The God Who Sees

Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid Afrika?


Wat  lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid Afrika?


INHOUD
Voorwoord : Die verlore Sleutel Weer Gevind
Esegiël se Dramatiese Visioen
Beloftes van Weleer Word Gemaak
Israel se Gevangenskap en Verlore Identiteit
Die Geboorteregbeloftes Word Vervul
Wat Lê Voor vir Ons Nasies?


Voorwoord: Die Verlore Sleutel – Weer Gevind!
Wat hou die toekoms in vir die wêreld se Engels­sprekende volkere en hul afstammelinge? Wat lê werklik op die horison in die toekoms van Amerika, Brittanje, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika? Staatshoofde weet nie. Vooraanstaande ontleders van buitelandse sake weet nie. Nog minder weet die oorgrote meerderheid nuusredakteurs en nuusverkondigers. Maar U kan weet!

Verstommend? Absoluut, maar dis waar!

Hoe kan u weet? Die antwoorde op die grootste vrae in die lewe, insluitend wat die toekoms inhou, word gevind in die Boek wat steeds die treffer van die wêreld bly – die Bybel. Meer as ’n kwart van die Bybel is profesie, waarvan die meeste vir ons dag, en daarna, bedoel is.

Hoe kan u hierdie profesieë verstaan? Moontlik die belangrikste sleutel om die geheim van Bybel­profesie oop te sluit, gaan u net hier in hierdie boekie vind.

Daar word direk na nasies soos Egipte en Ethiopië verwys in u Bybel. Wat dan van die groot nasies wat die hoofrolle in die wêreldtoneel speel? Is dit moont­lik dat eindtydprofesieë sou swyg oor die Verenigde State en Brittanje, en die volke van Britse afkoms in die Gemene­bes-lande?

Die belangrike sleutel om baie Bybelprofesieë oop te sluit, is die kennis van die ware identiteit van die Engels­sprekende volkere in die wêreld. Hierdie volke word in die Bybel geïdentifiseer deur die naam van hulle voorvader van ouds. Wie is daardie ou voor­vader, en kan u dit be­wys?

Hoe het dit gebeur dat die nasies wat afstam­melinge van die Britte is, die rykste dele van die aardbol besit? Waarom het hulle ongeëwenaarde rykdom en mag? Ná die jaar 1800, het Brittanje en Amerika duidelik die 19de en 20ste eeue oorheers. Maar wat van die 21ste eeu? Sal die Engels­sprekende nasies voortgaan om ’n hoofrol te speel, of kom daar ’n verandering? Dit is lewensbelangrik dat u verstaan wat die toekoms vir u en u gesin inhou. Die gebeure van die volgende paar jaar gaan die deskundiges absoluut dronkslaan. Maar u kan weet as u weet hoe om die verlore sleutel te gebruik wat profesie verstaanbaar maak.

Alhoewel daar in die afgelope paar jaar baie geskryf is oor Bybelprofesie, was meeste daarvan tevergeefs omdat skrywers nie die nodige sleutel van Bybelprofesie geken het nie!

Eenvoudig gestel – meeste Ou Testamentiese profesieë is aan die Huis van Israel gerig. Meeste Bybelverklaar­ders snap dit nie, omdat hulle verkeer­de­lik aanvaar dat alle profetiese verwysings na Israel op die Joodse volk en die Joodse staat in die Midde-Ooste betrekking het. Hulle ken nie die hedendaagse identiteit van antieke Israel se nasate nie. Tog is hierdie kennis maklik bekombaar want dit is duidelik in sekulêre geskiedenis sowel as die Bybel opge­teken.

Alhoewel die Joodse staat en die stad Jerusalem beslis ’n belangrike rol in eindtydprofesieë speel, is alle Israeliete nie Jode nie. Die ou stamvader Jakob, wie se naam na Israel verander is, was die vader van 12 seuns. Een van daardie seuns, Juda, was die stamvader van die Joodse volk. Wat het van die nasate van die ander seuns geword?

Toe die 12 stamme na die Beloofde Land teruggekeer het ná hulle Egiptiese ballingskap, is hulle almal in ver­skillende landstreke gevestig. Uiteindelik is die stamme in twee koninkryke verdeel. Die suidelike koninkryk, Juda, is saamgestel uit die stamme van Juda, Benjamin en meeste van die Leviete. Die oorblywende tien stamme het die noordelike koninkryk gevorm, bekend as Israel.

Na ’n beleg van drie jaar is Israel se hoofstad, Sama­ria, in 721 v.C. deur die Assiriërs verslaan. Hulle het begin met ’n stelselmatige wegvoering van die Israeliete na die gebied noord van die Eufraat­rivier, geleë tussen die Swart See en die Kaspiese See (2 Konings 17).

Nadat hulle Israel ingeneem het, het die Assiriërs later teen Juda, die suidelike koninkryk, opgeruk. Koning Hiskia, wat op daardie tyd op die troon in Jerusalem was, het hom in diepe ootmoed tot God gewend en op Hom vertrou. Gevolglik het God ingegryp en ’n engel gestuur om die Assiriese leër van Koning Sánherib in 701 v.C. te vernietig. Nadat Juda op hierdie wyse uitgespaar is, het dit ongeveer ’n eeu geduur voordat hulle onafhanklik­heid weer bedreig is.

Toe het die Babiloniërs Juda in 604 v.C. binnegeval onder leiding van Koning Nebukadnésar en teen Jerusa­lem opgeruk. Juda is gevolglik ge­dwing om ’n skatplig­tige staat in die Babiloniese Ryk te word. Toe Nebukad­nésar in 597 v.C. terugkeer, het hy Juda se Koning Jójagin gevange geneem en vir Sedekia in sy plek koning gemaak. Maar Nebukadnésar was ontevrede met Sedekia se gedrag, en het omtrent tien jaar later teruggekeer en Jerusalem heeltemal vernietig. Hy het die tempel ver­­brand en meeste van die Joodse bevolking gevange geneem en na Babilon weggevoer.

Uiteindelik, in die herfs van 539 v.C., is Babilon deur die Persiese leërs van Kores die Grote ver­slaan. Kort daarna het Kores ’n dekreet uitgereik wat die Jode toegelaat het om van Babilon terug te keer en hulle tempel in Jerusalem te herbou onder leiding van Serubábbel.

Die “Verlore” Tien Stamme

Maar – hier is die kernpunt wat meeste mense miskyk: DIE NOORDELIKE TIEN STAMME HET NOOIT UIT HULLE BALLINGSKAP TERUG­GE­KEER NIE! Hulle was gevestig in ’n gebied honderde kilometers ver van die plek waarheen die Jode meer as ’n eeu later weggevoer is. Die tien stamme van Israel het geheel en al afsonderlik en apart van die Jode gebly.

Wat het van die tien stamme van Israel geword? In die geskiedenis word hulle die “verlore tien stamme” genoem. Waar het hulle heen gegaan? Die antwoord op daardie vraag is een van die boeiendste verhale in die geskiede­nis. Trouens, die antwoord op daardie geheim is in werk­likheid die sleutel wat meeste van die Ou Testamentiese profesieë oop­sluit!

Soos u dalk kon raai, die identiteit en ligging van hierdie ou volke openbaar wie ons is in Amerika, Kanada, Brittanje, Australië, Nieu-Seeland, en die Britse afstam­melinge in Suid-Afrika. Dit verklaar waar­om ons sulke nasionale grootheid bereik het en wat met ons gaan gebeur nader aan die einde van hierdie tydvak!

Die kennis van die identiteit van antieke Israel se nasate word geopenbaar deur ’n deeglike ondersoek van die Skrif tesame met optekeninge van sekulêre geskiedenis. Die hoogste geleerde leiers van ons moderne wêreld is blind vir die ware feite van hierdie saak. Hulle is verblind deur die teorie van evolusie en verwerp die toepaslikheid van die Bybel in die moderne tyd. Die gevolg is dat hulle die verbasende verhaal miskyk wat in die Skrif uiteengesit is en die toepaslikheid daarvan op ons toekoms.

Meeste godsdiensleiers verkeer in dieselfde kategorie. Selfs húlle wat bely dat hulle die gesag van die Bybel erken, is verblind deur die vooroordeel van hulle kerklike tradisies.

Dit is egter nie net ’n kwessie van antieke Ge­skiedenis nie! U toekoms, u familie se toekoms, sowel as die toekoms van u nasie, hang van die antwoord af! Waar is die “verlore tien stamme” van Israel vandag? Soos ons sal sien, is hierdie verlore sleutel vir die ontsluiting van Bybelprofesie gevind!



Eségiël se Dramatiese Visioen
Naby die suid-Mesopotamiese stad Babilon het ’n jong Joodse gevangene op die oewer van ’n rivier gestaan. Hy was een van die duisende Jode wat vier jaar vantevore uit hul tuisland weggevoer is deur die Babiloniese leërs van Koning Nebukadnésar.

Hier, in sy vyfde jaar van ballingskap, het die 30-jarige priester Eségiël opgekyk en ’n merkwaardige gesig gesien. Dit het eers gelyk soos ’n stormwind wat uit die noorde aankom, maar toe hy stip daarna kyk, sien hy dat dit geen gewone naderende storm was nie. ’n Vuurglans het die groot wolk omring, en skitterende, blink flitse het daaruit gestraal. Toe die merkwaardige gloeiende storm­wolk nader beweeg, kon Eségiël vorms daarin identifiseer.

Eers het hy vier engelwesens van vreemde voorkoms gesien. Hulle het in die algemeen soos ’n mens gelyk, maar het elk vier vlerke en vier gesigte gehad, en het soos weerligblitse beweeg. Terwyl hy daarna staar, sien hy tollende wiele langs elkeen van die wesens. Bo-oor hulle hoofde was ’n kristal uitspansel.

Die hele toneel het nog nader gekom, en Eségiël kon ’n stralende liggloed sien wat bokant die kristal uitspan­sel uitstraal. Binne in hierdie helder lig was die vorm van ’n troon en ’n Wese wat daarop sit. “So het die verskyning van die heerlikheid van die Here gelyk”, sê Eségiël in hoofstuk 1:28. Hy het toe onmiddellik op sy aangesig geval.

Skielik het ’n stem van die troon af gekom en Eségiël beveel om op te staan. Die God van Israel het hom toe ’n opdrag begin gee. Hy is as wag oor die Huis van Israel aangestel (Eségiël 2:3; 33:7).

Hierdie ontsagwekkende vertoning van heerlikheid en majesteit het Eségiël met ’n diep indruk van die belang­rikheid van sy taak gelaat. Daar moes inderdaad ’n baie belangrike doel gewees het vir God om Homself op so ’n dramatiese wyse te open­baar.

Eségiël se Opdrag

Let op dat Eségiël as ’n wag aangestel is – nie oor sy eie volk, die Huis van Juda nie – maar oor die noordelike tien stamme van die Huis van Israel! Juda was op daardie tydstip slegs gedeeltelik in gevangenskap; die verwoesting van Jerusalem het nog etlike jare ver in die toekoms gelê. Maar die Huis van Israel was meer as 120 jaar vantevore na ’n vreemde land weggevoer, honderde kilometers van Eségiël af. Wat sou tog die nut wees om daardie mense wat alreeds gevangenes was, te waarsku teen ’n naderende inval en gevangenskap?

Dit is duidelik dat Eségiël se boodskap dus nie vir die Israel van sy dag was nie! God se waarskuwing oor ’n komende straf was nie meer as ’n eeu laat nie! Dit sou hoegenaamd geen sin maak nie. Eségiël het nooit ’n geleentheid gehad om sy boodskap persoonlik aan die Huis van Israel te lewer nie. Ons kan dus sien dat sy boodskap vir die eindtyd bedoel was en opgeteken en bewaar is om vandag deur God se getroue dienaars oorgedra te word!

God het Eségiël aangestel as ’n wag. Wat presies is ’n wag? In die ou tyd was dit gebruiklik om iemand in ’n hoë toring bo-op die stadsmuur te plaas om te dien as ’n uitkyker vir naderende gevaar. Dit was die wag se taak om oplettend en waaksaam te wees terwyl hy voort­durend die horison bespied vir tekens van naderende vyande. Sodra hy ’n aanduiding van ’n vyand se aantog gewaar, moes hy alarm maak met ’n trompetgeskal.

Met dieselfde erns het God dit op Eségiël se hart gelê dat, as hy nie die alarm blaas soos God voorgeskryf het nie, en onheil die mense onverhoeds oorval, sou God hulle bloed van sy hande eis. Aan die ander kant, sou hy die alarm geblaas het maar die mense versuim het om te reageer, sou hulle die verantwoordelikheid self dra, en Eségiël sou on­skul­dig wees (Eségiël 33:9).

Die Huis van Israel in Eségiël se tyd was alreeds in gevangenskap. Die geslag wat in ballingskap weggevoer is, het meer as ’n eeu vroeër ’n finale waarskuwing ontvang deur die gesante van getroue Koning Hiskia van Juda (2 Kronieke 30:1-12). Slegs ’n paar het reageer; die nasie as geheel het die waarskuwings afgelag, en die hele Israel is in ballingskap weggevoer. Dit was meer as ’n eeu later dat ’n soortgelyke lewensbelangrike bood­skap aan Eségiël gegee is.

Die gebeure wat binnekort in Jerusalem en Juda sou plaasvind, sou ’n “teken” wees vir die Huis van Israel (Eségiël 4:3). Eségiël se waarskuwings was vir Israel in die eindtyd bedoel. Trouens, ons word gesê dat die waar­skuwings gehoor sou word naby die dag van die Here (Eségiël 7:19; 13:5; 30:1-3), die dag van God se ingryping aan die einde van hierdie wêreld soos ons dit ken. Ander profesieë in Eségiël wys op die herversameling na die koms van die Messias. Hierdie is die tyd wanneer Koning Dawid van ouds opgewek sal word tot koning vir ewig (Eségiël 37:21-25). Dis duidelik dat dít plaasvind met die opstanding van die heiliges, wat voorspel is om te gebeur met Jesus Christus se wederkoms na hierdie aarde toe, in krag en heerlikheid (1 Korintiërs 15:50-53; 1 Thessalonicense 4:16).

Eségiël se dramatiese visioen hou groot betekenis in vir ons vandag. Dit benadruk vir ons die erns en belang­rikheid van die opdrag wat God hom gegee het. In erkenning hiervan, is dit lewensbelangrik om duidelik te verstaan waar die nakomelinge van die Huis van antieke Israel in vandag se wêreld is. As ons eers hul identiteit vasge­stel het, moet ons die inhoud van Eségiël se dringende boodskap met hulle deel.

Eségiël se boodskap is ’n boodskap van aanklag van sonde, ’n oproep tot bekering, en ’n belofte van toekoms­tige verlossing en herstelling. Terwyl dit aan die een kant ’n boodskap van die ontsettend ernstige waarskuwing van God se naderende oordeel is, is dit aan die ander kant ook ’n boodskap van glorieryke hoop vir die toekoms. Dit bevat in der waarheid die enigste ware hoop wat daar vir ons nasies is. Die Engelssprekende nasies en hul nasate het hulle sede-kompas verloor en het skynbaar verdwaal in die wêreld. Omring deur ernstige probleme en uitdagings tuis en oorsee, ontbreek beide die wysheid en die wil om te reageer by ons volke.

Die Amerikaanse en Britse volke het van hulle hoogte­punt van wêreldmag na afloop van die Tweede Wêreld­oorlog geval en ondervind steeds toenemende uitdagings in die na-oorlogse wêreld. Maar wat erger is as die uitdagings op die wêreldtoneel, is die sedelike ineen­storting van binne.

Te midde van materiële welvaart is ons omring deur sedelike armoede! Daar lê uitdagings voor in die onmiddellike toekoms waarvan ons leiers en ons volke nooit eens droom nie.

Hoe kan u vir seker weet dat die Bybelprofesieë oor Israel hoofsaaklik verband hou met die Amerikaanse en Britse volke en hulle verwante nasies? Wat voorspel daardie profesieë regtig vir u toekoms? Lees verder vir die verbasende antwoorde op hierdie, en ander vrae.

Die Noordelike en Suidelike Koninkryke



Beloftes van Weleer Word Gemaak
 

In Genesis 11:26-32 ontmoet ons vir Abram, wie se naam later na Abraham verander is. Die res van die Bybel spruit uit God se handelinge met hom en die beloftes wat Hy aan Abraham en sy nasate gemaak het. Die beloftes aan Abraham is die grondslag van byna alle toekomstige Bybelprofesieë!

Abram is uit ’n familie gebore wat in Ur van die Chaldeërs gewoon het, ’n stad in Suid-Mesopotamië naby antieke Babilon. Ná die dood van een van sy broers, het Abram, sy vader en ander familielede ’n paar honderd kilometers daarvandaan na die noorde­like Eufraat stad Haran getrek. Daarna is Abram se vader, Tera, dood en begrawe. Toe sê God vir Abram, op die ouderdom van 75, om die res van sy familie te verlaat en na ’n land te gaan wat Hy hom sou wys. Hy het belowe om van hom ’n groot nasie te maak.

Die belofte wat oorspronklik in Genesis 12 gegee is, is taamlik vaag. Dit bestaan eenvoudig uit ’n onomskrewe land wat Abram en sy familie later as erfenis sou ont­vang. Deur die res van Genesis lees ons ’n merkwaardige verhaal van die ontvouing van die beloftes deur God gemaak.

Ontvouing van die Belofte aan Abraham

In Genesis 12:1-3 het ons die opskrywing van die eerste beloftes wat God aan Abram gemaak het. God het hom gesê Hy sou van hom “’n groot nasie maak”, dat hy geseën sou wees, dat in hom “al die geslagte van die aarde geseën” sou word, en God sou “seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (vers 3).

Nadat Abram, sy vrou en sy broerskind Lot in die land Kanaän aangekom het, het ’n voorval plaas­gevind na aanleiding waarvan God die beloftes verder verklaar het. Abram en Lot het albei groot troppe kuddes gehad, en twis het onder hulle herders ontstaan oor weidingsregte. Abram het die geskil ontlont deur die keuse van weiland aan Lot te bied. Lot het gekies om die Jordaanrivier oor te steek en sy troppe in die Jordaanstreek te laat wei, naby die stede van Sodom en Gomorra.

Na die skeiding tussen die twee, het God die beloftes aan Abram herhaal. “En die Here sê vir Abram nadat Lot van hom geskei het: Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid. En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word” (Genesis 13:14-16). In Genesis 15 word verder op hierdie belofte uitgebrei. Aan Abram is gesê dat sy nageslag so ontelbaar soos die sterre sou wees (vers 5). Hy is ook meegedeel wat die grense van sy erfenis in die Midde-Ooste sou wees. Die land wat God sy nageslag sou gee, sou strek vanaf die rivier van Egipte tot by die groot Eufraat­rivier, wat die terrein insluit van verskeie nasies wat destyds die land bewoon het (Genesis 15:18-21).

Vader van Baie Nasies

Abram en sy vrou, Sarai, was albei besig om oud te word en kon nie kinders hê nie. Tog het God hom gesê dat hy ’n nageslag sou hê wat ’n land sou beërwe. Nadat hulle Haran verlaat het, het Abram en Sarai 24 jaar gewag en oor hierdie beloftes gepeins. Uiteindelik, toe hy 99 jaar oud was, het God weereens aan Abram verskyn.

In Genesis 17:6 belowe God, “Ek sal jou buitenge­woon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom”. Op hierdie stadium het Abram ook geleer dat hy die vader van ’n menigte van nasies sou word (vers 4). God het sy naam na Abraham verander, wat beteken “die vader van baie nasies”, en Sarai se naam na Sara, wat beteken “prinses”. Aan hom is ook gesê dat Sara binne ’n jaar vir hom ’n seun sou baar (Genesis 17:19; vgl. 18:14). So iets was te ongeloof­lik vir woorde, maar nogtans het dit gebeur net soos God gesê het en Isak is op die bepaalde tyd gebore.

Eintlik het Abraham, 14 jaar voor Isak se geboorte, ’n seun gehad, maar hierdie seun, Ismael, was nie die beloofde seun nie. Na tien jaar se gewag op God se beloftes, het Sara vir Abraham aangemoedig om haar slavin, Hagar, te neem en ’n kind by haar te hê. Hy het dit gedoen en daardeur probleme en konflikte aan die gang gesit wat van toe af voortduur tot vandag toe. Na Isak se geboorte het Abraham vir Hagar en Ismael weg­gestuur (Genesis 21:14). Uiteindelik het Ismael onder sy moeder se volk, die Egiptenare, getrou en het baie kinders gehad. Die Arabiese nasies het uit Ismael se seuns ontstaan.

Jare later het God weer na Abraham gekom en sy geloof hierdie keer tot die uiterste getoets. Nadat God vir dekades al persoonlik met Abraham gewerk het, het Hy hom beveel om sy seun Isak na die berg Moria te bring en as ’n slagoffer aan Hom te offer. Abraham het in geloof gereageer en gedoen wat God van hom gevra het. Hy was op die punt om sy erfgenaam en enigste wettige seun te offer, toe God hom keer en hom beveel om ’n ram wat in ’n bos vasgevang was, as plaasvervanger vir Isak te offer.

As gevolg van hierdie gebeurtenis het God Sy beloftes aan Abraham herbevestig, maar nou het hulle onvoor­waardelik geword. “Toe roep die Engel van die Here vir die tweede keer na Abraham van die hemel af en sê: Ek sweer by Myself, spreek die Here, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het” (Genesis 22:15-18).

Daar is ’n paar sleutelpunte hier om van kennis te neem. Die beloftes is nou nie meer afhanklik van die toekomstige optredes van Abraham en sy nageslag nie. Omdat Abra­ham nou hierdie hoogste toets van gehoorsaamheid ge­slaag het, het God die onvoor­waardelike toekomstige vervulling van Sy beloftes gewaarborg!

Boonop het daar nou nog ’n ekstra seëning bygekom. Abraham se nageslag sou uiteindelik “die poort van sy vyande” besit. ’n Poort is ’n nou gang, ’n ingang, ’n uit­gang. Hierdie belofte beteken dat Abraham se nageslag nie slegs baie nasies sou word nie, maar hulle sou boonop ook hulle vyande se wyses van kom en gaan beheer. Ons ondersoek die betekenis van hierdie merk­waardige belofte later in hierdie boekie.

Beloftes beide Geestelik en Fisies Vervul

“Maar is die beloftes aan Abraham dan nie almal in Christus vervul nie?” mag iemand vra. Dit is ’n vraag wat direk uit die Bybel beantwoord moet word.

Dit is duidelik uit Galasiërs 3:26-29 dat alle ware Christene as geestelike kinders van Abraham en erfge­name van die belofte geag word. Die uitein­delike ver­vulling van God se seëninge op Abraham sluit die belofte in dat hy en sy geestelike nasate die hele aarde sou beërwe (Romeine 4:13; vgl. Mattheus 5:5). Abraham is ’n ewige erfenis belowe (Genesis 17:8) wat vanselfsprekend die besit van die ewige lewe insluit!

Daar was duidelik ’n geestelike aspek van die beloftes wat God aan Abraham gemaak het! God se genade is aan alle mense uitgebrei deur een Saad, Christus (vgl. Gala­siërs 3:16). Die Messias, uit die nageslag van Abraham, sou die Een wees deur wie die seëninge van redding uit sonde en deur wie die ewige lewe deur God se genade aan alle mense beskikbaar gemaak sou word.

Maar daar was ook ’n fisiese aspek van die beloftes aan Abraham. Die eersgeboortereg het beloftes van nasionale grootheid ingehou sowel as landbou- en minerale rykdom. In Genesis 13:16 sê God vir Abraham dat Hy sy nageslag soos die getal van die stof van die aarde sou maak. Dit verwys duidelik na Abraham se veelvuldige fisiese nasate wat nasionale grootheid en die poorte van hul vyande sou beërwe.

Die beloftes aan Abraham sluit beide geestelike en fisiese komponente in. Hulle wys na Jesus die Messias, maar hulle wys ook na die geboortereg­seëninge wat op ’n menigte van sy nakomelinge sou kom wat ’n magtige nasie en ’n groot menigte van nasies sou word. Dit be­teken nie dat die ontvangers van hierdie seëninge enig­sins beter of meer spesiaal is as diegene wat dit nie ontvang het nie. Trouens, ons kan sien dat hulle wat die fisiese seëninge ontvang het, dit grotendeels verkwis en die rug op God gedraai het, waarvoor hulle nog verant­woording sal moet doen.

Die Begin van Israel

Baie jare ná die beloftes gemaak is, het God hulle herbevestig aan Abraham se seun, Isak. “Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het. En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word; omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het” (Genesis 26:3-5). Die belofte aan Isak is gegrond op Abraham se gehoorsaamheid aan God (vgl. vers 24).

Isak en sy vrou, Rebekka, het twee seuns gehad en ten spyte van die feit dat hulle ’n tweeling was, het hulle van die begin af totaal verskil in temperament en karak­ter. Voor hulle geboorte het God openbaar dat die oudste, Esau, die jonger een, Jakob, sou dien (Genesis 25:23). Nogtans kon Jakob, wat ’n natuurlike konkelaar was, nie wag vir God om hom die eersgeboorteregseëninge te gee nie. Hy het sy vader met ’n skelmstreek gevang sodat hy sy eersgeboorteregseëninge kon kry toe dit hom en sy moeder gepas het. God het dit toegelaat omdat dit Sy doel was dat Jakob die beloftes moes ontvang. Jakob moes toe deur ervaring swaar lesse leer om hom tot inkeer te bring.

Kom ons kyk egter na die eersgeboortereg­seëninge wat Isak aan Jakob toegeken het. “En mag God jou gee van die dou van die hemel en van die vet grond van die aarde en oorvloed van koring en mos. Volke sal jou dien, en nasies voor jou neerbuig. Wees ’n heerser oor jou broers, en die seuns van jou moeder moet hulle voor jou neerbuig. Vervloek is hulle wat jou vloek, en geseënd hulle wat jou seën” (Genesis 27:28-29). Hier word twee besonder­hede nou vir die eerste keer genoem. Die eerste is dat Jakob se nageslag groot landbourykdom sou besit. Die tweede is dat hulle heerskappy oor ander volke en nasies sou bekom.

Nadat Jakob sy broer bedrieg het, het Isak en Rebek­ka hom aangesê om na die gebied te reis waar sy moeder se familie gewoon het. Daar kon hy ’n vrou kry en vertoef totdat sy broer se woede bedaar het. Isak se afskeids­woorde was, “mag God, die Almagtige, jou seën en jou vrugbaar maak en jou vermeerder, sodat jy ’n menigte van volke kan word. En mag Hy jou gee die seën van Abraham, aan jou en jou nageslag saam met jou, dat jy die land van jou vreemdelingskap in besit kan neem wat God aan Abraham gegee het” (Genesis 28:3-4).

’n Kort rukkie later het God in ’n droom na Jakob gekom en verder op die beloftes uitgebrei. In sy droom het Jakob ’n massiewe stel trappe gesien wat tot aan die hemel reik, terwyl die engele daarmee op en afgeklim het. “En kyk, die Here het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die Here, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Genesis 28:13-14).

Hier leer ons vir die eerste keer dat die erfenis wat God aan Abraham belowe het, meer as net ’n land in die Midde-Ooste behels. Jakob se afstammelinge sou van daardie erfenis af versprei en die hele wêreld affekteer. Hulle erfenis sou hulle in aanraking bring met volkere oor die hele aarde.

Die verhaal in Genesis gaan voort en ons sien die lesse wat Jakob alles geleer het gedurende sy ballingskap uit Kanaän. Uiteindelik, toe hy terugkom na sy tuisland, ontmoet God hom op ’n plek wat later Pniël genoem is. Nadat Jakob heelnag met die Goddelike Wese geworstel het, sê God vir hom, “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin” (Genesis 32:28). Jakob/Israel was die vader van 12 seuns, die voorvaders van die 12 stamme van Israel.

Die beloftes aan Abraham is aangegee van vader tot seun, en is geleidelik uitgebrei. Daar is nog baie meer wat kom! Aan Abraham is gesê dat hy “’n menigte van nasies” sou word wat nasionale grootheid sou bereik en ook dat hy ’n koninklike lyn sou voortbring. Hierdie belofte is nou tussen twee van Jakob se 12 seuns verdeel. Let op die duidelike uitbeelding in 1 Kronieke 5:1-2, “En die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel – want hy was die eersgeborene; maar omdat hy die bed van sy vader ontheilig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, die seun van Israel, gegee, maar hy moes nie in die geslagsregister volgens die eersgeboortereg aangegee word nie; want Juda was sterk onder sy broers, en uit hom het een ’n vors geword, maar die eersgeboortereg het Josef gehad”.

Juda het duidelik die septerbelofte ontvang van ’n lyn konings, die hoogtepunt waarvan die Messias was wat Koning van die konings sou wees. Maar let wel! Die eersgeboorteregbeloftes van nasionale grootheid het NIE NA DIE JODE GEGAAN NIE, maar na die nageslag van Josef. Begrip hiervan is die meestersleutel wat alle ander profesieë oopsluit!

Jakob (Israel) het 12 seuns gehad:
Lea se Seuns Ragel se Seuns Bilha se Seuns Silpa se Seuns
Ruben Josef Dan Gad
Simeon Benjamin Náftali Aser
Levi Juda se nasate is ’n koninklike lyn belowe, met die Messias as hoogtepunt. Josef se nasate het die eersgeboorteregbeloftes van nasionale grootheid ontvang.
Juda
Issaskar
Sébulon

Efraim en Manasse Ontvang die Geboortereg

Kom ons kyk verder hoe die eersgeboortereg­beloftes vir die nakomelinge van Josef uitgebrei is. ’n Belangrike deel van hierdie verhaal vind plaas ’n kort rukkie voor die dood van Jakob/Israel. Op hierdie tydstip woon hy en sy hele familie in Egipte waar Josef as regeerder direk onder Farao gedien het. Josef het sy bejaarde, sieklike vader kom besoek en het sy twee seuns, Efraim en Manasse, saam­gebring. Gedurende hierdie besoek het ’n seremonie plaasgevind wat baie min mense verstaan.

In Genesis 48:5, sê Israel vir Josef dat hy vir Efraim en Manasse as sy eie seuns aanneem – dat hulle onder die stamme van Israel sou tel. Dus is Josef ’n dubbel­porsie gegee. Josef het sy seuns nader gebring, Israel het hulle omhels en begin om sy hande op hulle te lê en hulle af te sonder vir spesiale seëning.

Toe het daar iets merkwaardigs gebeur. Josef het doelbewus die seuns so geplaas dat die oudste, Manasse, aan Israel se regterkant staan en die jongste, Efraim, aan sy linkerkant. Die doel was dat Israel sy regterhand op die oudste moes plaas wat hom ’n groter seëning as die jongste sou besorg. Israel het egter sy arms oorkruis en sy regterhand op Efraim, en die linker op Manasse geplaas. Toe Josef dit sien, het hy probeer regstel wat vir hom as ’n begryplike fout voorgekom het aangesien sy ou vader feitlik blind was. Israel het Josef se poging egter weerstaan en verduidelik dat daar ’n rede was waarom hy sy hande oorkruis het.

Israel het vir Josef gesê dat sy oudste seun, Manasse, ’n groot nasie sou word, maar dat Efraim ’n menigte of gemenebes van nasies sou word. (vers 19). Dus leer ons dat ’n groot nasie sowel as ’n groot menigte van nasies uit die nasate van Josef sou voortkom. Dit sou hulle wees wat die eersgeboorteregseëninge van nasionale grootheid sou ontvang. Hierdie seëninge het die beheer van stra­tegiese kontrolepunte ingesluit waardeur hulle vyande sou moes vaar, asook ontsaglike landbou- en minerale rykdom en status as wêreldmagte wat heerskappy oor ander nasies sou uitoefen. Aan­gesien God belowe het dat hulle ’n seëning aan ander nasies sou wees, weet ons dat hulle heer­skappy as wêreldmagte in die algemeen goed­gesind beoefen sou word.

Is daar geskiedkundige bewyse van die vervulling van hierdie beloftes? Voordat ons dit ondersoek, laat ons eers na nog ’n paar besonderhede kyk wat in die boek Genesis ontvou. ’n Kort rukkie nadat hy Efraim en Manasse aan­geneem het en die geboortereg­seëninge oor hulle uitge­spreek het, het Israel al sy seuns na sy bed toe ontbied. Hy was aan die einde van sy lang lewe en wou sy laaste vermanings en seëninge aan sy familie oordra.

Let op wat toe gebeur: “Daarna het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan ver­kondig wat julle aan die einde van die dae sal weder­vaar” (Genesis 49:1). Die profesie wat Israel toe verkondig het, was nie vir sy tyd bedoel of vir die tyd toe sy nageslag uit Egipte sou kom en die Beloofde Land sou binnegaan nie. Dit was vir die eindtyd! Dit is dus duidelik dat die afstammelinge van Israel “aan die einde van die dae” nog steeds as aparte, identifiseerbare stamme sou bestaan.

Let op wat hy oor Josef sê: “Josef is ’n jong vrugte­boom, ’n jong vrugteboom by ’n fontein; sy takke klim oor die muur” (vers 22). Hierdie is ’n digter­like sinspeling op ’n volk wat sou vermenig­vuldig en oral uitsprei. Josef se seuns sou tog op die ou einde ’n groot nasie en ’n groot menigte van nasies voortbring. Israel het hulle dus as ’n groot koloniserende volk in die toekoms gesien. Hy het ook die seëninge van “die hemel daarbo” tot “die kostelike gawes van die ewige heuwels” oorgedra. Dit dui op groot minerale rykdom sowel as seëninge van die weer wat groot landbourykdom meebring.

Maar is hierdie fabelagtige beloftes ooit vervul vir die nakomelinge van Efraim en Manasse? Die betrou­baarheid en geloofwaardigheid van u eie Bybel as die Woord van God hang van hierdie punt af!

Nadat hulle Egipteland verlaat het, het die stamme van Israel vir eeue in die Midde-Oostelike gebied gewoon wat God hulle belowe het. Daar is geen aantekening in die geskiedenis wat meld dat Efraim en Manasse ooit ’n groot nasie en menigte van nasies geword het voor Israel se gevangen­skap nie. Hulle het nooit ’n seëning vir al die nasies van die wêreld geword voor hulle in die agtste eeu voor Christus onder Assiriese balling­skap weggevoer is nie. Dit is duidelik dat die vervulling van die beloftes wat God aan Abraham gemaak het en herbevestig het aan sy nageslagte NIE plaasgevind het voor die tienstammige Israel uit die bladsye van u Bybel verdwyn het, en ook uit die geskiedkundige opnames van wêreldgeskiedenis, nie.

Soos ons sal sien, gaan die res van die verhaal oor hoe hierdie beloftes nogtans vervul is!

Behalwe die uitsonderlike eergeboorteregseëninge wat aan Josef se twee seuns belowe is, het Jakob ook profesieë oor die ander tien stamme uitgespreek (Genesis 49).
Ruben het sy eersgeboortereg verbeur as gevolg van sy seksuele onsedelikheid. Hy was die stam­vader van die Franse nasie.
Die stam van Juda, die Jode, sou altyd ’n konink­like regeerder hê tot Christus (“Silo”) terugkom om die aarde te regeer. (Die Verenigde Koninkryk se konink­likes is nakomelinge van Juda).

Die stam van Sebulon, die Hollanders, was altyd waar skepe is – ’n seevarende nasie.

Die stamvader van die Iere was Dan.

Meeste Suid-Afrikaners se voorouers kom uit die Verenigde Koninkryk, Holland, België, Denemarke, Luxembourg, Switserland, Swede, Noorweë en Ysland en is dus afstammelinge van Israel. Alhoewel slegs Amerika en Brittanje die eersgeboortereg ontvang het, het hierdie ander nasies ook besondere seëninge as Israeliete geniet. Hulle het egter net so erg in sonde verval en die eindtyd waarskuwing is dus ook aan hulle gerig.



Israel se Gevangenskap en Verlore Identiteit
Voordat die kinders van Israel ooit die Beloofde Land binnegegaan het, is Moses deur God geïnspireer om hulle oor die toekoms te waarsku. Die beloftes van God was seker, maar die TYDS­BEREKENING van hulle vervulling was God se keuse en het van Israel se gedrag afgehang.

In Levitikus 26:1-2 waarsku God die Israeliete deur Moses, “Julle mag vir julle geen afgode maak nie… My sabbatte moet julle hou en my heiligdom ontsien. Ek is die Here”. Hy sê verder, “As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen, sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee” (verse 3-4). In die daaropvolgende verse het God seëninge van landbou­oorvloedigheid en vrede aangestip wat op die nasie uitge­stort sou word as hulle getrou was. In vers 12 het Hy Sy seëninge afgesluit deur te sê, “En Ek sal in jul midde wandel en vir julle ’n God wees, en júlle sal vir My ’n volk wees”.

Net soos wat daar seëninge vir gehoorsaamheid was, was daar egter ook ernstige nagevolge vir ongehoorsaam­heid. Indien Israel afgode sou dien en God se Sabbatte vergeet, sou God die nasie vir hulle optrede straf. In verse 16 en 17 het Hy die gevolglike straf van siektes en vyandige invalle op hul terrein aangedui. Wat sou gebeur as Israel, na herhaal­delike tugtiging, volgehou het met rebelsheid teen God en Sy wette? Vers 18 sê vir ons, “En as julle dan nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewevoudig [Engelse Bybel: “seven times”] weens julle sondes te tugtig”. Die Hebreeuse woord hier vertaal as “sewevoudig” kan óf na die tydsduur, óf na die felheid van die straf verwys.

Sewevoudige Straf

In Daniël 4 lees ons dat Koning Nebukadnésar van Babilon in ’n droom meegedeel is dat hy gestraf sou word vir sy trots. Hy sou beide sy koninkryk en sy verstand verloor. In hierdie droom het hy gehoor dat daar “sewe tydperke” [Engelse Bybel: “seven times”] sou verbygaan voordat hy sou herstel. Uit die historiese vervulling van hierdie droom is dit duidelik dat die “sewe tydperke” ’n tydperk van sewe letterlike jare was.

Wat was die sewevoudige straf (of sewe tydperke) wat Israel in Levitikus 26:18 belowe is? As dit ’n aanduiding van tydsduur was, hoe lank sou dit duur? As u eers die beduidenis van Israel se sewe tyd­perke van straf ver­staan, sal die geskiedenis vir u baie dieper betekenis hê as ooit tevore.

Laat ons eerstens die vraag beantwoord aan­gaande die lengte van die “sewe tydperke”. Hoeveel dae sou “sewe tydperke” wees? Ons vind die sleutels om dit te verstaan in Openbaring 11 en 12.

Openbaring 11:2-3 stel twee tydperke gelyk, nl.: 42 maande en 1,260 dae. Dit is eenvoudig om te ver­staan, want daar is presies 1,260 dae in 42 maande van 30 dae elk. In Openbaring 12:6 vind ons nog ’n verwysing na 1,260 dae, maar hierdie keer word dit gelykgestel met die tydperk in vers 14, deur die term, “’n tyd en tye en ’n halwe tyd”. Ons het reeds gesien dat 1,260 dae gelykgestel word met 42 maande, wat presies drie en ’n halfjaar is. Dit is dus duidelik dat die Bybel “tyd en tye en ’n halwe tyd” gelykstel met ’n drie-en-’n-halfjaar-tydperk van 1,260 dae.

“Sewe tydperke” is dubbel die tydsduur van “tyd en tye en ’n halwe tyd” (of drie-en-’n-halfjaar). “Sewe tyd­perke” stel dus ’n tydperk van 2,520 dae (twee maal 1,260 dae) voor. Hoe lank sou hierdie 2,520 dae van Israel se straf dan in Bybelprofesie voorstel? Om beter te verstaan, kyk ons na ’n ander voorval van straf oor Israel. Numeri 13 en 14 vertel ons hoe Moses 12 manne, een uit elke stam, gestuur het om die Beloofde Land te gaan verken. Tien van die verkenners het slegte gerugte versprei wat die volk tot so ’n mate ontmoedig en opstandig gemaak het dat hulle nie die Beloofde Land wou binnegaan nie. God was baie ontevrede omdat die mense nie geloof gehad het nie. Let op die gevolge daarvan. “Volgens die getal dae dat julle die land verken het, veertig dae, vir elke dag een jaar, moet julle jul ongeregtig­hede dra, veertig jaar lank, en my teëstand gewaar word” (Numeri 14:34).

Israel se ongehoorsaamheid het gelei tot ’n 40-jaar vertraging voordat die Beloofde Land, en God se beloftes aan hul voorouers, geërf kon word. Die 40 jare van straf was bereken op die beginsel van ’n dag vir ’n jaar. ’n Soortgelyke punt word in Eségiël 4 gemaak rakende straf op Juda en op Israel. In hierdie geval word die profeet Eségiël aangesê om vir 390 dae elke dag op sy linkersy te lê om die duur van God se straf oor Israel te simboliseer. Toe is hy beveel om op sy regtersy te lê vir 40 dae sodat Juda se straf aangedui kon word. Toe is Eségiël mee­gedeel, “… vir elke jaar lê Ek jou een dag op” (vers 6). Weereens is ’n dag gelykstaande aan ’n jaar in die vervul­ling van sekere Bybelprofesieë.

Omdat elke dag ’n jaar voorstel in die vervulling van Israel se straf, sou sewe tydperke 2,520 jaar uitbeeld. Wat is die volle betekenis van hierdie tydperk? Ons sien binnekort die verbasende antwoord. Maar laat ons eers vasstel om watter rede Israel in die eerste plek in bal­lingskap moes gaan.

Waarom die Tien Stamme in Ballingskap moes gaan

In Levitikus 26 het God dit duidelik gestel dat, as Israel sou begin om afgode te aanbid en Sy Sabbat te breek, Hy hulle stelselmatig sou straf totdat hulle gehoor gee. Vervulling van hierdie profesie is dwarsdeur Rigters sigbaar, toe Israel in sonde verval het en God toegelaat het dat terroriste-invalle deur omliggende nasies Israel se vrede en ekonomie ontwrig. Somtyds het hierdie nasies selfs vir jare direk oor Israel geheers. Hierdie kringloop het vir meer as drie eeue voortgeduur voordat die monargie ingestel is.

Soos ons alreeds gesien het, is die koninkryk van Israel, ná die dood van Koning Salomo, in twee heeltemal afsonderlike nasies verdeel. Die noorde­like tien stamme het Jeróbeam, die seun van Nebat, as hulle koning ver­kies, terwyl Juda aan Rehábeam, die seun van Salomo, getrou gebly het. Kort na die verdeling van die koninkryk, het Jeróbeam ’n besluit geneem wat die tien stamme van Israel vir die res van hul geskiedenis beïnvloed het.

Ons lees hierdie deurslaggewende verhaal in 1 Kon­ings 12. Jeróbeam het begin vrees dat die tien stamme in die toekoms sou verlang om met Juda herenig te word. Hy het besluit dat die jaarlikse gebruik van Israel om op te gaan na Jerusalem om God tydens die feestye te aan­bid, hulle met heimwee sou vul oor “die goeie ou tyd”. Hy het gevrees dat hulle in die toekoms sou terugverlang na die tyd toe hulle as een nasie onder Dawid se koningskap in Jerusalem gelewe het. Hy het geglo dat dit uiteindelik tot die vervanging van hom of sy nageslag sou lei.

Terwyl hy hierdie probleem oorweeg het, het Jeró­beam “uit sy eie hart versin” wat vir hom na die oplossing gelyk het. Hy het die volk saamgeroep en verskeie ver­anderinge aangekondig. Hy het hulle meegedeel dat hulle voortaan, vir hulle gerief, twee aanbiddingsterreine in noordelike Israel sou hê om van te kies. Dan sou dit nie meer vir hulle nodig wees om al die pad na Jerusalem toe op te gaan nie. Hy het sy nuwe aanbiddingsterreine in die stad Dan in die noorde, en in Betel in die suide, gevestig. By elkeen van die vergaderplekke het hy ’n goue kalf opgerig om aanbid te word. Jeróbeam het ook die Levi­tiese priesterdom vervang met sy eie priesters van sy nuwe godsdiens. Ons lees in vers 31, “Hy het … priesters aangestel uit al die dele van die volk wat nie uit die seuns van Levi was nie”. Asof dit alles nie genoeg was nie, het hy boonop nog die tye van God se jaarlikse feeste verander. Hy het die Huttefees wat in die sewende maand van God se heilige kalender geval het, verskuif na die agtste maand toe.

Gedurende die oorblywende 200 jaar van noordelike Israel se bestaan as ’n onafhanklike nasie, het baie regerings gekom en gegaan. Ongeag wie die koning was, lees ons egter oor en oor: “hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here en gewandel in die weg van Jeróbeam en in sy sonde waarmee hy Israel laat sondig het” (vgl. 1 Konings 15:34; 16:19; 2 Konings 3:3; 10:29; 13:2, 6, 11; 14:24; 15:18, 24, 28; 17:22). Die tien stam­me het God se vermanings deur Moses aan hulle voorouers heeltemal veronagsaam. Hulle het afgode aanbid, God se Sabbatte ontheilig, en oor die algemeen, eenvoudig God se wette veronagsaam.

Die nagevolge was onvermydelik. God het hulle eeue vroeër deur Moses gewaarsku dat ’n “sewe­voudige” straf oor hulle sou kom as hulle sou volhard in ongehoor­saamheid. Uiteindelik, in die middel van die agtste eeu, het leërs van die magtige Assiriese Ryk Israel binnegeval.

Israel se Koning Menáhem het tydelike verligting ver­kry deur ’n groot bedrag geld aan die Assiriese Koning Pul te gee om sy magte te onttrek. Maar die Assiriërs het ’n paar jaar later weer teruggekeer onder aanvoering van Koning Tilgat-Pilnéser, toe Peka, een van Menáhem se opvolgers, aan bewind was. Hierdie keer het die Assiriërs egter die grootste deel van die oostelike en noordelike dele van die koninkryk ingeneem en onder die juk gebring. Ver­skeie stamme, insluitend ’n groot deel van Ruben, Gad en Náftali is in ballingskap weggevoer na Assirië. Onder die heerskappy van Peka se opvolger, Hoséa, het sake versleg. Die Assiriërs het onder bewind van hul nuwe koning, Salmanéser, terug­gekeer en belasting van die restant van Israel geëis. ’n Paar jaar daarna het hulle weer teruggekom en Samaría beleër. Na drie jaar van beleëring is Samaria ingeneem. Die Assiriërs het toe die hele bevolking van die tien stamme van Israel begin wegvoer.

Israel se Laaste Kans

Hierdie deportasie het jare geneem om uit te voer. Voordat dit baie ver gevorder het, het ’n regverdige koning in Juda, die suidelike koninkryk, aan bewind gekom. Hierdie koning, Hiskía (of Jehiskía), het in 714 v.C. volle gesag aanvaar ná die dood van sy vader, Agas. Hy was vir ’n aantal jare mede-heerser met sy vader, maar het nie onafhanklike gesag gehad voor sy vader se dood nie. In skerp teen­stelling met sy vader, was Hiskía ’n man wat met sy hele hart verlang het om God te volg. Hy het onmid­dellik na die aanvang van sy alleenheerskappy ’n herlewing in Juda begin. Hy het die tempel in Jeru­salem geopen en herstel, en ’n oproep op die volk gedoen tot bekering en hertoewyding tot aanbidding van die ware God.

Ballingskappe van Israel en Juda

Hiskía het vir die volk gesê: “ons vaders het ontrou gehandel en gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here onse God, en hulle het Hom verlaat en hulle aan­gesig van die tabernakel van die Here afgewend en dit die rug toegekeer… Daarom het ’n toorn van die Here oor Juda en Jerusalem gekom, en Hy het hulle ’n skrikbeeld, ’n voorwerp van verbasing en van bespotting gemaak, soos julle met jul eie oë sien. En kyk, hierom het ons vaders deur die swaard geval en is ons seuns en ons dogters en ons vroue in gevangenskap. Nou is dit in my hart om ’n verbond te sluit met die Here, die God van Israel, dat sy toorngloed van ons afgewend kan word” (2 Kronieke 29:6-10). Hierdie herlewing onder Hiskía het nie alleen vir Juda ’n begenadiging van die swaard van die Assiriërs gebied nie (wat besig was om die koninkryk van Israel net noord van hulle te vernietig), maar dit was ook die laaste kans vir die noordelike tien stamme om algehele ballingskap af te wend. Let op wat Koning Hiskía gedoen het. “Daarna het Jehiskía gestuur na die hele Israel en Juda, en ook briewe geskrywe aan Efraim en Manasse om te kom na die huis van die Here in Jerusalem, om die pasga tot eer van die Here, die God van Israel, te hou… En hulle het dit vasgestel om ’n oproep deur die hele Israel, van Berséba tot Dan, te laat gaan dat hulle moes kom om die pasga tot eer van die Here, die God van Israel, in Jerusalem te hou; want hulle het dit nie as ’n menigte gehou soos voorgeskrywe was nie” (2 Kronieke 30:1,5). Hiskía se bood­skappers het die oorblywende inwoners van die noorde­like koninkryk gewaarsku: “Verhard nou nie julle nek soos julle vaders nie, gee aan die Here die hand en kom na Sy heiligdom wat Hy vir ewig geheilig het, en dien die Here julle God, dat Sy toorngloed van julle afgewend kan word. Want as julle jul tot die Here bekeer, sal julle broers en julle kinders barmhartigheid vind voor die wat hulle as gevangenes weggevoer het, sodat hulle na hier­die land kan terugkom …” (verse 8-9).

Hoe het Israel gereageer? “Maar toe die hardlopers van stad tot stad die land Efraim en Manasse deurgaan tot by Sébulon, het hulle hul uitgelag en met hul gespot. Maar manne uit Aser en Manasse en Sébulon het hulle verootmoedig en na Jerusalem gekom” (verse 10-11). Israel het Koning Hiskía se waarskuwing en oproep tot bekering grotendeels veronagsaam – die laaste waar­­skuwing wat hulle sou ontvang. In die daar­op­volgende jare het die Assiriërs noordelike Israel heeltemal ontvolk en nedersetters van Babiloniese afkoms daar gevestig. Hierdie nuwe aankomelinge was later bekend as Samari­tane, wat hulle naam van Israel se hoofstad gekry het.

Israel het ’n swerftog begin wat vir baie eeue sou voortduur – 2,520 jaar sou verbygaan voordat die afstam­melinge van Israel die geboorteregseëninge sou begin ontvang wat aan hul voorouers belowe is. Hulle sou vir 2,520 jaar – ’n jaar vir ’n dag – God se “teëstand gewaar word” (Num. 14:34).

Israel se Verlore Identiteit

In Eksodus 31:12-17 het God vir Moses gesê dat Sy Sabbatte vir ewig ’n teken tussen Hom en Israel sou wees. ’n Teken is iets wat identifiseer. Die Sabbatte is ’n voortdurende herinnering van wie God is en wie Sy volk is. Solank as wat Israel die Sabbat onderhou het, het hulle hul identiteit behou.

Tot vandag toe het die volk van Juda hulle identiteit behou, ongeag in watter uithoeke van die wêreld hulle mag woon. Hulle het die teken van die Sabbat behou en het nooit uit die oog verloor wie hulle is nie.

In teenstelling, het Israel van Koning Jeróbeam se tyd af God se Sabbatte oorboord gegooi en vervang met hul eie dae van aanbidding. As gevolg hiervan het Israel nie in ballingskap uitgestaan as verskillend van die omring­ende nasies en volkere nie. Diegene met wie hulle in aanraking gekom het, het hulle nie met die Jode ge­assosieer nie, en uiteindelik het meeste Israeliete hulle ware herkoms vergeet.

Meeste van die gebruike wat Israel in ballingskap oorgedra het, is geleen van die heidense nasies om hulle. Ten tye van Israel se Assiriese ballingskap was die profeet Miga in Juda. God het Israel deur hom gewaarsku teen hulle naderende straf en waar­om dit sou kom: “Want die insettinge van Omri word onderhou en al die werke van die huis van Agab; en julle wandel ooreenkomstig hulle planne, sodat Ek jou tot ’n woesteny sou maak en die inwoners daarvan ’n bespotting: en die smaad van my volk sal julle dra” (Miga 6:16).

Wie was Omri en wat was sy insettinge? Wat het dit met Israel se verlore identiteit te doen?

Gevange Israeliete Word Bekend as Cimmeriërs

In gevangenskap het Israel selfs hulle nasionale naam verloor. Omdat hulle hul identifiserende teken, deur God ingestel, verwerp het, het die Israeliete verlore geraak vir meeste sekulêre geskiedkundiges. Nietemin is hulle beslis nie vir God verlore nie. Let op watter boodskap Hy die profeet Amos geïnspireer het om op te teken in die jare voor Israel se ballingskap: “Kyk, die oë van die Here Here is gerig teen die sondige koninkryk, en Ek sal dit van die aardbodem verdelg; maar Ek sal die huis van Jakob nie heeltemal verdelg nie, spreek die Here. Want kyk, Ek gee bevel en sal die huis van Israel onder al die nasies skud soos in ’n sif geskud word, maar daar sal geen korrel op die grond val nie” (Amos 9:8-9).

Ons lees in 1 Konings 16 van Omri en sy opgang in mag. Hy het sy voorganger, Simri, verslaan, en ’n magtige ryk gevestig. Alhoewel hy maar net 12 jaar regeer het, het hy die hoofstad Samaria gevestig en wette ingestel wat die nasie deur sy oorblywende geskiedenis gevolg het. Sy rol as wetgewer was so gevestig dat 150 jaar na sy dood, en baie ryke later, die profeet Miga nog genoem het dat Israel “die insettinge van Omri” onderhou het. Die Huis van Israel het duidelik die wette wat God hulle deur Moses gegee het, verwerp en verkies om eerder die wette wat Omri verorden het, te onderhou. Die Skrif sê vir ons “Omri het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, en meer kwaad gedoen as al sy voorgangers” (vers 25).

Dit is dan duidelik dat die insettinge van Omri hei­dense godsdienspraktyke ingesluit het. Sy seun, Agab, was getroud met Isébel, dogter van Et-Baäl, priester-koning van die Baäl-aanbiddende Sidoniërs. Alhoewel baie van die uiterlike fieterjasies van Baäl-aanbidding later deur ’n opvolgende koning, Jehu, verwyder is, het Israel nooit werklik tot God terug­gekeer nie.

Let op die aanmerkings van Langer se Encyclopedia of World History aangaande die ver­reikende invloed van Omri. “Omri het ’n lang­lewende ryk gevestig. Hy het ’n nuwe hoofstad in Samaria gebou en alliansies met Tirus hernu… Hy het ook vir Moab herverslaan, soos ons uit die Mesha inskripsie leer. Omri was blykbaar ’n sterk koning. Die Assiriërs het Israel na hom vernoem, Bit Omri (Khumri)” (1968 uitgawe, bl. 44).

Behalwe die historiese opskrywings in die Skrif, is die geskiedenis van die antieke wêreld opgeteken in die geskrifte en monumente van die groot ryke van die antieke tyd en in die geskrifte van die Griekse historici. Die Assiriërs het in hulle monumente nie die naam “Israel”, gebruik nie, maar eerder na hulle verwys as die “Khumri”. Dit is die naam waarby Israel in gevangenskap bekend was. Hierdie naam en variasies daarvan in die tale van naburige volke, is die naam waarby die volk van Israel in sekulêre geskiedenis geïdentifiseer word.

Die volk wat op Assiriese monumente as Khumri geïdentifiseer word, word in die Babiloniese taal Gim­mirra (of Gimiri) genoem. Die Griekse aardryks­kundiges soos Herodotus het hulle Cimmeriërs genoem. Dus is die name waarby gevange Israel in sekulêre geskiedenis geïdentifiseer word, die name wat ander mense hulle genoem het, en daardie name het in spelling en uitspraak verskil volgens die taal van die skrywer.

Israel se Migrasies

Wat het van die Israeliete geword wat deur die Assiriërs gevange geneem is? Die Bybel sê vir ons hulle is naby die Gosanrivier en in die stede van Medië gevestig. Gosan was ’n takrivier van die noordelike Eufraatrivier. Die stede van Medië was geleë in die gebied net suid van Armenië, tussen die Swart See en die Kaspiese See.

In die apokriewe boek 2 Esdras, wat sowat ’n eeu voor Christus se tyd geskryf is, verskyn ’n tradisie wat onder die Jode bewaar is. “Dit is dan die tien stamme wat as gevangenes uit hulle eie land weggevoer is… en hy (Salmanéser) het hulle oor die waters weggevoer, en so het hulle in ’n ander land aangekom. Maar hulle het onder mekaar beraad­slaag om die menigtes van die heidene te verlaat en na ’n verder land voort te gaan waar geen mens nog gebly het nie… En hulle het in die Eufraat ingegaan deur die smal gange van die rivier” (13:40-43).

Of eenvoudiger gestel, die migrerende Israeliete het noordwaarts deur die smal bergpasse van die Eufraat­bronne getrek. Dit het hulle noord van die Kaukasiese bergreeks en aan die noordelike strand van die Swart See uitgebring. Volgens die geskiedenis, is dit presies waar die Cimmeriërs was, wat later met die Donau- en die Rynrivierkomme langs na noordwestelike Europa opge­trek het.

Lempriere’s Classical Dictionary sê die Cimmeriërs was “… naby die Palus Maeotis” (bl. 149). Palus Maeotis is wat die antieke Grieke die groot meer genoem het wat aan die noordelike punt van die Swart See geleë is, nou die See van Azof genoem. Vanaf hierdie gebied het som­mige van die Cimmeriërs direk met die rivierstelsel langs opgetrek in noordwestelike Europa in. Ander het Klein-Asië binnegeval en nadat hulle uitgedruk is, het hulle ook noordelike Europa toe getrek.

Aangaande die Cimmeriër-Israeliete se intog in noord­westelike Europa, sê M. Guizot in The History of France from Earliest Times to 1848, “Van die sewende tot die vierde eeu v.C. het ’n nuwe bevolking oor Gallië versprei, nie met een slag nie, maar deur ’n reeks invalle, waarvan die twee grootstes aan die begin en einde van daardie tydperk plaasgevind het. Hulle het hulself die Kymriane of Kimriane genoem… die naam van ’n volk wat die Grieke op die westelike oewer van die Swart See en in die Cim­meriese Skiereiland geplaas het, word tot vandag toe nog Crimea genoem” (bl. 16). Die Romeine het hierdie volk Galliërs of Kelte genoem en hulle het versprei deur wat vandag Frankryk is, en in die Britse Eilande.

Die hewigste van hierdie migrasies na noord­westelike Europa was kort ná die oorspronklike Assiriese invalle en weer byna 400 jaar later. In 331 v.C. het Alexander die Grote die Mede en die Perse verslaan. Die Israeliete wat nog in die antieke gebied van die Medes was, was nou vry om te gaan. Interessant genoeg, was dit 390 jaar vanaf die val van Samaria tot die omverwerping van die Medes (721 v.C. – 331 v.C.) – die presiese tydperk wat Eségiël vir die Huis van Israel in Eségiël 4:5 voorspel het!

Nog ’n antieke naam waaronder die Israelitiese bal­linge bekend was, is “Skithiërs”. ’n Massiewe area van wat huidig as die Eurasiese Vlakte van Rusland bekend staan, was in antieke tyd “Skithië”. genoem. Verskeie volke het hierdie yslike gebied bewoon, insluitend baie stamme van die Israelitiese ballinge. Die Griekse his­torikus Herodotus het geskryf, “… die Perse het hulle Sacae genoem, soos hulle alle Skithiërs genoem het” (“The Persian Wars”, VII, 64). Die naam Sacae of Sakae is oorspronklik afgelei van Isak, voorvader van die Israel­iete. Dit is ook die ware oorsprong van die name Skot­land, Sakser, en Skandinawië.

Die Skotte bewaar die verhaal van hul Skithiese oor­sprong in die mees bekende dokument oor Skotse ge­skiedenis, die Arbroath Verklaring. Hierdie verklaring is in 1320 geskryf en deur Robert the Bruce en sy edel­manne onderteken. Hierin word beweer dat die Skotte “… van Groter Skithië via die Tirrheense See gereis het… hulle het aangekom, twaalf honderd jaar nadat die volk van Israel deur die Rooi See getrek het (ca. 250 v.C.), na hul tuiste in die weste, waar hulle vandag nog woon”. Die oorspronklike antieke brief word in ’n glaskabinet in die Registerhuis in Edinburgh ten toon gestel, en word deur baie as “Skotland se kosbaarste besitting” bestempel. Die seëlafdrukke van die 25 onder­skrywende Skotse edel­manne is aan die perkament vasgeheg. Ons sien dus dat die tien stamme van Noordelike Israel in die agtste eeu voor Christus uit hul tuisland ontwortel is en na ’n vreemde gebied weggevoer is deur hul gevangenemers. Omdat hulle hul identiteit verloor het, word hulle in die geskiede­nis onder ’n verskeidenheid name geken, waar­onder Kimri, Kelte en Skithiërs maar slegs ’n paar is. Met antieke opskrywings as ’n gids, kan ons die migrasies van hierdie volke vanaf die Swart See tot die Britse Eilande en noordwestelike Europa naspoor.

Hoe pas dit alles in by die profesieë van u Bybel? Lees verder vir die verbasende antwoorde.



Die Geboorteregbeloftes Word Vervul
Oorspronklik het God merkwaardige beloftes aan Abraham en sy nageslag gemaak. Ons het alreeds gesien dat die noordelike tien stamme uit hul tuiste ontwortel is en dat hulle uiteindelik na noordwestelike Europa migreer het. Waar kom die vervulling van die beloftes aan Abraham dan in?

Kom ons kyk hoe merkwaardig God in die ge­skiede­nis ingegryp het om Sy doel uit te voer en Sy woord te vervul.

Sewe profetiese tydperke – 2,520 jaar – het verby­ge­gaan vanaf Samaria se val en Israel se gevangen­skap in 721 v.C. Dit bring ons tot by 1800 n.C. en, volgens die Skrif, die tyd waar Abraham se afstammelinge die geboor­teregbeloftes sou begin ontvang. Die merkwaardige ver­haal wat ontvou in die geskiedenis van die Engels­sprekende volke na 1800, is verstommend.

Om ten volle te verstaan wat gebeur het en dit in per­spektief te kry, kyk ons kortliks na die geskiedenis van Europa. Teen die einde van die elfde eeu na Christus, was meeste van die Europese migrasies voltooi en nasies was grotendeels in die gebiede waar ons hul vandag vind. Die Israeliete het migreer, in vlae wat oor eeue uitgestrek het, en in die nuwe lande beland wat hulle bestem was om te beërwe. God het, per slot van rekening, vir stam­vader Jakob gesê dat sy afstammelinge sou uitbrei na die noorde, die weste, die ooste, en die suide (Genesis 28:14).

Europa is regdeur die tien eeue vanaf Rome se ineenstorting tot die vyftiende eeu, totaal deur die Kato­lieke kerk oorheers. Europa het in die ellendes van armoede, ongeletterdheid en oorlogvoering verkeer. Ges­kiedkundiges het hierdie tydperk tradisioneel die “Donker Middeleeue” genoem. Drie merkwaardige gebeure het in die laaste helfte van die vyftiende eeu plaasgevind. Die eerste was die oorname van Konstantinopel in 1453 deur die Turke. Dit het ’n instroming van geleerdes en Griekse manuskripte van die Nuwe Testament in Wes-Europa veroorsaak. Johannes Gutenberg het die gebruik van beweegbare druk vervolmaak en die drukkers­bedryf is gebore. Dit het die grootskaalse verspreiding van kennis moontlik gemaak. Die ononderbroke verbintenis tussen Europa en die nuwe wêreld van die Amerikas het begin met Christopher Columbus se ontdekking van Amerika in 1492.

Terselfdertyd het Engeland uiteindelik bo al die inter­ne twis van die Rose-oorloë uitgekom. Einde ten laaste het ’n stabiele regering te voorskyn gekom, onder die Tudorkoninkryk van Henry VII. Die volgende eeu het ’n merkwaardige transformasie in Engeland meegebring. Geletterdheid het versprei. Katolieke beheer is afgeskud, en die klein eiland-nasietjie het tot ’n seemag begin ontwikkel.

Die jaar 1588 was ’n hoogtemerk in Engeland se geskiedenis. Spanje was vasberade om Engeland te ver­slaan en aan die skoot van die Katolieke Kerk terug te besorg. In die nastrewing van hierdie doel het ’n ontsag­like groot vloot Spanje verlaat. Maar stormwinde langs die Engelse kus het die vloot verpletter. Die vloot is verslaan en klein Engeland is gered.

Let op wat Sir Winston Churchill, in sy History of the English-Speaking Peoples, geskryf het: “Die neerlaag van die Armada (Spaanse vloot) het as ’n wonderwerk vir die Engelse volk as geheel gekom. Vir 30 jaar is die politieke toneel verdonker deur die skaduwee van Spaanse mag. ’n Vlaag godsdienstige emosies het mense se verstande gevul. Een van die medaljes wat gemunt is om die oorwinning te herdenk, dra die inskripsie ‘Afflavit Deus et dissipantur’ – ‘God het geblaas en hulle is uiteen­gedryf’. Elisabet en haar seemanne het geweet hoe waar dit was” (vol. II, bl. 131).

Hierdie wonderbaarlike sege het verseker dat Enge­land nie sou terugkom onder die oorheersing van die Pousdom nie en het die toneel gereed ge­maak vir toekomstige godsdiensvryheid in Engeland. ’n Bewustheid van God se rol in die Engelse geskiedenis het ’n nuutgevonde belang­stelling in die Bybel laat opvlam. Hierdie belangstelling het tot gevolg gehad dat die Bybel vertaal en wyd versprei is gedurende die heerskappy van Koningin Elisabet se opvolger, Koning James I.

Dwarsdeur die 16de en 17de eeue het Engelse see­manne en ontdekkingsreisigers oor die aardbol heen ge­reis. Dit was die begin van Engeland se see­mag en het die toneel gereed gemaak vir toe­kom­stige handels- en ekonomiese grootheid.

Nogtans het Engeland en haar vorige Ameri­kaanse kolonies, die jonge Verenigde State, in 1800 maar slegs ’n klein deeltjie van die wêreld se grond en rykdom besit. Napoleon was besig met pogings om ’n massiewe kon­tinentale ryk in Europa saam te stel, met Frankryk aan die hoof. In plaas van sukses met daardie poging, het iets heeltemal anders egter gebeur.

In die daaropvolgende dekades het Engeland as besit­ter van die magtige Britse Ryk verskyn. Dit was die groot­ste wat die wêreld nog ooit gesien het. Aan die einde van die 19de eeu het een kwart van die wêreld se grond en bevolking onder die Britse vlag gestaan. Die Verenigde State, wat steeds aan die oostelike seekus vasgeklou het, het die Noord-Amerikaanse vasteland in slegs vyf dekades omspan. Die magtigste menigte van nasies, die Britse Ryk, en die grootste enkel nasie, die Verenigde State, het presies op hul bestemde tyd verrys. Die jaar 1800 het die voleindiging van die 2,520-jaar tydperk van terughouding van die geboortereg afgebaken.

Die Britse Ryk Verrys

“Hoe het die Britte dit reggekry? Hoe het ’n randeiland in die eerste instansie vanuit primitiewe smerigheid ver­rys tot wêreldoorheersing? En hoe het hulle, tussen die [wêreld] oorloë heen, dit nogtans moontlik gevind om hul lendelam ryk aanmekaar te hou met weinig sigbare in­spanning?” (The Europeans, bl. 47). Hierdie is die vraag wat Luigi Barzini gestel het en dit is deur baie ander her­haal.

Die stelling was al gemaak dat, terwyl ander nasies met ’n opgestelde plan uitgegaan het om doel­bewus wyd­gestrekte landgebiede te oorwin en ’n ryk te bou, het die Britte sommer in ’n half-verstrooide toestand op hulle s’n afgestrompel. Hoe het so ’n merkwaardige transformasie plaasgevind?

Kanada, ’n onmeetbare skatkis van landbou- en minerale rykdom, het feitlik ongenooid in die skoot van die Britse Ryk beland. Nadat Engeland Frankryk in die Sewejarige Oorlog (1756-63) verslaan het, het baie Parle­mentslede gestry teen die oorname van Kanada by Frankryk, met die waarskuwing dat “[Kanada se] karige handel in bewervelle nie vir die las van verdediging en administrasie sal kan kom­pen­seer nie …” (A History of England and the British Empire, deur Hall & Albion, bl. 463). Trouens, “Halifax (Nieu-Skotland) was die enigste gemeen­skap in Amerika wat deur die direkte optrede van die Britse regering gestig is” (bl. 456).

Australië en Nieu-Seeland is op soortgelyke wyse op Brittanje afgeskuif as deel van die ryk. Van Australië was daar gesê dat ontdekking van goud in 1851 “… die kolonisering tot ’n nasie verhaas het” (bl. 664). Die bevolking het in bietjie meer as ’n dekade van 250,000 tot byna ’n miljoen gespring. Van Nieu-Seeland was gesê, “Die tuisregering het die pogings om Nieu-Seeland onder die Britse vlag te bring, lank weerstaan … Nieu-Seeland het dus sy eie wettelose weg gevolg totdat die werklike vestiging van gewone Engelse setlaars meer besliste beheer genoodsaak het” (bl. 664).

Met die verloop van die 19de eeu het gebiede in elke wydgestrekte hoekie van die aarde in die besit van Brit­tanje gekom. Onder hierdie besittings was feitlik al die strategiese seepoorte. Die besit van “die poort van sy vyande” was een van die seëninge wat God aan Abraham belowe het namens sy nageslag. Hierdie smal gange waardeur seeverkeer moes vaar, was van onskatbare waarde vir Brittanje, beide in terme van handelswaarde en vir veiligheids­doeleindes gedurende die twee wêreld­oorloë van die 20ste eeu. Britse beheer van die Suezkanaal en die Straat van Gibraltar sowel as die strategiese Eiland van Malta was gedurende die Tweede Wêreldoorlog van deurslaggewende belang vir die Geallieerde beheer van die Middellandse see.

Deur Australië, Nieu-Seeland en Kanada, het Brit­tanje van die rykste landbougrond op aarde bekom. Die uitgestrekte graanlande en die ontelbare troppe skape en beeste het ’n vervulling van God se antieke beloftes aan Abraham verteenwoordig. Boonop was daar nog die ontsettende mineraalrykdom van Kanada, Australië en Suid-Afrika. Brittanje self het beheer gekry oor baie van die Midde-Ooste se oliereserwes. Britse besittings en pyplyne daar het gehelp om die Geallieerde Magte gedurende die wêreldoorlog van olie te voorsien.

Oor die algemeen was Britse invloed voordelig vir die hele wêreld, net soos God destyds profeteer het. Dit was die Britse Vloot wat die internasionale slawehandel vroeg in die 19de eeu uitgewis het. Dit was te danke aan die Britse en Buitelandse Bybel­genootskap, waarvan die hoofkwartier in Londen is, dat die Bybel vertaal is in feitlik elke taal en vir die eerste keer beskikbaar gestel is aan alle volke op die aarde.

Dwarsdeur die ryk self, is Britse heerskappy nie deur massiewe leërs afgedwing nie. Trouens, gedurende die 19de eeu was die Britse leër maar taamlik klein. Dit is “the thin red line” (“die dun rooi strepie”) genoem. Die uitge­strekte Indië met sy bevolking van etlike miljoene, selfs in die 19de eeu, is oorheers deur die Britse burgerlike diens wat nooit meer as ’n paar honderd in getal was nie. Hulle het regsprake waargeneem, belastings ingevorder, en wette toegepas. “Net hulle het direk met die plaaslike bevolking in aanraking gekom… hulle het hard en doeltreffend gewerk… korrupsie was onbekend onder hulle, en hulle het die gereg, vrede en orde vir etlike dekades triomfantlik gehandhaaf” (bl. 738).

Die piepkleine Engeland het feitlik oornag te voorskyn gekom om te regeer oor die grootste, mees uitgebreide ryk wat die wêreld nog ooit gesien het. Daardie ryk het ontwikkel tot ’n groot menigte van nasies wat saamgesnoer is deur getrouheid aan ’n gemene kroon. Waar elders kan enigeen die vervulling aanwys van die antieke belofte waarop Jakob vir sy kleinseun Efraim aanspraak gemaak het? Dit is dus duidelik dat God Sy woord aan Abraham gehou het!

Verenigde State en Verenigde Koninkryk Besittings tydens hulle Spits

Die Troon van Dawid

God het ’n merkwaardige belofte aan Koning Dawid van antieke Israel gemaak. Hy het deur die profeet Natan gespreek en vir Dawid gesê, “As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig. Hý sal vir my Naam ’n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid. Ek sal vir hom ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ’n menslike roede en met slae van mensekinders. Maar my goedertieren­heid sal van hom nie wyk nie, soos Ek dit onttrek het aan Saul wat Ek voor jou aangesig verwyder het. En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewig­heid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid” (2 Samuel 7:12-16). God het aan Dawid verduidelik dat alhoewel Hy Dawid se nakomelinge vir hul sondes mag straf, sal Hy nie die koninkryk uit hulle geslagslyn verwyder, soos Hy met Saul gedoen het nie. Wat het van daardie koninklike opvolgingslyn geword? Uit die geskiedenis leer ons dat Koning Sedekía, ’n afstammeling van Dawid, die laaste koning was wat op die troon van Juda in Jerusalem gesit het. Nebukadnésar het Sedekía in 586 v.C. as gevangene na Babilon geneem, die tempel verbrand, en die stad Jerusalem vernietig. Let op die stelling in 2 Konings 25:7, “En hulle het die seuns van Sedekía voor sy oë geslag. En hy het die oë van Sedekía laat verblind en hom met koperkettings gebind en hom na Babel gebring”.

Het God se belofte aan Dawid gefaal?

Die res van die verhaal word onthul in die profesie wat God aan Eségiël gegee het om op te teken, in Eségiël 17. Dit val weg met ’n raaisel van ’n groot arend wat ’n sederboom se boonste takkie afpluk. Hierdie klein takkie word dan weggeneem na “die stad van koopmans” (vers 4). Wat beskryf hierdie raaisel? Vers 12 sê, “Spreek tog met die wederstrewige huis: Weet julle nie wat hierdie dinge beteken nie? Sê: Kyk, die koning van Babel het na Jeru­salem gekom en sy koning en sy vorste weggeneem en hulle na hom toe, na Babel gebring”.

Dit is egter nie die einde van die verhaal nie. God sê verder vir Eségiël in verse 22 en 23, “Dan sal Ek self van die verhewe top van die seder ’n steggie neem en dit insit – van die boonste van sy lootjies sal Ek ’n teer puntjie afpluk en self dit plant op ’n hoë en verhewe berg. Op die hoë berg van Israel sal Ek dit plant, en dit sal takke voortbring en vrugte dra en ’n heerlike seder word, sodat al die voëls van allerhande vere daaronder kan woon; in die skaduwee van sy takke sal hulle woon”.

Ons het reeds in vers 12 gesien dat die “boonste van sy jong takkies” Juda se laaste koning Sedekía gesim­boliseer het. ’n Steggie van daardie “verhewe top” is natuurlik een van sy kinders. Soos ons ook reeds gesien het, was sy seuns doodgemaak. Hierdie “teer puntjie” verwys dus duidelik na een van sy dogters! God noem dat sy na ’n hoë en verhewe berg geneem word (wat in Bybel­profesie gebruik word om ’n nasie te simboliseer) waar sy “geplant” en “’n heerlike seder” sou word. Dit wys dat sy sou trou en ’n nageslag (takke) voortbring, en dat die dinastie of regerende stamhuis, sou voortgaan! Let ook op dat, alhoewel Dawid se opvolgingslyn oor Juda regeer het, dit nou “herplant” sou word om oor Israel te regeer.

Die res van die verhaal vind ons in die Ierse geskiede­nis opgeteken. Hieruit leer ons dat die profeet Jeremia en sy skriba, Baruch, ná die val van Juda na Ierland gekom het met ’n jong prinses en die kroningsteen wat in Gaelies lia fail genoem word. In antieke Ierse geskiedenis­optekeninge word die prinses Tea Tephi genoem. Sy is getroud met die seun van die Hoë Koning van Ierland. Hulle nageslag het vir baie eeue vanuit Tara in Ierland regeer. Hulle het later, in die dae van Kenneth McAlpine, hul regeringspunt na Scone in Skotland oorgeplaas. Hier­die selfde regerende stamhuis gaan vandag steeds voort in die persoon van Koningin Elisabet II, ’n direkte afstam­meling van Tea Tephi en haar eggenoot. God het inder­daad Sy beloftes aan Koning Dawid vervul, net soos Hy gesê het!

Die Verenigde State en die Seëninge van Manasse

Wat van die Verenigde State van Amerika? Is die Amerikaanse volk ook waarlik nakomelinge van antieke Israel? Kom ons ondersoek die eenvoudige Amerikaanse geskiedenis.

Die eerste permanente Engelse nedersetting in wat nou bekendstaan as die Verenigde State, was James­town, Virginië, in 1607. ’n Paar jaar later het die Pelgrims in Plymouth Rock, Massachusetts geland. Dwarsdeur die 17de en 18de eeue het nedersetters van die Britse Eilande die Verenigde State, soos dit later genoem is, binnegestroom. Soos Professor David Fischer tereg uitwys in sy belangrike boek, Albion’s Seed, was daar gedurende daar­die twee eeue eintlik vier hoof immigrasietoelope na die toekomstige Verenigde State. Daardie migrasie­toelope het hul oorsprong in spesifieke dele van die Britse Eilande gehad en het na bepaalde gebiede van die Amerikaanse kolonies gegaan.

Byvoorbeeld, die Nieu-Engeland nedersetting was hoofsaaklik deur immigrante uit Oos-Anglia bevolk. Sekere gemeentes van hierdie suidoostelike deel van Engeland is tussen 1629 en 1641 byna heelte­mal ontvolk omdat hele familiegroepe en masse migreer het. “In vergelyking met ander Engelse streke kom Oos-Anglia vandag voor as baie plattelands. Maar in die vroeë Sewentiende eeu, en vir baie eeue voor dit, was hierdie die digste bevolkte en hoogsverstedelikte gebied van Engeland” (Albion’s Seed, bl. 43).

Immigrante wat hulle voor die Burgeroorlog in die Verenigde State gaan vestig het, was oorweldigend vanuit noord-westelike Europa. Meeste van hulle was óf van die Britse Eilande óf uit sekere dele van noordelike Duits­land. Hierdie immigrante het die karakter van die Ameri­kaanse volk bepaal en het tot vandag toe meeste van die nasie se leierskap voorsien. Selfs sommiges wie se voor­ouers later uit ander dele van Europa immigreer het, was heel moontlik ook van Israelitiese afkoms. Per slot van rekening is die profesie tog deur Amos gegee dat die Huis van Israel gesif sou word onder die nasies soos koring, maar dat geen korrel verlore sou gaan nie (Amos 9:9).

Die Verenigde State het met die “Louisiana Aankoop” in 1803 begin met ’n vinnige gebieds­uitbreiding wat gelei het tot ’n oorbrugging van die vasteland binne een geslag. Die gebied wat destyds vir minder as ’n nikkel (VSA vyf­sentstuk) per akker van Napoleon aangekoop is, het die rykste land­bou­grond op aarde, die Amerikaanse Mid­-weste, inge­sluit.

As gevolg van sy kombinasie van landbou- en minerale rykdom, is Amerika bestem om die wêreld voor te loop in per capita rykdom. Of dit nou op die gebied van graan of vee, of steenkool-, yster- of petroleumproduksie is – Amerika het ongeëwe­naar­de oorvloed gehad. Byvoor­beeld, gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Oos-Texas olievelde alleen meer olie vervaardig as die ge­samentlike produksie van al die Spilmoondhede. Die profesie van die bejaarde Israel aan sy kleinseun Manas­se dat sy nageslag die grootste enkel nasie sou word, is beslis vervul in die Verenigde State van Amerika.

Die Verenigde State Brei Weswaarts uit


Boonop, met die verkryging van die Panama­kanaal en verskeie afhanklike eilandstate in die laat 19de eeu, het die Verenigde State ook die poorte van sy vyande besit. Gesamentlik het Amerika en Brittanje feitlik elke stra­tegiese deurgang op aarde besit vir die grootste deel van die 19de en 20ste eeue.
Op hul spits, het die Amerikaanse en Britse nasies ’n oorweldigende deel van die wêreld se rykdom besit of beheer. Daar is eenvoudig geen ander nasie wat eens kan vergelyk met die rykdom en mag wat deur die Engelssprekende volke uitgeoefen is nie.

Saam met groot seëninge kom daar egter ook groot verantwoordelikhede. Boonop is daar besondere gevare vir hierdie nasies waarteen hulle gewaarsku word in die boek wat alomteenwoordig geword het dwarsdeur die Engelssprekende wêreld – die Bybel.

’n Waarskuwing vir die Moderne Nasies van Israel

Moses is deur God geïnspireer om ’n herinnering daar te stel vir ons volke, te midde van ons fabelagtige rykdom en oorvloed. “Want die Here jou God bring jou in ’n goeie land … ’n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek nie … Neem jou in ag dat jy die Here jou God nie vergeet deur sy gebooie … nie te hou nie; sodat jy nie miskien eet en versadig word nie en mooi huise bou en bewoon … en jou hart hom dan verhef … en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom ver­werwe” (Deuteronomium 8:7-17). Ons nasies word gemaan, “Maar dink aan die Here jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe, dat Hy sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met ’n eed beloof het, soos dit vandag is” (vers 18).

Een van die groot gevare van rykdom en welvaart is ’n selfgesentreerde, materialistiese uitkyk. In plaas dat ons die dankbaarste van alle volke is, het ons die gemak­sugtigste geword.

Ons nasionale grootheid is nie bereik as gevolg van ons ingebore meerderwaardigheid nie. Die rede dat ons die mooiste dele van die aarde besit, is eerder die direkte gevolg van getroue Abraham se gehoorsaamheid, en God se beloftes aan hom. Moses het ons voorouers herinner, “Die Here het ’n welgevalle aan julle gehad en julle uit­verkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die Here julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het …” (Deuteronomium 7:7-8).

Israel is geroep om ’n heilige nasie vir God te wees. Ons het van­dag meer direkte toegang tot God se Woord as ooit tevore. Tog skiet die optrede van ons mense en ons leiers ver tekort aan God se vereistes. Te midde van al die oorvloed is ons ondankbaar en ongehoorsaam aan die God wat ons so mildelik geseën het. God gaan ons ook tug net soos hy ons voorouers van ouds getugtig het.

Al die nasate van antieke Israel – maar veral die eersge­borereg-nasies, Amerika, Brittanje en hulle afstamme­linge – is bestem om hulle binnekort teen God se oordeel vas te loop!



Wat Lê Voor vir Ons Nasies?
In 1897, die jaar van Koningin Victoria se “Diamant­­jubileum”, het een van Brittanje se mees geliefde digters ’n somber noot getref. Die Britse ryk was op sy spits. Teen daardie agtergrond het Rudyard Kipling Recessional geskryf, ’n gedig wat treffend profeties was:

“God of our fathers, known of old
Lord of our far-flung battle line
Beneath Whose awful Hand we hold
Dominion over palm and pine
Lord God of Hosts, be with us yet,
Lest we forget – lest we forget!”

Hy voeg verder by,

“Lo, all our pomp of yesterday
Is one with Ninevah and Tyre!
Judge of the Nations, spare us yet
Lest we forget – lest we forget!”

’n Eeu later het die moderne afstammelinge van Israel tóg hul God vergeet. God se direkte waarskuwing aan ons vergeetagtige nasies donder deur die eeue voort: “Maar as jy nogtans die Here jou God vergeet en agter ander gode aan loop en hulle dien en voor hulle neerbuig, dan ver­seker ek julle vandag dat julle sekerlik sal omkom” (Deutero­no­mium 8:19).

Hoe het ons nasies ons God en Sy wette vergeet? Die hoeksteen van nasiebou, die gesinseenheid, lê verplet­terd deur egskeiding en buite-egtelikheid. Ons het “gay” optogte in die strate van die grootste stede soos San Francisco, Sydney, en Johannesburg. Aborsie is die stille menseslagting wat miljoene ongebore babas van hulle lewens ontneem het. Geweld neem só toe dat mense inkrimp van vrees aan die gedagte om ná donker in die strate van ons stede te loop. Hebsug, materialisme, en onsedelik­heid is skynbaar in ons nasionale weefsel inge­vleg.

Ons nasionale toestand van vandag word net so goed in die waarskuwingsboodskappe van die ou profete be­skryf, as in enige moderne nuusberig. “Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaad­doeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai” (Jesaja 1:4).

Selfs ons skaamteloosheid oor ons nasionale lewens­wyse word beskryf: “Die uitdrukking van hulle gesig ge­tuig teen hulle, en hul sonde maak hulle bekend, soos Sodom, sonder om iets weg te steek. Wee oor hulle siel, want hulle doen hulself kwaad aan!” (Jesaja 3:9).

Die Wag se Boodskap

Soos ons vroeër in hierdie boekie gesien het, het God die profeet Eségiël van ouds opdrag gegee om as ’n wag oor die Huis van Israel op te tree. “En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy ’n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku” (Eségiël 33:7). Wat is God se boodskap aan moderne Israel, wat vir ons tyd bewaar is deur die pen van die profeet Eségiël?

“En jy, mensekind, wil jy oordeel, wil jy oordeel die bloedstad? Maak hom dan al sy gruwels bekend… Deur die bloed wat jy vergiet het, het jy skuldig geword; en deur jou drekgode wat jy gemaak het, is jy verontreinig …” (Eségiël 22:2-4). God het Eségiël geïnspireer om, behalwe vir ons geweld en afgode­diens, Israel ook aan te kla oor onsedelikheid, wat egbreuk en bloedskande insluit (verse 9-11). Hy praat ook van die ineenstorting van die familie­struktuur en die verbryseling van die behoeftiges en weerloses (vers 7). Boonop roep God luid uit tot ons volke, “My heilige dinge het jy geminag en my sabbatte ontheilig” (vers 8).

Die boek Eségiël bevat ’n aanklag van ons nasionale sondes, ’n oproep tot bekering, en ’n aan­kondiging van Sy naderende oordeel. Dit openbaar selfs ’n entjie verder, tot ná die komende oordeel, sodat ons vooruit kan sien na ’n tyd van nasionale bekering en van herstel ná Christus se wederkoms.

Gesamentlik het ons volke verder en verder wegge­dwaal van God af, selfs terwyl hulle hulself “Christelike nasies” noem. Dit is ’n belediging vir die Almagtige God, want ons nasionale sondes is afskuwelik vir Hom; Hy wat die keurigste seëninge van die hemel op ons uitgestort het!

Die moderne afstammelinge van Israel gaan erger probleme ondervind as wat ons ons ooit kon indink. God kondig aan: “Ek verbreek die staf van die brood” (Eségiël 4:16). Hy praat van ’n tyd van hongersnood en ver­woesting wanneer die stede vernietig sal word (12:20). Al is dit ook hóé ondenkbaar vir moderne Amerikaners, Kanadese, Britte, Australiërs, Hollan­ders, Suid-Afrika­ners, en die ander nasate van Israel, sê God hierdie dinge gaan kom!

’n Reuse supranasionale unie in Europa, wat alreeds gevorm word, sal die sewende en laaste herlewing van die ou Romeinse Ryk word. Volgens Openbaring 13 en 17, sal hierdie stelsel die hele wêreld vir ’n kort rukkie oorheers. Dit is juis hierdie kragtige Europese supermag wat uiteindelik die Amerikaanse en Britse volke sal aanval en onder die juk bring. Dit sal ook die Joodse staat in die Midde-Ooste, wat vandag Israel genoem word, inneem.

Ons volke is selfvoldaan en materialisties. Hulle het hul Skepper vergeet en Sy instruksieboek, die Heilige Bybel, veronagsaam. Ja, daar kom ’n dag van vergelding! Meeste van u wat hierdie boekie lees, kan verwag om dit in u leeftyd te sien.

Daar is egter ’n manier hoe u en u gesin kan ontsnap. “Het Ek dan miskien ’n behae in die dood van die god­delose? spreek die Here Here. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie? … Daarom sal Ek julle oordeel, o huis van Israel, elkeen volgens sy weë, spreek die Here Here. Bekeer julle en wend julle af van al julle oortredinge, sodat dit nie ’n struikelblok tot onge­regtigheid vir julle mag wees nie. Werp al julle oortredinge waardeur julle oortree het, van julle af weg en maak vir julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees; want waarom wil julle sterwe, o huis van Israel? Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here Here. Bekeer julle dan en lewe” (Eségiël 18:23, 30-32).

God se begeerte is na bekering, nie straf nie. Maar die aandag van baie kan slegs deur swaar nasionale straf verkry word. Baie sal eenvoudig net nie aandag skenk aan ’n waarskuwingsboodskap totdat hulle wêreld op hulle neerstort nie. Wat van u?

God se Kerk neem die Eségiël boodskap van waarsku­wing en hoop na die hedendaagse Huis van Israel. Dit is lewensbelangrik dat u, en al die volke van ons Israelitiese nasies, begryp wat volgens God se Woord voorlê – en dat u dan op daardie begrip sal reageer!

Openbaring van Gebeure in die Jare wat Voorlê

Volgens Bybelprofesie, sal dreigende kata­stro­fiese in­eenstortings op ekonomiese en sosiale gebiede die toneel inrig vir sommige naderende gebeure. In antwoord op toe­nemende vrese, sal daar skielik ’n magtige en charis­matiese leier in Europa verskyn. Hy sal deur bedrog groot mag verkry deur sy alliansie met ’n groot godsdiensleier wat emosionele massahisterie laat ontvlam deur wat die Skrif “wonders van die leuen” noem (2 Thessa­lonicense 2:9). Dié militêre-politiese leier sal ’n herrese Heilige Romeinse Ryk lei wat die Skrif “die groot Babilon” noem (Openbaring 17 en 18).

Hierdie Europese vereniging tussen kerk en staat sal universele voorspoed belowe en sal vir ’n kort tydjie wêreldwye ekonomiese oorheersing uitoefen. Eségiël 27 gebruik die uitbeelding van die antieke handelstad Tirus om hierdie globale ekonomiese kombinasie te beskryf wat nasies van Europa, Afrika, Latyns-Amerika en Asië sal insluit – tesame met Israel en Juda (vers 17). Gedeeltes van Eségiël 27 word in Openbaring 18 omskrywe of aange­haal waar die eindtyd-stelsel, “die groot Babilon” be­skrywe word.

Die Engelssprekende nasies sal egter nie vir lank floreer in hul verbintenis met hierdie stelsel nie. Trouens, dit sal hulle uiteindelik op militêre gebied oorweldig en vernietig. Maar voor die militêre aanval en besetting, sal verwoestende weerstoestande tesame met interne bur­gerlike twis (“die groot beroering in die midde van die stad en die verdruk­king daarbinne” – Amos 3:9) egter ons nasies tot op die rand van interne ineenstorting bring.

“My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis” het Hosea onder inspirasie van God geskryf (Hosea 4:6). Ons het die kennis van God en Sy weë verwerp. Hoe meer ons materieel floreer het, hoe meer het ons sondes toegeneem (verse 7-8). Dit lyk of onsedelikheid en mis­bruik van feitlik alles ons nasionale hart droog getap en vernietig het (vers 11).

God het Amos geïnspireer om te profeteer oor hierdie tyd van ernstige droogte en waterrant­soenering, gepaard met massiewe misoeste en siekte-epidemies, (Amos 4:7-10). “Daarom sal Ek só met jou handel, o Israel; omdat Ek só met jou sal handel – maak jou klaar om jou God te ontmoet, o Israel! Want kyk, Hy wat die berge formeer en die wind skep en aan die mens sy gedagte bekend maak, wat die dageraad duisternis maak, wat op die hoogtes van die aarde wandel, Here, God van die leërskare, is sy Naam!” (verse 12-13).

Die profeet Jeremia noem hierdie naderende tyd van nasionale ellende “’n tyd van benoudheid vir Jakob” (Jeremia 30:7). Hy waarsku dat dit ’n erger tyd as enige ander tyd in menslike geskiedenis gaan wees. Jesus Christus het van hierdie einste tydperk gepraat in Mattheus 24:21: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie”. Daar kan seer sekerlik nie twee tye van verdrukking wees wat erger as enige ander is nie, dus is die Groot Verdrukking ’n tyd van ellende en straf vir Israel. Straf is egter nie die einde van die verhaal nie!

Toekomstige Verlossing en Herstel

Die profeet Eségiël vertel van ’n toekomstige tyd wan­neer Israel herversamel sal word ná die wederkoms van die Messias in krag en heerlikheid. “Die nasies sal weet dat die huis van Israel vanweë hulle ongeregtigheid in ballingskap gegaan het; omdat hulle teen My troubreuk begaan het… Volgens hulle onreinheid en hulle oor­tredinge het Ek met hulle gehandel en my aangesig vir hulle verberg. Daarom, so sê die Here Here: Nou sal Ek die lot van Jakob verander en My ontferm oor die hele huis van Israel… En hulle sal weet dat Ek, die Here, hulle God is, daaraan dat Ek hulle in ballingskap laat gaan het na die nasies, maar hulle weer versamel het in hulle land en dáár niemand meer uit hulle agter laat bly het nie” (Eségiël 39:23-28).

Jesaja het óók uitgesien na daardie tyd wanneer God Israel weereens sou verkies en hulle weer in hulle eie land sou vestig (Jesaja 14:1). God sou hulle rus gee van hul smart, hul onrus en die harde diensbaarheid wat hulle ondervind het (vers 3). Israel sou herversamel wees uit gevangenskap en sou “bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (27:6). Hulle sou die ou verwoeste stede begin herbou wat vir jare verlate in puin gelê het (61:4). Ná die straf van die Verdrukking wat nou voorlê en wat ons volke tot bekering sal bring, gaan hulle herversamel word uit die lande van die nasies waarheen hulle in ballingskap weggevoer is. Onder God se inspir­asie het Eségiël die opregte nasionale bekering van Israel beskryf wat sal volg. Hierdie sal die inleiding wees tot die bekering van die hele wêreld. “Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee… Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen” (36:25-27).

Dit volg op Christus se wederkoms en die opstanding van die heiliges wat saam met Hom sal regeer (Openbar­ing 20:6; 5:10). Ons leer uit verskeie skrifture dat Koning Dawid van ouds onder die opgewektes sal wees en hy sal eintlik die direkte regeerder onder Christus wees oor die herver­samel­de Israel (Eségiël 37:24). Elkeen van die 12 Apostels sal direk oor een van die 12 stamme regeer (Lukas 22:29-30).

Van hierdie heerlike tyd, wanneer God se Koninkryk onder Christus direk oor al die nasies sal regeer vanuit Jerusalem, lees ons, “Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ’n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die Here” (Jesaja 65:25).

Wat lê dus voor vir Amerika en Brittanje en die ander afstammelinge van Israel? God se komende oordeel! Straf vir ons nasionale sondes lê op die horison. Dit sal spoedig en fel wees en die hele wêreld verstom. Hierdie kolossale straf sal ons nasies meer skud as enigiets anders wat nog ooit voorheen gebeur het! Dit sal vir die meeste mense uiteindelik ’n diepte van opregte bekering voortbring en ’n terugkeer tot God soos wat daar in die moderne tyd nog nooit gebeur het nie (Eségiël 36:24-32).

Daar is twee maniere om ons lesse in hierdie lewe te leer, die maklike manier, of die moeilike een. Ons nasies as geheel blyk bestemd te wees om hul lesse op die moeilike manier te leer.

Wat omtrent u, persoonlik? Gaan u gehoor gee aan die waarskuwings in hierdie boekie, wat direk uit God se Woord kom? Of gaan dit vir u nodig wees om u lesse deur swaar ondervinding te moet leer?

Ons kan vir u wys hoe om hierdie naderende mense­slagting vry te spring, as u gewillig is. U moet bereid wees om nie slegs in God en Sy Seun, Jesus Christus, te glo nie, maar om te doen wat God beveel. U moet gewillig wees om GOD TE SOEK soos u dit nog nooit voorheen gedoen het nie! U moet bereid wees om “uit te kom” uit hierdie moderne Babilon – sy idees en gebruike, sy vals godsdienste en filosofieë – en uself toewy aan ernstige Bybelstudie en ywerig lewe “van elke woord van God” (Lukas 4:4).

Dit is u keuse! Mag God u help om wys en reg te kies.

538total visits,2visits today

Kategoriee

Advertensie

Advertensie