstanding (soos ook in die tyd onmiddellik na die uitstorting van die Heilige Gees – vgl Hand 2:46) het die gelowiges waarskyniik daagliks bymekaar gekom (soms uit vrees vir die Jode – vgl. Joh 20:19) en kan daar beslis nie afleidings gemaak word wat tot gevolg het dat die “Shabbat” ewe skielik deur die kerk afgeskaf word nie! Daar is hoegenaamd geen Bybelse bewys daarvoor dat daar ná Yahshua se opstanding van “Sondag” as die “dag van die Here” gepraat word nie. Dit is daarom ook heeltemal ongegrond om te sê dat Openbaring 1:10 (waar daar na “die dag van die Here” verwys word) eintlik die eerste dag van die week in gedagte het.

8. Ook Paulus en die ander apostels het nie geleer dat die “Shabbat” met Yahshua se koms afgeskaf is nie. Ons het reeds gesien dat al die apostels die “Shabbat” nougeset onderhou het – selfs lank na hul Meester se hemelvaart. Wanneer ons gedeeltes in die Nuwe Testament teëkom wat oor die “wet” handel en oor die vraag of ons ons vandag nog aan die wet moet steur, moet ons in gedagte hou dat nóg Yahshua, nóg die apostels ooit die wet wililens en wetens oortree het en dat hulle ook nie die gelowiges sou leer om die wet te oortree nie. Want dit sou direk indruis teen Yahshua se woorde in Mat 5:17-19, veral vers 19 wat sê: “Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense so leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele…”.  Paulus spreek hom sterk uit teen valse leraars wat die gelowiges verwar met hulle leer dat ‘n mens die wet moet nakom om daardeur gered te kan word.  Aan die ander kant stel hy dit egter ook baie duidelik dat wanneer iemand waarlik tot geloof in die Messias gekom het, hy nie langer in sonde (of: in stryd met die wet) kan lewe nie en ‘n nuwe begeerte het om Yahweh in alles te behaag (vgl Hand 24:14; Hand 25:8; Rom 2:13, Rom 3:31; Rom 6:15; Rom 7:7,12,14,22,25; Rom 8:6-7; Rom 12:2; Gal 5:13-15; Gal 5:19-23).

9. Daar is geen aanduiding in die Nuwe Testament dat die gelowiges die dag van samekoms en aanbidding van die sewende dag van die week na die eerste dag van die week verander het nie. Hierdie verandering het eers in die na-apostoliese tydperk plaasgevind en is aangehelp deur ‘n baie sterk antisemitiese (anti-Joodse) faksie in die vroeë kerk waarin kerkleiers alles in hulle vermoë gedoen het om elke “Joodse” gebruik in die Christelike kerk te vernietig of te verander. Die weerstand in kerklike kringe teen Joodse gebruike het toegeneem namate die Romeinse keisers, ná die Romeinse oomame van Jerusalem in 70 n.C., al hoe meer maatreëls ingestel het om die Jode te onderdruk en te beperk. So byvoorbeeld het keiser Hadrianus (117-138 n.C.) enige Jood (of Joodse Christen) verbied om Jerusalem binne te gaan. Niemand is toegelaat om die Joodse godsdiens te beoefen en veral die “Shabbat” te onderhou nie.  ‘n Mens kan byna verstaan dat die Christene nie langer kans gesien het om met die Jode geïdentifiseer te word nie. Dis binne hierdie konteks dat kerkleiers begin het om die “Shabbat” uit die Christelike gemeentes uit te faseer en Sondagviering aan te moedig en selfs vanuit die Bybel te probeer regverdig.

10. Die volgende aanhalings gee vir ‘n mens  ‘n goeie idee gee van hoe dit gebeur het dat die “Shabbat”gaandeweg sy regmatige plek in die kerk verloor het:

“[Roman Emperor] Constantine’s famous edict (321 A.D.) definitely enrolled Sunday among the holidays of the Roman State religion … thus a pagan institution (Sunday observance] was engrafted upon Christianity . This edict commanded that ‘On the venerable day of the sun let all magistrates and people rest'” (Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge, article “Sunday Legislation”).

“Sunday observance, in short, is a pagan tradition which unlawfully entered the Christian Church centuries after the early Apostles died. It has absolutely no Scriptural authority whatsoever!” (David B Loughran)

“You may read the Bible from Genesis to Revelation, and you will not find a single line authorising the sanctification of Sunday. The Scriptures enforce the religious observance of Saturday, a day which we (Catholics) never sanctify” (Kardinaal Gibbons, ‘n Katolieke geleerde, in sy boek: “The faith of our Fathers”, bl.111)

“The observance of the Lord’s Day took the place of the observance of the Sabbath not by virtue of the [Biblical] precept but by the institution of the church.” (Thomas Aquinas – Katolieke Teoloog)

“The Bible says: ‘Remember the Sabbath day to keep it holy.’ But the Catholic Church says, ‘No, keep the first day of the week,’ and the whole world bows in obedience.” (Father T. Enright – Rooms Katolieke Priester)

“The Catholic Church of its own infallible authority created Sunday a holy day to take the place of the Sabbath of the old law” (Kansas City Catholic).

Uit bogenoemde kan daar net een gevolgtrekking gemaak word: Satan het dit oor eeue heen reggekry om die een dag wat van die skepping van hierdie wêreld deur Yahweh geseën en  geheilig is, in die oë van die meeste Christene te degradeer tot net maar nog ‘n dag, ‘n dag van werk en speel, ‘n dag van koop en verkoop, ‘n dag van doen wat jou hand vind om te doen. En dit terwyl Yahweh (wat nooit verander nie) dit ingestel het as ‘n dag van rus, ‘n dag van verkwikking, ‘n dag van verlustiging in Hom.  En asof dit nie genoeg was nie, het ons ‘n ander dag geneem, ‘n dag wat Yahweh ons nooit beveel het om as “heilig” te beskou nie, en ons het hierdie dag gaan verhef bo die dag wat Yahweh vir Homself eenkant gesit het.

Deur dit te doen, het ons die weg gebaan vir die Antichris, want volgens Dan 7:25 sal hy “die heiliges van die Allerhoogste mishandel en probeer om tye en wet te verander” of, soos die Amplified dit stel: ‘he shall wear out the saints of the Most High and think to change the time of sacred feasts and holy days and the law…” Dit het tyd geword om die gees van die Antichris te weerstaan in die Naam van Hom wat gesê het: “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly” (Joh 15:10).

In sy geestesoog het die profeet Jesaja baie eeue gelede gesien hoedat daar ‘n geslag van gelowiges gaan kom wat die “ou puinhope” gaan herbou, “wat die fondamente van die vorige geslagte sal oprig” en die “herbouer van gebreekte mure” sal wees (Jes 58:12-14). En wat sal die uitstaande kenmerk van hierdie geslag gelowiges wees? Jesaja profeteer dit sal hulle wees wat hulle “voet terughou van die Sabbat”, wat die “Sabbat ‘n verlustiging noem” en wat dit “eer” deur nie hulle “gewone gang te gaan” nie. Ek en jy het ‘n keuse. Ons kan voortgaan om die dag te ignoreer wat Yahweh vir alle geslagte geheilig het of ons kan vandag kies om deel van die geslag te wees wat die ou puinhope herbou …

219total visits,2visits today

Kategoriee

Advertensie

Advertensie