El-Roi - Afrikaans

Studies

Gedigte

God

Israel

Profesiee

Satan

Israel en die Komende Groot Verdrukking

Israel en die Komende Groot Verdrukking

Johan Malan, Universiteit van die Noorde, Suid-Afrika

Opsomming: Die profesieë oor Israel se lotgevalle in die groot verdrukking moet nie histories verklaar word nie, maar futuristies. Sommige mense huldig die onbybelse siening dat die groot verdrukking reeds plaasgevind het en dat daar nie so 'n tyd vir Israel óf vir die res van die wêreld kom nie.

Die meeste kerke en Christelike organisasies het as gevolg van die historiese interpretasie van Bybelse profesieë oor die eindtyd geen duidelike toekomsverwagting nie. Hulle huldig die onbybelse siening dat die groot verdrukking en die koms van die Antichris reeds in historiese tye plaasgevind het. Sommiges beweer dat die verdrukking in die eerste eeu tydens die bewind van keiser Nero [as die Antichris] plaasgevind en op die vernietiging van Jerusalem in die jaar 70 n.C. uitgeloop het. Ander beweer dat die donker Middeleeue die groot verdrukking was, en dat die rol van die Antichris deur verskeie van die pouse vervul is. Dan is daar ook diegene wat Wêreldoorlog II as die groot verdrukking sien, en Hitler as die Antichris. Al hierdie sienings is subjektief en situasiegebonde omdat elke groep ‘n eietydse, antichristelike diktator [bv. Nero, die pous of Hitler] uitgesonder en al die profesieë oor die Antichris aan hom toegeskryf het.

Die historiese skool maak ook die wederkoms van Christus van die groot verdrukking los, terwyl dit uit die Bybel duidelik is dat Christus se sigbare verskyning op die Olyfberg op die laaste dag van die groot verdrukking sal plaasvind: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn…” (Matt. 24:29-30; my beklemtoning).

Op daardie dag sal die Antichris en die valse profeet lewende persone wees. Die Antichris sal deur die verskyning van Christus se wederkoms verdelg word (2Thess. 2:8), en hy sal saam met die valse profeet lewendig in die vuurpoel gegooi word (Op. 19:20). Die Antichris is dus nie ‘n historiese persoon iewers uit die kerkbedeling nie, maar baie duidelik ‘n eindtydse wêreldleier.

Die historiese siening van Bybelse profesieë sal nou aan ‘n skriftoets onderwerp word. As uitgangspunt sal die siening beoordeel word dat Wêreldoorlog II die groot verdrukking was. Al die argumente kan egter ook gebruik word om ander historiese sienings te diskrediteer.

Die vraag is: “Kan die vervolging van Jode in die Tweede Wêreldoorlog as die finale vervulling van Bybelse profesieë oor die groot verdrukking beskou word?” Die antwoord hierop is ‘n uitdruklike nee! Die komende verdrukking van sewe jaar is ‘n goed ontwikkelde tema in Bybelse profesieë, wat nie met Wêreldoorlog II of enige vroeër tydperk in die geskiedenis van die mensdom gelykgestel kan word nie. Die volgende tien Bybelse redes kan ten gunste van ‘n toekomstige verdrukking en regering deur die Antichris aangevoer word:

1. Voorwaardes vir die Groot Verdrukking

Israel moet na hulle land terugkeer voordat die eindtydse handelinge van God met hulle as volk kan begin: “Daarom, sê vir die huis van Israel… Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in julle land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig” (Eseg. 36:22, 24-25). Uit hierdie verse is dit duidelik dat Israel in ongeloof uit hulle internasionale verstrooiing herstel sal word. Hulle fisiese herstel sal ook voortgaan totdat hulle die grootste enkele groep Jode in die wêreld is, en dus in ‘n posisie om besluite namens alle Jode te neem. Slegs dan sal gebeurtenisse begin plaasvind wat na hulle geestelike herstel as volk sal lei. Hulle groot eindtydse benoudheid en daaropvolgende geestelike herlewing sal gedurende die sewe jaar lange verdrukking plaasvind, omdat dit ‘n belangrike tydperk in hulle nasionale heilsgeskiedenis is (Dan. 9:24-27). In daardie stadium moet ‘n groot groep van hulle in hul land terug wees.

Die profeet Daniël beskryf die komende verdrukking as ‘n jaarweek (Dan. 9:27; kyk ook Lev. 25:3-8). Volgens die profetiese tydskaal van die Bybel is ‘n jaarweek ‘n tydperk van sewe jaar van 360 dae elk – elke maand is 30 dae lank. Uit Daniël 9:27 en Openbaring 11:2-3; 12:14; 13:5 is dit duidelik dat die sewe jaar van die verdrukking in twee afsonderlike periodes van 3½ jaar [m.a.w. 42 maande of 1260 dae] elk verdeel is – elkeen met sy eie besondere kenmerke.

In die eerste 3½ jaar sal Israel ‘n verbond met die valse messias sluit, wat sal voorgee dat hy die ware Messias is (Dan. 9:27; Joh. 5:43). Hulle sal dan ook die derde tempel op die Tempelberg in Jerusalem bou (Op. 11:1-2). Dit sal ‘n tyd van valse vrede wees wanneer ‘n antichristelike nuwe wêreldorde van internasionale godsdienstige en politieke eenheid gevestig sal word. In die middel van die verdrukking [ná 3½ jaar] sal die Antichris die herboude tempel ontheilig deur die Allerheiligste te betree en homself tot God te verklaar (2Thess. 2:4). ‘n Gruwelike beeld van homself sal in die tempel opgerig en mense oral gedwing word om dit te aanbid (Op. 13:14-15). Slegs dan sal die groot verdrukking van 3½ jaar begin. Oor hierdie tyd van verskrikking het die Here Jesus aan die Jode gesê:

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees oplet – dan moet die wat in Judéa is na die berge vlug… En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:15-21).

Dit is baie duidelik dat die groot verdrukking van 3½ jaar slegs kan begin nadat Israel in hulle land herstel is, die herinbesitname van Jerusalem en die Tempelberg, die openbaring van die Antichris en Israel se verbondsluiting met hom, en die herbouing en ontheiliging van die tempel in Jerusalem.

Israel is in Mei 1948 herstel en as ‘n onafhanklike volk erken. Die Ou Stad van Jerusalem is in Junie 1967 van Jordanië herower. In Augustus 1980 is Jerusalem se politieke status as Israel se administratiewe hoofstad herstel. Die toneel is nou gereed vir die openbaring van die Antichris, die begin van die verdrukking en die bou van die tempel op sy bestemde plek op die Tempelberg. Hierdie omstandighede het nie tydens Wêreldoorlog II, of enige vroeër tydperk, bestaan nie.

2. Die Wegraping en die Dag van die Here

‘n Ander voorwaarde vir die begin van die verdrukking is die wegraping. De kerkbedeling sal formeel deur die wegraping beëindig en deur die bedeling van die Antichris se regering op aarde gevolg word. Die komende sewe jaar-tydperk vorm ook deel van die dag van die Here wanneer Hy as Regter en Koning aan die wêreld geopenbaar sal word. God sal sy toorn oor die bose en onbekeerlike nasies uitstort, waaronder ook die herstelde Israel. Daar is geen plek vir die ware kerk in hierdie tyd van oordeel nie, want daar is “geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:1). “God het ons nie bestem tot toorn nie” (1Thess. 5:9). Soos in die tyd van Noag en Lot, sal die Here eers die gelowiges uit die rampgebied van goddelike oordele wegneem.

Die verdrukkingsperiode sal begin wanneer Israel en die nasies die Antichris uit eie keuse sal aanvaar en aanbid. Wanneer hy 3½ jaar later teen hulle draai deur ‘n militêre diktatuur in te stel, sal hulle terselfdertyd ook die toorn van die Here beleef wanneer die kragte van die hemele geskud sal word en mense se harte sal beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom (Luk. 21:25-26). Hulle sal in paniek na die berge vlug (Op. 6:15-17).

Hoewel baie mense gedurende die verdrukking gered sal word, sal hulle nie meer in die kerkbedeling wees nie en dus nie op die belofte aanspraak kan maak dat die poorte van die doderyk die kerk nie sal oorweldig nie (Matt. 16:18). In daardie tyd sal die Antichris teen die heiliges oorlog voer en hulle oorwin (Op. 13:7). Hulle sal wél gered kan word, maar sal as martelare moet sterf omdat hulle sal weier om die Antichris te aanbid (Op. 6:9-11; 13:15).

Wêreldoorlog II het in die kerkbedeling plaasgevind en kan op geen manier as die dag van die Here beskryf word nie omdat dit nie met groot natuurrampe en goddelike oordele gepaard gegaan het nie. Oordele van hierdie aard sal eers ná die wegraping ‘n aanvang neem. Die sondaars sal dan duidelik besef dat die groot dag van God se toorn aangebreek het (Op. 6:17).

3. Die 144 000 Geredde Jode

Die redding van 144000 spesiale diensknegte van God onder die twaalf stamme van Israel (Op. 7:3-8) is ‘n onweerlegbare bewys dat hulle nie deel van die kerkbedeling vorm nie, maar van die toekomstige 70ste week van Daniël. Gedurende die kerkbedeling word geredde Jode deel van die kerk, wat die liggaam van Christus onder alle nasies is (Gal. 3:27-28; Kol. 3:11). Ná die beëindiging van die kerkbedeling sal die tyd vir Israel se nasionale geestelike herstel in die 70ste week van Daniël begin. Geredde Jode sal dan uitdruklik as lede van ‘n bepaalde stam van Israel geïdentifiseer word. Hulle sal die eerste groep in die geestelike herlewing van Israel wees. Ons is nog steeds in die kerkbedeling, daarom is hierdie besondere Joodse herlewing nog toekomstig.

4. Fokus op Jerusalem

Die komende groot verdrukking sal ‘n wêreldwye verskynsel wees (Luk. 21:25-26), maar een van sy fokusgebiede sal die Midde-Ooste wees en, spesifiek, die stad Jerusalem. Gedurende die tyd van die benoudheid van Jakob sal die geestelik verblinde volk van Israel aan hewige verdrukking onderwerp word, sodat ‘n oorblyfsel van die volk gered kan word. Die Bybel verwys uitdruklik na hierdie tyd van beproewing en loutering in Jerusalem en omstreke:

“…die huis van Israel het vir My skuim geword… Daarom, so sê die Here Here: Omdat julle almal skuim geword het, kyk, daarom sal Ek julle binne-in Jerusalem bymekaarmaak. Soos silwer en koper en yster en lood en tin binne-in ‘n smeltoond bymekaargemaak word om daarteen ‘n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal ek julle bymekaarmaak in my toorn en in my grimmigheid en julle ingooi en smelt… en julle sal weet dat Ek, die Here, my grimmigheid oor julle uitgegiet het” (Eseg. 22:18-22; my beklemtoning).

Aangesien Bybelse Jerusalem [die Ou Stad] eers in die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 deur Israel verower is, is dit duidelik dat die bogenoemde profesie van Eségiël slegs ná hierdie datum vervul kan word. Sedert hulle herstel in 1948 het Israel al die oorloë teen hulle Arabiese bure gewen, en is dus in beheer van die situasie in hulle land en ook in Jerusalem. Dit is slegs nou, te midde van stygende konflik tussen Israel en die Palestyne ná die Amerikaanse inval in Afghanistan, dat die druk skerp op Israel toeneem om hulle land en hoofstad, Jerusalem, te verdeel en die een deel aan die Palestyne te oorhandig. Al hoe meer nasies veroordeel Israel ten onregte oor die gebruik van té veel geweld, en verhaas die vervulling van die volgende profesie:

“Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ‘n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring van Jerusalem. En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ‘n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word” (Sag. 12:2-3).

God sal die nasies oordeel wat Israel vervolg en druk op hulle uitgeoefen het om hulle land te verdeel (Joël 3:1-2). Hy sal ook oor Israel groot benoudheid toelaat tydens die beleëring van hulle land en hoofstad, sodat hulle in tye van ernstige benoudheid om redding tot die Here sal roep.

5. Verbond met die Antichris

Israel sal vir een jaarweek ‘n verbond met die valse messias sluit. Hierdie verbond sal egter net vir 3½ jaar lank hou, tot in die middel van die week. Die Here Jesus het hulle teen hierdie ernstige oordeelsfout gewaarsku toe Hy gesê het: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43). In die middel van die week sal die Antichris in ‘n sluipmoordaanval sterf, maar hy sal deur sataniese magte uit die dood opgewek word (Op. 13:3, 12). Hy sal ‘n beeld van homself in die herboude tempel laat oprig, en die doodstraf aankondig oor alle mense wat weier om hom as God te aanbid:

“En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel. En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak… En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring; maar hulle sal struikel deur swaard en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank. … En die koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; en hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is” (Dan. 11:31-36).

Niks wat selfs eers vaagweg met Israel se toekomstige verbond met die Antichris ooreenstem, of met die Antichris se optrede in die tweede helfte van die jaarweek, het gedurende Wêreldoorlog II, of in enige ander tydperk in die geskiedenis, gebeur nie.

6. Herbouing van die Tempel

Die eerste helfte van die verdrukking sal ook deur die herbouing van die tempel in Jerusalem gekenmerk word. Daar is verskeie verwysings in die Bybel na die bou van die derde tempel wat deur die Antichris ontheilig sal word. Daniël 9:27 sê dat in die middel van die week [die sewe jaar van die verdrukking] sal die Antichris “slagoffer en spysoffer laat ophou.” Daniël 11:31 sê die magte van die Antichris sal “die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel.” Daarna sal net die aanbidding van die Antichris as God toegelaat word. Die Here Jesus het teen hierdie bose sameswering gewaarsku toe Hy gesê het: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan sal daar groot verdrukking wees” (Matt. 24:15, 21).

Paulus het na dieselfde scenario verwys toe hy die Antichris beskryf het as “die mens van sonde… die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2Thess. 2:3-4). Openbaring 11:1-2 sê dat die herboude tempel 42 maande [3½ jaar] lank deur die heidene vertrap sal word. Die derde tempel word hierdeur duidelik binne die raamwerk van Daniël se 70ste jaarweek geplaas. Ná die ontheiliging daarvan sal die tempel vir die oorblywende 3½ jaar tot by die wederkoms van Jesus misbruik en vertrap word. Hierdie getuienis alleen weerlê enige teorie dat Wêreldoorlog II en die vervolging van die Jode deur Hitler se Nazi-magte die groot verdrukking vir Israel was. Sedert die vernietiging van die tweede tempel in 70 n.C. is die Joodse tempel in Jerusalem nog nooit weer herbou nie.

7. Vlug na die Woestyn

Wanneer die Antichris homself in die tempel tot God verklaar en Israel weier om hom in hierdie hoedanigheid te aanbid, sal hy die agtervolging en uitwissing van alle Jode gelas wat na die berge van Judéa sal wegvlug. Hulle sal dan na die woestyn vlug [waarskynlik na Petra in die Negev woestyn, suid van die Dooie See] waar hulle “uit die gesig van die slang onderhou [sal] word, ‘n tyd [een jaar] en tye [twee jaar] en ‘n halwe tyd [ses maande]” (Op. 12:14). Gedurende die laaste 3½ jaar, waarna as die groot verdrukking verwys word, sal die Here ‘n oorblyfsel van Israel beskerm en versorg om aan die lewe te bly tot met die koms van die Messias op die Olyfberg (Sag. 14:4-5). Hierdie tyd van ontvlugting na die woestyn is duidelik die laaste 3½ jaar voor die koms van Christus, en is beslis nog toekomstig.

8. Verdrukking tot Redding

Die komende groot verdrukking sal tot die redding van die hele oorblyfsel van Israel lei. Die Here sê: “In hulle nood sal hulle My soek” (Hos. 5:15). Hulle kwaai verdrukking tydens die verskriklike dag van die Here sal tot hulle redding wees: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7). Teen die einde van die groot verdrukking, omsingel deur die magte van die Antichris, sal die oorblyfsel van Israel na die Olyfberg optrek in afwagting op die koms van die Messias aan die einde van die 70ste jaarweek. Die Heilige Gees sal oor hulle uitgestort word en hulle sal almal gered word: “Oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind” (Sag. 12:10). “Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!” (Sag. 13:9).

Nie slegs ‘n oorblyfsel van Israel nie, maar ook ‘n oorblyfsel van ander nasies, sal gered word wanneer Jesus aan die einde van die verdrukking terugkom aarde toe: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae… sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30).

Die vervolging van die Jode in Wêreldoorlog II het nie eers naastenby na ‘n reaksie van dié aard gelei nie, want dit was nog nie die tyd van die 70ste jaarweek van Daniël en van die koms van die Messias nie.

9. Tekens van die Tye

Die tekens van die tye wat in Mattheus 24 bespreek word, het hoofsaaklik betrekking op Israel in die komende tyd van verdrukking. Die Here Jesus praat hier met die Jode wat deur die verdrukking sal gaan. Hy verwys ook na hulle vlug woestyn toe in die middel van die verdrukking, asook na die invloed wat klimaatsomstandighede en Israel se sabbatswette op hulle vlug kan hê (24:15-21). Vir hulle sal die begin van die smarte in die eerste helfte van die jaarweek aanbreek, en die groot verdrukking in die tweede. Die oorloë, hongersnode, pessiektes en aardbewings sal natuurlik ook elders in die wêreld voorkom.

Hoewel daar beslis ‘n aanloop tot die verdrukkingsperiode is, sou dit verkeerd wees om Wêreldoorlog I en II as die oorloë te beskou waarna Jesus verwys het. Daar sal baie oorloë wees wat die verdrukkingstyd sal kenmerk. Die eerste groot oorlog sal die Russies/Arabiese inval in Israel wees (Eseg. 38 en 39). Daarna sal Israel direk geraak word deur oorloë tussen die Antichris as die koning van die Noorde en Egipte as die koning van die Suide [rigtings soos vanuit Israel waargeneem] (Dan. 11:40-42). Die Antichris sal ook teen verskeie ander nasies oorlog maak (Dan. 11:44). Teen die einde van die groot verdrukking sal alle nasies teen Israel gemobiliseer word (Sag. 12:3; 14:2) en ook teen hulle komende Messias-Koning (Op. 19:19). Bose geeste sal die konings van die aarde aanhits om hulle leërs in Israel te ontplooi (Op. 16:13-16).

Ten spyte daarvan dat die eerste twee wêreldoorloë nie spesifiek inbegrepe is by die tekens van die tye wat in Mattheus 24 bespreek is nie, was hulle beslis van belang vir die herstel van Israel. Deur Wêreldoorlog I is die land, Israel, van Turkse beheer bevry en in ‘n Britse mandaatgebied omskep ter voorbereiding op die terughandiging daarvan aan sy regmatige eienaars. Deur Wêreldoorlog II is die volk Israel bevry van die nasies waarheen hulle verstrooi geraak en verdruk is, deurdat baie van hulle verplig is om vir oorlewing na hul eie land terug te keer. Deur Wêreldoorlog III [die slag van Armageddon] sal Israel se geestelike herstel bevorder word, omdat dit hulle na hul Messias sal dryf, wat hulle enigste hoop op redding sal wees.

10. Die Stryd om Jerusalem

Jerusalem is ‘n stad met ‘n baie besondere betekenis. Wanneer die Here Jesus terugkom, kom Hy na Jerusalem toe terug: “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê aan die oostekant” (Sag. 14:4). Ná sy terugkeer sal Christus die vervalle hut van Dawid weer oprig (Hand. 15:16-17) en dan van die herstelde troon van Dawid af regeer (Luk. 1:32). “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17). “Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. Hy sal oordeel oor die nasies en regspreek oor baie volke…” (Jes. 2:3-4).

Met die wederkoms van Christus moet die Jode terug wees in hulle land – ook in die stad Jerusalem. “…elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het” (Op. 1:7). Die Jode is sedert 1948 terug in hulle land, en sedert 1967 beheer hulle ook die stad Jerusalem. In 1980 is Jerusalem verklaar tot die ewige, onverdeelde hoofstad van Israel. Die eerste minister, mnr. Begin, het toe sy kantoor van Tel Aviv af na Jerusalem verskuif.

Die eindtydse stryd vir die beheer oor Jerusalem het begin toe Israel die Ou Stad [waarvan die Tempelberg deel is] in Junie 1967 van Jordanië verower het. Die magte van die duisternis weet verseker dat dié een wat in die toekoms sy koninkryk in Jerusalem vestig, ook oor die hele wêreld sal regeer. Dit is die rede waarom die Antichris homself in Jerusalem tot God en dus ook tot opperheerser van die heelal sal verklaar! Verskeie ander dramatiese gebeure sal in Jerusalem plaasvind, insluitende die groot oorlog tussen Christus en die Antichris (Op. 19:19-21; Dan. 11:45). Die neerlaag van die Antichris sal vinnig en beslissend wees.

Weerlegging van die Wêreldoorlog II Teorie

In die lig van die voorafgaande Bybelse getuienis kan die teorie waardeur die verdrukking met die vervolging van Jode in die Tweede Wêreldoorlog gelykgestel word, soos volg weerlê word:

Het Wêreldoorlog II sewe jaar lank geduur? Nee – dit het 5 jaar en 8 maande lank geduur.
Was Israel gedurende Wêreldoorlog II terug in hulle land? Nee.
Was groot getalle Jode woonagtig in Jerusalem en in die res van Israel sodat die Here hulle daar kon toets en louter? Nee.
Het Israel die tempel gedurende Wêreldoorlog II herbou en die offerdiens weer ingestel? Nee.
Het Israel na die berge van Judéa gevlug onderweg na ‘n plek in die woestyn waar hulle 3½ jaar lank geskuil het? Nee.
Het Israel ‘n verbond met die Antichris [na bewering Hitler] gesluit en hom as die Messias erken? Nee.
Het Israel ‘n regering of ander erkende leiers gehad wat namens die volk verbonde kon sluit? Nee.
Het die Antichris homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar? Nee.
Is die Antichris [na bewering Hitler] deur die verskyning van Christus se wederkoms tot niet gemaak (2Thess. 2:8) en in die poel van vuur gegooi (Op. 19:20)? Nee.
Is Wêreldoorlog II onmiddellik deur die wederkoms van Christus gevolg? Nee.
Het die verdrukking van Wêreldoorlog II tot Israel se nasionale bekering gelei? Nee.
Is 144000 Jode in ‘n herlewing vroeg in Wêreldoorlog II gered, deur God verseël en vir ‘n spesiale taak as evangeliste afgesonder, terwyl die ander lede van die volk die Antichris gedien het? Nee.
Was al die nasies in Wêreldoorlog II verenig in ‘n oorlog teen Israel en Jerusalem? Nee – die Jode is hoofsaaklik deur Duitsland se Nazi-magte vervolg en doodgemaak.
Is die Antichris se 666-verwante nommer op alle mense afgedwing? Nee.
Het die Antichris ‘n godsdienstige leier, die valse profeet, as mede-regeerder gehad? Nee.
Het die konings van die Ooste [Sjina en sy bondgenote] die Midde-Ooste met 200 miljoen soldate ingeval? Nee.
Is Babilon, wat eers sedert 1978 herbou word, gedurende Wêreldoorlog II vernietig? Nee.
Was Wêreldoorlog II die slag van Armageddon met sy sterk fokus op Israel? Nee.
Is Israel se ongeregtighede en sonde deur hulle vervolging in Wêreldoorlog II beëindig, en het die tyd van ewige geregtigheid waarvan Daniël 9:24 praat, toe begin? Nee.
Is die Jode aan die einde van Wêreldoorlog II met die Messias versoen, soos wat die geval sal wees aan die einde van die groot verdrukking (Sag. 12:10; 13:1, 9)? Nee. As ‘n volk verwerp hulle nog steeds vir Jesus as Messias.

Die bogenoemde feite weerlê enige historiese vertolking van Bybelse profesieë oor die groot verdrukking en die openbare optrede van die Antichris – ongeag of hierdie tydperk na die eerste eeu, na die Middeleeue of na Wêreldoorlog II in die 20ste eeu teruggeskuif word. Hierdie profesieë is duidelik eindtyds en sal op die wederkoms van Jesus Christus, die vernietiging van die antichristelike magte by die slag van Armageddon, die redding van die oorblyfsel van Israel en die vestiging van Christus se vrederyk op aarde uitloop.

Ons is baie naby aan die wegraping, waardeur die kerkbedeling beëindig sal word. Hierna sal die Antichris geopenbaar word. Sy verbond met Israel sal die 70ste jaarweek van Daniël inlui, wat die verdrukking sal wees – 3½ jaar van valse vrede, gevolg deur 3½ jaar van groot verdrukking soos wat die wêreld nog nooit geken het nie. Aan die einde van die sewe jaar sal Christus by sy wederkoms die Antichris en sy demoniese regering vernietig en daarna die troon van Dawid in Jerusalem herstel. Hy sal dan as Koning van die konings in sy geopenbaarde koninkryk op aarde regeer.

Implikasies van die Historiese Siening

Baie mense huldig die mening dat dit nie regtig saak maak hoe jy Bybelse profesieë vertolk nie, solank jou verhouding met die Here net reg is. Dit is nie waar nie. Bybelse profesieë is om ‘n baie belangrike rede aan ons gegee, want dit is daarop ingestel om aan ons die regte perspektief op wêreldgebeure te gee en sodoende te help om ons verhouding met die Here reg te hou.

Mense wat Bybelse profesieë oor die eindtyd histories verklaar, loop geweldige risiko’s in hulle geestelike lewe. Die volgende is die tien belangrikste gevare wat hieraan verbonde is:

Dit bemoeilik jou taak om die opbou van antichristelike magte te kan verstaan

Mense wat alle profesieë oor die Antichris en die groot verdrukking as reeds vervuld in historiese tye beskou, het geen insig in – en ook geen Bybelse verklaring vir – die eindtydse opbouing van antichristelike magte nie. Omdat hulle nie op die toekomstige vervulling van profesieë oor die Antichris ingestel is nie, bemerk hulle glad nie die politieke, ekonomiese en godsdienstige magsbasisse wat nou vir die Antichris se wêreldregering, wêreldekonomie en alliansie van wêreldgodsdienste geskep word nie. Hulle het geen begrip vir naderende onheil en oordele nie, en verkondig derhalwe ook nie die belofte van ontvlugting uit hierdie donker tydperk nie.

Dit bemoeilik jou opdrag om teen die Antichris weerstand te bied

Omdat ons in “die teenwoordige bose wêreld” leef (Gal. 1:4), moet ons die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde wees. Die realiteit van ‘n toekomstige groot verdrukking waarin “die mens van sonde” oor die aarde gaan regeer (2Thess. 2:3), veroorsaak dat ons verslegtende toestande beleef wat deur grootskaalse geestelike en morele verval gekenmerk word. Hoe kan ons effektief teen die ontluikende sonde-kultuur van die Antichris weerstand bied as ons nie eers glo dat daar só ‘n tyd en só ‘n persoon aan die kom is nie? Hoewel ons die Antichris nie sal sien nie, moet ons hom en sy ideologie nogtans in hierdie aanloopfase sterk teëstaan. Met die wegraping kom die Here die “teëhouers” teen die mens van sonde haal (2Thess. 2:6-8).

Dit maak van die vroeë voorlopers die finale Antichris

In die historiese skool word die Antichris se voorlopers tot die status van die finale Antichris verhef (vgl. 1Joh. 2:18). Paulus het die slagoffers van die Romeinse Ryk se skrikbewind, waarin die Christene erg vervolg is, daaraan herinner dat dit nog nie die dag van die Here was nie (2Thess. 2:1-2). So ook was nie een van die “antichristelike” pouse in die Middeleeue die finale Antichris nie. Hulle was almal antichriste in die kleine, soos ook Hitler, en as sodanig onder die baie wegbereiders vir die groot, eindtydse Antichris wat ‘n lewende persoon sal wees wanneer Jesus kom (2Thess. 2:8; Op. 19:19-20). Die eindtydse verdrukking sal die ergste van alle tye wees.

Dit ontneem jou van finale waarskuwings oor die wederkoms van Christus

‘n Historiese interpretasie van profesieë oor die eindtyd ontneem mense van finale waarskuwings oor die nabyheid van Christus se wederkoms. Omdat dié mense nie die herstel van Israel en die opbouing van antichristelike ideologieë en strukture as tekens van die eindtyd aanvaar nie, spreek die huidige wêreldgebeure hulle nie uitdruklik aan om vir die spoedige wederkoms van Jesus Christus gereed te maak nie. Hulle gaan dus houtgerus met ‘n materialistiese leefwyse voort en maak nie seker dat hulle waak en bid om waardig te wees om al hierdie dinge wat kom [die groot verdrukking] te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan nie (Luk. 21:36).

Dit ontneem jou van ekstra motivering tot heiligmaking

Indien ons nie die Here Jesus se spoedige koms verwag nie, is daar nie by ons so ‘n groot dringendheid om heilig te leef en sonder vlek of rimpel voor die hemelse Bruidegom te verskyn nie. Johannes sê dat elkeen wat die hoop op sy verskyning het, homself reinig soos wat Hy rein is (1Joh. 3:2). Ons moet bid sodat die Here ons harte deur die Heilige Gees se werking sal versterk om onberispelik te wees in heiligheid by die wederkoms van onse Here Jesus Christus (1Thess. 3:13). Die maagde wat nie meer die spoedige koms van die bruidegom verwag het nie, het aan die slaap geraak en nie genoeg olie in hulle lampe gehad nie (Matt. 25:1-13).

Dit lei tot geestelike onverskilligheid

Wanneer jy nie meer ‘n aktiewe toekomsverwagting het nie, raak jy geestelik onverskillig en verval ook maklik in sonde: “Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom – en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie…” (Matt. 24:48-50). Verwag die Here altyd, slaan ag op die tekens van sy naderende koms, en leef waardig voor Hom sodat jy met vrymoedigheid rekenskap van jouself kan gee (Rom. 14:10-12; 2Kor. 5:10). Die profetiese woord moet altyd soos ‘n lig op ons pad skyn en ons voetstappe rig (1Pet. 1:19).

Dit lei tot die verwerping van die herstel van Israel en die wegraping

Een van die talle gevolge van die historiese siening is dat die herstel van Israel, insluitende die herowering van Jerusalem, nie as tekens van die eindtyd aanvaar word nie. Jesus se uitspraak dat Jerusalem vertrap sal word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is (Luk. 21:24), word nie as ‘n uitdruklike teken van die naderende einde van die kerkbedeling aanvaar nie. Omdat daar volgens dié mense nie ‘n letterlike groot verdrukking van sewe jaar voor die wederkoms van Christus sal wees nie, word daar geen noodsaaklikheid vir ‘n wegraping gesien sodat Christene hierdie oordele kan ontvlug nie. Die wegraping word dus weens subjektiewe redenasies verwerp.

Dit lei tot wanhoop

Die wegraping is ‘n positiewe en stabiliserende belofte in ‘n andersins donker toneel van eindtydse profesieë oor die oordele van God en die skrikbewind van die Antichris in die groot verdrukking. Mense wat die hoop van die wegraping verwerp omdat daar na bewering nie ‘n groot verdrukking kom nie, ontneem hulleself van ‘n geestelike anker in die lewe. Wanneer die donker tye oor hulle toesak, sal hulle in wanhoop verval: Op die aarde sal daar “benoudheid van nasies in hulle radeloosheid wees… mense se harte sal beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Luk. 21:25-26).

Dit ondermyn die gesag van die Skrif

Wanneer duidelik gedefinieerde Bybelse profesieë oor die eindtyd histories vertolk word, word mense verplig om die betrokke profesieë tot ‘n groot mate simbolies te verklaar. Die rede hiervoor is dat verskeie besonderhede van die betrokke profesieë nie in die historiese konteks waarin dit geforseer word, inpas nie. In plaas daarvan dat sulke mense hulle eie vertolkings bevraagteken, neem hulle dan hulle toevlug tot vergeesteliking en sê dat ons nie die profesieë letterlik moet opneem nie. Sodoende word Openbaring en ander profetiese gedeeltes simbolies verklaar en van hulle letterlike betekenis beroof. Die gevolg is dat skrifgesag in die algemeen afgetakel word.

Dit bevorder koninkryksteologie

Persone wat geneig is om die bedeling van die Antichris se regering van sewe jaar met die kerkbedeling te integreer, vertoon geen dispensasionele onderskeidingsvermoë nie. Hulle trap dikwels ook in die strik om die komende koninkryksbedeling van die duisendjarige vrederyk met die huidige kerkbedeling te versoen. Dit lei tot pogings om nóú, voor die wederkoms, koninkrykstoestande op aarde te skep. Hulle wil nie meer vreemdelinge en bywoners in ‘n bose wêreld wees nie, maar absolute heerskappy voer en as konings regeer. Hulle eis ook die mag op om die duiwel te bind en hom selfs uit stede en hele lande te verdryf. Hulle wil ryk en voorspoedig wees, en na willekeur tekens en wonders doen terwyl hulle oor hul erfdeel op aarde regeer.

Evangeliese, chiliastiese Christene verwerp die historiese verklaring van profesieë oor die Antichris en die groot verdrukking omdat dit in stryd met die duidelike, eskatologiese aard van die betrokke profesieë is. Watter reg het ons om profesieë oor ‘n eindtydse wêreldleier, wat as ‘n lewende persoon deur Christus by sy wederkoms verdelg sal word, te vergeestelik of iewers na die verlede terug te skuif sodat dit ons nie meer aanspreek nie? Wanneer profesieë in die Bybel ‘n logiese en voor-die-hand-liggende betekenis het – soos bv. dat Israel in hulle land herstel sal word en dat daar ‘n Antichris oor die wêreld sal regeer – het ons géén reg om dit te vergeestelik nie.