The God Who Sees

Die dae van Noag en Lot


Die dae van Noag en Lot

Johan Malan, Universiteit van die Noorde, Suid Afrika

Opsomming: In die eindtyd, voor die wederkoms van Christus, sal die morele verdorwenheid, gewelddadigheid en rebellie teen God weer die afmetings aanneem wat dit in die dae van Noag en Lot gehad het.

Baie mense leef onder die misleidende illusie dat die wêreld op die drumpel van ‘n nuwe bedeling van vrede, eenheid, voorspoed en harmonie is. Vir diegene wat objektief na die hele situasie kyk en nie deur die tegnologiese prestasies van die moderne tyd verblind word nie, is dit egter duidelik dat die mensdom moreel en geestelik in een van die donkerste tye van sy bestaan is.

Die Bybel vergelyk die eindtyd net voor die wederkoms van Jesus Christus met die dae van Noag en Lot (Luk. 17:26-30; Matt. 24:37-39). Dit was geestelik en moreel uItermate donker tye toe mense God se gebooie openlik geminag en verwerp het. Hulle het ten volle uiting aan hulle bose begeerlikhede gegee, chaos geskep en gedoen nét wat hulle wou.

God se oordeel oor sondaars

Mense het uiteindelik in sulke dieptes van goddeloosheid en sonde weggesink dat die Here besluit het om hulle van die aarde af te verdelg:

“Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was… [sê] God vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg… Daarna het die Here aan Noag gesê: Gaan in die ark, jy en jou hele huisgesin, want jou het Ek regverdig bevind voor my aangesig in hierdie geslag” (Gen. 6:5, 13; 7:1).

Lot het homself in ‘n soortgelyke situasie bevind toe die Here ook die regverdiges uitgered en die sondaars verdelg het. Die engele het aan Lot gesê:

“Ons gaan hierdie plek verwoes, omdat die geroep oor hulle groot is voor die aangesig van die Here… Maak jou klaar, neem jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, sodat jy weens die ongeregtigheid van die stad nie omkom nie… Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie… Vlug na die gebergte dat jy nie omkom nie!” (Gen. 19:13-17).

Die sondaars het nie die ernstige waarskuwings oor die komende oordele van God aanvaar nie en openlik daarmee gespot, totdat dit skielik oor hulle losgebars het (Matt. 24:39). Toe roep hulle dringend om hulp!

Eindtydse situasie

Die Here Jesus pas die hele scenario oor die uitredding van die regverdiges en die oordeel oor sondaars in Noag se tyd op die eindtyd toe: “…so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Matt. 24:39). Wat is die ooreenkoms tussen ons tyd en dié van Noag en Lot?

Ons bevind ons in nét so ‘n donker tyd van die verwerping van God: sy Woord en sy gebooie word nou ook in die Westerse wêreld geminag en geïgnoreer, sy Naam word gelaster deur dit as ‘n vloekwoord te gebruik, evangeliese Christene word as naïef, outyds en veroordelend teenoor ander gelowe beskou, terwyl die jong geslag meesal nie meer in die vrese van die Here opgevoed en onderrig word nie.
Daar is ook in ons tyd profete, of predikers van geregtigheid, wat God se oordele oor die massas onbekeerlike, verharde, roekelose en God-uittartende sondaars aankondig. Dié oordele begin in die komende groot verdrukking en eindig in die brandende poel van vuur. Die sondaars, asook die vormgodsdienstiges, verstaan egter glad nie hoe ‘n liefdevolle God mense kan oordeel nie en verwerp al hierdie waarskuwings met minagting. Hulle spot selfs daarmee.
Net soos in die dae van Noag en Lot, sal die Here in die eindtyd ook vooraf die regverdiges uit die rampgebied van sy oordele oor die sondaars verwyder. Dit is nie vir hulle bedoel nie (Joh. 5:24; Luk. 21:36; Rom. 8:1). Met die belofte van ‘n wegraping vóór die oordele spot die wêreld ook, net soos hulle met Noag gespot het toe hy ‘n ark gebou en die mense teen God se oordele gewaarsku het.

Kan u sien dat ons ‘n volk is wat in groot duisternis wandel – soos ook al die ander volke? Die samelewing het net so misdadig en gewelddadig as in die tyd van Noag geword – elkeen doen nét wat hy wil. Daar is geen respek meer vir mense se lewens, hulle besittings of hulle vryhede nie.

Soos in Sodom en Gomorra het homoseksualisme, seksperversie en allerlei seksuele vergrype soos verkragting en kindermolestering, reeds ‘n algemene lewenswyse geword. In Kaapstad is daar op 30 Oktober 1999 ‘n Mej. Gay Heelal gekies! In ‘n advertensie word gesê: “Onder al die glans en verfyndheid is die ‘meisies’ eintlik ‘seuns’, maar met sulke liggame, wie gee om?”

Dit is die probleem: niemand gee meer om wat gebeur nie. Baie kerke is nie net stil oor hierdie skandale nie, maar keur dit selfs goed (Rom. 1:32).

Pornografie neem ook geweldige afmetings in die wêreld aan: die vuilste tydskrifte denkbaar is op kafees en boekwinkels se rakke. Kinder-pornografie neem ook baie toe.

Hierdie vervalle geslag mense ontsien nie die Here nie. Hulle is daarop uit om sy Naam te belaster en Hom van sy verhewe posisie af te trek en met die afgode gelyk te stel. Hulle ruk die bande van die Christendom stukkend en bal die vuis vir die Here en sy Gesalfde. God sal hulle egter met ‘n ysterstaf verpletter (Ps. 2:9).

Sonde baar sonde. Omdat gemeenskappe én hulle regerings nou oral die deur vir sonde en afgodediens oopmaak, neem die ongeregtigheid en geestelike duisternis teen ‘n onrusbarende tempo toe. Weldra sal die mens van sonde [die Antichris] op die toneel verskyn (2Thess. 2:3-10). Hy sal ‘n sonde-kultuur op aarde vestig en almal leer om verderflik teen God te handel en openlik teen Hom te rebelleer.

Die groot verdrukking

Kan u begryp waarom God die bose geslag mense van die eindtyd – net soos dié in Noag en Lot se tyd – met sy oordele en toorn gaan besoek? Hy het dit sedert die Ou Testamentiese tye al duidelik gestel dat Hy in “die dag van die Here” die sondaars gaan verdelg saam met al die tiranne wat hulle mislei het. Let daarop dat hierdie oordele nie vir die regverdiges bedoel is nie:

“Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg… En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder. En Ek sal sterwelinge skaarse maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir. Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met gebeef, vanweë die grimmigheid van die Here van die leërskare en vanweë die dag van sy toorngloed” (Jes. 13:9-13).

“Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die Here het hierdie woord gespreek… Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het die wette oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek. Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur ‘n gloed verteer en bly daar min mense oor” (Jes. 24:3, 5-6).

“Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ‘n oond. Dan sal die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe soos ‘n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die Here van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie. Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan…” (Maleági 4:1-2).

Die Here Jesus het ook in sy profetiese rede na hierdie verskriklike tyd van oordeel en verdrukking verwys wat voor sy wederkoms oor die goddeloses sal kom:

“Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes [die oorblyfsel van Israel] sal daardie dae verkort word… En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre van die hemel sal val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:21-22, 29-30).

Ontvlugting vir die regverdiges

Omdat die oordele van God uitdruklik en uitsluitlik vir die sondaars en goddeloses bedoel is, móét die regverdiges eers weggeneem word voordat die tyd van oordele kan begin:

“Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).

Dit sal ‘n letterlike, fisiese ontvlugting wees soos ook in die dae van Noag en Lot. Die belofte van die wegraping moet nie geestelik opgeneem en sodoende afgewater en kragteloos gemaak word nie. Noag het nie opgehou om die ark te bou en geredeneer dat God hom saam met die sondaars in of deur die vloedwaters sou laat gaan en daarin sou bewaar nie. Lot het ook nie verstaan dat hy in Sodom teen God se oordele bewaar sou word nie. Hy moes fisies daar weg!

Beide van hulle moes vir die wegname gereed maak. Ons moet ook gereed wees, met die olie van die Heilige Gees in ons lampe, wanneer die hemelse Bruidegom in die middernaguur van hierdie donker tyd kom om ons te haal. Dan sal die teëhouer – die ware volgelinge van Jesus Christus wat die lig van ‘n donker wêreld was – uit die weg geruim word en die uur van groot duisternis op aarde aanbreek. Eers dan sal die Antichris sonder teëstand geopenbaar kan word (2 Thess. 2:6-8).

Ná die groot verdrukking kom die Here Jesus nie in die geheim nie, maar in die openbaar sodat elke oog Hom kan sien. Hy sal van sy heiliges vergesel wees wat sewe jaar tevore weggeraap is toe Hy soos ‘n dief in die nag gekom het om hulle wat vir Hom kosbaar is, van die aarde af weg te neem:

“In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant… Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:4-5).

“Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4).

Tipologiese toepassing

Die toepassing wat die tyd van Noag en Lot op die eindtyd het, sluit dus verskeie aspekte in: Eerstens is daar die feit van die verskriklike geestelike en morele verdorwenheid van die mens. In reaksie hierop kondig God sy ontevredenheid aan, asook sy besluit om die mens met ontsettende oordele te besoek. Voordat Hy tot die stap van oordeel oorgaan, gee Hy aan die regverdiges opdrag om die goddeloses oor die gevolge van hulle sonde en rebellie teen God te waarsku. Daarna verwyder Hy eers diegene wat regverdig verklaar word en dus nie die voorwerpe van sy toorn is nie. Dadelik nadat hulle op ‘n plek van veiligheid is, word die grimmigheid van die Here oor die sondaars uitgestort. Wanneer dit klaar gedoen is, begin die Here deur die bemiddeling van die regverdiges met ‘n nuwe bedeling in die mens se heilsgeskiedenis op aarde.

Ons moet absolute duidelikheid hê oor waar ons nou in God se raadsplan is, en wat Hy in ‘n tyd soos dié van sy kinders verwag om te doen. Ons moet dus ‘n korrekte Bybelse evaluering van ons tydsomstandighede doen en ons optrede in die lig daarvan bepaal. Ons moet kyk wat rondom ons aangaan en dan God se Woord aan die mensdom verkondig – nie ons eie idees en teorieë nie.

Ons beleef tans die grootste uitbarsting van sonde in die wêreld se geskiedenis. Die vuilheid, losbandigheid, onsedelikheid, valsheid, immoraliteit, openbare ongeregtigheid, geldgierigheid, drank- en dwelmverslawing, dobbelary en geweldpleging neem ongekende afmetings aan. Dit gaan saam met die ergste vorm van arrogansie, selfliefde, selfverheffing, selfvergoddeliking, die verering van afgode en die gebruikmaking van duiwelse magte ooit. Dit is waarom die wêreld op die grootste verdrukking van alle tye afstuur en vrywilliglik die Antichris en die valse profeet sal navolg (Op. 13:3-4). Selfs wanneer die sondaars verdruk word, sal hulle God laster oor die plae, soos wat hulle nou al by elke geleentheid sy Naam laster en ydelik gebruik. Al hierdie dinge word uit die put van die hel aangeblaas en is deel van die koninkryk van die duisternis se finale plan om die wêreld deur middel van die Antichris oor te neem en te regeer.

Dit is in ‘n tyd soos hierdie dat die Here predikers van geregtigheid soek en toerus om die wêreld oor sy inherente en erger wordende boosheid aan te spreek. Die sondaars moet gewaarsku word dat hulle op die oordele van God afstuur. As hulle tot die besef hiervan kom, dan moet die genade en vergewensgesindheid van die Here ook aan hulle verkondig word. Hulle moet weet dat hulle gered kán word, maar dan moet hulle hul sonde bely en laat staan. Mense kan nie in hulle sondige toestand gepaai en salig gespreek word nie.

Hoe sal die vrees van die Here by mense gevestig en ingeskerp word as hulle nie van sy toorn en oordeel oor sonde weet nie? Ons leef in tye soos dié van Noag en Lot. Die Here soek na predikers van geregtigheid om die afvallige kerke én die sondige wêreld teen die oordele te waarsku wat sekerlik op hulle wag.

Wanneer die Here se basuin sal blaas om die regverdiges uit die komende rampterrein weg te neem, dan moet diegene wat agterbly reeds gewaarsku wees.

Saligsprekinge deur die kerk van Laodicéa

Tye soos dié van Noag en Lot impliseer duidelik dat die leidende kerke in die samelewing nét so korrup en vervalle soos die samelewing self sal word. Mense sal hulleself verhef en salig spreek, selfs al leef hulle in die grofste sondes. Allerlei ander dwalinge sal ook verkondig word omdat die absolute eise van God se Woord nie meer eerbiedig of verkondig sal word nie.

Laodicea verwys profeties na die kerk van die eindtyd, net voor die wederkoms van Christus. In die ekonomies voorspoedige maar geestelik erg verdwaalde en vervalle toestand waarin dié kerk verkeer, spreek hy homself en sy lidmate salig deur te sê: “Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie” (Op. 3:17).

Die Here Jesus sê in sy brief aan Laodicéa dat hulle selfregverdiging ‘n wanopvatting is wat uit geestelike misleiding en onkunde gebore is: “…jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:17).

Hulle is só deur vormgodsdiens verblind dat hulle nie eers besef dat hulle geestelik bankrot is en die Here reeds van hulle gewyk het nie: “…omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Op. 3:16).

Só ‘n kerk word ‘n instrument vir massamisleiding in die hand van Satan. Die kerkleiers is nie alleen blind vir hulle eie foute en teologiese dwalinge nie, maar hulle verklaar ook hulle lidmate salig en leer hulle om in dieselfde misleiding te glo. Die Here sê egter: “Tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matt. 15:9).

In kerke van hierdie aard word dwalinge soos die volgende algemeen verkondig:

Alle kinders word deur die verbondsdoop gered op grond van hulle uitverkiesing (doopsaligheid). Niemand kan hulle daarna uit die hand van die Here ruk nie en hulle hoef dus nie weergebore te word of na ‘n tweede genadewerk van heiligmaking te soek nie (vervalle Protestantisme).
Maria is die hoof van die Christelike kerk op aarde, die priester kan mense deur die bediening van sy rituele soos die doop en die nagmaal salig maak, en verder kan saligheid ook deur goeie werke verseker word (Rooms-Katolisisme).
Soms word ander ervarings en bonatuurlike tekens soos val in die gees, lag in die gees, dronk word in die gees en goudstof op mense se hande en hare, as tekens van ‘n ware Christenskap verkondig (Charismatiese vormgodsdiens).

Selfs al is daar ware gelowiges in enige van hierdie groepe, dan het hulle ‘n persoonlike verhouding met die Here Jesus en is nie toonbeelde van hulle misleide kerke of geestelike bewegings se vormgodsdiens nie.

Die feit is dat die meeste van die groot kerke in die tradisionele Christenwêreld (die Weste) tot só ‘n mate Laodicees geraak het dat hulle geestelik morsdooie instellings geword het. Duisende gemeentes is gesluit en hulle kerkgeboue óf verkoop óf in toeriste-aantreklikhede omskep. In Engeland alleen is meer as ‘n 1000 gemeentes in tien jaar gesluit. Talle ander gemeentes in Europa wat nóg bestaan, funsksioneer soos museums: die predikant is die kurator wat oudhede oppas, en die lidmate soos poppe sonder siele.

Die gemeente van Christus is geroepe om die lig van ‘n donker wêreld te wees, en die sout van ‘n bedorwe aarde. In ons tyd is die meeste gemeentes self in duisternis gehul en kan nie die lig of sout van die aarde wees nie. Dit is waarom die geestelike en morele verrotting nou oral so vinnig toeneem.

‘n Kerk of gemeente wat in ‘n dooie vormgodsdiens verval het, het in werklikheid geen geestelike beginsels of standaarde nie. Die Bybel is vir hulle net ‘n storieboek, en hulle kan sê en doen net wat hulle wil.

Deur hulle prediking kan die Heilige Gees nie mense van sonde, geregtigheid en oordeel oortuig nie. Hulle het ‘n baie flou sondebegrip wat gaandeweg ál hoe flouer word. In werklikheid sien hulle alle Christene as geredde sondaars wat net moet probeer om matig te sondig. Hulle preek nie oor sondes soos rook, drink, hoerery, homoseksualisme, dobbelary en baie ander bose dinge nie. Die Bybel sê: “Hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis hê nie, maar bestraf dit liewer” (Ef. 5:11).

Die geregtigheid en seën van die Here word aan alle sondaars toegesê wat hulle laat doop en by ‘n kerk aangesluit het – ongeag of hulle weergebore is of nie. Dit is ‘n vorm van goedkoop genade wat wyd oor die ongeredde skares uitgestrooi word. Almal word salig verklaar mits hulle aan sekere kerklike kriteria voldoen. Wanneer sal mense ooit ‘n persoonlike verhouding met Jesus aanknoop as dié leuens aan hulle opgedis word?

Nog ‘n kenmerk van die dooie kerke is dat hulle nie die oordele van God verkondig nie. God se regverdige oordeel oor sondaars word verswyg en net sy genade word verkondig. Hulle laat egter na om aan te toon dat genade juis betoon word aan mense wat weens hulle sonde en verlorenheid die voorwerpe van God se toorn is. As hulle die genade-aanbod nie aanvaar om gered te word nie, dan rus God se oordele steeds op hulle.

Die Here se oordele begin binne-in sy koninkryk omdat elke gelowige voor die regterstoel van Christus moet verskyn sodat sy of haar werke beoordeel kan word (2 Kor. 5:10). Daar sal dit blyk dat sommige gelowiges onvrugbare lewens gelei het en met leë hande voor die Here sal verskyn – gered asof deur vuur heen. Petrus verwys ook hierna as hy sê:

“Die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” (1 Pet. 4:17-18).

Baie mense (insluitende ‘n groot aantal predikante) wat hulleself in Christelike kerke bevind en ook vir die Here ‘gewerk’ het, sal weens hulle ongeredde toestand in die buitenste duisternis uitgewerp word:

“Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, het ons nie in u Naam geprofeteer [gepreek] nie… En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:22-23).

Ook in God se volk, Israel, is baie mense al weens hulle goddeloosheid deur die Here verwerp. Hierdeur word die kerk ook gewaarsku:

“God het in die meeste van hulle [die volk Israel] geenwelgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons [die Christene], dat ons nie begerig moet weesnaslegte dinge sooshulle begerigwasnie. En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie” (1 Kor. 10:5-7).

Op alle sondaars – binne én buite die kerk, asook binne én buite Israel – wag die verskriklike oordele van God. “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Heb. 10:31). Hierdie oordele moet verkondig word, saam met ‘n ernstige oproep aan die sondaars om tot bekering te kom. As ons dit nie doen nie, sal hulle verlore gaan en God sal hulle bloed van ons hande eis.

Die Here sal vir alle sondaars sê: “Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Matt. 25:41).

In dooie kerke word die feit van oordeel verswyg, en dikwels selfs ontken. Daar word beweer dat daar nie aan die einde van die kerkbedeling ‘n groot verdrukking van God se oordele gaan wees nie, en ook nie ‘n letterlike hel (‘n brandende poel van vuur) waarin sondaars verdoem sal word nie. Selfs al is daar só ‘n plek vir die duiwel en sy engele berei, word beweer dat ‘n liefdevolle Vader nie verlore sondaars daarheen sal stuur nie.

Predikers wat nie die oordele van God verkondig nie, val dikwels in die slaggat om die dwaling van die algemene genade te verkondig. Karl Barth is die vader van hierdie onbybelse leuen, in terme waarvan alle mense eendag hemel toe sal gaan.

Die Wêreldraad van Kerke het in 1961 op sy konferensie in Nieu Delhi reeds die dwaling van die kosmiese Christus verkondig wat die hele wêreld met God versoen het. Hindoes, Boeddhiste en lede van ander gelowe word op grond hiervan as anonieme Christene beskryf. Hoewel hulle dit nog nie weet nie, is hulle na bewering reeds met God versoen en almal op pad hemel toe. Daar gaan volgens hierdie beskouing geen mense hel toe nie. Die huidige pous verkondig ook dié leuen.

Dit is ‘n ernstige dwaling hierdie wat tot gevolg het dat die noodsaaklikheid van evangelisasie- en sendingwerk onder die ongereddes die nek ingeslaan word. Die Bybel sê tog duidelik:

Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom (Joh. 3:36).

Christus het wél vir die sondes van die hele wêreld gesterf, maar net ‘n klein minderheid het dit aangeneem om sodoende met God versoen te word. Die ander is óf onkundig hieromtrent en sal met ligter slae geslaan word (Luk. 12:48), óf hulle verwerp dit doelbewustelik omdat hulle die pad van die sonde verkies:

En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos (Joh. 3:19).

Om ten spyte van hierdie duidelike uitsprake in die Bybel te beweer dat alle mense hemel toe gaan, is om God se handelswyse op ‘n blatante wyse in botsing met die konkrete uitsprake van sy Woord te bring.

Die algemene genade

Dr. Willem Nicol van die NG Kerk in Pretoria verdedig die siening van die algemene genade. Hy het in die Beeld se rubriek Godsdiens-aktueel soos volg geskryf:

“Ná my artikel in hierdie rubriek op 1 Oktober onder die opskrif “Moslems gered?” was daar heelwat debat. Kom ons gesels vandag oor een van die gevoeligste aspekte van die debat: wat moet ons sê oor dié wat nie met die evangelie bereik word nie? Gaan hulle almal verlore? Party gelowiges wil hê ons moet dit sê.

“Die Bybel verkondig baie duidelik dat God ons net een verlossingsweg gee, naamlik geloof in Christus. Die vraag is: as God ons net een weg gee, beteken dit dat Hy Hom ook aan net een weg verbind en daarmee onderneem om almal wat dit nie bewandel nie, te verwerp?

“In die gereformeerde teologie is daar in die algemeen ruimer hieroor geoordeel as in ander teologiese tradisies… Zwingly (gereformeerd) het… die geloof uitgespreek dat God ook onder heidene sy uitverkorenes het… Karl Barth, ook gereformeerd en miskien die grootste teoloog van hierdie eeu, het verder gegaan. Sy monumentale teologie het op sy oudag op die hoop uitgeloop dat God inderdaad alle mense sal red…

“In die gereformeerde teologie is daar meer klem op die grootheid en vrymag van God; op die feit dat Hy kan kies wie Hy wil, en kan werk soos Hy wil. “Ons vind die laaste, diepste oorsaak van die saligheid alleen in God se welbehae, in sy ewige ontferming…” (Herman Bavinck). Hierdie manier van dink neig tot ‘n harde uitverkiesingsleer, maar tot ‘n sagter oordeel oor die heidene.

“Is dit Bybels om só te praat? In die Bybel is daar ‘n skemering van hoop agter die horison dat God se genade uiteindelik onkeerbaar sal wees, dat die versoening alles onder Christus se heerskappy sal bring, sodat elke tong Christus sal bely en God alles in almal kan wees…

“Soos met baie ander dinge moet ons ons nie deur streng logika laat programmeer as ons hieroor praat nie. Streng logika sou immers beteken dat as daar net een weg is, dan is almal wat dit nie bewandel nie, verlore. Geloofstaal is dat hoewel God net een weg aan ons verkondig, lê dit Hom in sy vrymag nie aan bande nie. Konklusie: ons kan die lot van hulle wat nie met die evangelie bereik word nie, met hoop in God se regverdige en barmhartige hande laat…

“As mense met ander gelowe en lewensbeskouings ons van hulle [godsdienstige] skatte wil vertel, wil ons dit graag hoor, maar ons weet wat die waarde en werking is van die skatte wat ons aanbied.”

Met hierdie soort redenasie en skrifuitleg is daar die volgende baie ernstige probleme:

Die feit van die opstanding en eindoordeel weerspreek duidelik die leer van die algemene genade. Daar sal twee groepe mense wees: “En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik” (Dan. 12:2). Jesus self onderskei ook tussen die opstanding van die lewe en die opstanding van die veroordeling (Joh. 5:29).
Dit is onbillik en misleidend in die ergste graad om die hoop tot begenadiging aan mense te bied wat ongered bly, want dit is duidelik ‘n valse hoop. Die Bybel sê dat hulle “sonder hoop en sonder God in die wêreld is” (Ef. 2:12). “…wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie” (1 Joh. 5:12).
Die feit dat elke tong in ‘n stadium sal bely dat Jesus Christus die Here is, beteken sekerlik nie dat alle mense gered sal word nie, maar dat selfs sy vyande ook sal moet erken dat Hy die Seun van God is wat deur hulle verwerp is. Omdat die oordeel aan Hom oorgegee is, sal Hy hulle ook oordeel en sal hulle dié woorde uit sy mond hoor: “Gaan weg van My af…”
‘n Harde uitverkiesingsleer neem die verantwoordelikheid van die mens heeltemal weg om ‘n besluit oor sy saligheid te neem. Dit maak hom ook nie aanspreeklik voor die troon van God nie, omdat die besluit oor sy redding nie in sy hande was nie. In teenstelling hiermee leer die Bybel duidelik dat God mense roep, en dat hulle in die lig van hulle roeping en die bekeringsgenade wat Hy aan hulle bied, self moet besluit of hulle Christene wil word. Dikwels verwerp mense God se roeping (Matt. 23:37) en weerstaan sodoende die Heilige Gees. Die Here het voorkennis wie Hy gaan red. Dit is nie ‘n rigiede voorafbepaling wat jou plig om self ‘n besluit te neem, onnodig maak nie. Die mens is nie ‘n robot nie, daarom moet hy wilsbesluite neem en ook aanspreeklikheid vir die gevolge daarvan aanvaar: “Laat hom wat wil die water van die lewe neem, verniet” (Op. 22:17).
Die dogma oor die algemene genade tas die gesag van Skrif regstreeks aan. Dr. Nicol sê dat ons nie streng logies moet redeneer dat daar net een weg is nie, maar in die geloof moet aanvaar dat God vry is om ook op ander maniere te werk. Dit bring God se handelswyse in konflik met sy geopenbaarde Woord, en dit is ‘n onhoudbare situasie. Die Here kan nie lieg nie (Num. 23:19), daarom is sy Woord die waarheid (Joh. 17:17) en is daar by Hom geen verandering of skaduwee van omkering nie (Jak. 1:17). Ons geloof mag nie van die streng logiese stellings in die Woord afwyk nie, want dan stel ons dit in hipotetiese moontlikhede buite die Bybel, wat boonop in stryd met Bybelse uitsprake is. Dit is ‘n sekere resep vir dwalinge, valse hoop en ook bygeloof.
‘n Multigodsdienstige wisselwerking met lede van ander gelowe, om ook te luister wat die godsdienstige “skatte” is wat hulle aan ons kan meedeel, is uit ‘n Bybelse oogpunt buite orde. Daar is tans verskeie teoloë wat sê dat daar “spatsels van die waarheid” in alle gelowe is, en dat Christene bv. die Hindoes se meditasietegnieke kan oorneem, van Boeddha se stellings moet kennis neem, die Koran met vrug kan lees, baie by die Afrika-gelowe kan leer, ens. Die Bybel sê egter dat daar geen gemeenskap tussen lig en duisternis is nie, en dat ons onsself duidelik moet distansieer van alles wat van die nie-Christelike gelowe se afgode afkomstig is (2 Kor. 6:14-18).
Om die lot van die ongeredde mensdom in die hande van ‘n barmhartige God te laat in die hoop dat Hy hulle ook genadig sal wees en hemel toe sal laat gaan, is ‘n fatalistiese houding wat op valse hoop gebaseer is. Hulle sal verlore gaan as hulle ongered bly, daarom sê die Here aan sy kinders dat daar ‘n duidelike plig op ons rus om die goddeloses te waarsku en tot bekering op te roep. As ons dit nie doen nie, sal hulle sterwe en ons sal deur ons pligsversuim aan hulle dood aandadig wees (Eseg. 33:8-9).

Die enigste antwoord vir al die wêreld se probleme is net in een Persoon te vinde – Jesus Christus. As jy nie ‘n ontmoeting met Hom gehad en jou saak met Hom reggemaak het nie, is jy verlore – binne óf buite die kerk. Hy is die opstanding en die lewe (Joh. 11:25). Almal wat Hom nie het nie, het nie die lewe nie en sal in hulle sondes sterf. Die Bybel sê: “Die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Rom. 6:23).

133total visits,1visits today

Kategoriee

Advertensie

Advertensie