El-Roi - Afrikaans

Studies

Gedigte

God

Israel

Profesiee

Satan

Die Hoofsleutel tot Bybelprofesie

Die Hoofsleutel tot Bybelprofesie

Die Lewende Kerk van God

 
INHOUD
Van die Redakteurs...
ONTHUL: Die Hoofsleutel tot Bybelprofesie!
Les 4, deel 1
Les 4, deel 2
Les 4, deel 3
Les 4, deel 4
 
Van die Redakteurs...

Hoe sou u reageer as u weet dat u net ’n paar weke oor het om te leef? Watter finale aanmanings en woorde van raad sou u hê vir ’n groep mense wat u vir bykans 40 jaar gelei het? Dit was die situasie waarin Moses hom bevind het terwyl Israel in die vlaktes van Moab kampeer het, met die Beloofde Land in sig.

Met die byeenroeping van die mense aan die begin van die elfde maand, in die veertigste jaar vandat hulle Egipte verlaat het, het Moses begin met die reeks aanmanings en vermanings in die boek Deuteronomium vervat. Nadat hy die mense verskeie kere aangespreek het, het Moses alles opgeteken wat hy aan hulle oorgedra het en daarna die hele Tora aan die Levitiese priesters oorhandig om langs die Verbondsark bewaar te word (Deuteronomium 31:24-26). Dit is waar ons geskrewe Bybel begin het.

Een hooftema wat regdeur die boek van Deuteronomium voorkom, behels die belangrikheid om te onthou wat God vir Sy mense gedoen het. Die mense word herhaaldelik vermaan om sekere dinge nie te vergeet nie. Hulle moet God se wet onthou, hulle moet onthou hoe God hulle gedurende die jare in die wildernis versorg het, en hulle moet onthou dat God die bron is van die materiële seëninge wat hulle in hulle nuwe land gaan erf.

Ondankbaarheid is dalk die mees algemene sonde. Moses het hierdie mense, die antieke Israel, die voorvaders van die moderne Anglo-Saksies-Keltiese nasies, streng gewaarsku oor hierdie sonde en sy nagevolge: “Neem jou in ag dat jy die Here jou God nie vergeet deur Sy gebooie en Sy verordeninge en Sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie; sodat jy nie miskien eet en versadig word nie en mooi huise bou en bewoon, en jou beeste en jou kleinvee vermeerder en jou silwer en goud vermeerder, ja, alles wat jy het, vermeerder – en jou hart hom dan verhef, dat jy die Here jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawe­huis, uitgelei het; wat jou deur die groot en vreeslike woestyn gelei het, deur giftige slange en skerpioene en ’n dorsland sonder water; wat vir jou water uit die klipharde rots laat kom het; wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te veroot­moedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen – en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe. Maar dink aan die Here jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe, dat Hy Sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met ’n eed beloof het, soos dit vandag is” (Deutero­nomium 8:11-18).

Nog nooit tevore het ’n groep mense meer materiële seëninge ontvang as die afstammelinge van die Amerikaanse en Britse volke nie. Bybelprofesie verduidelik hoekom, soos u in ons boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? kan lees wat GRATIS aan u gestuur sal word op aanvraag. Ongelukkig het ons op hierdie seëninge gereageer deur ons kinders te vermoor, sekswandade te pleeg en materialisme te verheerlik. Soos Moses gewaarsku het, stuur ons af op ’n tydperk waar ons swaar gestraf gaan word omdat ons ons Skepper en Sy wet vergeet het.

ONTHUL: Die Hoofsleutel tot Bybelprofesie!

Verwys profesie direk na die Verenigde State, Kanada, Engeland, Holland, Frankryk, Denemarke en ander afstammelinge van antieke Israel? Daar is baie profesieë wat betrekking het op Israel, maar verwys hulle almal na die moderne Joodse staat in die Midde-Ooste? Kennis van die identiteit van die moderne volke wat in daardie ou profesieë genoem word, is die hoofsleutel wat daardie selfde profesieë vandag laat sin maak!

Baie van die Bybelprofesieë kom voort uit die antieke beloftes wat God aan Abraham (Abram) gemaak het – glo dit of nie! As ons vandag nie die verreikende gevolge van daardie ou beloftes verstaan nie, kan ons profesie nie ten volle verstaan nie. In Genesis 11 word Abraham aan ons bekendgestel, die man wat God se opdrag om uit Babilon te kom, gehoor­saam het. Dwarsdeur die res van beide die Ou- en Nuwe Testamente is die fokus op die uit­bouing van Abraham se verhouding met God.

Abraham word genoem beide die “vriend van God” (Jakobus 2:23) en die “vader van al dié wie glo” (Romeine 4:11). Die beloftes wat God aan Abraham gemaak het, vorm die grondslag van God se plan! Alle toekomstige verbonde is ’n uitbouing van die verbond wat God met Abraham in Genesis 17 gesluit het.

Die verbond by die berg Sinai was gesluit met die 12 stamme gebore uit Abraham se kleinseun, Jakob, wie se naam verander is na Israel. God het reeds die erfenis van die “Beloofde Land” aan Abraham se afstamme­linge gewaarborg (Genesis 15:13-21). Hierdie was nie die hoofsaak by die berg Sinai nie. Ingevolge Eksodus 19:5-8, het God ’n verbond voorgelê waardeur Israel die geleentheid gebied is om ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie te kon word.

Later lees ons van twee afsonderlike ver­bonde, genaamd die verbond met Dawid en die

verbond met Levi. Beide Dawid en Levi was afstammelinge van Abraham en hierdie ver­bonde was uitbouings van die beloftes wat God aan Abraham gemaak het. God het Dawid ’n ewigdurende koningskap belowe (Psalm 89:3-4), gebaseer op die belofte wat God aan Abraham gemaak het dat konings uit hom sou voortspruit. Die verbond met Levi was die be­lofte van ’n ewigdurende priesterskap (Númeri 25:10-13; Maleági 2:4-8). Hierdie was ook ’n uitbouing van die beloftes aan Abraham. Per slot van sake sou die kennis van die ware God en Sy weë deur Abraham se afstammelinge vir die wêreld bewaar moes word (Genesis 17:7).

Selfs die Nuwe Verbond, voorspel in Jere­mia 31:31-34 en Eségiël 11:19-20 en verkon­dig deur Jesus Christus (Maleági 3:1; Markus 1:14), sou in Abraham se afstammelinge ves­tig. Die apostel Paulus verduidelik in Galasiërs 3:29: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename”. Met ander woorde, alle ware Christene word geag as geestelike afstam­melinge van Abraham. Galasiërs 3:8, 16 ver­duidelik dat hierdie belofte verwys na Jesus, die Messias, ’n afstammeling van Abraham deur Sy menslike stamboom.

’n Verskeidenheid beloftes is aan Abraham gemaak. Die blote koms van die Messias, die grootste belofte van die Bybel, was gebaseer op God se verbond met Abraham. In Genesis 22:18, is Abraham meegedeel dat die ganse mensdom deur sy saad geseën sou word.

In hierdie les sal ons die beloftes aan Abraham, wat die grondslag tot begrip is, ondersoek. Watter beloftes is geestelik, en watter beloftes is vleeslik? Watter implikasies hou daardie beloftes vir ons in? Om die belof­tes aan Abraham te verstaan, is die hoofsleutel tot begrip van eindtydprofesie!

Les 4, deel 1

Die Roeping van Abraham

Ons maak kennis met Abraham in Genesis 11 en die res van die Bybel handel oor die verhaal van Abraham se familie. Wat was die aard van Abraham se verhouding met God? Watter beloftes het God aan Abraham gemaak, en waarom? Deur wie moes hierdie beloftes oorgedra word? Kyk na die Bybel se antwoorde op hierdie vrae.

1. Wat is die eerste versoek, in die Skrif op­geteken, wat God aan Abraham gerig het? Genesis 12:1. Wat was Abraham se reaksie? Genesis 12:4.

2. Waar was Abraham se tuiste toe God hom oorspronklik geroep het? Handelinge 7:2, 4. Vereenselwig die Bybel die land van die Chaldeërs met die koninkryk van Babi­lonië? Jesaja 13:19 en Jeremia 50:1. (Nota: Mesopotamië beteken “[die land] tussen die riviere”. Dit word algemeen beskryf as ’n gebied tussen die Tigris en die Euf­raatriviere in – wat in die moderne tyd bekend staan as Irak en deel is van noord­oos Sirië. Babilon was ’n groot beskawing in die suidelike deel van Mesopotamië en word in die Bybel “die land van die Chaldeërs” genoem.

3. Wat het God in gedagte gehad vir Abra­ham en sy afstammelinge? Genesis 12:2-3.

4. Het Abraham op daardie stadium die land geërf wat God aan hom belowe het? Genesis 12:6-7; Handelinge 7:5.

5. Het Abraham al ontvang wat God aan hom belowe het? Hebreërs 11:8-9, 13.

6. Wat was die voorwaardes van die ver­bond wat God met Abraham gesluit het? Genesis 17:1-2. Sou Abraham die vader van “’n menigte van nasies” word?
Genesis 17:4. (Nota: Abraham se oorspronk­like naam was “Abram” en het beteken “ver­hewe vader”. In Genesis 17:5 hernoem God hom Abraham – letterlik: “vader van ’n menigte”. Dit kan ook beteken “opperhoof van ’n menigte”, wat aandui dat Abraham die voorganger sou wees van dié wat sou regeer. Vers 6).

7. Sou hierdie belofte vervul word deur die afstammelinge van Abraham, gebore uit sy vrou, Sara? Genesis 17:15-16. (Toe Abra­ham oorspronklik deur God geroep is, was Sara se naam Sarai, wat beteken “prinses”. Die belofte aan Abraham het genoodsaak dat Sarai se naam verander word na Sara, wat “edelvrou” beteken, ’n meer paslike naam vir ’n vrou waaruit “konings van volke” sou voortkom”).

8. Het God die perke van Abraham se totale toegewydheid aan Hom beproef? Genesis 22:1-2, 10-12. As gevolg van Abraham se totale onderdanigheid aan God se bevele, het God nou gesê dat die voorwaardes van die verbond met Abraham nagekom is en dat die beloftes aan sy afstammelinge onvoorwaar­delik is? Genesis 22:16-18.

9. Was die beloftes gemaak aan Abraham ook met Isak herbevestig? Genesis 26:1-5, 24.

10. Sou hierdie beloftes oorgedra word aan Isak en Rebekka se jongste seun, Jakob? Genesis 28:1-4.

Israel en Juda – Heeltemal Afsonderlike Nasies

Baie Bybelprofesieë het betrekking op die toekoms van die afstammelinge van Abraham. Profesieë oor straf en toekomstige herstel met die koms van die Messias, is vervat in boeke soos Jesaja, Jeremia, Esegiël, Hosea, Amos en Miga. Al hierdie profesieë is uitbouings van die beloftes wat God aan Abraham gemaak het.

Hierdie eindtydprofesieë is alleenlik ver­staanbaar indien ons weet waar die heden­daagse moderne afstammelinge van Abraham geleë is. Hierdie profesie verwys duidelik na veel meer as net die Joodse nasie, want hulle het nie al die beloftes wat aan Abraham gemaak is, ontvang nie. Bo en behalwe die geestelike belofte van redding vir die hele mensdom deur die Messias, is daar ook die beloofde fisiese erfenis van rykdom en grond vir Abraham se afstammelinge. Hy was per slot van sake ver­onderstel om die vader van baie nasies te wees en sy nageslagte sou die poorte van hul vyande in besit neem (Genesis 22:17).

Meeste mense, selfs baie Bybelgeleerdes, beskou die benamings van Israel en Juda as afwisselbaar. As gevolg van hierdie misver­stand, word meeste van die Ou-Testamentiese profesieë heeltemal misverstaan.

Israel is die nuwe naam wat God in Genesis 32:28 aan Jakob gegee het na sy deurnagse stoeigeveg. Jakob het homself bewys as vol­hardend en is dus ’n naam gegee wat beteken “oorwinnaar met God”. Jakob het 12 seuns gehad waaruit die 12 stamme van Israel gebore is. Dus verwys Israel na al die afstammelinge van Jakob. Juda was een van Israel se 12 seuns en vandaar het die naam Jood ontstaan.

In die tyd van profeet Samuel, het die nasie ’n koning begeer. God het Saul aan hulle gegee as hul eerste koning. Na ’n heerskappy van 40 jaar (Handelinge 13:21), het Koning Dawid hom opgevolg. Met Dawid se afsterwe het sy seun Salomo hom op die troon in Jerusalem opge­volg. Aan die einde van Salomo se heerskappy het iets plaasgevind wat verreikende gevolge meegebring het. Afgevaardigdes het Salomo se seun, Rehábeam, genader en vereis dat die hoë belastings van sy vader verlaag word. Rehábeam het die wyse raad van die oudstes verwerp, en dreigende stellings aan die afgevaardigdes kwyt­geraak wat ’n rebellie teen sy heerskappy ontketen het (1 Konings 12:1-8). Die noordelike tien stamme het Jeróbeam, die seun van Nebat, gekies as hul koning en het ’n onafhanklike koninkryk daargestel (verse 20-25). Die suidelike stamme van Juda en Benjamin (waarby meeste van die Leviete later aangesluit het) het getrou gebly aan Rehábeam, seun van Salomo, wat in Jerusalem geheers het.

Die volgende 200 jaar se verhaal van die mededingende koninkryke van Israel en Juda is in die boeke van 1 en 2 Konings opgeteken. Hulle het somtyds saamgesnoer en het ook dikwels teen mekaar geveg. Die eerste keer waar die woord Jood in die Ou Testament gebruik is, was dit in der waarheid ’n verwysing na ’n oorlog tussen die Jode en Israel (2 Konings 16:5-6)!

Israel is in ongeveer 721 v.C. deur die Assiriese magte gevange geneem en tussen die Swartsee en Kaspiese see gevestig. Terwyl Assiriese magte Juda uiteindelik binnegeval het, het God as gevolg van Hiskia se opregte gebede, ingetree en is die Joodse nasie gespaar. Nietemin, het die Babiloniërs 100 jaar later onder Koning Nebukadnésar die suidelike koninkryk van Juda binnegeval. In onge­veer 586 v.C. is Jerusalem verwoes en die tempel is afgebrand. Die Jode is in ballingskap weggevoer na Babilon.

Later, ongeveer 70 jaar ná Nebukadnésar se eerste inval, in die dae van die Persiese koning Kores, het die Jode begin terugkeer na Jerusalem. Hierdie terugkering, gelei deur Serubbábel, het die Joodse nasie hervestig. Die tien stamme van Israel het egter nooit weer teruggekeer na hul land in die Midde-Ooste nie. Hulle het in die geskiedenis be­kend gestaan as die “verlore tien stamme”.

Waar is daardie tien stamme vandag? ’n On­dersoek van die Bybelprofesieë, tesame met die geskiedenisopskrywings, voorsien die eenvoudige antwoord!

Les 4, deel 2

Fisiese en Geestelike Beloftes: Verstaan die Verskil

Die algemene lering wat in die belydende Christenwêreld bestaan, is dat al die beloftes wat aan Abraham gemaak is, geheel en al in Christus vervul is. Is dit regtig wat die Bybel u leer?

Ons sal in hierdie gedeelte die presiese aard van die beloftes ondersoek en of hulle beloftes insluit aan Abraham se fisiese afstammelinge – beloftes van nasionale en materiële aard. Is daar ander beloftes wat geestelik van aard is? Is daar geestelike beloftes wat geloofverwant is – beloftes wat geheel en al op God se genade betrekking het, eerder as fisiese herkoms? Let op wat die Bybel duidelik oor hierdie grootliks misverstaande onderwerp leer.

1. Geestelik gesproke, word alle ware Chris­tene as kinders van Abraham geag? Galásiërs 3:26-29.

2. Word ons as die kinders van Abraham geag omdat ons reageer op God in geloof, net soos wat Abraham gedoen het? Gal­asiërs 3:6-9.

3. Is die uiteindelike vervulling van seëninge ’n belofte van die genade wat God deur Jesus Christus openbaar het? Galasiërs 3:16.

4. Het die uiteindelike vervulling van God se seëninge oor Abraham die belofte ingesluit dat hy en sy geestelike afstammelinge die aarde sou beërwe? Romeine 4:13 (vgl. Christus se verklaring in Mattheus 5:5). Hoe lank sou Abraham en sy nakomelinge in besit wees van dít wat God hulle sou gee? Genesis 17:8. Sou ’n ewigdurende besitting dan nie ook noodwendig die ewige lewe beteken nie?

5. Daar was duidelik ’n geestelike aspek betrokke by die beloftes wat God aan Abraham gemaak het; die belofte van “genade” wat vervul sou word deur een Saad, naamlik Christus. Was daar ook ’n fisiese aspek wat van toepassing was op die baie saad wat letterlik uit Abraham sou voortspruit? Genesis 22:17, 27:28-29.

6. Het God uitgebrei op die beloftes aan Abra­ham se kleinseun, Jakob, deur aan hom te sê dat sy afstammelinge sou uitsprei in alle rigtings deur die beloofde erfenis in die Midde-Ooste? Genesis 28:13-14.

7. Watter verdere besonderhede het God aan Jakob onthul in verband met die beloftes? Genesis 35:10-12.

8. Het Jakob sy 12 seuns meegedeel wat hulle afstammelinge “aan die einde van die dae” sou ervaar? Genesis 49:1. Bewys hierdie nie dat al 12 stamme van Israel deurentyd uitkenbare eenhede sou bly tot die eindtyd nie?

9. Was dit in die eerste eeu nog bekend dat die 12 stamme verskillende eenhede was? Jakobus 1:1.

(Nota: Joséphus, die eerste-eeuse Joodse Geskiedskrywer, teken die volgende aan: “daar is dus maar twee stamme in Asië en Europa onderdanig aan die Romeine, ter­wyl die 10 stamme anderkant die Eufraat­rivier is, tot op hede, en ’n ontsaglike menigte is…” Antiquities, XI, v. 2).

Die Vader van die Gelowiges

Baie belydende Christene dink vandag dat al wat jy hoef te doen is om net te “glo”. Is dit genoeg om redding te bewerkstellig? Die apostel Jakobus het gesê: “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder” (Jak. 2:19), wat openbaar dat om “net te glo” nie genoeg is nie! Abraham was ’n uitstaande voorbeeld van ware geloof. Sy geloof was lewend – met twee uit­staande eienskappe: geloof en gehoorsaamheid. Hierdie eienskappe is lewensbelangrik vir elkeen se geestelike groei.

In Genesis 12 openbaar God dat dit tyd was om Sy volk – Israel – deur Abraham te begin. “En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys” (Genesis 12:1).

God het beloof om Abram te seën en ’n groot nasie van hom te maak. Daardie bevel was dus nie so eenvoudig as wat dit mag klink nie. Abram moes sy familie verlaat, en sy vader se huis, en na ’n verre land reis. Hy kon met God redekawel en geprotesteer het. Per slot van sake was Babilon tog die hartjie van die samelewing, handel en gerief. Waarom dan die beskawing verlaat en in tente rondswerf in die vêrafgeleë Kanaän?

Merkwaardiglik het Abram nie gerebelleer of weer­stand gebied nie. Hy het God eenvoudig gehoor­saam. “Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het, en Lot het saam met hom getrek ...” (Genesis 12:4). Hy het weggetrek sonder om te weet waarheen hy gaan. Hy was nietemin oortuig deur God se woord, “Want hy het die stad verwag wat fonda­mente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Hebreërs 11:10). Van die heel begin van Abraham se roeping af, was geloof in, en gehoorsaamheid aan God se woord die twee uitkenbare eienskappe van sy geloof.

“Daarop lei Hy [God] hom [Abram] uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken” (Genesis 15:5-6). Abraham se geregtigheid was volgens geloof in God se woord, gerugsteun deur gehoor­saamheid: “omdat Abraham na My stem geluister en My ordening, My gebooie, My insettinge en My wette onderhou het” (Genesis 26:5).

Op die ouderdom van 99 het Abraham, in ge­hoorsaamheid aan God, homself besny, asook al die manlikes van sy huismense, as ’n teken van die verbond wat God met hom gesluit het (Genesis 17:23). Die apostel Paulus verwys na hierdie teken as “’n seël van die geregtigheid van die geloof” wat Abraham alreeds voor sy besnydenis getoon het. Hy was nie alleen die fisiese “vader” van die besny­denis nie, maar deur geloof en deur sy voorbeeld het hy ook gewys “dat hy die vader sou wees van almal wat glo” wat redding deur geloof in Jesus Christus uitbeeld, wat later sou volg (Romeine 4:11). Dit is waarom daar na Abraham verwys word as die “vader van die gelowiges”.

Die hewigste toets van Abraham se geloof was ongetwyfeld toe daar van hom gevra is om sy eniggebore seun, Isak, as ’n brandoffer te offer. “Ná hierdie dinge het God Abraham op die proef gestel en aan hom gesê: Abraham! En hy antwoord: Hier is ek! Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys. Daarop het Abraham die môre vroeg klaargemaak en sy esel opgesaal en twee van sy dienaars en sy seun Isak saam met hom geneem; en hy het hout gekloof vir ’n brand­offer en opgestaan en na die plek gegaan wat God hom aangewys het” (Genesis 22:1-3).

Weereens het Abraham geglo en gehoorsaam “want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek ...” (Heb. 11:18). Hierdie karak­tereienskappe het Abraham uitgesonder as ’n unieke dienaar en vriend van God (Jak. 2:23). Alle ware Christene wat in die voetspore van Abraham se geloof wandel, is deur die geloof geregverdig. Dit is ’n lewende geloof wat “geestelike” Babilon verlaat en aan God se weg onderwerp. Na bekering, die doop en ontvangs van God se Gees, word ons ver­wekte seuns van God, “die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename [van die ewige lewe]” (Rom. 4:11, 16-25; Galasiërs 3:28-29).

Die geestelike belofte aan Abraham aangaande Jesus Christus, dat redding na ons kom deur Chris­tus, is welbekend deur meeste belydende Chris­tene. Tog verstaan bitter min mense waarlik wat redding eintlik is.

Les 4, deel 3

Die Geboortereg Seëninge en die Septer Belofte

’n Geboortereg is iets waarop iemand geregtig is deur die reg van geboorte. In die boek Genesis lees ons dat Isak, Jakob en Josef die “geboortereg” geërf het. Wat presies behels die beloftes van geboorteregseëninge? Bo en behalwe die geboortereg, lees ons ook van die belofte van ’n koninklike opvolglyn, die belofte van ’n voortdurende septer wat deur Juda sou kom. Dit is noodsaaklik om te ondersoek wat die Bybel oor die aard van elkeen van hierdie beloftes leer. Kan ons identifiseer wie die ontvangers van daardie seëninge vandag is?

1. Ons het reeds gesien dat die beloftes wat God aan Abraham gemaak het, herbevestig is aan sy seun Isak en sy kleinseun Jakob. Watter van Jakob se seuns het die geboor­tereg geërf? 1 Kronieke 5:1.

2. Aan watter van die seuns van Jakob is die Septerbelofte – die belofte van ’n opvolglyn van konings – gegee? 1 Kronieke 5:2.

3. Is die erfenis van die geboortereg aan Efraim en Manasse, die twee seuns van Josef, in ’n spesiale seremonie oorgedra? Genesis 48:13-16. Volgens vers 16, moes die naam van Israel op besonderse wyse op die afstammelinge van Efraim en Manasse toegepas word?

4. Sou die nakomelinge van Efraim uiteindelik ’n “menigte van nasies” word en die na­komelinge van Manasse een groot volk word? Genesis 48:17-19.

5. Toe Jakob sy seuns geseën het en hulle meegedeel het wat met hulle afstammelinge in die laaste dae sou gebeur (Genesis 49:1), het hy poëties beskryf hoe Josef se na­komelinge ’n kolonistiese volk sou wees wat sou uitsprei net soos ’n vrugbare wingerd wat naby ’n fontein geplant is? Genesis 49:22.

6. Sou ’n opvolglyn van konings uit Juda voortkom, wat die Messias sou oplewer? Genesis 49:10. Is die belofte van ’n opvolg­lyn van konings ook herbevestig aan Dawid, ’n afstammeling van Juda? 1 Kro­nieke 17:10-15. Indien Dawid se nakome­linge God sou verlaat, sou Hy die koning­skap van die Huis van Dawid verwyder soos Hy met die Huis van Saul gedoen het? 2 Samuel 7:12-16.

7. Is Jesus Christus gebore om die troon van Dawid te beërwe? Lukas 1:32. Sit Christus tans op daardie troon, of deel Hy op hierdie oomblik die troon van die Vader in die Hemel? Openbaring 3:21. Sal dit eers met Sy Wederkoms wees dat Christus uiteinde­lik die voortdurende troon van Dawid sal oorneem wat Hy gebore is om te beërwe? Mattheus 25:31.

8. Sou die afstammelinge van Efraim en Manasse, as ontvangers van die geboorte­reg, oorvloedige landbourykdom besit? Genesis 27:28. Sou hulle ook oor ander nasies van die wêreld regeer en die poorte van hul vyande besit? Genesis 27:29, 28:14, 22:17.

Die Geboorteregseëninge

Geen nasies in die geskiedenis van die wêreld het die seëninge wat God aan Abraham belowe het, tot so ’n mate ondervind as die Amerikaanse en Britse volkere nie. Die Engelssprekende volke het uit relatiewe onbekendheid aan die begin van die negentiende eeu opgerys tot waar hulle die ganse wêreld oor die volgende 200 jaar oorheers het.

Brittanje het besit van ’n ryk bekom wat meer as een-kwart van die wêreld se grondoppervlak be­slaan, asook die inwoners daarvan. Dit het feitlik elke strategiese seepoort regoor die wêreld besit en was in beheer van die kom en gaan van andere.

In 1803 het die Verenigde State van Amerika die “Louisiana Purchase” by Napoleon aangekoop teen ’n prys van minder as ’n nikkel (VSA vyfsentstuk) per akker. Hierdie gebied sluit die grootste deel van die hartland van die Verenigde State in – die rykste landbougrond op aarde – en is al “die broodblik van die wêreld” genoem. Die landbouproduksie van die Verenigde State van Amerika, Kanada, Australië en Nieu-Seeland het die gesamentlike opbrengs van die res van die wêreld oorskry. Die enorme bees- en skaapweivelde wat hierdie nasies besit, is werklik merkwaardig. Die koring-, mielies- en ander graanopbrengste is op ’n ongeëwenaarde hoë skaal, net soos die eindelose minerale rykdom van steenkool, yster, koper, petroleum, goud en diamante.

Die geboorteregseëninge wat aan Abraham en sy nakomeling belowe is, is in die Engelssprekende nasies en hul afstammelinge vervul. Geen ander nasies kon nog eens naastenby met hulle oor­vloedigheid meeding nie.

Is God ’n “Aannemer van die Persoon”?

Is God onregverdig? Het Hy meer agting vir een nasie of menseras as ’n ander? Onge­looflik soos dit mag klink, het sommige mense so ver gegaan as om God van rassisme te be­skuldig. Ons Vader in die Hemel is egter nie ’n rassis nie! Hy “is regverdig in al Sy weë” (Psalm 145:17), “... wat die per­soon nie aansien” nie, “... en die vreemdeling liefhet ...” (Deuteronomium 10:17-18); Handelinge 10:34), “... want Hy laat Sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Mattheus 5:45). Waarom het God Israel dan uitgesonder as Sy spesiale volk?

Dit was God se doel om seën­inge op al die nasies uit te stort (Genesis 12:2-3). Die antieke volk, Israel, was ’n tipe “eerste­ling” (Jeremia 2:3) van die nasies van hierdie wêreld; die begin van wat God vir die gan­se mensdom wou doen (Deu­teronomium 4:5-8). As Israel God se wet gehoorsaam het, sou naburige lande ook God se weg aangegryp het en ’n let­terlike utopia geskep het wat rondom die aardbol sou uit­brei. Israel het egter die rug op God gedraai – asook teen Sy wet gerebelleer. As gevolg van die gruwels van die nasie, het God Assirië en Babilon toege­laat om Israel te straf deur hul­le in ballingskap gevange te neem.

Toe Christus gekom het, was die Jode besig om uit te kyk vir die Messias om hulle van die onderdrukkende Ro­mein­se be­setting te bevry en die Konink­ryk van Israel te herstel. Jesus Christus is gebore om ’n koning te wees (Lukas 1:31-33) en sal, ten tye van Sy Wederkoms, ’n ver­strooide Israel uit ge­vangen­skap versamel (Jesaja 11:10-12). Met die vestiging van Sy Hoofkwartier in Jeru­salem, sal Hy die 12 stamme van Israel in hul eie land vestig om ’n lig vir die res van die wêreld te wees.

Jesus het egter nie eenvou­dig net gekom om Israel te ver­los nie, maar om ook die ganse mensdom los te koop en Sy Kerk te bou – geestelike Israel (Mattheus 16:18; 1 Petrus 2:9-10). Die waarheid bied innige vertroosting en hoop aan elke menslike wese. God is nie beïn­druk deur die rykes, die mag­tiges, of die intellektueles van hierdie wêreld nie (1 Korintiërs 1:26-28). Nog minder het enig­een spesiale toegang tot Hom op grond van ras, sosiale sta­tus, of geslag. God is waarlik “geen aannemer van die per­soon” nie, maar “die een wat Hom vrees en geregtigheid doen [in elke nasie, is] Hom welgevallig” (Handelinge 10:34-35). Want “daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus ... en volgens die belofte [saam] erfgename” (Galasiërs 3:26-29).

Les 4, deel 4

Wat lê Voor vir die Moderne Huis van Israel?

Waarom het God Israel geroep om Sy spesiale volk te wees? Was dit bloot ’n kwessie dat hulle Sy “witbroodjies” was? Was daar ’n groot doel hiermee? Dit is heeltemal duidelik dat dit die Anglo-Saksies-Keltiese nasies is, die Verenigde State van Amerika en die Britse Gemenebes, wat in hierdie laaste dae die groot koloniserende volke is wat die rykste dele van die aarde geërf het. Wat hou die toekoms vir hierdie volke in – die moderne Huis van Israel?

1. Hoe beskou God die Huis van Israel? Jere­mia 2:3. Wat was Sy doel vir Israel? Deuteronomium 4:5-8. (Nota: Die blote feit dat God Israel dikwels “eerstelinge” genoem het, veronderstel dat Sy “oes” van die nasies sou voortgaan, en dat Israel slegs Sy beginpunt verteenwoordig het – nie Sy eindpunt nie!)

2. Het God die groot landbou- en minerale rykdom waarmee Hy Israel uiteindelik sou seën, deur Moses voorspel? Deuterono­mium 32:13-14.

3. Het God verwag dat Israel die voorwaardes van die verbond wat Hy met hulle gesluit het, sou bederf? Deuteronomium 31:29. Wat het God voorsien sou Israel heel waarskynlik doen tydens hulle hoogtepunt van nasionale voorspoed? Deuteronomium 32:15-18.

4. Het God, in Deuteronomium 28, seëninge en vervloekinge aan Israel voorgehou? Wat­ter spesifieke optredes van Israel sou óf die seëninge óf die vervloekinge in werking stel? Het die vervloekinge wat oor die Huis van Israel sou kom, hongersnood, siekte-epidemies, militêre neerlae en nasionale gevangenskap ingesluit?

5. Het Jesus Christus ’n tydperk kort voor Sy wederkoms voorspel wat die Groot Ver­drukking genoem sou word? Mattheus 24:21. Praat Jeremia ook van ’n tyd van benoudheid sonder gelyke, wat genoem word “’n tyd van benoudheid vir Jakob”? Jeremia 30:7. Word dit ook in Daniël 12:1 genoem?

6. Wat sal die gevolg van hierdie toekomstige tyd van groot nasionale tugtiging wees? Jeremia 30:8-14, 17-18, 46:27-28.

7. Voorspel God ’n tyd wanneer Israel en Juda weereens as een nasie verenig sal wees? Esegiël 37:15-22. Sal die herrese Koning Dawid koning wees oor hierdie herenigde Israel? Esegiël 37:24-25, 34:23-24. (Nota: Aangesien die hereniging van al 12 die stamme ná Christus se wederkoms plaas­vind, bevestig dit ook dat Israel en Juda afsonderlik en apart gebly het en vandag nie dieselfde volk is nie?)

Die Voorspelde Groot Verdrukking

Dit is asof daar week na week, êrens op hierdie planeet, gebied op gebied deur afgrys­like rampe geteister word. Ons lees daarvan in ons koerante. Ons sien dit op televisie. Beelde van hongersnode, oorloë, natuurlike rampe en ongelukke ets ons TV-skerms daagliks en dit steek soos dolke deur ons harte. Maar hierdie tye is slegs “’n begin van die smarte” – ’n voorloper van ’n katastrofiese ramp wat die aardbol gaan omgord en wat Jesus Christus die “Groot Ver­drukking” genoem het (Mattheus 24:5-8, 21). Wat het Hy daarby bedoel?

Het u geweet dat die verdrukking die na­komelinge van Efraim en Manasse direk gaan betrek? Is daar ’n manier om dit vry te spring? Kan u voorbereid wees?

In u studie van hierdie les het u gesien dat Efraim en Manasse in die Skrif geïdentifiseer word. God het voorspel dat hulle ’n koloni­serende volk sou wees – “’n jong vrugteboom by ’n fontein; sy takke klim oor die muur” (Genesis 49:22) – “’n menigte van nasies” en ’n groot volk (Genesis 48:19-20). God het gesê dat hulle geseën sou word “met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot” (Genesis 49:25). In die tydperk wat uitloop op die eindtyd, sou hulle soos ’n onkwesbare leeu tussen die nasies wees (Miga 5:7). Vervulling van profesieë aangaande hulle verrysing tot mag, nasionale rykdom en gevolglike materiële seëninge, is duidelik sig­baar in die geskiedenis van Brittanje en die Verenigde State van Amerika. God het egter ook ’n toekomstige tyd van dreigende ramp­spoedigheid vir hierdie twee groot “broer” nasies voorspel.

“Want so sê die HERE: Ons het ’n stem van verskrikking gehoor; daar is vrees en geen vrede nie! ... Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob ...” (Jeremia 30:5-7, Daniël 12:1).

Die verdrukking gaan ’n tydperk van God se straf en goddelike teregwysing wees op die skynheilige volke van Brittanje, die Verenigde State, en hul wydverspreide afstammelinge. God, in Sy groot genade, wil hê dat mense hulle van hul sondes moet bekeer. “En om al jou gruwels ontwil sal Ek aan jou doen wat Ek nooit gedoen het nie, en wat Ek só nooit weer sal doen nie” (Esegiël 5:9). “Daarom sal Ek julle oordeel, o huis van Israel, elkeen volgens sy weë, spreek die Here HERE. Bekeer julle en wend julle af van al julle oortredinge, sodat dit nie ’n struikelblok tot ongeregtigheid vir julle mag wees nie” (Esegiël 18:30). Esegiël se profesie, wat vir ons hedendaagse Efraim en Manasse geskryf is, beeld die verskriklike toneel uit van hongersnood, siektes, oorlog, en gevangenskap. Twee-derdes van die bevolking van hierdie nasies sal as gevolg van pessiektes, hongersnood en oorlog sterf, en een-derde sal gevange geneem word (Esegiël 5:12).

Nadat Satan en sy engele “neergewerp is op die aarde” word die ellende van alle nasies van die wêreld verskerp. “... Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12-13). Sonder Christus se ingryping “sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheus 24:22).

Die Uitweg

Aan wie belowe God beskerming? Hoe kan u nou voorberei om hierdie wêreldwye ontset­tende ramp te vermy? Let op Christus se waarskuwing aan Sy dissipels – diegene op wie Hy Sy Kerk sou bou. “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dron­kenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:34-36).

Sal ons voortgaan om God se wil te doen, of gaan ons tou opgooi? “Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry” (Lukas 21:19). Volharding of lydsaamheid word omskryf as die onderhouding van “die gebooie van God en die geloof in Jesus” (Openbaring 14:12). Die­gene wat hierdie soort lydsaamheid besit, word beskerming teen die toekomstige massa-menseslagting belowe “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel” (Openbaring 3:10).

God sal ’n uitweg vir Sy Kerk – die uitver­korenes – bewerkstellig. Hulle is God se ge­troue volk wat die ywer het om Sy Werk te doen, wat God se gebooie onderhou, en wie se lewens stralende ligbakens van God se lewens­weg is. Een van die lesse van die geskiedenis is dat die mensdom selde of ooit uit sy foute leer. God se profetiese oordele “wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Romeine 15:4). Hierdie kennis van die verlede is lewensbelangrik vir ons om Bybelprofesie te verstaan. Skryf of bel vir ons GRATIS boekie, Wat Lê Voor vir Amerika en Brittanje – Asook Suid-Afrika? om meer oor hierdie gebiedende onderwerp te leer. As ons oë oop is, kan ons die kritieke gebeure ver­staan wat die mensdom binnekort tot in sy fondasie gaan skok. God wil hê dat Sy mense voorbereid moet wees.

God is op die huidige oomblik besig om ’n groep “uitverkorenes” voor te berei na wie in die Nuwe Testament as Sy Kerk verwys word. Jesus Christus het gesê Hy sou Sy Kerk bou en dat dit nooit sou uitsterf nie (Mattheus 16:18). Toekomstige lesse in hierdie Bybel­studiekursus sal u help om meer van God en Sy groot plan vir die mensdom te verstaan.

Laai af in PDF (165 KB) | Bestel GRATIS Subskripsie
Geliewe daarop te let dat genoemde boekies nie by El-Roi beskikbaar is nie, maar dat u dit direk kan bestel vanaf
Die Lewende Kerk van God of u kan die PDF dokument aflaai indien beskikbaar. Baie Dankie.