The God Who Sees

Die Dier van Openbaring


Die Dier van Openbaring

deur John H. Ogwyn

Die Lewende Kerk van God

Mite, beeldspraak of werklikheid?

INHOUD
Inleiding
Hoofstuk 1: Versplintering in die Era van die Aardbolstad
Hoofstuk 2: Sleutels tot ’n Outydse Verborgenheid
Hoofstuk 3: Die Dier van Openbaring Onthul
Hoofstuk 4: Alle Paaie lei na Rome
Hoofstuk 5: Die Merk van die Dier
Hoofstuk 6: ’n Verhaal van Twee Stede in die Eindtyd

INLEIDING Hedendaagse nuus weerspieël ’n toestand van sake wat absoluut ondenkbaar sou wees vir ’n waarnemer teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945. Toe was die Rome-Berlyn Spilmoondhede verpletter en die Amerikaanse en Britse magte aan die toppunt van oorwinning.

Kyk egter ’n bietjie na vandag se wêreld. In Desember 1991 het die 12 nasies van die Europese Gemeenskap (EG) – insluitend Brittanje, Frankryk, Italië en Duitsland – ’n spitsberaad gehou in Maastricht, Nederland. Daar het die afgevaardigdes die Verdrag van die Europese Unie (EU) uitgepluis om ekonomiese en politieke integrasie te bespoedig. Met die bekragtiging van die Maastricht Verdrag op 1 November 1993 het EG-lede deel geword van die nuut gestigte Europese Unie (EU).

In ’n hoofartikel op 9 Junie 1996 in die toon­aangewende Britse Sondagkoerant Night and Day het joernalis David Thomas ’n opspraakwekkende ontwikkeling aan ’n verbaasde Brittanje uitgewys. Hy het daarop gewys dat die Derde Protokol van die Maastricht Verdrag vereis dat al die deelnemers hulle goud- en buitelandse valuta-reserwes na Frankfurt in Duitsland moet versend. Die volgende gedeeltes word aangehaal uit ’n onlangse boek van Atkinson en McWhirter Treason at Maastricht: The Destruction of the British Constitution. Dié outeurs betoog dat “daar skaars ’n pilaar is in die huidige ‘Europese’ Unie wat nié sy oorsprong het in die ontwerp van Hitler se Nazi-regeringstelsel en met wie die Franse en Italiaanse regerings graag in die oorlogsjare saamgewerk het nie”. Die artikel stel dit verder dat die enkele Europese geldstelsel waarvoor die Verdrag voorsiening maak “in werklikheid ’n Duitse geldeenheid sal wees wat deur ’n sentrale bank in Frankfurt beheer sal word – ironies genoeg is dié bank in die voormalige hoofgebou van IG Farben, wat die vervaardiger was van die dodelike gas, Zyklon B, vir die eertydse Nazi-regering” (bl. 118).

Wie sou dít ooit kon droom? Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Amerika en Brittanje biljoene dollar belê in intelligensie werksaamhede. Ten spyte daarvan het die verstommendste geopolitiese gebeure van die naoorlogse tydperk gelei tot ’n magtige herenigde Duitsland, wat talle nasies se regerings onverhoeds gevang het.

Die snelle verloop van gebeure in Oos- en Middel-Europa in 1989 het egter nie almal verras nie. Daar was ’n bron wat hierdie verstommende gebeure verwag het en reeds ’n halfeeu tevore daaroor verslag gelewer het! Let op wat ’n redaksielid op 7 Desember 1989 geskryf het in die Free Press, ’n koerant van Hendersonville, Tennessee:

“Soos die meeste Amerikaners het ek die huidige politieke gebeure in Oos-Duitsland met belang­stelling dopgehou. Terwyl baie hulle verbasing oor die onlangse gebeure uitgespreek het en ook oor Oos-Duitsland se oproep tot die hereniging van Oos- en Wes-Duitsland, moet ek erken dat ek glad nie daaroor verras was nie. Die rede waarom ek nie eintlik verras was nie, is omdat ek jare lank so dan en wan die publikasie van … wyle Herbert W Armstrong … gelees het … Armstrong het voorspel dat die Berlynse Muur eendag afgebreek sou word en dat die twee Duitse state weer sou herenig in ’n magtige nasie”.

Reeds in April 1952 het Herbert W Armstrong, ons voorganger in die huidige werk van God, in die Plain Truth geskryf dat Oos-Duitsland weer met Wes-Duitsland sal herenig en dat Rusland “geforseer sal word om af te sien van haar beheer oor Hongarye, Tsjeggo-Slowakye en gedeeltes van Oostenryk” (bl. 16). In 1956, ná die Sowjet inval in Hongarye, toe dit gelyk het asof die “Ystergordyn” meedoënloos gesak het oor die nasies van Oos-Europa, het meneer Armstrong verklaar: “Die weg word voorberei vir ’n reusagtige derde-mag in die wêreldpolitiek – ’n Europese federasie van nasies wat magtiger gaan wees as Rusland of die Verenigde State van Amerika! … Ons het jare vooruit reeds aangetoon wat gaan gebeur met Rusland se gedoemde ryk in Oos-Europa” (The Plain Truth, Des. 1956, bl. 3).

Hoe is dit moontlik dat hy dít kon weet? U sal die antwoord vind in hierdie boekie!

Die profetiese boodskappe in u Bybel het baie meer te doen met huidige wêreldtoestande en waarheen dit lei as wat die meeste mense ooit sou dink. Die geheimsinnige “Dier” van Openbaring is bestem om binnekort ’n beduidende rol te speel in wêreldgebeure. Lees verder vir insig oor die identiteit van hierdie geheimsinnige Dier en sy verstommende invloed op u lewe in die nabye toekoms.

HOOFSTUK 1

Versplintering in die Era van die Aardbolstad

Sedert die tyd van die Toring van Babel was die mensdom se sake nog nie so vervleg soos vandag nie. Die wêreld is verander in ’n aardbolstad deur supersoniese vliegtuie en oombliklike telekommunikasie netwerke. TV-uitsendings per satelliet bring lewendige nuusbeelde vanaf enige plek op aarde tot in ons huise. Die Internet maak dit moontlik om rekenaars die hele wêreld oor met mekaar te koppel deur middel van telefone. Feitlik elke aktiwiteit, van finansies tot vervaardiging, word deur multinasionale korporasies en konglomerate gedomineer – wat die wêreldekonomie verder integreer.

Nietemin, soos wat die wêreld onderling meer en meer verbind word, vind ons die paradoks dat nasies al hoe meer volgens ou etniese en godsdienstige beginsels onderverdeel en versplinter. Regerings- en finansiële leiers haal die herlewing van sulke outydse mededinging aan om die nodigheid te beklemtoon vir ’n lewensvatbare alternatief tot die huidige onbestendige stelsel van onafhanklike nasiestate. Buitendien, hoe wyer ’n korporasie se multinasionale belange strek, hoe groter is die waarskynlikheid dat daardie korporasie globale wêreldorganisasies en ’n soort “nuwe wêreldorde” sou verlang – of miskien ’n enkele wêreldregering – om teenstrydige nasionale wette te vervang.

Sedert 1914 is die Engelssprekende nasies reeds langer as ’n halfeeu in óf ’n “koue” óf ’n “warm” oorlog gewikkel. In 1989 het dit gelyk asof dit finaal verby was. Die Ystergordyn het nie meer bestaan nie. In Oos-Europa het die mense in die strate gedans. Daar was ’n gevoel van behaaglikheid in die lug. Twee jaar later, in Desember 1991, het die Sowjet Unie tot ’n end gekom. In plek daarvan het ’n nie-Kommunistiese Rusland en meer as ’n dosyn ander onafhanklike republieke gekom. Die Koue Oorlog was verby en die Weste het gewen! Vier dekades lank het die wêreld geleef onder die skaduwee van wedersydse kernvernietiging deur die twee grootste moondhede, en toe kom daar vrede. Is dit werklik vrede?

Die tweepolige wêreld, wat gedomineer is deur twee supermoondhede, bestaan nie meer nie. Wat oorbly, is ’n meer delikate en ingewikkelde samestelling. Die voormalige Sowjet President, Mikhail Gorbachev, het in die New York Times van 6 September 1995 geskryf: “Dit is uiters neerdrukkend. Ons het soveel hoop gehad vyf jaar gelede met die beëindiging van die Koue Oorlog. Waarom het die Nuwe Wêreldorde wat ons in die vooruitsig gestel het so vinnig ontbind in die Nuwe Wêreldwanorde?”

Drie Geopolitiese Mededingers

’n Paar jaar gelede het die Rooms Katolieke aartsbiskop van Pole, kardinaal Stefan Wyszynski van Warskou, die wêreldtoneel ontleed en drie verskillende geopolitiese mededingers om wêreld­oorheersing geïdentifiseer. Hy het hulle die Internationales genoem (sien Malachi Martin, The Keys of This Blood, bl. 21). Wyszynski het hulle as Goud, Rooi en Swart geklassifiseer. Die Goue Internasionale was sy term vir die finansiële magte – die transnasionalistiese, kapitalistiese leiers van die Weste. Natuurlik het Rooi verwys na die magte van internasionale Kommunisme en Swart was die kardinaal se aanwysing van die Rooms Katolieke Kerk, met sy priesters en nonne geklee in hulle swart gewade.

Die eerste twee geopolitiese mededingers het hulle volgelinge ’n algehele materialistiese beskouing van die wêreld gebied. In die rouste vorm is beide die kapitalisme en Marxistiese Leninisme materialisties van aard en slegs besorg oor die hede.

Reg oor die wêreld is mense toenemend bewus van die mislukking van uitsluitlik materialistiese lewensbeskouinge. Soos hulle tans daar uitsien, is nóg kapitalisme nóg Kommunisme in staat om ’n voortreflike doelwit aan te bied. Die gevolg is dat eeue oue nasionale en godsdienstige wedywering dreig om ’n interafhanklike wêreld te versplinter.

Dit is duidelik dat tensy die mens se ambisie en emosies in ’n ander rigting gekanaliseer word die hele wêreldekonomie kan versplinter. Daar word gesoek na ’n internasionale identiteit wat nasionale getrouheid sal oorskadu. In Europa is dit ’n doelwit dat mense hulleself eerstens as Europeërs sal beskou, en tweedens as Franse, Duitsers, Hollanders of Spanjaarde – dus ’n ommekeer van tradisionele nasionale gevoelens.

Nietemin is die internasionaliste nog nie in staat om ’n oplossing te bied wat Jan Alleman se lojaliteit en emosies aangryp nie. Mense ontwikkel nie vurige emosionele lojaliteit vir gesiglose burokrate of vir doelwitte wat daarop gemik is om maksimale korporatiewe winste te behaal nie.

Hoe kan die naderende krisis van versplintering opgelos word in hierdie era van die aardbolstad?

Ná ’n periode van relatiewe rus begin die derde geopolitiese mag van kardinaal Wyszynski, naamlik die Rooms Katolisisme, sy spiere bult en krag wys. Die Vatikaan bied die mense egter ’n ander lewensbeskouing as die kapitalisme of die Kommunisme. In die vorige eeue het die Vatikaan ’n dominante geopolitiese rol gespeel – en nou weer strewe die Vatikaan na ’n dominante rol.

In 1981 is ’n privaat vergadering in die Vatikaan gehou tussen die Pous en die direkteur van die Amerikaanse Central Intelligence Agency (CIA), William Casey, wat ’n diep, vrome Katoliek is en feitlik daagliks die Mis bywoon. Direkteur Casey en President Ronald Reagan het begin glo dat “daar ’n potensiële derde supermoondheid in die wêreld is, naamlik die Vatikaan stadstaat van 109 akker. Verder, dat die heerser daarvan, Pous Johannes Paulus II, ’n merkwaardige arsenaal tot sy beskikking het wat moontlik die balans van die Koue Oorlog kon laat oorskuif. In ’n vergadering, wat vir die volgende dekade nie aan die wêreld bekend gemaak sal word nie, het Casey … gehelp om ’n verbond te seël tussen die Pous en die Reagan Administrasie” (Reader’s Digest, Oktober 1996, bl. 213; aanhaling uit Bernstein en Politi, “His Holiness”).

Die Vatikaan se invloed was ’n beslissende faktor om die opkoms van ’n nie-Kommunistiese Oos-Europa in 1989 te bewerkstellig en daarmee saam die ineenstorting van die naoorlogse, tweepolige wêreldorde. Vandag word die invloed van die Vatikaan ook in die Midde-Ooste gevoel – en daardie invloed is bestem om merkbaar toe te neem.

Geskiedenis is Vooruit Aangeteken

Waarheen sal die invloed van hierdie derde mag lei? Glo dit of nie, die antwoord is reeds vooruit aangeteken! U kan dit vind in ’n hoogs onwaarskynlike bron vir die meeste mense, naamlik in die Bybel. In Jesaja 46:10 vertel God ons Hy verkondig “van die begin af … die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat My behaag, sal Ek doen”. Bybelprofesieë, wat meer as ’n kwart van die Skrif beslaan, is niks anders nie as geskiedenis wat vooruit aangeteken is. Wat openbaar dit in verband met die onstuimige tye waarin ons lewe en die dae wat nog voorlê?

In Openbaring maak God bekend dat daar in die eindtyd ’n stelsel in Europa sal verrys wat die hele wêreld gaan domineer, ’n stelsel wat Hy “Babilon” noem. Openbaring 18:9-18 en Eségiël 27 beskryf ’n groot wêreldwye “handelsblok” wat die wêreldekonomie geheel en al gaan domineer. Dié Babilon is nietemin betrokke by baie meer as bloot die ekonomie. Dit is ook ’n “politieke stelsel” wat bekend staan as die “Dier” (Op. 17:9-13), met groot militêre mag en krag (Op. 13:4). Maar, ons sal sien dat godsdiens die band is wat die hele stelsel saambind.

Die oorspronklike Babilon, of Babel, is deur Nimrod gestig in die land van Sínear, wat vandag bekend is as Irak (Gen. 10:8-11). Hier het die mense – wat almal een taal gepraat het – bymekaar gekom om die beroemde Toring van Babel te bou om te verhoed dat hulle in groepe versplinter en verstrooi word. Die toring sou tot teen die hemel strek – ’n trotse menslike onderneming wat God direk uitgedaag het (Gen. 11:1-4). Die Almagtige God het op daardie stadium ingegryp en die mense in verskeie nasionaliteite verdeel deur hulle verskillende tale te gee (verse 5-9). Dít het die bou van die toring tot stilstand gebring.

Hierdie gebeurtenis toon ’n merkwaardig parallel met ons moderne tyd. Trouens, die ekonomiese en politieke integrasie van die Europese nasies met hulle verskillende tale word dikwels vergelyk met die ou Babelprojek. Byvoorbeeld, die Europese Kommissie het ’n wyd verspreide plakkaat van die Toring van Babel geborg – met die volgende woorde op die plakkaat: “Europa – baie tale, een stem”.

Nimrod het ook ’n stelsel van afgodery ingestel wat bekend staan as die Babiloniese Verborgenheid of die Geheimenis. Dit mag u verbaas om te leer dat hierdie wesenlike heidense godsdiens vandag steeds bestaan, alhoewel dit van vorm verander het. God verwys hierna as die “Verborgenheid, die groot Babilon” (Op. 17:5), wat ’n belangrike rol gaan speel in die eindtyd, soos hierdie boekie later sal uitwys.

Jesus Christus waarsku Sy dissipels in Mattheus 24 dat daar vals profete gaan wees wat sal voorgee om Hom te verteenwoordig, terwyl hulle die mense sal verlei met ’n vals boodskap (verse 5 en 24). Deur middel van Sy Apostels gee Hy waarskuwings oor ’n toekomstige tyd wanneer daar ’n groot charismatiese godsdienstige leier gaan wees – ”DIE vals profeet” – wat met klaarblyklike “kragtige dade en tekens” en “wonders van die leuen” die meeste mense op aarde gaan verlei, selfs in hierdie moderne, wêreldse tyd waarin ons leef (2 Thess. 2:9; Op. 13:13; 19:20).

Hierdie vals, godsdienstige leier sal aan die hoof staan van die groot Babiloniese Verborgenheid, die stelsel wat ons reeds hierbo genoem het. Hy sal homself en daardie stelsel verbind tot ’n toekomstige polities-militêre leier wat in Europa op die toneel sal verskyn. Godsdiens sal uiteindelik gebruik word as die “gom” om ’n versplinterde wêreld aanmekaar te heg. Dit is hoe wêreldwye eenheid en ’n gemeen­skaplike identiteit tot stand gaan kom.

Dié slegte nuus oor ’n onheilige verbond van vals godsdiens met ekonomiese, militêre en politieke belange is egter nie die einde van die storie nie. Maar voordat ons na die goeie nuus agter die slegte nuus kyk, is dit belangrik om te verstaan wat die Bybel openbaar oor die identiteit van hierdie geprofeteerde stelsel. Waarom word dit in die Bybel beskryf as “Babilon”? Gaan u deel daarvan wees en die geheimsinnige “merk van die Dier” ontvang? Die Skrif wys dat miljoene der miljoene mense mislei gaan word rakende die ware aard van hierdie stelsel. Gaan u een van daardie misleide mense wees?

Toe die bouwerk aan die Toring van Babel gestaak is, was dit egter nie die einde van Babilon nie. Dwarsdeur die geskiedenis verskyn die stad telkens – somtyds letterlik, somtyds figuurlik. Babilon is inderdaad God se naam vir die menslike beskawing in die algemeen – nie net vir die opeenvolging van wêreld oorheersende heidense ryke nie – en spesifiek vir die hele stelsel van vals waardes en ideologieë. Tog gaan die uiteindelike manifestasie van Babilon in die nabye toekoms plaasvind.

Lees verder om die duidelike Bybelse leerstelling oor hierdie lewensbelangrike onderwerp te verstaan.

HOOFSTUK 2

Sleutels tot ’n Outydse Verborgenheid

Alle oë het gedraai na ’n bejaarde man wat die helder verligte en ryk versierde banketsaal binne stap. Slegs ’n uur gelede nog was die vertrek gevul met wyndeurdrenkte gelag en geskerts toe ’n gebeurtenis plaasvind wat rillings langs die ruggraat afstuur en die gefuif tot stilstand bring. Geskokte asemteue is gevolg deur ’n onheilspellende stilte en daarna deur onderdrukte en verskrikte gefluister.

Die geleentheid was ’n groot feesmaal aangebied deur die Babiloniese koning, Bélsasar, om die onoorwinlikheid te vier van Babilon, nou hoofstad van die Nuwe (of Neo-) Babiloniese Ryk – ook bekend in die geskiedenis as die Chaldeeuse Ryk. Ofskoon Babilon op daardie tydstip aangeval is deur troepe van Cyrus die Grote (Kores) van Persië (moderne Iran) het die beleërde inwoners geglo dat hulle stad onneembaar was.

Dus, op die eerste aand van die sewende maand in 539 v.C. het die magtige elite van Babilon fees gevier en heildronke gedrink. Bélsasar het selfs daarop aangedring dat die heilige bekers wat sy oupa Nebukadnésar II dekades vantevore uit die tempel in Jerusalem verwyder het as drinkbekers gebruik word (Daniël 5:1-4). Met die hoogtepunt van hierdie fees het ’n hand uit die niet verskyn en ’n boodskap in groot letters op die muur geskryf (verse 5-6). Die fees was eensklaps verby.

Die boodskap was: “Mené, mené, tekél, ufarsín” (vers 25). Dié woorde was bekende Chaldeeuse terme vir eenhede van gewig, maar die betekenis daarvan was heeltemal onverstaanbaar vir dié wat toegekyk het.

Die bejaarde man wat die koning laat roep het, was Daniël (vers 13). Hy is as ’n Joodse tiener as gevangene na Babilon gebring en is onder koning Nebukadnésar bevorder tot ’n hoë posisie. Daniël verduidelik toe die geheimsinnige en skrikwekkende boodskap aan Bélsasar. Die God van die hemele het die koninkryk getel en dit het ’n einde bereik. Die koning is op die weegskaal geweeg en te lig gevind. Daardie selfde nag sou sy koninkryk aan die Mede en Perse gegee word (verse 26-28).

Binne enkele ure het Cyrus (Kores) se weermag die stad totaal en al oorrompel. Die Eufraatrivier wat onderdeur kolossale hekke die stad Babilon ingevloei het, is etlike ure tevore deur Kores se magte met ’n kanaal weggekeer van die stad. So het die Persiese troepe in die donker voornagtelike ure die stad binne gestap in die gedreineerde rivierbedding en die massiewe stadshekke van binne geopen. Jesaja het ongeveer twee eeue voor Kores se verbasende oorwinning voorspel dat dit sou gebeur (Jes. 45:1-4)! Voor sonop is Babilon oorwin en koning Bélsasar tereggestel.

Die Verhoog Word Gereed Gemaak

Gedurende daardie aand en die volgende dag het Daniël se gedagtes waarskynlik terug gedwaal na die gebeure sowat 65 jaar gelede. In 604 v.C. het die Chaldeeuse leër onder aanvoering van Nebukadnésar Juda binnegeval en Jerusalem verower. Die stam van Juda se status is verlaag tot dié van ’n skatpligtige staat. Baie kinders van prominente Joodse families, insluitend Daniël, is as gevangenes weggevoer na Babilon. Gedurende die daaropvolgende dekades is Daniël bevorder tot hoë posisies in die Babiloniese regering (Dan. 2:48; 5:29). Hy het voortgegaan om die God van Israel getrou te dien. God het hom baie visioene getoon en die uitlegte daarvan aan hom openbaar, wat hy opgeteken het in die boek Daniël.

Kom ons ondersoek die profetiese hoogtepunte van wêreldgebeure wat God vir Daniël geïnspireer het om neer te skryf. U sal vind dat die Skrif homself verduidelik en vertolk, en dat Daniël, die Bybelboek, ’n sleutel is om die Bybelboek Openbaring en ander profesieë rakende die eindtyd te kan verstaan.

In Daniël 2 het Nebukadnésar ’n kwellende droom wat sy hoftowenaars en sterrewiggelaars vir hom moes uitlê. Maar voordat hy hulle uitleg wou aanhoor, moes hulle hom eers vertel wat hy gedroom het. Natuurlik kon hulle nie. Ten laaste verduidelik Daniël aan die koning dat daar ’n God in die hemel is wat geheime openbaar en wat nie alleen die droom nie, maar ook die betekenis daarvan, sou openbaar (vers 28).

Daniël verduidelik toe die droom van ’n groot beeld wat bo die vlaktes van Sínear uittroon. Hierdie kolossale mensbeeld het ’n kop van goud, arms en bors van silwer, buik en heupe van koper, bene van yster en voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei (verse 31-33). In Nebukadnésar se droom kom daar laastens ’n groot rots van bonatuurlike oorsprong (“sonder toedoen van mensehande”) uit die hemel wat die beeld op die voete van yster en klei tref. Die hele beeld word tot poeier fyngestamp en weggewaai. Die rots word toe ’n groot berg en vul die hele aarde (verse 34-35).

Wat beteken dit alles? Ons hoef glad nie daaroor te raai nie. Soos reeds gesê: die Bybel sal dit self verklaar! Daniël is geïnspireer om in verse 37 en 38 aan Nebukadnésar te sê: “U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap … verleen het, en in wie se hand Hy … die mensekinders … gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het – ú is die hoof van goud”. Nebukadnésar het as keiser oor ander konings geregeer – hy was die hoof van ’n magtige oorwinnende koninkryk of ryk. Aangesien die terme “koning” en “koninkryk” dikwels in Bybelprofesieë wisselbaar is (vgl. vers 44, en Dan. 7:17, 23), verwys die kop van goud na Nebukadnésar self asook na die Chaldeeuse Ryk waaroor hy geregeer het.

Daniël sê dan aan die koning dat drie verdere koninkryke ná syne sou ontwikkel (Dan. 2:39:40). Dus sou die geskiedenis oorheers word deur vier wêreldregerende ryke. En, net soos die metale van die beeld mekaar opvolg en sterker is as die voorafgaande metaal, so sal elke ryk ’n sterker militêre mag wees as die voorafgaande ryk. Laastens is die koning vertel dat die God van die hemel Sy ewigdurende Koninkryk sou vestig in die tydvak van die laaste tien konings, verteenwoordig deur die tien tone van die “ysterbene” van die vierde ryk (vers 44).

In Daniël 2:28 word beklemtoon dat die Lewende God “geheime openbaar”. Die koning se droom strek vanaf die tydvak van antieke Babilon en koning Nebukadnésar tot in die “laaste dae”. Dit is duidelik dat die droom sy hoogtepunt bereik met die terugkeer van die “klip” uit die hemel, Jesus Christus (vgl. Matt. 21:42; Hand. 4:11; 1 Pet. 2:4-8), en in die vestiging van die vyfde en finale wêreldregerende koninkryk – die “berg” of Koninkryk van God – op hierdie aarde (Dan. 2:44). Het dit wat Daniël voorspel het, só gebeur? Definitief. Kom ons kyk hoe dit gebeur het.

Soos vroeër reeds vertel in Daniël 5, het Babilon geswig voor die leërs van Kores (Cyrus) die Grote. Cyrus se ryk – die ryk van die Mede en Perse, is duidelik die volgende koninkryk om ná Babilon te ontwikkel – dus, die tweede koninkryk. Die geskiedenis leer ons dat die uitgestrekte ryk van die Mede en Perse, gevestig deur Kores, ’n bietjie meer as 200 jaar voortbestaan het.

Toe, in 333 v.C., deurkruis die Griekse magte van Alexander die Grote Europa op pad na Asië. Twee jaar later, met die veldslag van Arbela, stort die Persiese Ryk in duie en neem die derde groot wêreldregerende koninkryk oor. Dié Grieks-Macedoniese of Hellenistiese Ryk van Alexander, met die latere vier afdelings onder sy opvolgers, het die Midde-Ooste vir meer as 300 jaar oorheers totdat die afdelings een vir een verswelg is deur die vierde groot wêreldregerende ryk, die koninkryk van yster.

Dié vierde koninkryk is duidelik in die geskiedenis geïdentifiseer as die Romeinse Ryk. Daaroor is geprofeteer dat dit as twee “bene” sou voortbestaan tot die eindtyd. Dan sou die tien tone (konings, volgens Dan. 2:44) die finale beliggaming wees van die stelsel wat sy oorsprong het in antieke Babilon. As ons die Bybel sigself laat verklaar, is dit duidelik dat die verloop van die mensdom se vier wêreldregerende koninkryke gevolg word deur God se Koninkryk.

Die Diere van Daniël 7

In Daniël 7, dekades ná Nebukadnésar se droom, het Daniël self ’n baie ongewone droom. Hy staar stom van verbasing na donker, draaiende wolke en ’n tierende see. Uit hierdie stormagtige see sien hy vier groot wesens of “diere” verskyn, wat een vir een aan land kom. Die eerste is soos ’n leeu, die tweede soos ’n beer, en die derde ’n vierkoppige luiperd. Die vierde dier word beskryf as ’n skrikwekkende dierasie met groot ystertande (verse 4-7) en met tien horings op sy kop. Hierdie droom, net soos dié van Nebukadnésar, bereik ’n hoogtepunt met ’n visioen van die tyd wanneer “die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en … in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid” (vers 18).

Laat ons toe dat ons verbeelding op hol gaan in ’n poging om die identiteit van hierdie diere vas te stel? Nee – want God, wat Bybelprofesieë geïnspireer het, het die uitleg en begrip daarvan nie slegs bedoel as ’n oefening vir die mens se kreatiewe verbeelding nie. Ewemin is profesieë daar om verstaan te word deur hedendaagse gebeure in die Bybel se verklaring in te lees. In teenstelling met dié populêre opvatting, is dit eerder ’n geval van “geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie” (2 Pet. 1:20). Wanneer die Bybel simboliese taal gebruik, moet ons op ander plekke in die Bybel soek na die betekenis van die simbole (Jes. 28:9-10).

Sien ons op ander plekke in die Skrif dat “diere” uit die see verskyn? Ja! In Openbaring 13 en 17. (Ons sal later in hierdie boekie die diere van Openbaring ondersoek). In Openbaring verteenwoordig die waters van die see die “volke en menigtes en nasies en tale” (Op. 17:15). Klaarblyklik ontstaan elkeen van hierdie diere uit ’n mengelmoes van verskillende nasies en volke.

In Daniël 7:17 simboliseer die vier diere wat agtereenvolgens verskyn (verse 3-7) vier konings of koninkryke. Vers 23 verwys spesifiek na die vierde dier wat die “vierde koninkryk … op die aarde” verteenwoordig. Ons het reeds in Daniël 2 die opeenvolging van vier koninkryke gesien. Die visioene wat in Daniël 2 en 7 opgeteken is, voorspel vier opeenvolgende wêreldregerende ryke. In elke geval eindig die toneel met ’n vyfde en finale wêreldregerende koninkryk – die Koninkryk van God. Dit is duidelik dat dié twee visioene verskillende besonderhede gee van presies dieselfde gebeure!

Deur die twee visioene te vergelyk, vind ons dat die eerste koninkryk in Daniël 2, die kop van goud, gelykstaande is aan die leeu, die koning van die diere, in hoofstuk 7. Dit verteenwoordig die Babiloniese Ryk. Die tweede koninkryk, die koninkryk van silwer in Daniël 2, is die beer in hoofstuk 7 – ’n geskikte simbool vir Persië se gewigtige grootte en mag. Net so kom die derde koninkryk in hoofstuk 2, die een van koper, ooreen met die vierkoppige luiperd in hoofstuk 7. Die slinkse, katagtige vlugheid van Alexander die Grote se Griekse leërs word goed uitgebeeld deur ’n luiperd. Maar waarom dan vier koppe?

Op die kruin van sy sukses is Alexander skielik in Babilon oorlede op die ouderdom van 33. ’n Aanvanklike poging om sy koninkryk staande te hou deur ’n gesamentlike regentskap in die naam van sy nefie en ongebore seun, het misluk. Een van sy generaals, Antigonus, het die mag in die hande probeer kry. Maar na ’n paar jaar is die ryk verdeel onder vier van Alexander se ander generaals, Seleucius, Ptolemeus, Cassander en Lysimachus.

Al vier hierdie koninkryke, met die Griekse taal en kultuur, is ’n verdeelde voortsetting van die keiserryk wat Alexander in minder as ’n dekade opgebou en onderhou het. Dié viervoudige verdeling is spesifiek in Daniël 8 voorspel.

In hoofstuk 8 profeteer Daniël meer besonderhede rakende die interaksie tussen die tweede wêreldryk, Persië, en die derde wêreldregerende koninkryk, Griekeland. Daniël 8:3-4 beskryf ’n ram met twee horings wat alles in alle rigtings oorwin. Volgens vers 20 is hierdie ram met die twee horings die “konings van die Mede en die Perse”. ’n Sterk bokram met een groot horing tussen sy oë verslaan die ram geheel en al (verse 5-7). Volgens vers 21: “[is] die harige bok … die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning”. Dit verwys beslis na Alexander die Grote. Hy het gesterf – “die groot horing [het] afgebreek” (vers 8) – en dan? “Vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie” (vers 22). Verstommend! Hierdie vier koninkryke is niemand anders nie as daardie generaals van Alexander, soos ons reeds gesien het. Dit is hoekom die derde koninkryk in Daniël 7 beskryf word as ’n vierkoppige dier. Al hierdie gebeure is meer as twee eeue vantevore voorspel, met verstommende akkuraat­heid!

Die voorgaande gebeure het die toneel ingerig vir die vierde dier van Daniël 7. Dit is ’n verskriklike dierasie wat nie met enige bekende dier vergelyk kan word nie. Dit is die “ysterkoninkryk”. In hoofstuk 2 word dit voorgestel as twee bene van yster – en in hoofstuk 7 as ’n dier met groot ystertande. Daniël 2:40 verduidelik: “en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis”. Let op wat hoofstuk 7 sê van hierdie vierde koninkryk. “Toe wou ek sekerheid verkry oor die vierde dier wat van al die ander verskillend was, buitengewoon vreeslik, met ystertande en met koperkloue, wat verslind, vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap het … Die vierde dier – ’n vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel” (verse 19 en 23). Dit is die vierde koninkryk, die Romeinse Ryk, wat in een of ander vorm sal voortbestaan tot die tyd van Christus se wederkoms.

Net soos wat Babilon deur die Meders en Perse verower is en Alexander die Grote op sy beurt weer die Meders en Perse verower het, so het die Romeine al vier die “luiperd-koppe” verower wat uit Alexander se Ryk ontstaan het. Dit het só gebeur.

In 307 v.C., minder as twintig jaar ná Alexander se dood, het Antigonus en sy seun, Demetrius, “die titel van koning oorgeneem, waarna Ptolemeus, Seleucius, Cassander en Lysimachus dieselfde gedoen het. Die eenheid van Alexander se Ryk is sodoende openlik beëindig” (William L Langer, Encyclopedia of World History, 1968, bl. 90).

Cassander het Griekeland en Macedonië – die eerste luiperdkop – verower en, met Lysimachus en Seleucius se hulp, Antigonus oorwin wat tydens die Slag van Ipsus in 301 v.C. gesneuwel het. Nietemin is Cassander se vorstehuis in 276 v.C. Omvergewerp deur Antigonus se kleinseun met dieselfde naam. Antigonus II het ’n vorstehuis gevestig wat oor Griekeland en Macedonië geregeer het tot die Romeinse oorwinning in 168 v.C. toe hierdie gebied in die Romeinse Ryk opgeneem is.

Lysimachus, wat Klein-Asië verower en homself tot koning uitgeroep het in 305 v.C., is uiteindelik oorwin en gedood deur sy voormalige bondgenoot, Seleucius, tydens die Slag van Corpedium in 281. Eumenes I, die Seleusiese goewerneur van Pergamum in Klein-Asië, het daarin geslaag om teen 260 v.C. feitlik onafhanklik te wees van die Seleusiete. Teen die jaar 230 het sy opvolger die koningstitel oorgeneem. Toe Attalus II in 133 v.C. oorlede is, het hy sy koninkryk van Pergamum in sy testament nagelaat aan die Romeine – teen daardie tyd het Pergamum bykans die hele Klein-Asië ingesluit. Dus het Rome nou die tweede kop van Daniël se luiperd opgeneem.

Seleucius het sy koninkryk uitgebou vanaf Sirië in die weste tot by Indië in die ooste. Sy Seleusiese vorstehuis het voortbestaan totdat die Romeinse generaal, Pompejus, in 64 v.C. Sirië ’n provinsie gemaak het in die steeds groeiende Romeinse Ryk. Drie koppe is oorwin – een bly nog staan.

Die Macedoniese generaal, Ptolemeus, het die koningstitel aanvaar op dieselfde tydstip dat Cassander, Lysimachus en Seleucius dit aanvaar het. Sy koninkryk was in Egipte gesentreer en is tot 31 v.C. geregeer deur sy afstammelinge. In daardie jaar is die magte van die Ptolemeuse koningin, Cleopatra, en haar Romeinse metgesel, Markus Antonius, met die Slag van Actium verslaan deur Julius Caesar se nefie, Octavianus (later bekend as Augustus Caesar). Egipte is toe opgeneem in die Romeinse Ryk. “Dit was die einde van die Hellenistiese monargieë” (Langer, bl. 97). Nou is al vier koppe van die Grieks-Macedoniese luiperd opgeneem in die Romeinse Keiserryk, die vierde dier van Daniël 7.

Ons storie is nog nie uit nie. In die volgende hoofstuk gaan ons kyk na ’n soortgelyke profesie in Openbaring. Daar is meer diere, horings en vreemde simbole aan die kom.

HOOFSTUK 3

Die Dier van Openbaring Onthul

Napoleon, Hitler en Saddam Hussein het iets in gemeen. So ook Mikhail Gorbachev, Benito Mussolini, Franklin D Roosevelt en verskeie pouse. Hulle almal, asook talle ander openbare figure, is deur sommige van hulle tydgenote as die geheimsinnige “Dier” van Openbaring bestempel. Die Volkebond, Verenigde Nasies, internasionale kommunisme en selfs die regering van die Verenigde State van Amerika is ook al in die 20ste eeu as dié Dier beskryf.

Ander mense redeneer egter dat die boek Openbaring in die Bybel ’n sinnebeeld is van die stryd tussen die goeie en die bose – waar die Dier die verpersoonliking is van boosheid en nie beskou word as ’n historiese figuur of magstruktuur nie.

Dit blyk dat die meeste van die sogenaamde vertolkers van profesie begin by wat hulle op die wêreldfront sien en dít dan in die Bybel probeer inlees. Byvoorbeeld, talle Bybelkommentators in die 1950s en 60s het die “skarlakenrooi dier” van Openbaring geïdentifiseer as die Kommunistiese Sowjetunie. ’n Paar jaar gelede was dit Saddam Hussein en vandag identifiseer talle fundamen­ta­lis­tiese kommentators die Dier as die “Nuwe Wêreld­orde”, of die Verenigde Nasies. Daar blyk net soveel vertolkings te wees as wat daar vertolkers is!

Maar onthou, die Bybel vertolk sy eie simbole. Wat presies openbaar die Skrif nou eintlik oor die Dier? Stem wêreldse geskiedenis hiermee saam?

Die Dier uit die See

Teen die einde van die eerste eeu n.C. staan die bejaarde apostel Johannes op die eiland Patmos op die strand en staar uit oor die Middellandse See. Terwyl donker wolke laag saampak oor ’n bruisende see, lyk dit asof ’n vreemde dierasie uit die water verskyn. Dit het die lyf van ’n luiperd, die bek van ’n leeu en die pote van ’n beer. Dié dier omvat dus die sterkste eienskappe van die eerste drie dierasies wat Daniël, volgens sy visioen, opgeteken het in Daniël 7.

Maar, die Dier van Johannes het sewe koppe met tien horings (Op. 13:1-2). Daar word vir ons gesê dat die “draak” aan hierdie Dier sy krag en gesag gee. Laastens word ons vertel dat een van die dierasie se koppe dodelik gewond is. Maar dié dodelike wond is genees en die Dier gaan voort vir ’n verdere 42 maande (verse 2-5).

Dit stem merkwaardig ooreen met die visioen wat in Daniël 7 beskryf word. Onthou, in Daniël se visioen verskyn vier dierasies – ’n leeu, ’n beer, ’n vierkoppige luiperd en ’n ander verskriklike gedierte met tien horings – uit ’n donker, stormagtige see (verse 1-7). Hierdie vier diere het altesaam sewe koppe. Die dierasies wat Daniël gesien het, stel duidelik die vier opeenvolgende keiserryke voor: van Nebukadnésar se Babilon tot die Mede en Perse; dan tot by Alexander die Grote se Hellenistiese (Griekse) Ryk (wat ná sy dood in vier verdeel het), en laastens tot by die Romeinse Ryk. Uit die vierde dier, wat Rome simboliseer – die sewende kop – kom die “tien horings”.

Kyk ’n bietjie na die ooreenkomste tussen hierdie twee visioene. In albei gevalle is daar sewe koppe. In Openbaring 13 sien Johannes een dierasie, nie vier soos wat Daniël gesien het nie. Maar, albei profete sien sewe koppe met tien horings en gedaantes van ’n leeu, ’n beer, ’n luiperd en ’n verskriklike dierasie. Maar, met al die ooreenkomste, waarom is daar dan verskille in die twee visioene?

In Daniël se visioen moes feitlik alles wat hy gesien het nog in die toekoms plaasvind. Babilon, uitgebeeld deur ’n leeu, was reeds op die toneel, maar die ander ryke moes nog kom. Toe Johannes meer as 600 jaar later sy visioen beskryf, is Babilon, Persië en Griekeland reeds deur Rome verswelg. Waar Daniël op vier ryke fokus, sien Johannes een voortgesette stelsel met Babilon as die beginpunt. Hy sien die onderskeie keiserryke bloot as verskillende koppe van dieselfde dierasie – die sewe koppe van die profetiese “Babilon”. Uit Daniël se visioen weet ons dat dié stelsel voortgaan totdat Christus terugkeer, wanneer die heiliges die Koninkryk van God ontvang en in besit neem (Dan. 7:18).

Wat presies beteken al hierdie simbole dan? Weereens, die Bybel vertolk sy eie simbole. Soos ons gesien het, verduidelik Daniël 7:23 dat die sewe koppe van die vier diere sewe koninkryke is. Op dieselfde manier word die sewe koppe van die skarlakenrooi Dier van Openbaring 17 geïdentifiseer as “sewe berge” of “sewe konings” (verse 9-10). Volgens Daniël 7:24 en Openbaring 17:12 is die horings ook simbole vir konings of koninkryke. In profesieë word horings gebruik om mag of regerende gesag aan te dui. Dit is duidelik dat die koppe en horings van Openbaring 13 dus konings of koninkryke verteenwoordig. Ter ondersteuning van hierdie gevolgtrekking: Johannes sien dat elk van hierdie horings ’n kroon het (vers 1).

Die draak, wat volmag aan hierdie stelsel gee, word duidelik geïdentifiseer in Openbaring 12:9 as: “die groot draak … die ou slang wat genoem word Duiwel en Satan”. Satan self word simbolies uitgebeeld as ’n “groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone” (vers 3). Hier blyk dit dat die koppe en horings van profetiese Babilon ontstaan uit die Duiwel self, die werklike regeerder of “owerste van hierdie wêreld” (Joh. 12:31 en 14:30). Dit is dalk betekenisvol dat die Romeinse Ryk, tydens sy grootste uitbreiding, ’n rooi of purper draak as een van sy belangrikste militêre embleme aanvaar het – en uiteindelik op die seremoniële vaandel van die latere Oos-Romeinse keisers gepryk het!

Wat van die kop wat Johannes gesien het wat “dodelik gewond” is en later weer genees? Watter kop is dit? Onthou, slegs die laaste van die Dier se sewe koppe, soos beskryf in Openbaring 13, naamlik die Romeinse Ryk, is steeds in Johannes se tyd aan bewind. Die vorige ses koppe – Babilon, Persië en die vier Griekse (Hellenistiese) koninkryke – was reeds verby as geskiedenis toe Johannes sy visioen beskryf het. Nie een van hulle het ’n herlewing gehad nie. Hulle kon ook nie ná die Romeinse Ryk of ná Johannes se tyd ’n herlewing hê nie. Anders sou daar ’n bykomende ander menslik geïnspireerde wêreldregerende keiserryk moes wees, in teen­stelling dan met die opeenvolgende koninkryke soos uiteengesit in Daniël. Dus was die Romeinse Ryk die kop wat dodelik gewond sou word om later vir 42 profetiese “maande” te herlewe. Ons sal sien dat dit inderdaad so gebeur het.

Eeue lank reeds is die datum 476 n.C. gebruik as ’n skeidslyn tussen Antieke en Middeleeuse geskiedenis. Hierdie datum – die tradisionele “ondergang” van die ou Romeinse Keiserryk – kenmerk die verowering van Rome deur die “barbare” uit die noorde toe die laaste keiser van die Wes-Romeinse Ryk, Romulus Augustulus, vermoor is. In die volgende hoofstuk sal ons hierdie Ryk se latere herlewing ondersoek – die “genesing” van die dodelike wond.

Maar laat ons bietjie ’n ander aspek navors rakende die Dier se sewe koppe, soos opgeteken in Daniël 7 en in Openbaring 13. Daniël verduidelik dat die tien horings (dus konings of koninkryke), (Dan. 7:24) ontstaan uit die laaste kop, naamlik uit Rome. Met ander woorde, tien konings of koninkryke moes uit die Romeinse Ryk voortkom. Maar sou hulle gelyktydig bestaan of op mekaar volg?

Daniël vertel ons “daar [kom] ’n ander horinkie tussen hulle (die tien horings) op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel” (vers 8). Dit beteken dat die eerste drie koninkryke “geval” het voor die klein horinkie, “terwyl sy gestalte groter was as die ander” (vers 20). Vers 24 sê dat hy “verskillend” sal wees van die ander konings en “drie konings [sal] neerwerp”. Wat beteken dit? Klaarblyklik is die tien horings opeenvolgende koninkryke wat uit die Romeinse stelsel kom. Die eerste drie is uit die weg geruim op bevel van ’n betreklik kleiner magstruktuur, wat op ’n manier egter ook ’n baie groter magstruktuur was en ook uit Rome verrys het. Kom ons ondersoek daardie deel van die Romeinse geskiedenis om die vervulling van hierdie profesie te sien!

Die Verhaal van die Eerste Drie Horings

In 286 n.C. verdeel keiser Diocletianus die Romeinse Ryk in die Oos- en die Wes-Romeinse Ryk vir administratiewe doeleindes. Die Wes-Romeinse Ryk behou Rome as hoofstad, terwyl Bysantium die hoofstad word van die Oos-Romeinse Ryk. Keiser Konstantyn die Grote wy dit in 326 in as “Nieu-Rome”, maar sy opvolgers noem dit egter eerder Konstantinopel. Vandag is dit bekend as die stad Istanbul in Turkye. Hierdie twee “afdelings”, elk gewoonlik met ’n eie keiser, is gesimboliseer deur die twee “bene” in Daniël 2. Soms het ’n enkele keiser oor beide afdelings geregeer. In 395 n.C. word die verdeling egter permanent. Die Westerse been ondervind egter ernstige probleme en in die jare 400 n.C. is die Westerse Ryk in ’n doodstryd gewikkel. Jare lank is barbaarse strooptogte oor die landsgrense gevoer totdat Rome uiteindelik vir die eerste keer in agt eeue self geplunder en verwoes is! Dié oorwinning is in 409 behaal deur die Wes-Gote onder aanvoering van Alarik.

Toe die Romeinse Ryk in die Weste ineenstort, poog die leiers van drie groepe barbaarse invallers – die Vandale, die Herule en die Oos-Gote – om die Westerse keiser op te volg. Soos ons later sal sien, verlang elke barbaarse groep amptelike erkenning vir hul koninkryk en ontvang dan ook sodanige erkenning van die keiser in die Ooste – as ’n voortsetting van die wettige Romeinse regering in die Weste. Daar was egter ’n ander regeerder in die Weste aan die opkom wat die barbare uiteindelik sou omverwerp en uitdryf.

Hierdie leiersfiguur is die biskop van Rome – wat vandag as die pous bekend staan. (Ofskoon hierdie titel papa, wat “vader” beteken, deur baie biskoppe gebruik is, word dit eers in die jare 800 eksklusief van toepassing op die biskop van Rome). Terwyl die Westerse keisers al swakker word, is die omgekeerde op die pous van toepassing: sy mag en aansien neem sterk toe. Die pouslike mag het nie alleen groter godsdienstige mag oor die gemeenskap van belydende Christene behels nie, maar ook toenemende burgerlike en politieke mag. Hoe het dit dan gebeur dat ’n “Christelike” leier beheer verkry oor ’n heidense ryk?

Sedert die dae van die eerste Caesars fokus die heidense staatsgodsdiens nie langer op die aanbidding van Jupiter en die ou Romeinse afgode nie. In stede daarvan draai dit om die aanbidding van die keiser as ’n god op aarde. Die titel van die hoëpriester van Jupiter, Pontifex Maximus (“opperbrugbouer” tussen die mens en die gode), is aan Julius Caesar toegeken en later ook aan Augustus. Dié titel is sedertdien deur die Romeinse keisers toegeëien. Oorwonne gemeenskappe is toegelaat om hulle eie godsdiens te beoefen, mits hulle ook nog die keiser aanbid. Dit was natuurlik ’n probleem vir Joodse en Christelike gelowiges wat slegs die Skepper as God erken het.

Gevolglik is die Joodse staat in 66-70 n.C. deur die Romeine tot niet gemaak. Vir 250 jaar staar almal wat hulleself Christene noem wrede vervolging in die gesig. Ten spyte daarvan word hulle geloof al hoe sterker.

Uiteindelik, in 312 n.C. word Konstantyn die Grote die eerste keiser om die Christelikheid te bely. Die volgende jaar vaardig hy die Edik van Milaan uit waarvolgens Christene godsdiensvryheid verkry. Heidense gelowe is nog geduld maar Konstantyn moedig almal aan om Christene te word. Dié keiser gee die kosbare Lateraanse Paleis aan Rome se pous, laat hom klee in vorstelike gewaad en kroon hom as ’n aardse heerser. Regeringsposte is met Christene gevul en die kerk se mag word sterker – as bondgenoot van die Romeinse Ryk!

Konstantyn beskou die groeiende Christelike godsdiens as ’n manier om die verskillende volke in die Ryk te verenig. Maar dit het eerstens eenheid vereis onder die verskillende sektes binne die sogenaamde Christendom. In 321 ondersteun hy die Roomse Kerk se idee om die “eerbiedwaardige dag van die son” (Sondag) te onderhou, eerder as die sewende-dag Sabbat wat Christus en die oorspronklike Apostels geheilig het (later meer hieroor). In 324 verklaar Konstantyn die Christelike godsdiens as die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk. Die volgende jaar roep hy die beroemde Raad van Nicea byeen om sekere heftige twispunte rakende leerstelling by te lê.

Een betrokke twispunt het gedraai om die datum van die Christelike Pasga – óf die spesifieke Joodse datum waarop Christus en die Apostels die Pasga gehou het, óf die dag wat die Roomse Kerk onderhou (Paassondag). Die Raad het ten gunste van Paassondag gestem – diegene wat volhard het om die oorspronklik gebruike te onderhou, is vervolgens tereggestel (soos ook later die geval was met diegene wat die sewende-dag Sabbat bly onderhou het). So word diegene wat voorheen vervolg is, nou die vervolgers!

‘n Ander twispunt, die Ariaanse geskil, het gegaan oor die wese van God. Arius, ’n priester in Egipte, het verkondig dat Christus ’n geskape wese was, ondergeskik aan die Vader. Die Rooms Katolieke Kerk het die Drie-eenheid verkies – die idee dat die Vader, Seun en Heilige Gees drie mede-ewige, gelykwaardige Persone in een God is. (Vir die verstommende waarheid oor hierdie onderwerp, skryf vir ons gratis boekie Die God wat u kan leer ken). Die Raad het die Drie-eenheid as die amptelike “ortodokse” leerstelling aanvaar. Tog het die Arianisme, alhoewel onwettig verklaar, in baie streke bly voortbestaan. Trouens, aanvallende barbare wat as Christene bekeer is, het hulle dikwels tot die Arianisme bekeer.

In 337 is Konstantyn uiteindelik op sy sterfbed gedoop. Ten spyte van ’n kortstondige poging van sy nefie, Julianus, om na die heidense geloof terug te keer, groei die Christelike godsdiens in mag. Gedurende die bewind van Theodosius die Grote is die heidense geloof onwettig verklaar en word bekering tot die Christendom verpligtend. Boonop ver­klaar Theodosius die Rooms Katolisisme as die ampte­like godsdiens van die hele Ryk. Om die waar­heid te sê, voordat hy die verenigde Ryk regeer het, het hy en Grasius, sy medekeiser in die Weste, albei hulle heidense priestertitel van Pontifex Maximus verwerp. Hulle het dit gedoen uit eerbied vir die Katolieke Kerk, wie se Biskop van Rome dieselfde titel gedra het! Dit is waarom die pous, selfs vandag nog, die Opperpriester of Biskop genoem word.

Natuurlik was die ondergang van Rome in die Weste ’n swaar slag vir die pousdom se mag. Die invallende Vandale, Herule en Oos-Gote het die Christelike godsdiens bely, maar in die Ariaanse vorm. Die Rooms Katolieke het hierdie sogenaamde “onortodokse” Arianisme beskou as ’n bedreiging vir godsdienstige eenheid in die Weste onder die Biskop van Rome.

Die Vandale val Noord-Afrika in 429 binne en die gevolg is baie jare van gevegte met Rome. Maar kragtens ’n verdrag in 435 word hierdie barbare deur die Romeine “erken” as die wettige voortsetting van die Romeinse Ryk in Noord-Afrika (vgl. Langer, bl. 135). Steeds is die Vandale nie tevrede nie: hulle streef daarna om hulle mag as opvolgers van die Romeine uit te brei. In 455 verwoes hulle selfs die stad Rome en op so ’n deeglike wyse dat ons vandag nog die term “vandaal” gebruik om iemand te beskryf wat ander se eiendom kwaadwillig beskadig. Die Vandale laat die Westerse keiser steeds toe op die troon in Rome en gaan voort om hulle mag uit te oefen oor die Romeinse gebied in Noord-Afrika. Nietemin is hulle ook uiteindelik uitgeroei.

“In Afrika is die Vandale [deur die Katolieke] gehaat as Ariane … maar hulle mag is eers in 533-548 gebreek tydens Justinianus [die Oos-Romeinse keiser] se Vandaalse oorloë” (bl. 159). In 533 sou Justinianus ’n troepemag van 500 vervoerskepe en 92 oorlogskepe onder aanvoering van sy briljante generaal, Belisarius, stuur om Afrika van die Vandale te bevry. Maar eers sou ’n verdere twee koninkryke in Italië gevestig word.

In 476, ongeveer 20 jaar ná die Vandale Rome verwoes het, slaag die Herule onder Odoaker (of Odovakar) daarin om die laaste keiser van die Wes-Romeinse Ryk, Romulus Augustulus, te onttroon. Dit is die amptelike einde van die Westelike keiserlike monargie – die einde van die Wes-Romeinse Ryk – dit is Rome se “dodelike wond”.

Odoaker word in Konstantinopel deur die Oos-Romeinse keiser, Zeno, “erken” as die wettige voortsetting van Romeinse regering in Italië (vgl. bl. 135). Maar hy was ook ’n Ariaan – en die Roomse pous was so erg daaroor ontstel dat hy hom op Zeno beroep. Toe stuur Zeno in 488 vir Theodorik, leier van die barbaarse Oos-Gote, as sy “gesant” om die Herule te verdryf (bl. 135). “Die Ortodokse biskoppe van Italië het niks van Odoaker se Arianisme gehou nie. Hulle beskou die invaller, Theodorik, as byna ’n ortodokse keiser. Met hulle ondersteuning breek Theodorik die sterk weerstand van Odoaker af in ’n oorlog wat vyf jaar duur en hulle oortuig hom om in 493 ’n vredeskikking te sluit. Theodorik nooi Odoaker en sy seun na ’n onthaal in Ravenna en bring hulle toe self om die lewe” (Will Durant, The Story of Civilization, Vol. 4, bll. 97-98). So is die Herule dus uitgeroei.

Die Oos-Gotiese regering van Italië is vir ’n tyd lank aanvaar as ’n nodige euwel in ’n poging om van die Herule ontslae te raak. Theodorik handhaaf ’n “formele ondergeskiktheid aan Bisantium … hy aanvaar die wette en instellings van die voormalige Wes-Romeinse Ryk … En, alhoewel hy ’n Ariaan is, beskerm hy die godsdiens en eiendom van die ortodokse Kerk” (bl. 98). Maar mettertyd raak die Ariaanse Oos-Gote toenemend in onguns by die Roomse pous en die Katolieke bevolking. “Die Katolieke is verbind tot die Oosterse keiser, Justinianus, wat … die smal pad van onbuigsame, onverdraagsame ortodoksheid geloop het” (Edward Gibbon, Decline and Fall of the Roman Empire, Vol. 2. bl. 477). In 535, gedurende Justinianus se Vandaalse oorloë (reeds genoem), kom die Bisantynse magte onder leiding van Belisarius in Italië aan om die Oos-Gote uit te dryf. Die Romeinse bevolking “begroet Belisarius as ’n bevryder en die geestelikes verwelkom hom as ’n voorstander van die Drie-eenheidsleer” (Durant, bl. 109). Dit is die begin van die Gotiese oorloë, wat agtien jaar later beëindig is toe Justinianus se troepe die oorblywende Oos-Gote finaal uit Italië verdryf het.

Dit is die einde van die “oorgangstyd”, so genoem deur die geskiedkundige, Philip Van Ness Myers (Ancient History, 1904, bl. 571). Die eerste drie “horings” is ontwortel met die goedkeuring van die Rooms Katolieke Kerk. So word die Biskop van Rome en die algemene kerk onder sy beheer dus duidelik geïdentifiseer as die klein horinkie met “oë soos mens-oë, en ’n mond wat groot dinge spreek” (Daniël 7:8). Dink ’n bietjie na oor die betekenis hiervan. Daniël het die klein horinkie gesien “oorlog voer met die heiliges (ware Christene) en hulle oorwin” (vers 21). Die profeet is in sy droom aangaande dié horinkie vertel: “En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander” (vers 25).

Maar hoe kan dit moontlik wees? Is die Rooms Katolieke Kerk dan nie die “moederkerk” van die Christendom nie? Hoekom word die pousdom dan beskryf dat dit teen God, Sy heiliges, en Sy “tye en wet” optree? Hierdie vrae sal mettertyd beantwoord word. Dit is vir eers voldoende om te sê dat die Roomse Kerk hierdie dinge wel gedoen het.

Noudat die drie Ariaanse koninkryke ontwortel is, is die toneel gereed vir die eerste ware herlewing in 554 van die Romeinse Ryk in die Weste. Anders as die eerste drie van die tien horings, sou die laaste sewe horings, of Romeinse herlewings, almal die seën van die Romeinse pous hê – net soos dit was in die voormalige Romeinse Ryk. Hy sou nou betrokke wees in die verskillende voortsettings van die keiserryk van ou Rome in die Weste.

Twee-en-veertig maande

Openbaring 13 sê dat die Dier vir 42 maande sal voortgaan ná sy wond “genees” is. Is dit 42 letterlike maande?

Kom ons ondersoek ’n ander 42-maande periode. Openbaring 11 het in geheel te make met die eindtyd (verse 14-15). Die begin van die hoofstuk toon dat Jerusalem vir 42 maande deur die heidene vertrap word. Ons lees ook dat God se twee getuies in die eindtyd vir 1,260 dae sal profeteer (vers 3). Hierdie twee periodes is een en dieselfde. ’n Bietjie rekeningkunde wys dat elke maand 30 dae lank is (want 42 x 30 = 1,260). Hierdie periode is ook 3½ jaar (42 maande gedeel deur 12 maande in ’n jaar). Aangesien die konteks uitwys dat die twee getuies werklike persone is wat in die eindtyd doodgemaak en dan weer opgewek word (verse 7-14), kan ons aanneem dat die 42 maande hier gelyk is aan 1,260 letterlike dae.

Die hoofstuk oor die Dier (Openbaring 13) speel egter nie in so ’n kort periode af nie. Dit strek oor eeue heen, vandat die Dier (die Romeinse Ryk) ’n dodelike wond opdoen (die ondergang van Rome in 476 n.C.) en gevolglik genees word (Justinianus se Keiserlike Herstel in 554), tot in die eindtyd. As die 42 maande in vers 5 verwys na 1,260 letterlike dae, sou die herstelde Roomse Dier vir 3½ jaar voortbestaan het van 554 tot 558. Justinianus is eers in 565 oorlede! Dus moet daar ’n ander verduide­liking wees.

Die Skrif toon dat ’n dag somtyds ’n jaar beteken in Bybelse profesieë (vgl. Num. 14:34; Eseg. 4:6). As 42 maande dus gelyk is aan 1,260 dae, dan gee ’n dag vir ’n jaar hier vir ons 1,260 jaar. Was daar ’n periode van presies 1,260 jaar vir keiserlike voortbestaan sedert Justinianus se Keiserlike Herstel? Ja – vanaf 554 tot Napoleon se troon­afstand en verbanning in 1814! Dié interpretasie maak beslis die meeste sin.

  HOOFSTUK 4

Alle Paaie Lei na Rome

Die toeristeplakkate toon ’n pragtige Rome – die beroemde “Stad op Sewe Heuwels” is oortrek met argitektoniese glorie uit die verlede. Rome is ’n stad van teenstellings. Antieke bouvalle en ou geboue staan skouer aan skouer met ’n vooruitstrewende, moderne stad. Meer as 27 eeue het gekom en gegaan sedert haar legendariese stigting deur Romulus en Remus. Gedurende hierdie uitgestrekte tydperk het dié merkwaardige stad ’n ongeëwenaarde rol gespeel in die geskiedenis van die Westerse beskawing. Rome – die “Ewige Stad” van mag en intrige!

Binne die stad Rome is die wêreld se kleinste soewereine grondgebied, naamlik die Vatikaanstad. Hierdie klein stadstaat word geregeer deur die Roomse pous, handhaaf sy eie diplomatieke verhoudinge met die hele wêreld se groot moondhede, en is ’n volwaardige deelnemer aan internasionale sake. Die Vatikaan streef egter na baie meer: Dit poog om terug te keer na die middelpunt van wêreldpolitiek waar dit vir soveel eeue ’n belangrike rol gespeel het.

Kom ons keer nou terug na ons verhaal. Soos ons gesien het in ’n vergelyking van Daniël 7 en Openbaring 13 is dit duidelik dat die “tien horings” (koninkryke) wat genoem word hulle oorsprong moes hê in die Romeinse Ryk, wat die sewende kop van die “Dier” is. Ofskoon Rome se ou Ryk dodelik gewond is met die dood van die laaste keiser in 476 is dit nie die einde van die storie nie! Die eerste drie horings (of koninkryke) wat uit die ou Romeinse Ryk ontwikkel het, naamlik die Vandale, Herule en Oos-Gote, is op aandrang van Rome se pous ontwortel deur keiser Justinianus. Justinianus het “die trotse en bose gees van die Roomse pous gekalmeer en ’n gunstige verslag onder die Romeine versprei oor sy eie vrome respek vir die apostoliese biskopsetel” – dit is die pouslike amp (Gibbon, bl. 477).

Daar bly dus nog sewe horings oor. Justinianus sou die “dodelike wond” in 554 “genees” en wend die eerste van ses historiese pogings aan om, met pouslike goedkeuring, die ou Romeinse Ryk te laat herlewe en voort te sit. Aangesien daar sewe horings oor is – nie net ses nie – moet ’n sewende en laaste herlewing nog plaasvind. U lewe gaan diep geraak word deur toekomstige gebeure in die “Ewige Stad”!

Die Vrou van Koninkryke

Kom ons kyk na die herlewings wat tot dusver deur ’n pous goedgekeur is. Aan die einde van die Gotiese oorloë in 553 n.C. was Italië in armoede en wanorde gedompel. Rome was beleër, verhonger, gevange geneem en beroof. Uiteindelik slaag die Bisantynse leër daarin om Italië en oorblyfsels van die Westerse Ryk te herower. Justinianus, reeds keiser in die Ooste, is nou herstel tot keiser in die Weste. Maar hoe sou hy die herowerde gebied regeer? Die antwoord lê opgesluit in ’n bondgenootskap tussen kerk en staat wat sedertdien die geskiedenis van Wes-Europa gevorm het. Ofskoon sekulêre (wêreldse) gesag in die Weste in duie gestort het, “blyk dit dat die oorlewing van kerklike organisasie (onder die Biskop van Rome) selfs vir die keisers die behoud van die staat beteken het. In 554 vaardig Justinianus ’n dekreet uit wat vereis dat ‘gepaste en bekwame persone om die plaaslike regering te administreer deur die biskoppe en hoofpersone van elke provinsie aangestel word as goewerneurs van die provinsies’” (Durant, bll. 519-520).

Hierdie genesing van Rome se “dodelike wond” staan in die geskiedenis bekend as die “Keiserlike Herstel”. Vanaf 554 tot 800 sou die keisers in Bisantium slegs in naam heersers wees van ’n herleefde Imperium Romanum (“Romeinse Ryk”) in die Weste. Volgens die voorwaardes van Justinianus se dekreet het die pouse in Rome eintlik die werklike regeringsleisels gehou in die Weste – en figuurlik wydsbeen oor die keiserlike Dier gesit en hom gery.

Dit stem merkwaardig ooreen met die profesie in Openbaring 17. Die verhaal van sewe herlewings word ook hier vertel – gesimboliseer deur ’n ander “Dier” met sewe koppe en tien horings. Dit is egter belangrik om te let op ’n betekenisvolle verskil tussen hierdie Dier en die ander wat in Openbaring 13 en Daniël 7 beskryf word. Anders as daardie diere word die Dier in Openbaring 17 deur ’n vrou gery.

Let op wat Johannes gesien het: “… en ek het ’n vrou sien sit op ’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ’n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: VERBORGENHEID, DIE GROOT BABILON, DIE MOEDER VAN DIE HOERE EN VAN DIE GRUWELS VAN DIE AARDE. En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus” (verse 3-6). Presies wie is hierdie vrou?

Laat ons eerstens kyk hoe die Bybel die simbool van ’n vrou elders gebruik. In Openbaring 12 vind ons die beeld van ’n vrou met ’n kroon van twaalf sterre wat geboorte gee aan die Christuskind (verse 1-5). Dit is ’n duidelike verwysing na Israel met sy twaalf stamme, elk gesimboliseer deur ’n ster (vgl. Gen. 37:9-10). Antieke Israel, God se volk in die Ou Testament of “kerk in die woestyn” (volgens die Engelse King James vertaling van Hand. 7:38), is uitgebeeld as ’n vrou wat met God getrou het (vgl. Jer. 3:8 en 14). Maar, Israel en Juda het dikwels “gehoereer” met ander gode en nasionale regeerders (vgl. Eseg. 23). Hulle hoofstad, Jerusalem, word verteenwoordig as dieselfde vrou (vgl. Eseg. 16).

Vervolgens, die Kerk van die Nuwe Testament is die “Israel van God” (Gal. 6:16), en geestelike Jerusalem daarbo is “die moeder van ons almal” (Gal. 4:26). Vir die res van Openbaring 12 is die vrou God se ware Kerk. Johannes noem haar “die uitverkore vrou” in 2 Joh. 1. Sy gaan met Christus trou wanneer Hy terugkeer (Ef. 5:22-32; Matt. 25:1-12; Op. 19:6-9). Dan, as “Koning van die konings en die Here van die here” (Op. 19:16), sal Christus Kerk en Staat verenig. Intussen mag die ware Kerk nie “hoereer” deur verstrik te raak in die regerings van hierdie wêreld nie. Sy mag nie geestelike “ontug” pleeg in enige voorhuwelikse kerk-staatverbonde nie. Daar is voorspel dat sy ’n “klein kuddetjie” sal bly (vgl. Luk. 12:23), vervolg deur die wêreld (Matt. 5:10-12; Luk. 6:26).

Dus is die gevalle vrou in Openbaring 17 duidelik ’n vals kerk “met wie die konings van die aarde gehoereer het” (vers 2). Soos ’n outydse tempelprostituut verleen sy gunste aan verskeie regeerders in ruil vir hulle ondersteuning van haar vals godsdiens – nou is dit egter politieke gunste. Eerder as om ’n vervolgde klein kuddetjie te wees, is sy ’n reusagtige kerk, met “groot” invloed, wat die vervolging uitvoer! Presies hoe groot is sy? Uitgedos in vorstelike drag regeer sy oor “volke en menigtes en nasies en tale” (vers 15) – duideliker kan die Romeinse Dier nie beskryf word nie.

Volgens die Skrif is die sewe koppe van hierdie Dier “sewe berge waar die vrou op sit” (vers 9). Behalwe vir die betekenis van sewe opeenvolgende koninkryke (soos wat die volgende vers toon), wys dit ook duidelik na die stad op sewe heuwels, naamlik Rome! Vers 18 sê die vrou “is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde”. Die volgende hoofstuk wys daardie stad uit as “Babilon”, maar van Johannes se tyd tot vandag toe word “Babilon” egter gemanifesteer deur Rome. As ’n voortsetting van Babilon, noem Jesaja haar in hoofstuk 47 “dogter van Babilon” en die “gebiedster van koninkryke” (verse 1 en 5). Dit verwys duidelik na dieselfde vrou (vgl. vers 8; Op. 18:7).

Wie – of wat anders – kan hier bedoel word as die Kerk van Rome? Is dit nie ’n presiese parallel aan die klein horinkie in Daniël 7 wat die ware kerk van God vervolg nie? Watter ander kerk het ’n “Inkwisisie” gelei waarin ’n menigte mense – insluitend God se getroue volgelinge – vermoor is? Net die Roomse Kerk het só ’n slagting gelei!

Die stelsel is gemerk as “Verborgenheid, die groot Babilon”. Dit bestaan steeds en bevorder die heidense Babiloniese Verborgenhede; die stelsel het reeds groot en magtig geword. In die volgende hoofstuk sal ons sien hoe dit heidense elemente vermeng het met onegte Bybelse temas om algemene “Christelike leerstellinge” te vorm. Is daar ’n ander “Heilige Moederkerk” wat so perfek strook met die beskrywing van die “Moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde?”

Slegs die Roomse Kerk het die Dier gery. Sy het die Dier die eerste keer gery tydens die eertydse Romeinse Ryk in die dae van Konstantyn en Theodosius. Daarna word sy uitgebeeld waar sy ry op sy “sewe koppe” – die sewe Roomse herlewings wat begin by Justinianus. Hierdie sewe koppe of koninkryke (vgl. Op. 17:10) kom ooreen met die laaste sewe van die tien horings in Daniël 7 en Openbaring 13. Hulle volg op die drie horings wat met Katolieke goedkeuring ontwortel is. Kom ons ondersoek nou die ander “koppe” wat gevolg het op Justinianus – die koppe van die “Heilige” Romeinse Ryk.

Die “Heilige” Romeinse Ryk

In die jare ná Justinianus se “Keiserlike Herstel” fokus die keisers in die Ooste oor die algemeen hulle aandag en planne op die tuisfront. Die vastigheid wat Konstantinopel aan die Weste voorsien het, word onbeduidend. Intussen verrys die Karolingiese vorstehuis, wat oor die Franke (in moderne Frankryk) geregeer het, as beskermer van die Westerse Christendom. Om hierdie rol te verseker, vind privaat onderhandelinge plaas tussen die Karolingiese koning, Karel die Grote, en pous Leo III – waarvan die resultaat in 800 n.C. duidelik word.

“Op Kersdag, onderwyl Karel die Grote in die [mantel] en sandale van ’n patricius Romanus [Romeinse edelman] in gebed neerkniel voor Sint Peter se altaar, plaas Leo III skielik ’n kroon van juwele op die koning se kop. Die gemeente, wat miskien vooraf aangesê is om te handel volgens die eertydse ritueel wanneer die senatus populusque Romanus [senaat en mense van Rome] die kroning bekragtig, roep toe driemaal uit: ‘Heil Karel, die Augustus [keiser], gekroon deur die Groot God en vredebringende Keiser van die Romeine!’ Die vorstelike hoof is met heilige olie gesalf waarna die pous Karel die Grote begroet as die keiser en Augustus” (Durant, bll. 468-469).

Na etlike jare van twis erken die Bisantynse keiser die Frankiese koning as medekeiser. So is die Imperium (oppermag) in die Weste oorgedra op die tweede “horing” van die Dier in Openbaring 13 ná die drie ontwortelings – dit is ook die tweede “kop” van die skarlakenrooi Dier in Openbaring 17. Albei die “koppe” wat tot dusver genoem is – Justinianus en Karel die Grote – was in verbond met die biskop van Rome en het verrys in pouslike opdrag en met pouslike seëning.

Die historikus, Will Durant, verduidelik: “Uit hierdie noue samewerking tussen Kerk en staat kom een van die briljantste idees in die geskiedenis van staatsmankuns: die omvorming van Karel die Grote se regeringsgebied in ’n Heilige Romeinse Ryk, met al die aansien, die heiligheid en die stabiliteit van sowel die keiserlike as die pouslike Rome” (bl. 468).

Gedurende die eeu en ’n half ná Karel die Grote se kroning verbrokkel sy ryk stadig onder swak opvolgers. Teen 936 is die Germaanse Saksers die magtigste groep in Middel-Europa. In 955 verslaan Otto, Hertog van die Saksers en nou koning van die Germane, die Magjare (Hongare) toe dié probeer om Wes-Europa vanuit die ooste binne te val. Etlike jare later gaan hy Italië binne op versoek van pous Johannes XII om hom weer aan bewind te plaas. Die gevolg is dat Otto in 962 n.C. die kroon ontvang van die Romeinse Ryk van die Germaanse volk – die eerste Duitse Reich.

“Weereens is die spook van die Romeinse Ryk opgeroep om die suksesvolle vestiging van ’n half­barbaarse koning te bekragtig” (William McNiel, Handbook of Western Civilization, bl. 317). Die kroning van Otto die Grote as keiser kenmerk die inhuldiging van die derde kop in die skakels van die herstelde Westerse Ryk.

Wat is die betekenis van Otto se hernuwing van die keiserryk vir sy tydgenote en hulle opvolgers? Let op wat die historikus, Robert Hertzstein, skryf in sy inleiding tot The Holy Roman Empire in the Middle Ages: “Die keiserryk is nie verstaan as ’n blote term nie, maar as ’n algemene Christelike regent (of bewindhebber) vir God op aarde, om te bestaan tot die koms van die Antichris. Soos Karel die Grote ontvang Otto sy troon deur die pouslike aanspraak dat die Roomse Kerk die enigste vorstelike kiesgeregtigde is sedert die vroeë vierde eeu … Die ‘Heilige’ Romeinse Ryk is dus in ’n groot mate Germaans in sy etniese en politieke grondslag, Christelik in sy morele regverdiging, en Romeins in sy aanspraak op wettigheid en universaliteit” (bl. viii).

In ’n verhandeling met die titel “The Empire as a Regency for God on Earth” skryf die Oostenrykse historikus Friedrich Heer: “Die taak van die Keiserryk was om God se kampvegter op aarde te wees, om Sy oogmerke hier te vervul, om die Christendom en

Beeld [Daniël 2] 4 Diere [Daniël 7]
Ram en Bok [Daniël 8]
Dier uit See en Aarde
[Openbaring 13]
Hoer ry skarlakenrooi dier [Openbaring 17] Simboliese Betekenis Historiese Vervulling
Kop van Goud [v32,39] Leeu [7:4] 7 Koppige dier uit see met Bek soos ‘n Leeu 1e Kop van Babilon Neo-Babiloniese [of Chaldeeuse] Ryk 625-539v.C.
Bors & Arms van Silver
[v 32,39]
Beer [7:5]
Horingram [8:3-4,20]
Pote soos ‘n Beer 2e Kop van Babilon Medo Persiese Ryk 558-330 v.C]
Buik en Dye van Brons
[v. 32,39]
4 Kop Luiperd[7:6] Ram met groot horing en 4 aansienlike horings [8:5-8,21-22] en lyf soos ‘n Luiperd [v 2] 3e, 4e, 5e en 6e Koppe van Babilon Hellenistiese Ryk van Alexander die Grote & 4 verdelings daarvan 333-31 v.C.
2 Bene van Yster
[v. 33,40-43]
Dier met Yster rande en 10 Horings[7:7,23-24] 7e Kop van die Dier het 10 Horings [v 1] 7-Koppige Rooi Dier (v. 3) (op stadiums deur Hoer gery soos hieronder aangedui) 7e Kop van Babilon Romeinse Ryk 31 v.C. – 476 n.C. (Konstantyn verklaar “Christendom” as amptelike godsdiens 324 n.C.
Dodelike wond [v 3] Klaarblyklike einde van Dier Val van Rome (476 n.C.)
1e Horing [ontwortel] 1e Horing 3 Opeenvolgende Horings (Arjaanse Barbare verslaan in opdrag van pous die “Oorgangstyd” volgens Philip se Ancient History, bl. 571) Koninkryk van die Vandale 429 – 533 n.C.
2e Horing [ontwortel] 2e Horing Herule (onder Odoacer) 476 – 493 n.C.
3e Horing [ontwortel] 3e Horing Koninkryk van die Oos-Gote 493 – 554 n.C.
Klein horingkie tussen die 10 [7:8, 20-22, 24-27] 2 Horing Lam – tipe Dier van Aarde en Beeld [v 11-18] Ryklik geklede Hoer, naam: Verborgenheid, die groot Babilon (v. 1-6) Vals Christelike godsdiens regeer die Dier Rooms Katolieke Kerk onder Pous (vlg “beeld” vd Romeinse burgelikeregering
4e Horing 1e van Laaste 7 horings Dodelike wond genees Dier Vervolg 1,260 Jaar na
Genesing (v. 5) 554 – 1814 n.C.
1e Kop van Rooi Dier deur Hoer gery Herlewings van die Dier: Die laaste 7 horings van Daniël 7 & Open 13 is dieselfde as 7 koppe van skarlakenrooi Dier van Openbaring 17 (5 het reeds “Geval” toe Napoleon 1814 verslaan is: Open 17:10) Keiserlike herstel v Weste onder Justinianus (554 n.C.)
5e Horing 2e van Laaste 7 horings 2e Kop van Rooi Dier deur Hoer gery Karolingiese Ryk (Karel die Grote gekroon in 800 n.C.)
6e Horing 3e van laaste 7 horings 3e Kop van Rooi Dier deur Hoer gery. Heilige Romeinse Ryk (Otto die Grote gekroon in 962)
7e Horing 4e van laaste 7 horings 4e Kop van Rooi Dier deur Hoer gery Hapsburgse Vorste Huis (Karel V gekroon in 1530 n.C)
8e Horing 5e van laaste 7 horings 5e Kop van Rooi Dier deur Hoer gery Napoleon se Ryk 1804-1814
In 1814, 1260 jaar na die dodelike wond genees is in 554 n.C. eindig die “Heilige Ryk” toe Napoleon verslaan is volgens “Willis West se Modern History” sluit dit ‘n regering af wat sedert Augustus Ceaser gedateer het” [bl. 377]
9e Horing 6e v Laaste 7 Horings 6e Kop van Rooi Dier deur Hier gery “Een IS” (Open 17:10 – God se Kerk verstaan dit in die eindtyd (Dan 12:9-10) Italië en Duitsland eindig in die Hitler-Mussoline Spil – moondhede 1870 – 1945 n.C.
Tien tone aan die twee voete van yster gemeng met klei (v. 33,42) 10e en Finale Horing 7e v Laaste 7 Horings 7e Kop deur Hoer gery (met 10 Horings); 8e as Dier self as 1e stel getel word (v. 11) Ander herlewing Wat Nog Nie Gekom Het Nie (Open. 17:10) Laaste herlewing van die Romeinse Ryk (10 nasionale leiers onder ‘n enkele leier)

die Kerk te beskerm, en om die regverdigheid van God en die geestelike orde van die heelal op aarde te bewaar. Die aardse Keiserryk was die kortstondige weergawe van die ewigdurende Stad van God … Hierdie aanspraak is aan die hele wêreld verkondig deur middel van die vorstelike simbole: met die vorstelike appel, gevul met grond uit die vier uithoeke van die wêreld, hou die keiser die hele wêreld in sy hand … [Die keiser] noem die vorstelike kroon corona urbis et orbis [die kroon van die stad, naamlik Rome, en van die aardbol]; hy beskou homself as die caput mundi [hoof van die wêreld] en as die dominator orbis et urbis [regeerder van die aardbol en van die stad]” (Hertzstein, bll. 64-65).

Otto se herlewing van die Heilige Romeinse Ryk bestaan voort vir ongeveer 300 jaar. Met die dood van Coenraad IV in 1254 is die Keiserryk egter so verdeel deur mededingende partye dat 19 jaar verbygaan sonder ’n keiser aan die hoof. Daarna is Rudolf I in 1273 as keiser verkies. Hy was die eerste lid van die Hapsburgfamilie om tot die vorstelike troon verhef te word. Die hoogtepunt van hierdie vierde herlewing van die ou Romeinse Imperium was die kroning van Rudolf se afstammeling, Karel I van Spanje, as die Heilige Romeinse Keiser Karel V deur pous Clemens VII in 1530. Karel het oor ’n ontsaglike groot keiserryk geregeer. Van sy moeder Johanna, dogter van Ferdinand en Isabella van Spanje, het hy Spanje met die Spaanse besittings in die Nuwe Wêreld geërf. Van sy vader het hy groot Hapsburgse grondgebiede in Duitsland, Italië en Middel-Europa geërf. Ná Karel V verswak die Hapsburgse mag egter en teen die 18e eeu is die “Heilige Romeinse Keiser” ’n leë titel.

Tydens die finale dekade van die 18e eeu is die ganse Europa geskud deur die Franse Rewolusie. Kort op die hakke van dié Rewolusie het ’n man in Frankryk aan bewind gekom wat hoogs talentvol en uiters ambisieus was. Sy naam was Napoleon. Hy wou baie meer as die Franse presidentskap of koningskap hê. Sy ambisie kon net bevredig word deur die hervestiging van die Romeinse Ryk met homself as die keiser. Soos Will Durant skryf: “Hy het gedroom om met Karel die Grote mee te ding en Wes-Europa weer te verenig” (vol. 11, bl. 243).

Napoleon beskou homself as die opvolger van Caesar en Karel die Grote. Hy roep ’n volksverkiesing uit wat hy feitlik eenparig wen en op 18 Mei 1804 laat hy die Franse Senaat hom as keiser verklaar. Onmiddellik begin hy met pous Pius VII onderhandel om Parys toe te kom om hom as keiser in te seën. Die onderhandelings is suksesvol en die kroning vind plaas op 2 Desember.

Die Hapsburgers van Oostenryk handhaaf egter hulle aanspraak op die titel “Heilige Romeinse Keiser”. Maar hulle word hard getref deur Napoleon se herhaaldelike militêre en diplomatieke aanvalle – waaronder sy oorname van dié vorstelike titel. Twee jaar ná Napoleon se oorname van die titel, onttrek 16 prinse en hulle state van die Hapsburgse Heilige Romeinse Ryk, vorm die Bondgenootskap van die Ryn, en versoek Napoleon om hulle onder sy beskerming te neem as deel van sy ryk.

Die volgende maand, op 6 Augustus 1806, doen Frans II van Oostenryk afstand van sy betekenislose titel “Heilige Romeinse Keiser”. Napoleon se Europese ryk strek nou van die Atlantiese Oseaan tot by die Elberivier. Frankryk, Spanje, Italië, Holland, België, Duitsland en al die Franse en Spaanse grondgebiede in die Nuwe Wêreld – die grootste gedeelte van die Amerikas – vorm sy ontsaglike ryk. Napoleon is dus die vyfde herlewing van die Westelike Imperium.

Napoleon se keiserryk is egter nie bestem tot ’n lang lewe nie. ’n Bondgenootskap onder leiding van die Britte bring sy bewind tot ’n val en in 1814 moet hy van sy troon afstand doen. Dit is die einde van ’n tydperk van 1,260 jaar sedert die Keiserlike Herstel onder Justinianus in 554. Dus is die profesie in Openbaring 13:3-5 aangaande die Dier se dodelike wond, daaropvolgende genesing en voortsetting vir “twee-en-veertig maande” vervul (42 dertig-dae “maande” is gelyk aan 1,260 profetiese “dae” of werklike jare, sien onderstaande gedeelte: “Twee-en-veertig maande”).

Napoleon se troonsafstand kenmerk die einde van ’n era. Volgens die historikus Willis Mason West: “So eindig ’n regering wat dateer vanaf Augustus Caesar” (Modern History: Europe from Charlemagne to the Present Time, 1944, bl. 377).

Maar volgens die profesieë van Daniël 7 en Openbaring 13 en 17 moet daar nog twee pogings wees om die grootsheid van ou Rome te laat herleef.

Nog een Het Geval, Een Bly Oor

Ná Napoleon se ineenstorting in 1814 bly Duitsland en Italië verdeeld en magteloos vir die volgende halfeeu. Albei is verskeur deur interne twis tussen ’n paar klein staatjies en prinsdomme. Teen 1871 slaag Bismarck daarin om die hele nie-Hapsburgse Duitsland te verenig onder die Pruisiese koning, Wilhelm – dus is die tweede Duitse Reich gevestig. Intussen verenig Garibaldi die hele Italië suksesvol onder Viktor Emmanuel, die noordelike Italiaanse koning van Sardinië-Piëmont.

Vyftig jaar ná Garibaldi se vereniging kom ’n sterk man in Italië aan bewind, met ’n toekomsblik om die prag en glorie van Ou Rome weereens te herstel. Sy naam was Benito Mussolini en in 1922 kom sy Fascistiese party aan bewind. Die Fasciste ontleen hulle naam van die keiserlike Romeinse fasces – ’n byl omhul deur ’n bondel stawe, wat eenheid en gesag simboliseer. In die ou tyd het ’n Romeinse konsul dit gedra as simbool van sy amp.

In 1870 verslaan Viktor Emmanuel se Italiaanse leër, onder leiding van Generaal Garibaldi, die pouslike leërs en Rome word beset. Van toe af is daar ’n gespanne afstand gehou tussen die pouse en die nuwe regeerders van Italië. In 1929 onderteken Mussolini uiteindelik die Lateraanse Verdrag met die pousdom. Hierdie verdrag het die pousdom se soewereiniteit van die Vatikaanstad gevestig en Rooms Katolisisme bekragtig as die enigste godsdiens van Italië. Dit het ook Mussolini se regering die eerste Italiaanse regering in moderne geskiedenis gemaak wat amptelik deur die Pous erken is.

Gretig om “glorie” te herstel, begin Mussolini soek na gebiede om te oorwin. Ethiopië, wie se leër die Italianers in 1896 uit Oos-Afrika verdryf het, blyk ’n waarskynlike moontlikheid te wees. Mussolini se magte val Ethiopië en Somaliland met welslae binne. In 1936 verklaar hy met groot trots dat dit “die herverskyning is, ná vyftien eeue, van die Keiserryk op die bestemde heuwels van Rome”.

Mussolini gaan daarna ’n verbond aan met Adolf Hitler, regeerder van Duitsland – toe in sy “Derde Reich”. Dit het gelei tot die Rooms-Berlynse Spilmoondhede van die Tweede Wêreldoorlog. Hierdie sesde poging om Europa te verenig deur imperiale (keiserlike) Rome te laat herleef, gaan egter in 1945 in vlamme op.

In Openbaring 17:10 is ’n interessante verklaring oor die sewe koppe van die Dier wat deur die vrou gery word: “En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort tydjie bly”. Let op die tydsbepaling. “Vyf het geval”, dit wil sê Justinianus, Karel die Grote, Otto, Karel V en Napoleon, oor die tydperk van 1 260 jaar wat die Dier sou voortduur, vanaf 554 tot 1814. Dan sê die vers: “… en een IS”. Maar Hitler en Mussolini was nie daar toe Johannes hierdie profesie geskryf het nie. Die tydsbepaling moet dus bereken word vanaf die tyd dat hierdie profesie geopenbaar sou word.

Dit stem ooreen met ’n verklaring in Daniël, ’n boek wat saam met Openbaring gelees moet word, om gebeure in die eindtyd behoorlik te kan verstaan. Die profesieë in hierdie boeke is bedoel om eers verstaan te word in ons moderne tyd. Daniël skryf: “En ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie; daarom het ek gesê: My heer, wat is die uiteinde van hierdie dinge? En Hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe. Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan” (Dan. 12:8-10).

God se ware Kerk het die betekenis van hierdie profesieë egter eers waarlik begin verstaan op die regte tyd – die tyd van die “sesde kop”, die Hitler-Mussolini Spil-moondhede. Dit is werklik merk­waardig! Verder is dit ’n bykomende bewys dat die mensdom, sedert daardie herlewing, in die eindtyd lewe. Let ook daarop dat “die ander een (herlewing) … nog nie gekom [het] nie” (Op. 17:10). Dit is hoe mnr Herbert Armstrong geweet het dat ’n ander wêrelddiktator nog sou moes verskyn uit ’n verenigde Europa ná die Tweede Wêreldoorlog. Begin u ook nou – soos die “verstandiges” – verstaan?

Baie mense het in die nasleep van die Tweede Wêreldoorlog gesê dat Europa se tyd verby was. Oor die hele vasteland, en veral in Duitsland, is stede, die platteland en nasionale ekonomiese instellings verwoes. Vir baie het dit gelyk asof die Russiese Kommunisme die toekomsweg vir Europa sou wees. Per slot van rekening het Stalin, na afloop van die oorlog, blitsvinnig soveel moontlik van die Europese grondgebied tot Russiese voordeel bekom. Die idee dat Europa, met Duitsland as leier, ’n dominante rol in wêreldsake sou speel, was iets wat die meeste waarnemers nooit voorsien het nie.

Nogtans is daar in 1957, slegs twaalf jaar ná die oorlog beëindig is, ’n klein Gemeenskapsmark (Europese Ekonomiese Gemeenskap of EEG) ingestel deur die Verdrag van Rome. Dit het die volgende jaar begin met Frankryk, Wes-Duitsland, Italië, België, die Nederlande en Luxemburg as lede. In 1967 word dit die Europese Gemeenskap (EG). Ierland, Brittanje en Denemarke sluit in 1973 aan, gevolg deur Griekeland in 1981 en Spanje en Portugal in 1986 – altesaam twaalf nasies. Die EG was die direkte voorganger van vandag se invloedryke Europese Unie.

Die proses van die Europese eenwording is grootliks ondersteun deur die Vatikaan. Op 9 November 1982 sê Pous Johannes Paulus II in ’n praatjie in Spanje aan die Europeërs: “Hernu julle oorsprong” – en spreek sy vurige wens uit dat hulle ’n verenigde Europa vestig “vanaf die Atlantiese Oseaan tot by die Oeralgebergte”.

Wat nou van die toekoms? Is die Europese Unie besig om die weg te baan vir die sewende en laaste poging om Europa sy oorsprong te laat herlewe – om die grootsheid en mag van keiserlike Rome weer op te wek?

Profesieë vir Ons Tyd en Daarna

Soos ons geleer het, is die sewe koppe van die skarlakenrooi Dier van Openbaring 17 sewe opeenvolgende koninkryke (vers 10) – sewe herlewings van die Heilige Romeinse Ryk. Ons het reeds die eerste ses ondersoek. Die toekomstige sewende kop word ook beskryf as “self ook die agtste, en hy behoort by die sewe” (vers 11). Dit is die “agtste” heilige Romeinse stelsel as ons die skarlakenrooi Dier self ook tel – dus die oorspronklike Romeinse Ryk in Konstantyn se tyd – as die eerste een.

Die sewe koppe stem hier ooreen met die laaste sewe van die “tien horings” van die Diere in beide Daniël 7 en Openbaring 13. Wat verteenwoordig die “tien horings” dan hier in Openbaring 17? Vers 12: “Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier”. Net soos “koning” en “koninkryk” uitgeruil word in profesieë so is die Dier die naam van die toekomstige herlewing van die Heilige Romeinse Ryk en van die Hitleriaanse leier daarvan – die individu na wie hier verwys word. Hierdie tien regeerders “het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier” (vers 13). Wanneer? “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin” (vers 14).

Die tydsbepaling lê dus nog in die toekoms omdat hierdie tien teen Christus gaan veg met Sy wederkoms. Die tien horings wat hier in Openbaring 17 genoem word, kom perfek ooreen met die tien tone van die groot beeld in Daniël 2. Onthou, daardie tien tone – vyf aan die voet van elke been – word deur Christus verbrysel met Sy wederkoms wanneer Hy die finale wêreldregerende koninkryk, die Koninkryk van God, oprig (Dan. 2:34-35, 42-44). Die tien tone in Daniël 2 en die tien horings in Openbaring 17 beteken duidelik dieselfde. Hulle simboliseer tien regeerders wat gesamentlik hulle ondersteuning en trou gaan gee aan die sewende en finale herlewing van die Romeinse Ryk.

Soos ons weet, verteenwoordig die bene in die beeld van Daniël 2 die Romeinse Ryk, verdeel in die Westelike Ryk en die Oostelike Ryk. Bybelprofesieë fokus op die voortsetting van die Westelike Ryk, die Dier wat deur die hoer gery word. Maar uit Daniël 2 is dit duidelik dat die Oostelike been wel ’n rol te speel het in die finale herlewing. Die Oos-Romeinse Ryk is tot 1453 uit Konstantinopel geregeer, toe die Ottomaanse Turke die stad oorrompel en die laaste keiser, Konstantyn XI, doodgemaak het.

Dit was egter nie die einde van die Oostelike Ryk nie. Negentien jaar ná die val van Konstantinopel voltrek die pous in 1472 ’n huwelik tussen Iwan die Grote, Hertog van Moskowië (moderne westelike Rusland) en Zoë, die niggie en erfgenaam van die laaste Oostelike keiser. “Die huwelik was belangrik om die aanspraak van Russiese regeerders as opvolgers van Griekse keisers en as die beskermers van die ortodokse Christendom te wees … Iwan het die titel tsaar, dit is ‘Caesar’, aangeneem” (Langer, bl. 342). Deur die geskiedenis dus bly die Romeinse Ryk voortbestaan as twee bene. Daar was twee individue wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle Caesar se opvolgers was. In die Weste was keiser die heerserstitel en in die Ooste was dit tsaar.

Die tsaars en die keisers bestaan nie meer nie. Wat oorbly, is talle Europese nasies wat hulle oorsprong het in die ou Romeinse Ryk. Die Griekse, Slawiese en Ortodokse nasies is afstammelinge van die Oostelike been van die ou Keiserryk, terwyl dié met ’n Latynse, Germaanse en Katolieke erfenis afstam van die Wes-Romeinse Ryk. Uit hierdie nasies sal daar uiteindelik tien leiers verskyn wat die aansien van beide Europa en die hele wêreld gaan verander!

God se Woord openbaar dat hierdie tien konings (of regeerders) uiteindelik gaan verenig. Daniël 2 wys dat hulle in die eindtyd die opvolgers verteenwoordig van die Westelike sowel as die Oostelike been van die Keiserryk – aangesien daar vyf “tone” is aan die voet van elke been. Dit is verstommend hoe presies die Oos-Wes verdeling van Europa – soos afgebaken deur die reeds verouderde Ystergordyn – pas by die ou keiserlike verdeling. Die toekomstige tien regeerders en hulle leier sal die laaste herlewing van die Romeinse Ryk vorm – die finale opvolger en beliggaming van Babilon! Maar, party van die voormalige nasies in die Sowjetblok (wat waarskynlik deel van die Dier sal wees) gaan blykbaar wegbreek uit die stelsel en aansluit by magte van die Verre Ooste om later teen die Dier te veg – soos ons aan die einde van hierdie boekie sal sien.

Wat sal die aard wees van die finale Roomse samesmelting? “En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is – ’n gedeelte van die koninkryk sal hard en ’n gedeelte sal bros wees. Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het – hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie” (Dan. 2:42-43). Ten spyte van al die pogings deur wêreldkundiges om nasionale identiteite uit te wis, wil dit voorkom asof die verskillende etniese en plaaslike wedywering sal verseker dat hierdie finale ryk losserig sal saambind en slegs vir ’n kort tydjie sal bestaan. Terwyl dit egter bestaan, sal dit baie magtig wees!

Dus, voor die goeie nuus van Christus se wederkoms is daar egter baie slegte nuus aan die kom. Die finale tien regeerders gaan hulle ondersteuning gee aan ’n toekomstige verbintenis tussen kerk en staat in Europa wat na wêreldoorheersing sal strewe. Johannes Haller, ’n populêre Duitse historikus wat in 1947 oorlede is, het geskryf: “In die gedagtenis van die Duitsers lewe die ou (Heilige Romeinse) Ryk voort as ’n tyd van grootheid en prag wat eendag weer moet herlewe”.

Ná ’n kort tydjie van oënskynlike vrede en vooruitgang sal hierdie stelsel die hele wêreld in ’n helse nagmerrie dompel. Sonder God se ingryping sal dit algehele vernietiging tot gevolg hê en die mensdom sal vergaan (Matt. 24:21-22). Maar God sal ingryp – deur Jesus Christus weer na hierdie aarde toe terug te stuur (verse 29-30).

Die Bybel openbaar dat daar donker dae voorlê vir die mensdom. Die Bybel sê verder vir ons dat diegene wat agterbly, gedwing sal word om die “merk van die dier” te ontvang en ook dat hulle verskriklike marteling in die gesig sal staar met Christus se wederkoms.

Presies wat is hierdie merk? Sal u dit moet ontvang? Wat kan u nou daaromtrent doen?

Hierdie vrae sal in die volgende hoofstuk beantwoord word.

HOOFSTUK 5

Die Merk van die Dier

Daar is seker geen profetiese onderwerp wat meer gissing en spekulasie uitlok as juis die “merk van die dier” nie. Benewens die “merk” noem Openbaring 13 ook ’n “beeld van die dier” en die geheimsinnige “nommer van sy naam” – 666. Dit noem selfs ’n “ander dier”. Wat is die betekenis van hierdie raaiselagtige simbole?

In die verlede is talle beweringe geopper om die merk te identifiseer. In die 1930s het sommige mense in Amerika dit verbind met die “Social Security-kaarte” (‘n tipe persoonskaart) wat die Roosevelt Administrasie verpligtend gemaak het. Ander weer het onheilspellende implikasies gesien in die strepieskodes op produkte in selfdienwinkels wat deur middel van elektroniese apparaat “gelees” word. Ander is weer agterdogtig oor identifikasie­kaarte en selfs banke se OTM- en kredietkaarte. ’n Aantal Protestantse Evangeliste verwag dat ’n tipe tatoeërmerk of ’n rekenaarmikroskyfie onder die vel op ’n niksvermoedende bevolking afgedwing gaan word.

Maar al dié raaiery is slegs skote in die duister. Ons kan nie werklik ’n spesifieke Bybelsimbool verstaan as ons nie alle moontlike Skrifture daaroor ondersoek nie.

Die Beeld van die Dier

Kom ons ondersoek die simbole soos hulle in volgorde verskyn in Openbaring 13. Die eerste is die ander dier wat “uit die aarde … opkom” (vers 11). Ons weet dus dat dit ’n aardse oorsprong het en nié ’n hemelse een nie al lyk dit van buite “nes ’n lam” – en al streef dit daarna om met Christus, die Lam van God (vgl. Joh. 1:29), geïdentifiseer te word. Nog erger, terwyl dit as Christelik vermom is, “het dit gepraat soos ’n draak” – en derhalwe ontvang hy sy mag van die Duiwel, die groot Draak (Op. 12:9). Hierdie dierasie het twee horings, wat regering of mag verteenwoordig. Daarbenewens wys Openbaring 13:12 dat hierdie Dier “oefen al die mag van die eerste dier [Romeinse Ryk] uit voor sy oë”. Dit dring daarop aan dat almal hulle trou en lojaliteit sal sweer aan die Heilige Romeinse Ryk, die Dier wie se dodelike wond genees het.

Daar kan geen twyfel meer wees oor hierdie vals kerk wat “al die mag” van die Romeinse Ryk uitoefen nie. Wat anders as die Roomse Kerk kan hier ter sprake wees? Geen ander godsdienstige instelling het aangedring op lojaliteit teenoor die Heilige Romeinse Ryk gedurende die Middeleeue nie. Maar wat van die twee horings? Hierdie kerk was en is steeds ’n kerklike én burgerlike regering. Die hoof daarvan is beide ’n godsdienstige leier én ’n burgerlike staatshoof. Maar wat van die “groot tekens” wat hierdie kerk in die teenwoordigheid van die Dier uitvoer (verse 13-14). Deur die eeue is etlike “bonatuurlike” gebeure binne dié vals kerk aangemeld, alhoewel geen van daardie gebeure by dié in Openbaring 13 kan kers vashou nie.

Die antwoord is, soos Bybelprofesieë aantoon, dat die kerk-staatverbintenis van die Middeleeue ’n voorloper was van gebeure in die eindtyd, wat soortgelyk gaan wees maar op ’n baie groter skaal. In die eindtyd sal ’n finale leier van hierdie godsdienstige stelsel verrys wat die “valse profeet” genoem word. Dit is hy wat die “groot tekens” gaan uitvoer (Op. 19:20).

Volgens Openbaring 13:14 beveel die Dier uit die aarde – die groot vals kerk – sy volgelinge om ’n “beeld” te maak van die Dier uit die see, die Romeinse Ryk. Wat is ’n beeld? Dit is ’n kopie, model, voorstelling of ewebeeld. Daarom is die “beeld van die dier” ’n ewebeeld van die ou Romeinse Ryk, iets wat gevorm is volgens die heidense Romeinse keiserryk of regering. Let ’n bietjie op na die volgende duidelike verklaring deur die Britse historikus en staatsman, James Bryce: “die pouslike [stelsel] self is gevestig na die model van die ouer Keiserryk” (The Holy Roman Empire in the Middle Ages, bl. 53).

Neem ook kennis van die volgende ontleding van die historikus, Will Durant: “Dit het ’n triomferende Kerk geword toe dit die organiserende modelle en vernuf van Rome erf … Soos Judéa die Christendom sedekunde gegee het, soos Griekeland dit teologie gegee het, so gee Rome dit nou organisasie … Die Roomse geskenk was bo alles ’n ontsaglike regeringsraamwerk wat, soos die wêreldse gesag misluk het, die struktuur geword het vir kerklike bewind. Gou sou die biskoppe, eerder as die Romeinse prefekte, die bron van orde en die magsetel in die stede wees; die hoofstedelinge, of biskoppe, sou die provinsiale goewerneurs ondersteun, indien nie verdring nie; en die sinode van biskoppe sou dan die provinsiale vergadering opvolg. Die Roomse Kerk het in die voetspore van die Romeinse staat gevolg” (vol. 3, bll. 575; 618-619).

‘n Mens bedinkte kerkregeringstruktuur is aangeneem deurdat die instellings en praktyke van die Romeinse Ryk as model gebruik is. Politieke manipulering het ’n plaasvervanger geword vir die soeke na God se wil. Populêre en paaiende kerkleerstellings het in die plek gekom van die ware Woord van God, wat teregwysing en tug voorgestaan het.

Die Romeinse Ryk van die eerste eeu was ’n gesagstaat. Maar baie mense weet nie dat die verkiesing tot verskeie ampte ook ’n eerbiedwaardige praktyk was nie. Selfs die keiser is verkies, kastig deur die Senaat, maar eintlik deur die praetoriaanse lyfwagte, of eenvoudig deur die leër en in die Romeinse munisipaliteite is openbare vergaderings gehou om ampsdraers te verkies. Let op wat die historikus, Arthur Boak sê: “Hierdie munisipaliteite was ’n getroue model van Rome, alhoewel sekere titels, soos dié van konsul en Senaat, uitgehou is vir die hoofstad … Alle ampsdraers is deur die volk verkies” (A History of Rome to 565 AD, 1965, bl. 370).

Dr. Boak sê verder dat die organisasie van Romeinse professionele en godsdienstige verenigings – sogenaamde kolleges – na die “model van die munisipaliteite” was (bl. 371). Party van die vroegste gemeentes van ware Christene is blykbaar mislei om hulle ampsdraers te verkies volgens die model van die munisipaliteite. Mettertyd sou dié gemeentes slegs Christelik wees in naam. Wat die struktuur in die gemeenskappe van die ontwikkelende Katolieke Kerk aanbetref, voeg dr. Boak by: “Hierdie gemeenskappe was volgens hulle organisasie almal van dieselfde algemene tipe, ’n weergawe van die Roomse godsdienstige collegia” (bl. 401). Inderwaarheid was die “kollege” van heidense priesters, gebaseer op die Romeinse burgerlike regering, die voorloper van die “Raad van Kardinale” wat vandag die pous verkies. Tog, net soos in die Romeinse burgerlike regering, het die ampsdraers in die Roomse Kerk ná hulle verkies is met onbuigsame gesag geheers binne ’n duidelik omlynde rangorde.

Die historikus Edward Gibbon beskryf die stand van sake in die wêreldse Christendom ná Konstantyn se regering, soos dit beïnvloed is deur dié verkiesingsmodel:

Maar die biskopstoel is, vernaamlik in die groot en vermoënde stede van die keiserryk, nagejaag as ’n wêreldse, in stede van ’n geestelike amp. Die sienswyse van belangstellendes, die selfsugtige en kwade hartstog, die kuns van valsheid en huigelary, die geheime omkopery, die openlike en selfs bloedige geweld wat vantevore die vryheid van verkiesings oneer aangedoen het in die Statebond van Griekeland en Rome, het al te dikwels die keuse van die [veronderstelde] opvolgers van die Apostels beïnvloed (Triumph of Christiandom in the Roman Empire, bl. 336).

Die probleem met die Katolieke Kerk was nie dat dit ’n georganiseerde rangorde gehad het nie – want rangorde is ’n God-verordende model (vgl. 1 Kor. 14:33; Ex. 18:21-26). Die probleem hier was eerder dat die Roomse Kerk ’n menslike politieke struktuur – ’n model van die ou Romeinse Ryk – in die plek gestel het van God se regering. In God se regering word ouderlinge aangestel – gebaseer op hulle “vrugte” – deur daardie leiers wat Christus reeds in Sy Kerk opgeneem het (vgl. Tit. 1:5-9). God se regering, gebaseer op Sy wette, word geldig gemaak deur die positiewe vrugte in ’n persoon se lewe (Matt. 7:15-23; vgl. Num. 17:7-10) – soos om God se wil uit te voer volgens wat Hy in Sy Woord openbaar. Op hierdie manier maak God dit duidelik deur wie Hy werk, en ons moet onderdanig wees aan daardie menslike leiers so lank as wat hulle voortgaan om Christus te volg (1 Kor. 11:1).

Maar, soos in Openbaring 13 uitgebeeld, vereis die groot, sigbare kerk algehele getrouheid aan haar regeringstruktuur – die “beeld van die dier”! Hierdie getrouheid kom basies neer op “aanbidding” van ’n afgod, want daar word van volgelinge vereis om die kerkregering sonder twyfel te gehoorsaam, selfs al sou dit lynreg teen die Bybel ingaan en poog om “tye en wet te verander” (Dan. 7:25) – wat dié kerkregering wel gedoen het. Hy sal maak dat “almal doodgemaak word” wat weier om te gehoorsaam (Op. 13:15). Onthou u die doodsvonnis in die voormalige Romeinse Ryk vir diegene wat die oorspronklike Pasgadatum en die sewende-dag Sabbat onderhou het? Die Roomse Kerk het nie in daardie periode en ook nie gedurende die Middeleeue die straf direk uitgevoer nie. Die Kerk het eerder diegene wat geweier het om die stelsel te gehoorsaam as ketters verklaar en verban (afgesny) van Christus. Persone wat so gemerk is, is beskou as vyande van die staat en is in die meeste gevalle deur die burgerlike regering gestraf.

Die Eerbiedwaardige Dag van die Son

‘n Verkeerde vorm van regering was nie die enigste wêreldse element wat in die groot vals kerk ingelyf is nie. Om meer bekeerdes te lok, het hierdie “dogter van Babilon” die gebruik gehandhaaf om gereeld heidense temas en feesvierings aan te neem en die naam van Christus daaroor te plak. In sy kommentaar oor die deursigtigheid van hierdie misleiding sê die historikus Will Durant: “Die Christendom het nie die heidendom vernietig nie; dit het die heidendom aangeneem” (vol. 3, bl. 595).

Terwyl dit waar is dat Satan deur middel van die heidense godsdiens baie elemente van die ware godsdiens nageboots het – soos die dood en opstanding van ’n verlosser – is dit ook waar dat hy baie vals idees bygevoeg het. Hierdie taktiek was so wyd verspreid en skynbaar “suksesvol” dat die meerderheid van die wêreldgodsdienste wat vandag Christelik genoem word, in werklikheid glad nie van Christus is nie. Toe hy voor tradisionele Christelike leerstellings te staan kom, verklaar Durant: “Die Christendom was die laaste skepping van die ou heidense wêreld” (bl. 595). Hy voeg by: “Die Christendom het die laaste en grootste van die verborge (geheime) godsdienste geword” (bl. 599). Aldus die naam – Verborgenheid, die groot Babilon!

Een van die grootste kenmerke van die ou verborge godsdienste is die verering of aanbidding van die son. In ou Babilon, die eerste van die vier wêreldryke, het konings gedien as hoëpriesters van die songod, Bel-Marduk. Om die “hand van Bel-Marduk te neem” was deel van die koning se inhuldigingseremonie in Assirië en Babilon (Encyclopaedia Britannica, “Babylonian and Assyrian Religion”, 11de uitgawe). Die wintersonstilstand, ongeveer die 25ste Desember, is gevier as die geboortedag van die son. Feestelikhede het die gee van geskenke en die vertoning van die heilige immergroen boom ingesluit.

Babilon was nie alleen in sy fokus op die heidense sonaanbidding nie want die godsdienste van sy opvolgers – Persië, Griekeland en Rome – het dit ook gedoen. Die feit is dat sonaanbidding in elkeen van hierdie keiserryke in belangrikheid ontwikkel het tot die keiserlike (imperiale) godsdiens.

In Persië, Babilon se eerste opvolger, het baie mense die god van lig, Mithras, aanbid. As gevolg van die Babiloniese invloed word Mithras egter later geïdentifiseer met die Babiloniese songod. Die Grieke van Klein-Asië het Mithras geïdentifiseer met hulle ou songod, Helios, en die kultus van die son het verder weswaarts versprei. Alexander die Grote het na die Egiptiese tempel van Amon-Ra gereis om deur die priesters daar as die letterlike seun van die songod verklaar te word.

Wat van Rome? Voor die tyd van die Keiserryk was daar ’n kultus getrou aan Sol, die son. Maar gedurende die Keiserryk? Was die vereerde keiser dan nie die fokus van Roomse aanbidding nie? Ja, maar sonaanbidding is ook deur die keisers bevorder en selfs verbind met keiseraanbidding – in so ’n mate dat “Mithras toe met Sol Invictus [die onoorwonne son] geïdentifiseer is in Rome … die gewer geword het van gesag en oorwinning aan die vorstehuis” (Encyclopaedia Britannica, “Mithras”, 11de uitgawe).

Lempriere se Classical Dictionary verklaar dat Sol, die songod van Rome, aanbid is as die Baäl of Bel van die Babiloniërs (bl. 590). In moderne Sirië is ’n klein Arabiese dorpie met die naam van Baalbek, met ruïnes van twee majestueuse tempels wat eens die trots was van Heliopolis, die Grieks-Romeinse “Stad van die Son”. Volgens Durant het “Augustus ’n klein kolonie hier gevestig, en die dorp het gegroei tot die heilige setel van Baäl, die songod … Onder (keiser) Antoninus Pios en sy opvolgers het Romeinse, Griekse en Siriese argitekte en ingenieurs, op die terrein van ’n ou Fenisiese tempel aan Baäl, ’n indrukwekkende altaar opgerig vir Iuppiter Heliopolitanus” (vol. 3, bl. 511). So is die Romeinse god Jupiter geïdentifiseer met Baäl, die ou songod.

By ’n ander belangrike tempel vir heidense sonaanbidding in Heliopolis, Egipte, het ’n groot gedenknaald gestaan wat as heilig beskou is vir die songod. Om en by 40 n.C. het die Romeinse keiser, Caligula, dié gedenknaald vanaf Egipte laat vervoer na Rome en dit op die Vatikaanheuwel laat plaas. In 1586, in opdrag van Pous Sixtus V, is hierdie reusagtige gedenknaald met groot moeite ’n klein entjie verder verskuif na sy huidige posisie – presies in die middel voor die ingang van die Sint Pietersbasilika, die hoofkatedraal van die Vatikaan.

Dus het die Romeinse Keiserryk sonaanbidding en sy simbole aangeneem van haar voorgangers en dit deurgegee aan die hele Westerse wêreld! World Religions from Ancient History to the Present verduidelik die bloeityd van sonaanbidding in die periode toe die Romeinse keisers aanbid is:

Dit was natuurlik dat, soos wat die swaartepunt van die Romeinse Ryk ooswaarts beweeg het, sonaanbidding se mag sou toeneem. Dit het reeds sterk voorgekom in keiserlike propaganda; Nero se Goue Vorstehuis was ’n gepaste tuiste vir die beliggaamde son, en Antoninus het besondere eer aan die son toegeken. Onder die Severiaanse vorstehuis het sonaanbidding dominant geword; die songod is uitgebeeld met Severus se kenmerkende baard en die keiser het die titel INVICTVS (onoorwonne) aangeneem, wat die besondere bynaam was vir die son … Die son was ’n puik eenheidsimbool en fokuspunt vir die hele keiserryk … In 274 n.C. het Aurelianus die songod gevestig as die oppergod van die Romeinse Keiserryk (red. Geoffrey Parrinder, bl. 175).

Aurelianus, keiser van 270 tot 282, het baie van Rome se derde-eeuse morele en politieke chaos toegeskryf aan godsdienstige onenigheid. Hy het daarna gestreef om die hele keiserryk te verenig in die “aanbidding van die songod en van die Keiser as daardie godheid se vikaris (plaasvervanger) op aarde … In Rome het hy ’n skitterende Tempel van die Son gebou, waar hy gehoop het dat die Baäl van Emesa en die god van Mithraïsme sou saamsmelt … Aurelianus het daardie [“veroostering”] van die monargie bevorder… wat volvoer is deur Diocletianus en Konstantyn” (Durant, bl. 639).

Konstantyn – wat beskou word as Rome se eerste Christelike keiser, soos ons reeds gesien het – was self ’n aanbidder van die songod. “Trouens, keiser Konstantyn se Christelikheid was dubbelsinnig. Sy familie het tradisioneel trou gesweer aan die songod; sy befaamde visioen van die kruis tydens ’n opmars na Rome het van die son gekom; die son verskyn vir ’n dekade lank steeds op sy muntstukke, en sy eie standbeeld in Konstantinopel dra die stralekroon van die songod” (Parrinder, bl. 175).

Die son het selfs sy eie spesiale dag van die week gehad, wat ons vandag “Sondag” noem! Die sewedag-week het ontstaan tydens die skepping (Gen. 2:1-3; vgl. Ex. 20:11), en die kennis van die korrekte weeklikse siklus is deur die Jode bewaar. Hulle het elke weeksdag genoem na waar dit gelê het ná die Sabbat – dus eerste, tweede, derde, ensovoorts. In die eerste eeu word die sewe-dag “planetêre week” gewild gemaak in Rome. Dit het ontstaan in die ou Babiloniese godsdiens waar elke dag van die week toegeken is aan die god wat geassosieer is met ’n bepaalde “planeet”. In die Romeinse periode was die “sewe planete” – in weekdagvolgorde – Sol (die son), Luna (die maan), Mars, Mercurius, Jupiter, Venus en Saturnus. Die eerste dag het aan die son behoort.

Net soos baie ander heidense temas opgeneem is deur die vals Roomse Kerk, so ook elemente van sonaanbidding, waaronder die verering van die eerste dag van die week, soos ons vroeër reeds kortliks genoem het. Die Encyclopaedia Britannica vermeld: “Die vroegste erkenning van Sondag­onderhouding as wetlike verpligting, is vervat in ’n reglement van Konstantyn in 321 n.C., wat bepaal dat alle geregshowe, inwoners van dorpe, en werkswinkels op Sondag moet rus (venerabili die solis)” (“Sunday”, 11de uitgawe). Deur hierdie Latynse terme, beter vertaal as “eerbiedwaardige dag van die son”, het Konstantyn die eerste dag van die week verbind met daardie dag wat tradisioneel sedert die ou dae vereer is as die dag opgedra aan Sol, die son. Deur die proklamasie van ’n Romeinse Keiser is ’n MERK van antieke Babilon en die kultus van sonaanbidding afgestempel op die inwoners van die Romeinse Ryk. Daardie MERK, saam met ander geassosieerde simbole van sonaanbidding, het regdeur die middel-eeue voortbestaan tot in die moderne tyd. Dus het hierdie belydende Christen, alhoewel hy nog ’n aanbidder van die son was, die sogenaamde “Dag van die Here” afgestempel op die Christendom.

Die kerk van Rome het egter lankal reeds hierdie dag vereer. Durant verklaar: “Die ernstige stemming van die Joodse Sabbat is oorgedra op die Christelike Sondag, wat dit [die Sabbat] in die tweede eeu vervang het” (bl. 599). Die oorspronklike ware Apostels het voortgegaan om dieselfde Sabbat te onderhou wat die Jode onderhou het – vanaf sononder op Vrydag tot sononder op Saterdag. Om die waarheid te sê die Katolieke Kerk het self trots erken: “U kan die Bybel van Genesis tot Openbaring lees en u sal nie ’n enkele reël vind wat die heiliging van die Sondag magtig nie. Die Skrif dwing die godsdienstige onderhouding van Saterdag af” (James Cardinal Gibbon, The Faith of Our Fathers, 1917). “Die Kerk”, so vertel ’n Katolieke studiekursus ons, “het die verpligting vanaf Saterdag oorgeplaas na Sondag” (Father Smith Instructs Jackson).

Dit is dus een manier waarop die klein horinkie in Daniël 7 “tye en wet verander” het. Hy sou die “heiliges van die Allerhoogste mishandel” (vers 25) wat nie met sy Godslasterlike veranderinge saamstem nie. In 365 het die Katolieke Raad van Laodicea beslis dat “Christene nie moet verjoods deur op die Sabbat te rus nie, maar moet op daardie dag werk en eerder die Dag van die Here vereer en dan as Christene rus. Maar as enigiemand sou verjoods, laat hy van Christus verban word” (Nicene and Post-Nicene Fathers, vol. 14, bl. 148). Soos ons weet, was dit feitlik ’n doodsvonnis – tot die Prote­stantse Hervorming van die 15de en 16de eeue!

Om meer te leer oor God se heilige Sabbat, skryf gerus vir ons boekie, Watter dag is die Christelike Sabbat? Om uit te vind wat geword het van Christus se “klein kuddetjie”, wat steeds God se Sabbat en ander gebooie onderhou ten spyte van vervolging, vra gerus ook vir God se Kerk deur die Eeue. Albei is gratis beskikbaar.

Die Geheime Merk

Die Protestante kerke wat uit Rooms Katolisisme gekom het, het baie van die Katolieke leerstellings verwerp. Ongelukkig was Sondagaanbidding nie een van hulle nie. Alhoewel hulle dit nie besef nie erken die Protestantse kerke die oppergesag van die Katolieke Kerk oor die Bybel deur voort te gaan om Sondag te onderhou. Dit is hoekom die Kerk van Rome bly is om aan te kondig dat hy die dag verander het! Die Katolieke Monseigneur Segur skryf: “Die onderhouding van Sondag deur Protestante is ’n eerbetoon wat hulle, ten spyte van hulleself, betaal aan die gesag van die [Katolieke] Kerk” (Plain Talk About the Protestantism of Today, bl. 213).

Is dit vir u ’n verrassing? Wel, hier is ’n indrukwekkende aanhaling deur die Roomse Kerk self: “Sondag is ons MERK van gesag. Die kerk is bo die Bybel, en hierdie oordrag van Sabbatonderhouding [na Sondag] is bewys van dié feit” (The Catholic Record, 1 September 1923). Hulle “MERK van gesag”? Kan dit enigiets te doen hê met die “merk” van Openbaring 13? Daar is geskryf dat die vals kerk “maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ’n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het” (verse 16-17).

Presies wat is hierdie “merk”? Volgens die Enhanced Strong’s Lexicon beteken die Griekse woord charagma wat hier vertaal is eintlik ’n “stempel, ’n ingeprente merk … (gebruik) van die merk gestempel op die voorkop of die regterhand as die KENTEKEN van die volgelinge van die [Dier] … [en] die merk ingebrand op perde” (inskrywing 5480). Dit is dus hoogs waarskynlik ’n soort kenteken, of identifikasiemerk.

Wat kan dus oorweeg word as die merk, of kenteken van die Dier, die Romeinse Ryk? Kan dit Sondagonderhouding wees of ander elemente van sonaanbidding soos ons pas ondersoek het? Wat hierdie merk ook al mag wees, dit is reeds honderde jare lank aanwesig, omdat al die regverdige martelare dit deur die eeue verwerp het (Op. 20:4). Openbaring 13, waar interaksie beskryf word tussen die Katolieke Kerk en die Middeleeuse Heilige Romeinse Ryk, maak dit duidelik dat, net soos die beeld, beide die merk en die nommer van die Dier se naam aanwesig was gedurende die Middeleeue as voorlopers van eindtydgebeure. Omdat “niemand mag koop of verkoop” sonder die merk nie, stel baie mense ondersoek in na die “kontantlose gemeenskap” van rekeningnommers en strepieskodes waarheen ons nou beweeg. Hulle heg ’n letterlike betekenis aan die terme “regterhand” en “voorkop” in die profesie. Maar, Openbaring 14:9-10 wys daarop dat diegene wat die merk van die Dier ontvang die grimmigheid van God oor hulleself bring – en Kol. 3:6 sê dat die toorn van God “oor die kinders van die ongehoorsaamheid” sal kom. Die merk van die Dier is dus ’n figuurlike kenmerk van ongehoorsaamheid aan God. Dit merk diegene wat weier om God se gebooie te onderhou ten spyte van die prediking van twee getuies in die eindtyd en selfs ’n finale waarskuwing deur ’n engel van God (vgl. Op. 14:9-11).

Nêrens in die Bybel verbied God ons om ’n rekeningnommer te hê of om ons naam op ’n rekenaarlêer te hê of iets dergeliks nie. In plaas daarvan is die merk van die Dier duidelik ’n kenmerk van ongehoorsaamheid aan God en Sy wette. Wys die Bybel enige ander soort merk of teken uit wat ons in die voorkop of regterhand ontvang? Ja! Let daarop dat God in Deuteronomium 6 wil hê dat ons “al sy insettinge en sy gebooie … as ’n teken [moet] bind op jou hand, en dit moet as ’n voorhoofsband tussen jou oë wees” (verse 2 en 8). Die hand is simbolies van ons aksies, terwyl die voorkop die setel van ons intellek is. Dít pas perfek. God se teken in ons regterhand (aksie) en voorkop (wil) is ons onderhouding van Sy gebooie. Die Dier se merk behels optrede wat strydig is met hierdie gebooie van God.

Is daar ’n spesifieke gebod van God wat vir Sy volk probleme kan skep in “koop en verkoop” – dit wil sê in besigheidsondernemings? Verseker! Dit is dieselfde een wat nog altyd sulke probleme veroorsaak het vir ware Christene – die vierde gebod. Dit verklaar: “Gedenk die Sabbatdag dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie” (Ex. 20:8-10). Die Sabbat is in werklikheid ’n teken van gehoorsaamheid wat God se ware volk identifiseer. In Ex. 31:13-17 verklaar God dat Sy Sabbatte vir ewig ’n teken is tussen Hom en Sy volk. Bo en behalwe dat dit die ware God van die Skepping identifiseer, is die Sabbat die toetsgebod wat diegene identifiseer wat wel gehoorsaam is aan Sy bevele en gebooie (vgl. Ex. 16:4).

Nou behoort alles sin te maak. Die merk van die Dier is ’n merk van ongehoorsaamheid aan God wat baie mense sal ontvang om probleme te ontduik in die uitvoering van hulle persoonlike en besigheidsake. Dit beteken waarskynlik die verwerping van God se teken van gehoorsaamheid, die Sabbat. Maar dit dui ook op die aanvaarding van ’n onegte merk of teken, aangesien aksie en wil daarby betrokke is. Omdat dit die merk van die Dier is, word hierdie identiteitsmerk se oorsprong nagespeur tot by Babilon en Rome. Is daar so ’n simbool wat deur die eeue heen tot in ons moderne tyd bestaan? Ons ken reeds die antwoord! Dit is heidense sonaanbidding, spesifiek in die vorm van moderne Sondagonderhouding. Dis dan geen wonder nie dat die Catholic Record verklaar: “Sondag is ons MERK van gesag”! As dit werklik die merk van die Dier is – soos dit wel blyk te wees – dan sal dit onder die toekomstige eindtydstelsel afgedwing word. Die punt is: aanvaarding of verwerping van God se wet. Diegene wat gewaarsku is, sal moet kies tussen ’n marteldood omdat hulle God gehoorsaam, of God se grimmigheid weens hulle ongehoorsaamheid.

Die Getal van sy Naam

Wat van die geheime getal – 666 – van die Dier se naam? Allerhande vindingryke oplossings is al uitgedink om sekere individue met hierdie getal te identifiseer. Sommige mense dink dit is ’n geheim of te moeilik om te probeer ontsyfer. Tog sê God se Woord iets anders. Onthou, volgens Daniël 12 sal die “verstandige … verstaan” in die eindtyd (vers 10). Presies watter soort dinge sal hulle kan verstaan? Wel, natuurlik alles wat ons hier bestudeer het. Maar let op die volgende in Openbaring 13: “Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ’n mens; en sy getal is 666” (vers 18). God wil dus hê dat ons presies dít moet doen.

Hoe sal ons te werk gaan om hierdie getal te bereken? Vers 17 verwys na die “getal van sy (die Dier se) naam”, terwyl vers 18 verwys na die “getal van die dier” en na die “getal van ’n mens”. Watter getal moet ons bereken? Eintlik is dit al drie, want wat is die Dier? Dit is die Romeinse Ryk sowel as sy leier! Maar hoe “tel” ons dit? Voordat Arabiese syfers in die 13e eeu in die Westerse wêreld aanvaar is, het die alfabetletters ook syfer- of getalwaardes gehad. Die meeste van ons is vertroud met Romeinse syfers waar die letters van die Latynse alfabet syfer- of numeriese waardes het. In hierdie stelsel is: I = 1, V = 5, X = 10 en so aan. Hebreeus en Grieks, die tale waarin die Bybel hoofsaaklik geskryf is, het ook soortgelyke stelsels gebruik. In dié tale kon enige naam dus ’n numeriese waarde hê deur elke letter om te sit in sy verteenwoordigende getal en hulle dan almal bymekaar te tel.

Dit bring ons by die vroegste oplossing wat voorgestel is vir die betekenis van 666. Dit is ’n tradisie wat aan Polycarpus toegesê word – hy was ’n dissipel van die einste apostel Johannes wat Openbaring geskryf het. Dié tradisie het in die tweede eeu behoue gebly in die geskrifte van Irenaeus. Die getal 666 is “vervat in die Griekse letters van Lateinos” (Jamieson, Fausset and Brown, Commentary on the Whole Bible). Dit pas goed. Openbaring is in Grieks geskryf vir die Griekssprekende Kerke in Klein-Asië. Lateinos is ’n Griekse term wat “Latynse man” of “Romein” beteken. Dit is beslis die naam van die Dier want die keiserryk self sowel as sy inwoners is “Romeins”. Let ook daarop dat Griekse skrywers gewoonlik na die Romeinse Ryk verwys het as “die Latynse koninkryk” (h Latine Basileia), wat ook ’n getalwaarde van 666 het. Ons weet van geen ander koninkryk waarvan die Griekse naam op dieselfde numeriese waarde uitkom nie.

Lateinos Grieks vir “Romein”

(L) = 30
(A) = 1
(T) = 300
(E) = 5
(I) = 10
(N) = 50
(O) = 70
(S) = 200

            Totaal: 666


‘n Ander interessante verduideliking draai om die naam van keiser Nero wat dood is ongeveer 25 jaar voordat Johannes Openbaring geskryf het. Alhoewel Nero dood is, was hy nietemin ’n tipe van die eindtydregeerder van die Romeinse stelsel. Nadat hy aan bewind gekom het met beloftes van grondwetlike hervorming en ’n terugkeer na die “Goue Eeu” van Augustus, het Nero Caesar toenemend wreed en heerssugtig geword. In ’n atmosfeer van intrige en sameswering, het hy sy mag misbruik en was hy verantwoordelik vir die eerste amptelike vervolging van Christene deur die Romeinse staat. Dit was gedurende sy bewind dat die meeste van die Apostels, waaronder beide Petrus en Paulus, gemartel is. Wanneer die Griekse vorm van sy naam, Neron Kaesar, in Hebreeuse letters gespel word, is die numeriese waarde daarvan ook 666.
Daar bestaan ook ander moontlikhede. Die stigter van ou Rome was Romulus, van wie se naam “Rome” en “Romein(s)” afkomstig is. Dit was ook die naam van die laaste Romeinse keiser voor die oorspronklike ondergang van Rome. Die Latynse naam Romulus is Romiith in Hebreeus. As dit in die Hebreeuse taal opgetel word, is die antwoord ook 666. Dus, in beide Grieks en Hebreeus, die twee hooftale van die Bybel, word die getal 666 oral op die Romeinse Ryk toegepas. Onthou dat, wanneer die sewende herlewing van die Heilige Romeinse Ryk uiteindelik plaasvind, die groot vals kerk gaan verklaar dat niemand besigheid mag doen as hulle nie die merk van die Dier ontvang het en ook die Dier se naam en sy nommer nie – dus, “Romein(s)” en wat dít alles behels. Dit wil dus voorkom asof almal gedwing gaan word om deel te word van die Roomse stelsel.

Miskien sal daar, gedurende die finale herlewing, die een of ander numeriese betekenis wees van óf die leier se naam, óf selfs van sy spesiale titel. Maar dit is belangrik om te besef dat die Roomse stelsel reeds met die getal 666 gekenmerk is – en dat dit daardie stelsel en sy eindtydherlewing is wat ons as die Dier geïdentifiseer het.

Op sigself is die verskillende berekenings wat hier gegee is, bloot ’n aanduiding van die Dier se identiteit – dit is nié klinkklare bewys daarvoor nie. Wanneer ons egter dié berekenings kombineer met wat die profesieë duidelik uitwys, help dit om die gevolgtrekking te staaf waartoe ons reeds in hierdie boekie gekom het.

HOOFSTUK 6

’n Verhaal van Twee Stede in die Eindtyd

Die verhaal van twee stede, in totale teenstelling met mekaar, loop soos ’n draad deur die Bybel. Genesis 10:10 stel ons bekend aan Babilon of Babel, die stad wat Nimrod gebou het en Genesis 11 beskryf dit verder. Ons ontmoet ook vir Abraham (verse 26-31), ’n man wat gebore is in Ur van die Galdeërs, ’n aangrensende dorp en deel van Babilon se ou koninkryk. Ons word dan in hoofstuk 12 vertel van Abraham se vertrek, in opdrag van God, uit die omgewing van Babilon. In Genesis 14 kom Abraham in Jerusalem aan (in die ou tyd is dit Salem genoem, ’n verkorte vorm). Daar ontmoet hy vir Melgisédek “wat ’n priester van God, die Allerhoogste, was” (vers 18) – en later geopenbaar word as Christus te wees voordat Hy vlees geword het (vgl. Heb. 7).

In Openbaring, die laaste boek van die Bybel, lees ons weereens van Babilon. Hoofstukke 17 en 18 praat van “die groot Babilon” en van haar finale en totale vernietiging. Net soos Abraham aangesê is, word God se mense in die eindtyd aangesê: “Gaan uit haar uit, my volk” (Op. 18:4). Hier aan die einde van die Bybel sien ons ook weer vir Jerusalem – die Nuwe Jerusalem, die stad waarop Abraham gewag het, “waarvan God die boumeester en oprigter is” (Heb. 11:10; Op. 21:2).

Jerusalem en Babilon verteenwoordig twee teenoorgestelde regeringstelsels en leefwyses. Een stad kom van God. Dit het die hoofstad geword van sy fisiese volk, Israel, onder koning Dawid – wat God se tabernakel daar gevestig het. Kort daarna is die tabernakel vervang toe Dawid se seun, Salomo, ’n groot tempel vir God daar gebou het. Ook bekend as die Berg Sion, sou Jerusalem later figuurlik verwys na God se Kerk – Sy geestelike volk wie se lede regeerders gaan wees in Sy Koninkryk. Wanneer dié finale wêreldregerende Koninkryk hier op aarde gevestig word, sal Christus dit vir ’n duisend jaar vanuit Jerusalem regeer. Daarna sal die Nuwe Jerusalem finaal aarde toe kom saam met God die Vader.

Die ander stad is gebou deur Nimrod, die eerste tiran ná die sondvloed wat, in rebelsheid teen God en Sy wette, gepoog het om ’n wêreldregering volgens Satan se manier te vestig. Babilon is Satan se historiese vervalsing van God se regering en God se Koninkryk. Ná God se ingryping by die Toring van Babel het Babilon se belangrikheid deur die eeue heen toegeneem en gekwyn. In die sewende eeu v.C. toe Nineve, hoofstad van Assirië, in die hande van invallers beland, word Babilon weereens belangrik as die hoofstad van Mesopotamië. Die Chaldeeuse Nebukadnésar word koning van Babilon en het ’n uitbreidingsveldtog van stapel gestuur wat sy koninkryk heerskappy gegee het oor omtrent die hele Midde-Ooste. Sommige van Nebukadnésar se oorwinnings het Juda en die hoofstad, Jerusalem, ingesluit. Om en by 586 v.C. is Jerusalem en die tempel van God daar vernietig deur die invallende Babiloniërs.

Later (soos ons reeds gesien het) staan die Profeet Daniël in ’n stil banketsaal om die “handskrif teen die muur” uit te lê. Daardie nag is die stad Babilon verower. Ná ’n eeue lange periode het dit ’n verlate, onbewoonde gebied geword. Soos ons egter geleer het, het die stelsel wat daar ontstaan het, nie geëindig nie. Dit het bly voortbestaan onder baie opvolgers, presies volgens die voorspelling daaromtrent wat Daniël soveel eeue vantevore opgeteken het.

Alhoewel die ou stad wat Nimrod gebou het reeds lank gelede tot puinhope, as en stof vergaan het, het die politieke, ekonomiese en godsdienstige stelsel wat daar ontstaan het ’n algemene stelsel geword. Soos ons weet, is Babilon bestem om in die nabye toekoms weereens te verrys – in sy finale belig­gaming in die eindtyd.

Wat Lê Nou Voor?

Ons lewe tans in ’n onstuimige wêreld. Daar is vrees en besorgdheid oor die toekoms. Alhoewel die wetenskap en die tegnologie ’n “stralende en vonkelende wêreld” van voorspoed belowe, bedreig toenemende wêreldwye krisisse die einste voortbestaan van die Westerse wêreld – dreig dit om ons wêreld te dompel in ’n tydperk soortgelyk aan die duister Middeleeue. Regdeur die wêreld brand tierende oorloë buite beheer en verander plaaslike konflikte in internasionale sake. Die gevolg is massaveragting van menseregte, vlugtende groepe en ontwrigte samelewings. Dit skeur ook die sosiale weefsel van daardie nasies wat vlugtelinge ontvang – soos wat tans die geval is met party nasies in Wes-Europa. Buitendien, met die ontbinding van die Sowjetunie en die gevolglike beskikbaarheid van gesofistikeerde wapens op die swartmark, is die gevaar van terrorisme groter as ooit tevore. Om die waarheid te sê, baie wêreldleiers is bang!

In reaksie op hierdie toenemende sosiaal-ekonomiese en politieke krisisse, gaan ’n groot charismatiese leier dan in Europa verrys. Soos die Bybel aantoon, sal hy ’n kerk-staatverbond verseker wat vrede, sekuriteit en voorspoed aan ’n desperate wêreld sal bied. Tien Europese leiers, wat die eindtydopvolgers van beide die Westerse en Oosterse “bene” van die Romeinse Ryk verteen­woordig, sal tydelik verenig en hulle mag aan hierdie toekomstige leier toesê. Wanneer mense werklik bang raak oor hulle toekoms, is hulle geneig om vryheid vir sekuriteit te verruil – net soos baie Duitsers gedurende die 1930’s.

Die eindtydverskyning van Babilon sal dieselfde dinge beloof wat Nimrod aan die mense belowe het by die Toring van Babel: eenheid, sekuriteit en voorspoed. Dit is ook wat Nebukadnésar, Kores (Cyrus die Grote), Alexander die Grote en Augustus Caesar op hulle beurt belowe het.

Toenemende politieke versplintering sal teengewerk word deur dieselfde bindingsfaktor wat Konstantyn aangewend het – godsdiens! Hoe gaan dit gebeur? ’n Wêreldwye Ekumeniese Beweging sal daarna streef om almal onder dieselfde godsdienstige sambreel byeen te bring.

Teen die tyd dat die Europese superstaat verskyn met sy magtige, charismatiese leier, sal miljoene der miljoene mense oor die aardbol vasgevang wees in godsdienswaansin, gevoed deur die bonatuurlike magsvertonings van die ander charismatiese leier wat ons vantevore bespreek het, naamlik die Vals Profeet. Die apostel Paulus verwys na hom as “die mens van sonde … die seun van die verderf” en “die ongeregtige” (2 Thess. 2:3, 8). Hierdie Vals Profeet sal aan die hoof staan van die Verborgenheid, die groot Babilon – Paulus noem dit “die verborgenheid van ongeregtigheid” wat reeds in sy tyd begin het (vers 7). Ons het ook al gesien hoe die groot Roomse Kerk daarna gestreef het om God se gebooie omver te werp.

Ter bevestiging van ons gevolgtrekkings tot dusver, skryf Paulus: “Hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie” (verse 9-10). Laat ons dit maar erken – die meeste mense wil vandag ’n godsdiens hê wat hulle emosioneel sal ondersteun. Die aktiwiteite en verklarings van dié toekomstige godsdienstige leier sal verwagtinge verhoog vir ’n nuwe goue eeu vir die ganse mensdom.

Die kragtige oorlogstoestelle van die toekomstige Europese supermag sal beskou word as die hoeksteen van wêreldvrede en sekuriteit. Soos in die verlede sal die wêreld vra: “Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Op. 13:4). ’n Polisiestaat sal waarskynlik geskep word om regeringsbevele af te dwing, soos dié rakende die merk van die Dier. Moderne tegnologie sal dié regering wel in staat kan stel om ’n totalitêre bewind te voer – die gelyke waarvan Hitler en Stalin slegs kon droom. Miskien sal die mense sulke reëlings aanvaar as die prys om eens en vir altyd ontslae te raak van geweld en terrorisme.

Donker tye lê en wag en die Engelssprekende nasies sal nie gespaar word nie. Trouens, soos ons in een van ons ander publikasies verduidelik, sal die toekomstige Europese superstaat met algehele verwoesting wraak uitoefen op die Verenigde State, Kanada, Brittanje, Australië, Nieu-Seeland en ander lande van die ou Britse Gemenebes, insluitend Suid-Afrika. Diegene wat dit oorleef, sal deur die Dier as gevange slawe weggevoer word na strafkampe. Jesus Christus verwys na hierdie verskriklike tyd as die “groot verdrukking … soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:21). (Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, skryf asseblief vir ons gratis boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika).

Aanvanklik sal hierdie sisteem ’n opbloei in die wêreld-ekonomie tot gevolg hê. Die nuut gestigte wêreldwye handelsblok, soos voorspel in Openbaring 18, sal verwelkom word as die sleutel tot universele voorspoed. In Esegiël 27 is die stad Tirus, ’n outydse handelsentrum, ook gebruik as ’n tipe van hierdie wêreldekonomie in die eindtyd wat in Europa gesentreer is. Diegene aan die stuur van hierdie stelsel sal vir ’n kort tydjie ongeëwenaarde rykdom geniet omdat hulle voordeel sal trek uit gekonfiskeerde rykdom en slawearbeid van die oorwonne Amerika en Brittanje.

Maar noodlottige gebreke, wat van die begin af eie is aan die stelsel, sal mettertyd al wyer wordende skeure veroorsaak. Die Europese leier in die eindtyd gaan in die Midde-Ooste betrokke raak. Ons vind dit opgeteken in hoofstuk 11 van Daniël. Aangesien dié hoofstuk die langste profesie in die Bybel is met die meeste detail, gee ons in hierdie publikasie slegs ’n kort oorsig daarvan weens ’n gebrek aan ruimte. Die profesie strek vanaf die Persiese Ryk tot in die eindtyd. Vers 4 toon Alexander se keiserryk wat in vier gedeel word, soos ons reeds gesien het. Die res van die hoofstuk fokus op die voortslepende stryd tussen die “koning van die Noorde” en die “koning van die Suide” – gesien vanuit die geografiese perspektief van die Heilige Land, wat ook “Pragtige Land” genoem word in dié profesie.

Eers was die koning van die Noorde Alexander se generaal Seleucius en sy opvolgers wat Sirië (noord van Judéa) geregeer het. Die koning van die Suide verwys na Ptolemeus en sy opvolgers in Egipte (suid van Judéa). Maar later toe die Romeine Sirië in 65 n.C. oorneem, word die Romeinse staat die koninkryk van die “Noorde”. (Let daarop dat toe Egipte in 31 v.C. deur Rome verswelg is, die Romeinse leier nié die koning van die Suide geword het nie omdat hy reeds koning van die Noorde was). Die koning van die Suide in die eindtyd sal heel waarskynlik ’n magtige Arabiese leier wees wat ’n tydelike konfederasie met die meeste state in die Islamitiese wêreld sal vorm (vgl. Ps. 83:5-8). Hy sal op een of ander manier die koning van die Noorde uitlok om ’n “blitzkrieg” teen hom uit te voer, wat sal lei tot die Europese besetting van die grootste gedeelte van die Arabiese wêreld – sowel as die land van Israel (Dan. 11:40-43).

Op die godsdienstoneel gaan die Roomse Kerk se hoofkwartier in daardie tyd klaarblyklik verskuif na, of reeds gevestig wees in Jerusalem. Let daarop dat die Vals Profeet “hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4). In meer as een opsig is dit lankal reeds die geval. Byvoorbeeld, die pous word die “Heilige Vader” genoem – die naam van God die Vader (Joh. 17:11; vgl. Matt. 23:9) – sowel as die “Vikaris van (plaasvervanger vir) Christus”. Volgens ’n Katolieke publikasie “is die pous nie alleen die verteenwoordiger van Christus nie, maar hy IS Jesus Christus verborge in die vlees” (The Catholic National, Julie 1895). Maar, soos ons so pas gelees het, meld Paulus iets oor iemand wat in die tempel van God sit. Ander Skrifture ondersteun ook die rekonstruksie van ’n letterlike Joodse tempel in Israel – ’n saak waarvoor baie ortodokse Jode hulle voortdurend beywer. Dit wil dus voorkom asof dié godsdienstige leier homself letterlik op die troon gaan plaas in daardie tempel wat aan God opgedra is!

Hoe gaan die nasies in die Ooste – soos Rusland, Indië, China en Japan – al hierdie dinge beskou? In Esegiël 27 sien ons dat sommige van hulle aanvanklik deelneem aan die handelsblok: Meseg, Tubal en Togarma (verse 13-14) word wyd aanvaar as verwysings na die mense van onderskeidelik Moskou, Tobolsk (in sentrale Rusland) en Siberië. Maar hierdie nasies sal egter net oppervlakkige bekeerdes wees tot hierdie Westerse handelsblok en inherent wantrouig wees teenoor die Europeërs onder leiding van Duitsland – hulle agterdog sal verdiep as gevolg van Europese optrede in die Midde-Ooste. Gerugte van hierdie ontevredenheid uit hoofstede in die Verre Ooste “en die noorde” (Moskou is bykans reg noord van Israel) sal uiteindelik veroorsaak dat die Europeërs ’n voorspringaanval loods om die Ooste tot onderdanigheid te bring (Dan. 11:44). Vir ’n tyd lank sal die oorlogsmasjinerie van die Dier die oorhand hê. (Die Dier kom uit die afgrond of “bodemlose kuil” – Op. 9:1-12; vgl. 17:8 – figuurlik gesproke Satan se koninkryk – vgl. Op. 9:11). Maar dan word die bordjies verhang wanneer die Oosterse geallieerdes met ’n geweldige militêre mag van 200 miljoen troepe die algehele vernietiging van die grootste deel van Europa veroorsaak, Rome ingesluit (Op. 9:13-18; 18:10, 18).

Rusland moet gewis deel wees van hierdie Oosterse geallieerdes want ons sien “Ros (Rusland), Meseg en Tubal” in Esegiël 38:2 – ná Christus se wederkoms – steeds verenig met Oosterse nasies soos Persië (Iran) en die swart en bruin afstam­melinge van Kus en Put in Indië (verkeerdelik vertaal as “Ethiopië” en “Libië” wat die Westerse vertakkings van hierdie volke is). Dit is dus duidelik dat Rusland nie saam met moderne Babilon vernietig word nie. Jesaja 13:17-18 wys ook daarop dat die moderne Mede (vermoedelik Oekraïners, gebaseer op verklarings deur ou historici soos Herodotus en Plinius) gaan help om moderne Babilon omver te werp, net soos hulle voorvaders in die ou tyd!

Die Europese diktator sal sy hoofstad verskuif na die Heilige Land (Dan. 11:45). Dan sal leërs vanuit die Ooste opmars na Israel met die voorneme om die nuwe Babilon finaal te vernietig. Die Eufraatrivier sal drooggelê word “sodat die pad van die konings wat van die Ooste af kom, reggemaak kon word” (Op. 16:12). Dít is van groot betekenis. Onthou, die Eufraatrivier is “drooggelê” in die ou tyd deur die Meder-Persiese magte van Kores (Cyrus) sodat hulle die oorspronklike Babilon kon binneval.

Wanneer al hierdie dinge plaasvind, sal gebeure buite beheer raak. Die tien Europese leiers wat aan hierdie stelsel sy mag gegee het, gaan in bitterheid teen die kerk en godsdiensstelsel draai wat hulle in die steek gelaat het (Op. 17:16-17). In een dag sal die dogter van Babilon vernietig word (Op. 18:7-8; Jes. 47:8-15). Intussen gaan afgryslike massa­vernietiging ontketen word, miskien deur kern-, biologiese en chemiese wapens (vgl. Op. 9:5-6, 18). Dan sal die Dier en die Oosterse geallieerdes hulle magte saamsnoer by Armageddon (“die heuwel van Megiddo”) in die noorde van Israel om ’n finale, kritieke oorlog te voer (Op. 16:16). Wanneer dít gebeur en dit lyk of die mensdom homself letterlik gaan vernietig, sal die Lewende God vir oulaas ingryp (vgl. Matt. 24:22).

Die verheerlikte Christus sal in al Sy majesteit terugkeer uit die hemel. Maar die nasies gaan “vertoornd” wees (Op. 11:18). Die Dier en die Oosterse konings gaan blykbaar die terugkerende Christus sien as ’n gemeenskaplike vyand, want “al die nasies” sal dan opruk na die vallei van Jósafat (die moderne Kidronvallei buite Jerusalem) om teen Hom oorlog te voer (vgl. Joël 3:1-2; 9-14; Sag. 14:1-15). Die uitslag van die gevolglike “oorlog van daardie groot dag van die Almagtige God” (Op. 16:14) is voor die hand liggend: God se vyande sal heeltemal verslaan word. Dus gaan die werklike oplossing vir die mensdom se probleme eers ingestel word ná hierdie verskriklikste tydperk in die mensdom se gewelddadige en bloedige bestaan.

Weggevoer in ’n visioen op daardie toekomstige “Dag van die Here” het Johannes ’n wonderlike gebeurtenis opgeteken wat nog voorlê: “Geval, geval het die groot Babilon” (Op. 18:2). Kort hierna sal Jesus Christus op die Olyfberg naby Jerusalem staan saam met al die herrese heiliges. Onthou u Nebukadnésar se droom van die goddelike “klip” wat die verteenwoordigers van die vier wêreldregerende koninkryke verbrysel het en gegroei het om die hele aarde te vul (Dan. 2:34-35)? U kan seker wees: Christus SAL van die hemel af terugkom om die regerings van hierdie wêreld oor te neem en om die vyfde en finale wêreldregerende koninkryk hier op aarde te vestig – die Koninkryk van God – wat vir ewig sal bestaan (vers 44). Soos Daniël gesê het: “die droom is waar en sy uitlegging betroubaar” (vers 45). In Christus se Koninkryk sal die wet uitgedra word vanuit Jerusalem en al die nasies sal onder die regering van God gebring word (Jes. 2:2-4). Die wederkoms van Jesus Christus na hierdie aarde is nie ’n droombeeld nie. Dit is die enigste hoop vir die mensdom.

Wat Van U?

Soos ons vroeër in hierdie boekie uitgevind het, vertel die Bybel ’n verhaal van twee stede – Babilon en Jerusalem. Een gaan vernietig word vir ewig en die ander een gaan vir ewig gevestig word as die Nuwe Jerusalem. Laasgenoemde gaan die woonplek wees van God die Vader, van Sy Seun, Jesus Christus, en van al God se kinders tot in ewigheid (Op. 21).

Die eindtydgebeure wat in hierdie boekie beskryf word, is werklik en gaan plaasvind binne u leeftyd. Daar is nie aan te twyfel nie dat afgryslike dinge gaan gebeur, van nou af tot en met Christus se koms. Soos een moderne kommentator verklaar: “’n Generasie wat versuim om die tekens van die tye te lees, mag gedwing word om die handskrif aan die muur te lees” (Os Guinness, The American Hour, 1993).

Christus bied egter spesiale beskerming aan diegene wat opreg en vurig saam met Hom wandel en Sy werk doen. Hy sê Sy dissipels aan om waaksaam te wees, om op die uitkyk te wees en altyddeur te bid sodat hulle al hierdie verskriklike dinge kan ontvlug (Luk. 21:36). In Openbaring gee Johannes die herrese Christus se belofte aan getroue Christene wat tot die einde toe volhard: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel” (Op. 3:10).

Wat van u? Lê u “burgerskap”, u lojaliteit en trou in Babilon daar onder of in Jerusalem daar bo (vgl. Fil. 3:20)? U toekoms hang af van u antwoord op daardie vraag! As u en u familie steeds deel is van wat die Skrif as “Babilon” bestempel, dan waarsku God u ernstig: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Op. 18:4). Deur die profeet Jesaja verduidelik God hoe om hierdie stelsel te ontvlug: “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is” (Jes. 55:6). As u Hom werklik soek met u hele hart, sal u Hom vind (Deut. 4:29-31)!

Alhoewel die Bybel ons toelig oor katastrofiese lyding wat nog moet kom, is daar egter ook goeie nuus. Dit behels ’n aanbod deur God vir wonderbaarlike beskerming en hulp in die verskriklike tye wat voorlê net voor Jesus Christus se wederkoms. Maar selfs van groter belang: Hy bied ons toegang tot Sy glorieryke toekomstige Koninkryk en ’n erfporsie wat vir ewig sal duur! Die God van die hemel gaan werklik Sy eie wêreldregerende Koninkryk hier vestig – wat al die koninkryke van die aarde sal oorwin en onderwerp – en dan sal voortgaan sonder einde!

Moenie moedeloos of wanhopig word wanneer u sien hoe wêreldtoestande om u versleg nie. Jesus Christus gee dié opdrag aan Sy dissipels: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Luk. 21:28).

God se Woord sê: “Want nog ’n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie” (Heb. 10:37). Teen hierdie tyd behoort ons te weet dat wanneer God sê dat iets gaan gebeur, dit SAL gebeur!

Laai af in PDF (201 KB) | Bestel GRATIS Gedrukte Uitgawe
Geliewe daarop te let dat genoemde boekies nie by El-Roi beskikbaar is nie, maar dat u dit direk kan bestel vanaf
Die Lewende Kerk van God of u kan die PDF dokument aflaai indien beskikbaar. Baie Dankie.

364total visits,1visits today

Kategoriee

Advertensie

Advertensie