The God Who Sees

Die Lewende Kerk van God


Die Lewende Kerk van God

INHOUD
Van die Redakteurs…
Lewe Ons in die “Laaste Dae”?
Les 2, deel 1
Les 2, deel 2
Les 2, deel 3
Les 2, deel 4


Van die Redakteurs…
Die Knight-Ridder nuussindikaat het in Desember 1999 ’n artikel oor Bybelongeletterdheid in sy groep koerante gepubliseer. Die berig meld dat ’n oorweldigende aantal Amerikaners en Kanadese bely dat hulle in God glo en meer as 90% van hul tuistes bevat een of meer Bybels. ’n Onlangse opname het egter getoon dat slegs 34% van vol­wassenes aanspraak maak daarop dat hulle in die voorafgaande week in werklikheid die Bybel gelees het.

Meeste mense neem aan dat die Bybel eenvoudig gaan oor mense wat lank gelede in veraf plekke gelewe het. In werklikheid is die Bybel die mees toepas­like en mees opwindende boek wat nog ooit geskryf is. Dit bevat lewensbelangrike kennis wat u in staat stel om sin te maak van die wêreld waarin u lewe en om die ware doel van die lewe te begryp.

In die loop van hierdie lesse wil ons u help om met die Bybel en sy boodskap kennis te maak. Alhoewel daar verskeie moontlike aanvangsplekke is om so ’n kursus aan te pak, verkies ons om weg te spring met die fokus op Bybelprofesie. Ons wil hê u moet verstaan dat die Bybel die woord van ons Skepper is, die Een “wat van die begin af verkondig die einde” (Jes. 46:10).

Die eerste twaalf lesse van hierdie Bybel­studiekursus is bedoel om God se plan en doel aan u bekend te stel. Bybelprofesie dien as bewys dat die Skepper juis so ’n meesterplan op hierdie aarde uitwerk. U lewe is deel van daardie groot Plan!

In hierdie les, sowel as die volgende twee, gaan ons baie van die profesieë van die Bybel ondersoek om vir u te wys – nie wat mense sê die Bybel sê nie, maar wat die Bybel self sê. Ons gaan poog om ’n begripsgrondslag te lê wat u in staat sal stel om sin te maak van die wêreld om u.

Vanaf lesse vyf en ses skakel ons oor van wat God oor die toekoms van ons wêreld openbaar, na wat Hy direk oor Homself openbaar, asook Sy plan en doel vir die mens. Kan iets meer lewensbelangrik vir ons wees as om te weet wie God is en waarom ons gebore is? In les sewe gaan ons kyk na wat die Bybel openbaar oor die oorsprong van die menslike be­skawing en hoe God die godsdienspraktyke evalueer wat in die algemeen in Sy naam beoefen word. Wat die Bybel self werklik sê, mag u skok!

In die oorblywende deel van hierdie twaalf lesse sal ons meer besonderhede van God se plan ondersoek. Wat is werklik die evangelie wat Jesus Christus gebring het? Wat sê God se woord moet Christene doen? Die antwoorde op hierdie en ander vrae mag weerspreek wat u voorheen gehoor en geglo het. Ons vra egter nie dat u ons woord moet aanvaar nie. Beproef dit vir uself in die Bybel en glo wat u in die woord van God vind.

Lewe Ons in die “Laaste Dae”? Godsdienstige mense deur die eeue heen het dikwels al gedink dat hulle in die laaste dae lewe. Vanaf die eerste eeu is daar al baie datums vas­gestel vir Christus se wederkoms. Waarom sou ons dan dink dat ons tyd anders is?

Daar was diegene in die eerste eeu wat die wederkoms van die Messias as die nadraai van die tempelverwoesting deur die Romeine in 70 n.C. verwag het. Later weer, het baie Europeërs in die nasleep van die Mongoolse invalle of van die Swart Dood, gedink dat hulle die eindtyd beleef.

Nog ander het gemeen dat die Eerste Wêreld­oorlog, of dan die Tweede Wêreld­oorlog, dié gebeurtenis moes wees wat die einde van die wêreld sou aankondig. Al hierdie dinge het gekom en gegaan en tog gaan hierdie samelewing maar voort. Sal ons samelewing ooit waarlik tot sy einde kom? Indien wel, is dit moontlik om ’n algemene idee te hê van wanneer daardie eindtyd sal aanbreek?

Baie teoloë het die idee dat die boek Openbaring slegs ’n figuurlike uitbeelding is van die stryd tussen goed en kwaad. Hulle glo nie dat daar ’n letterlike ingryping deur God in die sake van hierdie wêreld gaan kom nie. Tog, soos die apostel Petrus verduidelik het, is die geleerdes van hierdie wêreld moedswillig onkundig oor die getuienis van God se ingryping in ver­gange eeue (2 Petrus 3:5-6). Die geologiese getuienis van die vloed van Noag se tyd word, byvoorbeeld, geïgnoreer. Baie mense wil nie glo dat daar ’n lewende en aktiewe Skepper is wat diep betrokke is met Sy skepping nie. Die duidelike getuienis van die geskiedenis bewys dat God nie slegs in die dae van Noag ingegryp het nie, maar ook in die verwoesting van Sodom en Gomorra – sowel as in die gebeure van die Eksodus en die vestiging van Israel in die Beloofde Land. Die leidende hand van die Skepper is duidelik te bespeur in die aan­geleenthede van die mens se geskiede­nis. Aangaande die toekomstige ingryping van God wat in die Bybel beloof word, is daar enige wyse waarop ons kan weet of ons werklik naby daardie tyd is of nie?

Ongeag hoe jy daarna kyk, die twintig­ste eeu was uniek! Die eeu het begin met mense wat baie soos hul voorouers gelewe het. Die oorgrote meerderheid van die wêreld se bevolking het op die platteland gewoon, nie in stede nie. Hulle het hul bestaan uit boerdery gemaak en dít met handgereedskap en trekdiere. Mense het grotendeels gereis deur te loop of op ’n dier te ry.

Daar was geen radio’s of televisiestelle nie. Rekenaars was nog nie eens oor gedroom nie. Die eerste vliegtuig het nog nie gevlieg nie. Ruimtevaart en satelliet tegnologie sou met die aanbreek van die twintigste eeu onbegryplik gewees het vir enigeen. Tog het al hierdie dinge en nog meer – binne ’n enkele leeftyd voortgekom.

Hierdie wêreld van ons was nog altyd veranderlik. Maar die vaart van moderne tegnologiese verandering is egter ongeëwe­naard. Tegnologiese verandering het ook merkbare sosiale en politiese verandering mee­gebring. Die mens se ontsettende toe­name in kennis het gepaard gegaan met ’n ontsagwekkende toename in sy verwoes­tings­vermoëns.

Die spoed van die verandering in ons wêreld word seker deur niks so deeglik uit­gebeeld as die aanvangs- en slottonele van die Tweede Wêreldoorlog nie. Die oorlog het in 1939 begin met Poolse offisiere wat ’n ruiteraanval geloods het in verdediging teen Hitler se invallende leër. Dit het ses jaar later geëindig in ’n sam­pioen­vormige wolk oor Nagasaki, Japan. Met die inwerkingstelling van atomiese wapens – en later kernwapens – het die mensdom die mag bekom om die ganse beskawing op die aardbol uit te wis.

Kan ons sin maak van ons wêreld? Bestaan daar ’n goddelike meesterplan? Gaan ons wêreld in ’n sinnelose ver­woesting aan sy einde kom? Is dit moont­lik om te weet wat die toekoms vir u en u geliefdes inhou? Hierdie tweede les van die Bybelstudiekursus gaan vir u antwoorde op hierdie en ander lewensbelangrike vrae verskaf.

Les 2, deel 1

Was Die Twintigste Eeu Uniek?

Die Bybel identifiseer ons tydperk op baie herkenbare maniere. Soos ons in die inleidings­opmerkings gesien het, het die mensdom ’n krisispunt bereik wat op sy uitwissing kan uitloop. Dit word in verskeie profesieë in beide die Ou en die Nuwe Testament beskryf. Christus het wel gesê dat geen mens die dag of die uur van Sy weder­koms sou ken nie, maar het Hy tog ook die Fariseërs berispe oor hulle onvermoë om die tekens van die tye waarin hul geleef het, waar te neem. Dit is nodig dat ons die moderne tekens van die tye verstaan waarin ons leef. Ons moet ook twee lewensbelangrike vrae beantwoord wat uit die Skrif ontstaan: Wat is die Bybel se sleutelpunte waaraan die ware eindtyd uitgeken kan word, en beskryf daardie sleutels werklik ons dag?

1. Sien God vooraf die opkoms en val van nasies en ryke? Het Hy die tyd van sulke gebeure vooraf vasgestel? Han­de­linge 17:26.

2. Het God ’n breë meesterplan wat al van die begin af in werking is? Jesaja 46:10.

3. Sal God ingryp in menslike aange­leent­hede sonder om dit aan Sy knegte te openbaar? Amos 3:7.

4. Moes sekere profesieë oor die toekoms geseël word tot die tyd van die einde toe? Daniël 12:4.

5. Wat, sê Daniël, sou die kenmerk van menslike bedrywigheid in die eindtyd wees? Hoe sou dit verskil van vroeëre tye in die menslike geskiedenis? Daniël 12:4. (Nota: Motorvoertuie en vliegtuie het ’n dramatiese omwenteling in die vervoerwese teweeggebring, terwyl drukkery, radio, televisie en rekenaars tot ’n kennisontploffing bygedra het).

6. Het Christus gesê dat alle lewe op aarde in die eindtyd uitgewis sou word as dit nie vir God se ingryping gaan wees nie? Mattheus 24:22. Was dit ooit moontlik vóór die aanbou en vermenig­vuldiging van atoom- en kernwapens? (Nota: Ten spyte van uitgebreide ont­wapening en die sloping van kern­wapen­krygstuig deur die Verenigde State en Rusland wat gevolg het op die ontbinding van die voormalige Unie van Sosialistiese Sowjet-Republieke, word kernwapentuig nog steeds vermenig­vuldig. Waar ’n enkele Sosialistiese Unie voorheen ’n bedreiging ingehou het, is daar nou minstens vier af­sonder­like regerings onder die voormalige Sowjet­state wat daardie bedreiging inhou. Vyf ander nasies – die Ver­enigde Volke, Frankryk, Indië, Pakistan en China – word beskou as kernwapen­magte. Daar is berig dat verskeie ander nasies – insluitend Israel, Libië en Noord-Korea – kernwapens ontwikkel het, maar hulle erken nie dat hulle dit ontplooi het nie).

7. Sou dieselfde evangelie van die Koninkryk van God wat Jesus Christus verkondig het, in die eindtyd net voor Sy wederkoms aan al die nasies verkondig word? Mattheus 24:14.

8. Hoe het die apostel Paulus die toestand van die samelewing in die “laaste dae” beskryf? 2 Timotheus 3:1-5.

9. Met watter ander tydperk het Jesus Christus die toestand van die same­lewing net voor Sy wederkoms verge­lyk? Mattheus 24:37. Waarvan was die aarde vol in daardie vroeëre tydperk? Genesis 6:11.

10. Het Christus gesê of dit moontlik sou wees al dan nie, om die algemene tyd te bepaal wat Sy wederkoms as Koning van die konings sou voorafgaan? Mattheus 24:32-33.

Die Moeilikheid Wat Voorspel is

Sal u Voorbereid Wees?

Indien hierdie waarlik die eindtyd is en verskriklike rampe voorspel is om oor hier­die wêreld te kom, watter voorbereidings behoort u te tref? Wat kan u doen om u lewe en eiendom, sowel as dié van u geliefdes, te beskerm teen die wêreldwye slagting wat kom?

In die 1950’s het duisende Ameri­kaners, gemotiveer deur ’n vrees vir kern­oorlog, vir hulle agterplaasskuilings ge­bou. In meer onlangse jare het daar, veral in die Verenigde State, ’n oorlewings­beweging ontstaan. Alhoewel hulle onder mekaar verskil oor die besonderhede van die scenario, glo hierdie mense dat ver­skriklike verwoesting bestem is om oor hulle land te kom. As gevolg hiervan, het duisende tot een of ander mate, voorrade voedsel, water en wapens versamel. Baie het na afgeleë plattelandse gebiede getrek en sommiges het oorlewingskuilings ge­bou.

In die greep van paranoïese angs, het sommige van hierdie individue die Bybel gebruik om hul vrese vir bedreigende rampe en hul selfbewaringspogings te reg­verdig. Maar wat leer die Bybel werklik oor hierdie onderwerp? Watter aanwysings het Jesus Christus vir Sy eie dissipels gegee?

Die Olyfbergprofesie (sogenaamd omdat Jesus Christus dit aan Sy dissipels oorge­dra het terwyl Hy op die Olyfberg gesit het) is in die ooreenstemmende weergawes van Mattheus 24, Markus 13 en Lukas 21 bewaar. Dit word dikwels die brandpunt van Bybelprofesie genoem. Daarin het Jesus Christus gewaarsku oor nie slegs die eindtydgebeure wat Sy wederkoms sou voorafgaan nie, maar ook oor die verskriklike dinge wat Jerusalem in die eerste eeu sou oorkom en die algehele verwoesting van die tempel sou ver­oorsaak. Hy het Sy gehoor gewaarsku dat vervolging sou kom, en gevangeneming van Sy volgelinge. Hy het hulle egter nêrens gemaan om hulself te bewapen en hul energie te konsentreer op allerlei selfbeskermingstrategieë nie. Hy het eerder Sy dissipels vroeër só gewaarsku: “… elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor …” (Markus 8:34-35).

Verstommende, aardskuddende ge­beure gaan binnekort hierdie selfvoldane wêreld onverhoeds betrap! Hierdie gebeure is so verskriklik, dat Jesus Christus na hulle verwys het as ’n tyd van groot ver­drukking, ’n tyd van intense spanning en van ongeëwenaarde omvang. God sal eint­lik gedwing wees om daardie dae kort te knip, om die uitverkorenes se ontwil. Anders sal niemand lewendig gered word nie (Mattheus 24:22). Die groot verdruk­king sal onverhoeds op al die groot nasies van die wêreld toeslaan soos ’n slagyster. Toe Jesus hierdie dinge geopenbaar het, het Hy Sy dissipels gewaarsku om gereed te wees: “Waak dan …” en “… daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie” (Mattheus 24:42-44).

God se Woord Openbaar Hoe Ons Moet Voorberei

Hoe moet getroue Christene dan voorberei om deur hierdie verskriklike gebeure wat binnekort op die mensdom gaan toesak, te oorleef? Jesus Christus het tog immers vir Sy dissipels gesê dis moontlik om die komende rampspoedige gebeure vry te spring (Lukas 21:36). Hoe? Let op Christus se eie aanwysings: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyd­deur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:34-36).

Die dae wat Christus beskryf het, kom beslis. Skok en verbasing sal meeste mense oorrompel wanneer hulle besef wat met hulle gebeur. Dít hoef u en u gesin egter nie oor te kom nie.

Christus se ernstigste waarskuwings was teen agtelosigheid en selfvoldaan­heid. In bogenoemde aanhaling beklem­toon Jesus die noodsaaklikheid dat Sy dissipels moet waak en nie weer in ou sondes verval nie. Wanneer toestande vererger en wetteloosheid toeneem, sal die versoeking daar wees om te verslap “… omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Mattheus 24:12-13). Die beste voorbereiding is dus geestelike voorbereiding! Dit behels intieme kontak met God deur vas en voortdurende, vurige gebed – dat ons waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Koning van die Konings, die Regverdige Regter, te kan staan. “En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid” (1 Petrus 4:7).

Geestelike Onderskeidingsvermoë

Jesus Christus het ook die dissipels vooraf gewaarsku oor vals apostels en bedrieglike leraars wat aanspraak maak daarop dat hulle ware dienaars van God is. “Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Mattheus 24:5). Paulus het gepraat van sekere mense wat op slinkse wyse die Kerk van sy dag binnesypel: “Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korintiërs 11:14-15).

Geestelike voorbereiding bring geeste­like onderskeidingsvermoë voort. Die apos­tel Paulus het gesê: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie …” (2 Thessa­lonicense 2:3-4). Dit is noodsaaklik vir God se mense om daagliks te studeer en van God se Woord in te drink, om alle dinge te beproef met die Skrif as maatstaf, en God se weg toe te pas in hul persoon­like lewens (1 Thessalonicense 5:21). Sodoende word hul geestelike volwassenes “… wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Hebreërs 5:14). Gesamentlik, sal die ware Kerk van God die belangrik­heid kan waarneem van die verkondiging van die ware Evangelie van Jesus Christus aan die wêreld en die versorging van die Kerk, totdat Christus terugkom (Mattheus 24:14; 28:18-20; Markus 8:34-35).

Boonop mag God se mense nie on­kundig wees omtrent die tye waarin hulle lewe nie. Ons moet wêreldtoestande en gebeure dophou wat ooreenkom met eind­tyd­profesieë. Oorloë, hongersnode, siekte-epidemies en natuurlike rampe sal dramaties toeneem tot ’n hoogtepunt net voor die Groot Verdrukking. “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit [Christus se wederkoms] naby is, voor die deur” (Mattheus 24: 32-33). Paulus het gesê hierdie dinge gaan skielik gebeur, soos ’n dief wat in die nag toe­slaan. Tog sal God se ware Kerk wakker en gereed wees! “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ’n dief sou oorval nie” (1 Thessalonicense 5:4).

Wat ’n seëning om die Waarheid te ken en vooraf gewaarsku te wees! Dit is egter nie net wat jy weet nie, maar wat jy met daardie kennis doen, wat vir God saak maak. “Wie is dan die getroue en ver­standige dienskneg …? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind” (Mattheus 24:45-46).

Die Laaste Dae

Die apostel Paulus het die boek Hebreërs geopen deur te verduidelik dat God Homself op verskillende maniere op ver­skillende tye in eeue heen geopenbaar het, maar dat Hy Homself “in hierdie laaste dae” deur Jesus Christus geopen­baar het. Waarom het Paulus na sy eie tyd as die laaste dae verwys?

In 1 Petrus 1:20 noem Petrus dat Christus “in hier­die laaste tye” geopen­baar is. Johannes gebruik ’n soort­gelyke uitdrukking in 1 Johannes 2:18: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is”.

Die sleutel tot begrip van hierdie gebruik vind ons in die apostel Petrus se ver­duide­liking in 2 Petrus 3:7-9. In God se Plan verteen­woor­dig een letterlike dag ’n duisend jaar. Die skeppings­week van Genesis 1 is ’n model van God se tydrooster vir Sy skepping. In daardie model is ses dae toegelaat vir aktiwiteite en die laaste dag is as ’n rusdag geheilig.

Voor Jesus Christus se tyd het ongeveer 4,000 jaar van die mens se geskiedenis reeds verloop. Christus se bediening het dus gekom nádat omtrent twee-derdes van die mens se sesdag “werksweek” verstreke was. Dit was slegs twee “dae” voor God se 1,000-jaar Sabbat tydperk.

Met Jesus se eerste koms, het God se groot plan sy eerste fase betree. Soos die eerste eeue die begin van die laaste dae in God se plan aangedui het, het die twintigste eeu die sluitings­ure aangestip! As u ’n 1,5 meter muurskildering in u geestesoog kan voorstel wat die mens se geskiedenis van­af Adam tot nou toe uitbeeld, sou u vind dat ons aan die einde van die laaste senti­meter verkeer. Om die waar­heid te sê, leef ons nie net in die laaste dae nie, maar ook in die laaste halfuur!

Les 2, deel 2

God se 7,000-Jaar Plan

Het God werklik ’n chronologiese plan? Kan ons die tydsduur van daardie plan uit die Bybel verklaar? Indien wel, is daar enige manier om vas te stel waar ons vandag verkeer in die omvang van daardie plan? God het ’n patroon vir hierdie plan in die vorm van ’n sewe-dag week vasgestel. Die eerste twee hoofstukke van die Boek Genesis dui God se skeppingstydtafel aan, van ses werksdae gevolg deur ’n rusdag. Hierdie patroon is aan die mens oorgedra (Eksodus 20:8-11). Die Bybel bevat baie chronologiese inligting in sy stambome en koningslyste. Terwyl baie lesers hierdie inligting taamlik vervelig vind, dien dit dalk ’n lewensbelangrike doel? Lees verder om te verstaan.

1. Watter gesindheid het die apostel Petrus gesê sou mense in die laaste dae openbaar? 2 Petrus 3:3-4.

2. Is God onverskillig of traak-my-nie­agtig oor Sy beloftes en hul tyds­berekening, of het Hy dit werklik beplan? 2 Petrus 3:8-9. Is die “dae” in God se profetiese plan ’n 1,000 jaar lank?

3. Gaan die Messias en die heiliges vir ’n tydperk van 1,000 jaar op die aarde regeer? Openbaring 20:1-6.

4. Vergelyk Jesaja die tydperk van die Messias se heerskappy met ’n duisendjarige “rustyd” (Sabbat)? Jesaja 14:3, 7; Hebreërs 4:1-11. Gegrond op die patroon wat God in Genesis 1 openbaar, kan ons dan verwag dat ’n duisendjarige Sabbat voorafgegaan sou word deur ses “dae” wat God vir die mens gegun het?

5. [Nota: As ons wil weet hoe naby die duisendjarige Sabbat is, moet ons weet ongeveer hoeveel tyd verstreke is vanaf die skepping van die mens]. Dui Genesis 5:3-29, 7:11 vir ons aan dat 1,656 jaar verloop het vanaf die skepping van Adam en die Sondvloed van Noag se tyd? (Nota: Genesis 5:3 wys vir ons dat Adam 130 was toe Set gebore is. Tel die ouderdom van elke aartsvader ten tye van sy seun se geboorte op, plus Noag se ouder­dom ten tye van die Vloed).

6. Wys Genesis 11:10-32 vir ons dat 427 jaar verloop het tussen die Vloed en die dood van Tera, toe Abram Haran verlaat het (verg. Handelinge 7:4). Was Abram 75 jaar oud toe hy Haran verlaat het? Genesis 12:4.

7. Hoe oud was Abraham toe God die verbond van die besnydenis met hom gesluit het? Genesis 17:1-10. Was dit 24 jaar nadat hy Haran verlaat het? (Nota: ’n Sorgvuldige vergelyking van Genesis 12:4 met Genesis 17:1 sal Abraham se ouderdom ten tye van die verbond openbaar).

8. Hoeveel jaar het, volgens Galasiërs 3:16-17, verloop tussen die tyd van die verbond met Abraham en die Sinai verbond, wat in die jaar van die Eksodus – die uittog uit Egipte, was? (Verg. Eksodus 12:40).

9. Hoeveel jaar was daar tussen die Eksodus en die vierde jaar van Koning Salomo toe daar met die aan­bou van die tempel begin is? 1 Konings 6:1. (Nota: Deur middel van wêreldgeskiedenis opskrywings, be­reken meeste geleerdes dat die vierde jaar van Salomo ongeveer 966 v.C. was).

10. As u nou die syfers 1,656 + 427 + 24 + 430 + 480 + 966 bymekaar tel, watter jaar v.C. was naastenby dié van Adam se skepping? Bewys dit dan nie dat 6,000 jaar binnekort verstreke sal wees nie?

Les 2, deel 3

Jerusalem: Fokuspunt van God se Aandag

Een stad staan bo alle ander uit as die fokuspunt van Bybelprofesie – die stad Jerusalem. Jerusalem is uniek want dit is so jonk as vandag se koerantopskrifte en so oud as die boek van Genesis. ’n Stad wat dikwels in sy lang geskiedenis verslaan en verwoes is, maar altyd weer herbou is. Jerusalem het vir ’n paar eeue ’n agterplekkie ingeneem op die verhoog van wêreld-geopolitiek. In ons geslag het dit egter na vore getree tot die middel-verhoog. Om behoorlik te verstaan waarom dít skielik gebeur het, is dit nodig vir ons om die rol wat die Stad Jerusalem as vernaamste speler deur die eeue gespeel het, van nader te ondersoek.

1. Het God Jerusalem reeds in Abraham se tyd al gebruik as ’n sentrale punt vanwaar Sy weë geleer is? Genesis 14:18-20. (Nota: Alle Bybelkommentare erken dat Salem die antieke naam van Jerusalem was. Die vroeë geskiedenis is ietwat duister. Geskiedkundige ver­wysings dui aan dat die stad reeds baie jare bestaan het voordat die Israeliete deur Josua Kanaän binnegelei is. Die stad het eers bekend gestaan as Urusalim, of “Stad van Salim” of “Stad van Vrede”).

2. Het Koning Dawid Jerusalem van die Jebusiete verower en dit die hoofstad van die twaalf stamme van Israel gemaak? 2 Samuel 5:4-7.

3. Het Koning Dawid die ark van die Getuienis (of Verbondsark), die simbool van God se teenwoordigheid, na Jeru­salem verskuif? 1 Kronieke 15:3, 16:1. (Nota: Die ark was die brandpunt van aanbidding vir die Israeliete sedert Moses se tyd. Die ark het die Getuienis (die Wet) bevat, en het ook gedien as die versoendeksel waar God vir Moses ontmoet en met hom gepraat het in die tabernakel. In Koning Dawid se dae is die ark in Kirjat-Jeárim gehou. Koning Dawid het die ark na Jerusalem gebring waar dit in ’n tent gehou is totdat sy seun Salomo dit later in die Allerheiligste van die tempel geplaas het).

4. Het Dawid begeer om vir God ’n Huis te bou? Vir wie het God toegelaat om Sy tempel te bou? 1 Kronieke 17:1-4, 11-12, 28:2-6, 11-12.

5. Wat het God vir Salomo van die tempel in Jerusalem vertel ten tye van die toewyding daarvan? 2 Kronieke 7:12, 16, 19-22.

6. Het God in die antieke tyd toegelaat dat Jerusalem vernietig word as gevolg van die nasie se sondes? 2 Kronieke 36:14-19. (Nota: Die verwoesting van Jerusalem het gevolg nadat Koning Sedekia en die volk van Juda herhaal­delik waarskuwings deur Jeremia en ander profete geïgnoreer het. God se oordeel en vernietiging van Jerusalem het die dood van baie en die balling­skap van die hele nasie tot gevolg gehad. Sien 2 Konings 25).

7. Is die stad herbou? Wat van die tempel? 2 Kronieke 36:22-23; Jesaja 44:24-28.

8. Wat het Jesus Christus kort voor die einde van Sy bediening oor Jerusalem gesê? Mattheus 23:37-38.

9. Is Jesus Christus in Jerusalem gekruisig? Mattheus 27:31-33; Lukas 24:18-20.

10. Het Hy terug opgevaar na die Hemel vanaf die Olyfberg net buite Jerusalem se stadsmure? Is dit na die Olyfberg waarheen Hy in die toekoms weer gaan terugkeer? Handelinge 1:9-12; Sagaria 14:3-4.

Jerusalem: ’n Historiese Oorsig
’n Stad wat deur eeue van eindelose konflik in bloed gebad is, wag op sy profetiese lotsbestemming

c. 1895 v.C. – Melgisédek, Koning van Salem, seën vir Abram en ontvang sy tiendes (Genesis 14:18-20).

c. 1850 v.C. – God beveel Abraham om Isak na die land Moria te neem en hom daar te offer as ’n brandoffer. Later voorsien God ’n ram om as offer te dien in plaas van Isak (Genesis 22:2-13).

c. 1406 v.C. – Josua verslaan Adóni-Sedek, koning van Jerusalem (Josua 10:1-5, 23-26). Die Jebusiete behou sekere dele van die stad (Josua 15:63).

c. 1380 v.C. – Juda verslaan en ver­brand Kanaänitiese Jerusalem (Rigters 1:8).

c. 1000 v.C. – Koning Dawid neem Jerusalem in (2 Samuel 5:6-9) waarná die bergvesting die stad van Dawid genoem word. Jerusalem word die hoofstad van die hele Israel. ’n Aantal jare later kies God die dorsvloer van Arauna, langsaan die stad van Dawid, as die plek waar Dawid brandoffers en dankoffers moes bring om die plaag van Israel af te wend (2 Samuel 24:16). Hierdie sou die toekomstige ligging van God se tempel wees.

c. 966 v.C. – Salomo begin die tempel bou in die vierde jaar van sy regering as koning van Israel (1 Konings 6:1).

c. 925 v.C. – Sisak, die koning van Egipte, trek teen Jerusalem op en veg teen Rehábeam. Die tempelskatte word buit­gemaak (1 Konings 14:25, 26).

c. 775 v.C. – Joas, die koning van Israel, val vir Amásia, die koning van Juda, aan. ’n Gedeelte van die muur is afgebreek en die tempel geplunder (2 Konings 14:13-14).

586 v.C. – Koning Nebukadnésar verslaan en vernietig Jerusalem en die tempel (2 Konings 25:8-10).

539 v.C. – Koning Kores van Persië verslaan Babilon. Hy het later die Joodse ballinge toegelaat om na Jerusalem terug te keer om die tempel te herbou (2 Kronieke 36:22-23).

458-57 v.C. – Die Persiese koning Artasásta reik in sy sewende regeringsjaar ’n dekreet uit om die herbou van Jerusalem se mure toe te laat. Esra keer terug na Jerusalem vanaf Babel met die Boek van die Wet van God (Esra 7:1, 6-8).

332 v.C. – Alexander die Grote voeg Jerusalem by sy Griekse ryk en die volgende jaar verslaan hy Persië geheel en al.

312 v.C. – Nadat Alexander se ryk ver­krummel het, maak een van sy voormalige generaals, Ptolemeus I, Palestina deel van sy Egiptiese ryk.

198 v.C. – Antiochus II, afstammeling van nog een van Alexander se generaals, neem Palestina van Egipte af en maak dit deel van sy Seleucidiese koninkryk van Sirië.

167 v.C. – Antiochus IV (Epiphanes), reik ’n dekreet uit wat die onderhouding van God se Wet verbied. Die Gruwel van Verwoesting word kort daarna opgerig.

164 v.C. – Die Siriërs word deur die Makkabeërs verslaan en die Tempel word hertoegewy. Heerskappy word uiteindelik oor Jerusalem, Samaria, Juda en Galiléa uitgebrei.

63 v.C. – Pompejus verslaan Jerusalem en maak dit deel van die Romeinse Ryk.

37 v.C. – Herodes die Grote aanvaar koning­skap in Jerusalem.

31 n.C. – Kruisiging en opstanding van Jesus Christus en die begin van die Kerk­tydperk.

70 n.C. – Tweede tempel word deur die Romeine vernietig. Die westerse muur (“Klaagmuur”) bly oor.

135 – Simon Bar Kokhba se opstand teen Romeinse oorheersing word onder­druk met ’n lewensverlies van 500,000 tot gevolg. Keiser Hadrian verban die Jode uit Jerusalem. Die stad word tot Aelia Capitolina hernoem.

332 – Keiser Konstantyn begin met die oprigting van Christelike aanlegte in Jerusalem.

614 – Persië verower Jerusalem, wat ’n slagting van 35,000 mense tot gevolg het, en die verwoesting van kerkgeboue.

638 – Ses jaar na Mohammed se dood, neem Moslems Jerusalem oor.

691 – Die Rotskoepel word gebou.

1071 – Die Seldjoekse Turke neem vir ’n kort rukkie bevel van Jerusalem.

1099 – Die Kruistogtydperk begin met grootskaalse slagting van plaaslike Jode en Moslems. Jerusalem word gevestig as die hoofstad van die Kruistogkoninkryk.

1187 – Saladin, Ayyubid Sultan van Egipte, herverower Jerusalem.

1244 – Mongole plunder Jerusalem.

1260 – Nadat die Mongole verslaan is, word Jerusalem deur die Egiptiese Mamluk koninkryk beheer.

1516 – Die Ottomaanse Ryk verslaan die Mamluke, en neem beheer van Palestina en Jerusalem oor.

1917 – Die Britse regering reik die Balfour Verklaring uit waarin die beleid om ’n Joodse tuisland in Palestina te vestig, verklaar word. Die Britse leër onder bevel van Generaal Allenby verslaan die Turke en gaan Jerusalem binne.

1947 – Die Verenigde Volke verdeel Jerusalem. Die stad word tussen Arabiese en Joodse beheer verdeel.

1948 – Israel word op 6 Mei ’n on­afhanklike nasie, wat homself suksesvol verdedig teen die aanval deur die Arabiese Bondgenote.

1967 – Gedurende die Sesdaagse Oorlog verower Israel Jerusalem in geheel, en plaas dit vir die eerste keer sedert die Romeinse verwoesting in 70 n.C., onder Joodse heerskappy.

Les 2, deel 4

Jerusalem: Brandpunt van die Eindtyd

Jerusalem was nie alleen die brandpunt van God se aandag deur die eeue heen nie, maar is ook die middelpunt van eindtydse profetiese gebeure. Na eeue van relatiewe duisterheid, is Jerusalem in die nasleep van die 1967 Sesdaagse Oorlog weer na vore gestoot tot op die wêreld se middel-verhoog, toe dit weer vir die eerste keer sedert 70 n.C. onder Joodse heerskappy gekom het.

1. Alhoewel die Jode vir byna 1,900 jaar vanuit Jerusalem verstrooi is, hét God een van Sy profete van ouds geïnspi­reer om te openbaar dat die Jode in die eindtyd weereens in Jerusalem sou wees? Sagaria 12:2, 5-6. (Nota: Daar is al baie geskryf oor die skepping van die staat van Israel in 1948 in verband met vervulde profesie. Baie skrywers het Skrifture uit Jesaja en Eségiël verkeerd toege­pas. Daar was nog altyd mense uit die Stam van Juda in Palestina en Jerusalem, selfs voordat Israel ’n on­afhanklike nasie geword het. Hierdie profesie in Sagaria dui aan dat Juda ’n wesenlike teenwoordigheid in Jerusalem sou hê in die tyd van die einde).

2. Het Christus gesê dat die Gruwel van Verwoesting waarvan die profeet Daniël gepraat het ’n eindtydse vervulling sou hê? Mattheus 24:15-16. Het hierdie “gruwel” te doen met die afskaffing van daaglikse offers? Daniël 12:11. Beteken dit dat daar ’n herinstelling van tempeloffers gaan wees, aangesien hulle vanself­sprekend eers moet begin voordat hulle afgeskaf kan word?

3. Sal Jerusalem die middelpunt wees van die aktiwiteite van God se twee hoof eindtydse dienaars, die twee getuies? Openbaring 11:1-8.

4. Openbaar God dat Jerusalem in die eindtyd ’n brandpunt van wêreld-geopolitiese aktiwiteit sou wees? Sagaria 12:3.

5. Sal leërs wat Jerusalem omsingel ’n teken wees vir Christus se eindtydse dissipels? Lukas 21:20-22.

6. Gaan ’n multi-nasionale leër uit­eindelik saamtrek om teen Jerusalem oorlog te voer? Sagaria 14:1-2.

7. Wat sal die gevolg van hierdie stryd wees? Sagaria 14:3, 9, 11.

8. Is Jerusalem bestem om die wêreld se hoofstad te wees ná die wederkoms van Jesus Christus? Jesaja 2:2-3; Sagaria 8:1-3.

9. As die duisend jaar eers verby is, sál Jerusalem herskep word en die woon­plek van God Self word? Openbaring 21:2-3, 10-11, 22-23.

Die Gruwel van Verwoesting

In Mattheus 24:15 het Jesus Christus na “die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël” verwys as ’n teken wat die begin van die opeenvolging van eindtydse gebeur­tenisse sou aanwys. Lukas 21:20 verbind hierdie gebeurtenis met die om­singeling van Jerusalem deur leërs.

Toe Jesus egter in die eerste eeu hierdie woorde tot Sy dissipels gespreek het, was dit reeds byna 200 jaar ná ’n vorige historiese gebeurtenis waarna die Jode algemeen verwys het as die Gruwel van Verwoesting.

Daniël het in drie hoofstukke, Daniël 8, 11 en 12, geprofeteer oor ’n “gruwel”. Veral in hoofstukke 8 en 11, vloei daar ’n historiese stroom deur die konteks wat die gruwel met gebeure verbind wat ongeveer twee eeue voor die tyd van Christus se bediening plaasgevind het. Daniël 12 koppel die gruwel met gebeure wat die glorie­ryke koms van die Messias direk voor­afgaan.

In beide hoofstukke 8 en 11 is Daniël ’n opeenvolging van geskiedkundige ge­beure gewys wat met die Persiese Ryk van sy tyd begin het en voortgegaan het tot in die toekoms. Dit is aan hom openbaar dat ’n magtige koning van Griekeland, Persië sou verslaan, maar kort daarna sou sterf en dat sy ryk onder vier van sy generaals verdeel sou word (Daniël 8:2-8, 20-22; 11:1-4). Uit die geskiedenis weet ons dat dit net so gebeur het met Alexander die Grote se verwoesting van die Persiese Ryk in 331 v.C. en sy dood in 323 v.C.

Alhoewel vier van Alexander se gene­raals sy ryk onder mekaar verdeel het, word slegs die koninkryke van Seleucus noord van Jerusalem en Ptolemeus suid van Jerusalem, verder in die Bybelse verhaal verbeeld. Slegs hierdie twee het voortgesette interaksie met Jerusalem en die volk van God gehad.

Daniël 8 beskryf die vier opvolgende koninkryke van Alexander se Griekse ryk as “vier horings” en verwys na ’n “klein” horinkie wat uit een van hierdie koninkryke sou kom en “die voortdurende offer” in die tempel sou afskaf (verse 9, 11). Daniël 11 verwys na “’n veragtelike” wat die troon van die noordelike Seleucidiese koninkryk op listige wyse sou bestyg. Hy sou ook later die land Palestina binnegaan en die daaglikse offers in die tempel beëindig (verse 21, 31). Tesame met die afskaffing van die daaglikse offers, is daar ook voorspel dat hy ’n gruwel sou oprig wat sou verwoes.

Die historiese vervulling van hierdie gebeurtenis is ongeveer 150 jaar voor die geboorte van Christus in ’n geskied­kundige opskrywing van daardie tydperk beskryf. Hoewel dit nie deel van die Skrif is of ooit bedoel was om te wees nie, ver­skaf dit ’n juiste geskiedenis van die tyd­perk. Hierdie boek is 1 Makkabeërs en dit bied ’n ooggetuieverslag van die vervulling van die gebeure wat Daniël voorspel het meer as 370 jaar voor hulle plaasgevind het:

“Dus het Alexander vir twaalf jaar regeer, en toe gesterf. En sy dienaars het die heerskappy gehandhaaf, elkeen in sy plek … En daar het uit een van hulle ’n bose wortel voortgekom, Antiochus wie se van Epiphanes was … Verder het koning Antiochus vir sy hele koninkryk geskryf dat almal een volk moes wees, en dat elkeen sy wette moes laat vaar … die koning het boodskappers met briewe na Jerusalem en die stede van Juda gestuur dat hulle vreemde wette van die land moes eerbiedig, en hy het brandoffers en offerandes verbied, asook drankoffers, in die tempel; en dat hulle die sabbatte en feesdae moes onteer … Toe het hulle op die vyftiende dag van die maand Casleu, in die eenhonderd-vyf-en-veertigste jaar (167 v.C.) die gruwel van verwoesting op die altaar opgerig, en afgode-altare dwarsdeur die stede van Juda gebou, aan elke kant” (Makkabeërs 1:7, 10, 41-42, 44-45, 54).

Antiochus Epiphanes is duidelik gebruik as ’n historiese uitbeelding (tipe) van die eindtydse Dier van Openbaring. Hy het deur slinkse strategie die kroon bekom waarvan sy nefie die wettige troonopvolger was. Daniël beskryf hom as “’n veragtelike” persoon wat Alexander se droom van “een wêreld” begin nastreef het. Hy het die Jode beskou as die hoof hindernis in sy planne vir wêreldeenheid. Hulle wat die wet onder­hou het, het vasberade aan hul identiteit vasgeklou, alhoewel daar baie was wat bereid was om die God van Israel te versaak sodat hulle deur die same­lewing om hulle aanvaar sou word.

Antiochus het in 167 v.C. ’n dekreet uitgereik wat alle verdere offerandes aan die God van Israel in die Jerusalem tempel verbied het. Vroeg in Desember het hy ’n beeld van Jupiter Olimpus in die tempel opgerig en toekomstige aanbidding moes tot hierdie afgod gerig word. Hierdie gebeure het die Makkabeër Opstand van stapel gestuur wat die neerlaag van die Siriërs tot gevolg gehad het en die reiniging van die tempel drie jaar later, in Desember 164 v.C. ’n Nuwe altaar is opgerig en die tempel is hertoegewy aan die God van Israel. Hierdie gebeurtenis is deur die Jode herdenk as ’n nasionale vakansiedag, die Fees van die Tempel­wyding (Hanukkah in Hebreeus), en Jesus self het dit erken.

Geskiedkundig, het die Jode van Jesus se dag die Gruwel van Verwoesting herken wat twee eeue voorheen deur Antiochus Epiphanes opgerig is. Dit het die afskaf­fing van daaglikse offers in die tempel behels en die oprigting van ’n afgod as die nuwe voorwerp van aanbidding. Dit het gepaard gegaan met proklamasies wat beide die onderhouding van God se wet en die besit van ’n afskrif van die Skrifte as onwettig verklaar het.

Jesus het dit baie duidelik aan Sy dissipels gestel dat die gruwel waarvan Daniël gepraat het, nie eenvoudig ’n geskied­kundige kwessie was nie. Die gruwel van Antiochus se dag was, in werklikheid, ’n tipe voorloper van ’n eindtydse gebeurtenis wat Sy wederkoms om die Koninkryk van God op hierdie aarde te kom vestig, sou voor­afgaan.

Noudat ons gesien het wat die Bybel ons leer rakende die “laaste dae” net voor Christus se wederkoms, sal dit duidelik wees dat die Bybelprofesie ryk is aan inligting wat ons kan help om God se Plan te verstaan vir ons elkeen individueel asook vir die wêreld. Ons gaan nog meer hierop uitbrei in Les Drie van hierdie Bybelstudiekursus: Kan u Bybelprofesie Verstaan?

Laai af in PDF (149 KB) | Bestel GRATIS Subskripsie
Geliewe daarop te let dat genoemde boekies nie by El-Roi beskikbaar is nie, maar dat u dit direk kan bestel vanaf
Die Lewende Kerk van God of u kan die PDF dokument aflaai indien beskikbaar. Baie Dankie.

522total visits,3visits today

Kategoriee

Advertensie

Advertensie